Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Jy kan vir ewig op die aarde lewe

Jy kan vir ewig op die aarde lewe

WAT ’N WONDERLIKE VOORUITSIG! Ons Skepper het belowe om ons ewige lewe hier op die aarde te gee. Maar baie vind dit moeilik om te glo. Mense sê: ‘Almal gaan die een of ander tyd dood. Dis maar net deel van die lewe.’ Ander dink weer dat ewige lewe moontlik is, maar nie hier op die aarde nie. Hulle sê dat ’n mens eers ewige lewe kan kry as jy sterf en dan hemel toe gaan. Wat dink jy?

Voordat jy besluit, dink eers oor die Bybel se antwoord op die volgende drie vrae: Wat wys die manier hoe die mens gemaak is oor hoe lank hy veronderstel was om te lewe? Wat was God se oorspronklike voorneme met die aarde en die mens? Wat het veroorsaak dat die mens sterf?

DIE MENS IS UNIEK

Uit al die verskillende vorme van lewe wat God op die aarde geskep het, is die mens werklik uniek. Hoekom sê ons so? Die Bybel wys dat net die mens na God se “beeld” geskep is (Genesis 1:26, 27). Wat beteken dit? Dit beteken dat God vir die mens karaktertrekke en eienskappe gegee het wat soos sy eie is, soos liefde en ’n sin vir geregtigheid.

Mense het ook die vermoë om te dink en te redeneer. Hulle weet wat die verskil tussen goed en sleg is en het die begeerte om ’n verhouding met God te hê. Dit is hoekom ons kan waardeer hoe groot die heelal is en hoe wonderlik die natuur is. Ons het ook waardering vir kuns, musiek en poësie. Maar wat die mens werklik uniek maak, is die feit dat hulle die Skepper kan aanbid. Hierdie eienskappe maak dat die mens uitstaan bo alle ander lewende dinge op die aarde.

Dink hieroor: Sou God die mens sulke pragtige eienskappe gegee het met ’n onbeperkte vermoë om dit te ontwikkel en te verbeter, as hy wou hê hulle moes net vir ’n paar jaar op die aarde woon? Die waarheid is dat God mense hierdie unieke eienskappe en vermoëns gegee het sodat hulle lewe hier op aarde vir ewig kan geniet.

GOD SE OORSPRONKLIKE VOORNEME

Maar party sê dat God nooit bedoel het vir die mens om vir ewig op die aarde te lewe nie. Hulle beweer dat die aarde net ’n tydelike plek vir die mens is om op te woon. Volgens hulle is dit ontwerp as ’n plek waar mense getoets word om te sien wie verdien om hemel toe te gaan en vir ewig saam met God te woon. Maar as dit waar was, sou dit nie beteken dat God verantwoordelik is vir al die slegte en ontstellende dinge wat op die aarde gebeur nie? Dit stem nie ooreen met die soort persoon wat God  is nie, want hy is presies die teenoorgestelde. Die Bybel sê oor hom: “Want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.” — Deuteronomium 32:4.

Die Bybel wys duidelik wat God se oorspronklike voorneme met die aarde is. Dit sê: “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee” (Psalm 115:16). God het die aarde gemaak as ’n pragtige, permanente plek vir die mens om op te bly. Hy het hulle alles gegee wat hulle nodig het om ’n betekenisvolle, eindelose lewe te geniet. — Genesis 2:8, 9.

“Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.” — Psalm 115:16

Die Bybel is ook duidelik oor God se voorneme vir die mens. Hy het die eerste mensepaar die opdrag gegee om ‘die aarde te vul en dit te onderwerp’. Hy het ook gesê dat ‘al die diere wat op die aarde kruip, aan hulle onderworpe moet wees’ (Genesis 1:28). Wat ’n voorreg sou dit vir hulle wees om die hele aarde in ’n paradys te omskep en daarvoor te sorg! Adam en Eva en hulle nageslag sou die vooruitsig hê om vir ewig op die aarde te lewe. Hulle sou nie beloon word met lewe in die hemel nie.

HOEKOM STERF ONS?

Hoekom sterf ons dan? Die Bybel wys dat een van God se geesskepsele, wat later bekend geword het as Satan die Duiwel, probeer keer het dat God sy voorneme in Eden uitvoer. Hoe?

Satan het ons eerste ouers, Adam en Eva, oorreed om saam met hom teen God in opstand te kom. Satan het gesê dat God iets goeds van hulle weerhou, die reg om self te besluit wat reg en verkeerd is. Dit het veroorsaak dat hulle Satan se kant kies en hulle rug op God draai. Wat het gebeur? Hulle het later gesterf, net soos God hulle gewaarsku het. Hulle het die vooruitsig verloor om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. — Genesis 2:17; 3:1-6; 5:5.

Adam en Eva se keuse raak alle mense tot vandag toe. God se Woord sê: “Daarom, net soos deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld ingekom het, [het] die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring” (Romeine 5:12). Ons sterf omdat ons sonde en die dood van ons oorspronklike ouers oorgeërf het. Dit is nie as gevolg van die een of ander onverstaanbare ‘plan’ waarop God vooraf besluit het nie.

JY KAN VIR EWIG OP DIE AARDE LEWE

Die opstand in Eden het nie veroorsaak dat God sy oorspronklike voorneme vir die mens en die aarde verander het nie. God se volmaakte liefde en sin vir geregtigheid het hom gemotiveer om ons vry te maak van slawerny aan oorgeërfde sonde en die dood. Die apostel Paulus het verduidelik: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). God het liefdevol “sy enigverwekte Seun [Jesus Christus] gegee . . . sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Jesus het homself gewilliglik aangebied as ’n losprysoffer. Deur dit te doen, het hy alles wat Adam verloor het, teruggekoop. *

Binnekort sal God se belofte van ’n paradysaarde ’n werklikheid word. Hierdie wonderlike toekoms kan joune wees as jy na Jesus se aanmoedigende woorde luister: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Jou toekoms is beslis in jou eie hande. Wat sal jy doen?

^ par. 17 Vir meer inligting oor wat die losprys vir jou kan doen, kyk na hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies en wat aanlyn beskikbaar is by www.jw.org/af.