Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | LEWE EN DIE DOOD​—⁠WAT SÊ DIE BYBEL DAAROOR?

Wat die Bybel sê oor lewe en die dood

Wat die Bybel sê oor lewe en die dood

In die skeppingsverslag in die Bybelboek Genesis lees ons dat God vir die eerste man, Adam, gesê het: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). Hierdie woorde wys op ’n duidelike en eenvoudige manier dat Adam nie sou gesterf het as hy aan God gehoorsaam gebly het nie, maar dat hy eerder in die tuin van Eden sou bly lewe het.

Ongelukkig het Adam nie gekies om gehoorsaam te wees en vir ewig te lewe nie. Hy het eerder God se bevel geïgnoreer en van die verbode vrug geëet toe sy vrou, Eva, dit vir hom gegee het (Genesis 3:1-6). Die gevolge van sy ongehoorsaamheid raak ons vandag nog. Die apostel Paulus het dit so verduidelik: “Daarom, net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Daardie “een mens” was natuurlik Adam. Maar wat was die sonde, en waarom het dit die dood veroorsaak?

Wat Adam gedoen het​—deur ongehoorsaam te wees en God se wet opsetlik te verbreek—​is sonde (1 Johannes 3:4). En soos God vir Adam gesê het, is die straf vir sonde die dood. Solank as wat Adam​—en sy toekomstige nageslag—​gehoorsaam  aan God se bevel gebly het, sou hulle nie sondig nie en nooit hoef dood te gaan nie. God het nie die mens geskep om dood te gaan nie. Hy wou hê dat hulle vir ewig moes lewe.

Dit is heel duidelik dat die dood “tot alle mense deurgedring het”, net soos die Bybel gesê het. Maar hou ’n deel van ons aan om te lewe nadat ons doodgaan? Baie mense dink so. Hulle sê dat ’n deel van ons​—iets wat die siel genoem word—​onsterflik is. Maar dit sou beteken dat God vir Adam gelieg het. Hoe so? Want as ’n deel van ons op die een of ander plek aanhou lewe nadat ons gesterf het, dan is die dood nie die straf vir sonde soos God gesê het nie. Die Bybel sê: ‘Dit is onmoontlik vir God om te lieg’ (Hebreërs 6:18). Dit is in werklikheid Satan wat gelieg het toe hy vir Eva gesê het: “Julle sal sekerlik nie sterf nie.”​—Genesis 3:4.

Die vraag is: As die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel nie waar is nie, wat gebeur dan regtig wanneer ons sterf?

DIE BYBEL GEE DIE ANTWOORD

Die skeppingsverslag in Genesis sê: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword.” Die uitdrukking “’n lewende siel” is ’n vertaling van die Hebreeuse woord ne’phesh, wat verwys na iemand of iets wat asemhaal.​—Genesis 2:7.

Die Bybel wys duidelik dat ’n mens nie geskep word met ’n siel wat onsterflik is nie. Elke mens is eerder “’n lewende siel”. Daarom sal jy nêrens in die Bybel ’n teks met die woorde “onsterflike siel” kry nie.

As die Bybel nie leer dat die mens ’n onsterflike siel het nie, hoekom leer soveel godsdienste dit dan vir hulle volgelinge? Die rede hiervoor het te doen met wat in eertydse Egipte geglo is.

 DIE BEGIN VAN HIERDIE HEIDENSE LEERSTELLING

Herodotus, ’n Griekse geskiedkundige van die vyfde eeu VHJ, het gesê dat die Egiptenare “die eerste mense was wat in die onsterflikheid van die siel geglo het”. In die eertydse Babiloniese kultuur het hulle ook begin dink dat die siel onsterflik is. Teen die tyd dat Aleksander die Grote die Midde-Ooste in 332 VHJ verower het, het Griekse filosowe die idee gewild gemaak, en dit het gou regoor die Griekse Ryk versprei.

Jy sal nie een Bybelteks kry met die woorde “onsterflike siel” nie

In die eerste eeu HJ het twee belangrike Joodse sektes, die Essene en die Fariseërs, geglo dat die siel aanhou lewe nadat die liggaam sterf. The Jewish Encyclopedia sê: “Die Jode het in die onsterflikheid van die siel begin glo as gevolg van Griekse invloed en veral as gevolg van die filosofie van Plato.” Die eerste-eeuse Joodse geskiedkundige Josefus het gesê dat die leerstelling nie op die Heilige Skrif gebaseer is nie, maar eerder op Griekse mitologie.

Omdat die Griekse kultuur al hoe meer invloed gehad het, het sogenaamde Christene ook in hierdie heidense leerstelling begin glo. Jona Lendering, ’n geskiedkundige, het gesê: “Plato se teorie dat ons siel eers op ’n beter plek gewoon het, maar nou in ’n slegte wêreld lewe, het dit maklik gemaak om Plato se filosofie met die Christelike godsdiens te kombineer.” Op hierdie manier is die heidense leerstelling oor die onsterflike siel deur die “Christelike” kerk aanvaar en het dit een van hulle belangrikste leerstellings geword.

 “DIE WAARHEID SAL JULLE VRYMAAK”

In die eerste eeu het die apostel Paulus die volgende waarskuwing gegee: “Die geïnspireerde uiting sê egter uitdruklik dat party in latere tye van die geloof afvallig sal word en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timoteus 4:1). Hoe waar was hierdie woorde tog! Die leerstelling oor die onsterflike siel is maar net een voorbeeld van die “leringe van demone”. Dit is nie op die Bybel gebaseer nie, maar kom van ou heidense godsdienste en filosofieë af.

Gelukkig het Jesus gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). As ons die waarheid in die Bybel leer, word ons vrygemaak van die leringe en gebruike wat disrespekvol is teenoor God en wat deur soveel van die wêreld se godsdienste bevorder word. Die tradisies en bygelowe in verband met die dood is soos kettings wat ons vasbind, maar die waarheid in God se Woord maak ons hiervan vry.—Sien die venster “ Waar is die dooies?”.

Ons Skepper wou nie hê dat mense net 70 of 80 jaar op die aarde woon en dan vir ewig iewers anders gaan woon nie. Hy wou oorspronklik gehad het dat mense vir ewig hier op die aarde as sy gehoorsame kinders moes woon. Hierdie wonderlike voorneme wys hoe lief God vir die mens is, en niks sal dit kan keer nie (Maleagi 3:6). Dit stel ons gerus wanneer ons die psalmis se geïnspireerde woorde hoor: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”​—Psalm 37:29.