Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Wie se skuld is dit?

Wie se skuld is dit?

As swaarkry nie God se skuld is nie, hoekom is daar wêreldwye hongersnood, armoede wat nooit ophou nie, wrede oorloë, aaklige siektes en natuurrampe? God se Woord, die Bybel, noem drie hoofredes hoekom die mensdom swaarkry:

  1. Selfsugtigheid, gierigheid en haat. “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Mense kry baie keer swaar as gevolg van onvolmaakte, selfsugtige en wrede mense.

  2. Tyd en onvoorsiene gebeure. Mense kry dikwels swaar omdat ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse hulle almal tref’ (Prediker 9:11). Dit beteken dat ongelukke gebeur of dat mense net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is, onverskillig is of foute maak.

  3. Die wrede heerser van die wêreld. Die Bybel wys duidelik wie daarvoor verantwoordelik is dat mense swaarkry. Dit sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Hierdie “bose” heerser is Satan die Duiwel, ’n magtige geespersoon wat voorheen ’n engel van God was, maar wat “nie in die waarheid vasgestaan [het] nie” (Johannes 8:44). Ander engele het saam met Satan teen God in opstand gekom omdat hulle selfsugtige begeertes gehad het. Op hierdie manier het hulle hulleself demone gemaak (Genesis 6:1-5). Vandat Satan en sy demone in opstand gekom het, het hulle ’n magtige en wrede invloed oor die wêreld se sake gehad. Dit gebeur veral in ons tyd. Die Duiwel is nou baie kwaad en is besig om “die hele bewoonde aarde [te] mislei”, wat groot moeilikheid vir die aarde veroorsaak (Openbaring 12:9, 12). Satan is beslis ’n wrede diktator. Hy kry siek genot daaruit wanneer hy sien dat mense swaarkry. Dit is Satan wat veroorsaak dat mense swaarkry, nie God nie.

DINK HIERAAN: Net ’n gevoellose, wrede kwaaddoener sou veroorsaak dat onskuldige mense swaarkry. Aan die anderkant sê die Bybel: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Met so ’n liefdevolle persoonlikheid “is dit [ver] van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!” — Job 34:10.

Maar jy mag dalk wonder: ‘Hoe lank sal God die Almagtige vir Satan toelaat om aan te hou met sy wrede heerskappy?’ Soos ons gesien het, haat God goddeloosheid en maak dit hom baie seer wanneer ons swaarkry. Sy Woord moedig ons ook aan: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle’ (1 Petrus 5:7). God is lief vir ons en hy het die krag om binnekort al die ongeregtigheid en swaarkry weg te neem, soos ons in die volgende artikel sal sien. *

^ par. 7 As jy beter wil verstaan hoekom God toelaat dat ons swaarkry, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies. Jy kan dit gratis aflaai by www.jw.org/af.