Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | WAAROM HET JESUS GELY EN GESTERF?

Het dit werklik gebeur?

Het dit werklik gebeur?

In die lente van die jaar 33 is Jesus die Nasarener tereggestel. Hy is valslik aangekla van sedisie, wreed geslaan en aan ’n paal genael. Hy het ’n baie pynlike dood gesterf. Maar God het hom uit die dood opgewek, en 40 dae later het Jesus na die hemel opgevaar.

Hierdie uitsonderlike verslag is opgeteken in die vier Evangelieverslae van die Christelike Griekse Geskrifte, wat ook die Nuwe Testament genoem word. Het hierdie dinge werklik plaasgevind? Dit is ’n gepaste en belangrike vraag. As hierdie gebeurtenisse nie plaasgevind het nie, is die Christelike geloof waardeloos en is die hoop op die ewige lewe in die Paradys maar net ’n droom (1 Korintiërs 15:14). Maar as hierdie gebeurtenisse werklik plaasgevind het, wag daar ’n wonderlike toekoms op die mensdom, ’n toekoms wat jy ook sal kan geniet. Is die Evangelieverslae dus op feite of fiksie gegrond?

WAT DIE FEITE TOON

Anders as legendes is die Evangelieverslae akkuraat en word daar baie aandag aan besonderhede gegee. Dit is byvoorbeeld vol name van werklike plekke, waarvan baie vandag besoek kan word. Dit praat van werklike mense, wie se bestaan deur sekulêre geskiedkundiges bevestig is.​—Lukas 3:1, 2, 23.

 Sekulêre skrywers van die eerste en tweede eeu het van Jesus melding gemaak. * Die beskrywing wat ons in die Evangelieverslae vind van hoe hy gesterf het, stem ooreen met die teregstellingsmetodes wat die Romeine destyds gebruik het. Wat meer is, gebeurtenisse word op ’n feitelike en openhartige manier beskryf​—selfs die tekortkominge van party van Jesus se dissipels word genoem (Matteus 26:56; Lukas 22:24-26; Johannes 18:10, 11). Dit alles toon duidelik dat die Evangelieskrywers ’n eerlike en akkurate verslag oor Jesus geskryf het.

WAT VAN JESUS SE OPSTANDING?

Hoewel algemeen aanvaar word dat Jesus gelewe en gesterf het, bevraagteken party sy opstanding. Selfs sy apostels het nie die eerste berig dat hy uit die dood opgestaan het, geglo nie (Lukas 24:11). Maar alle twyfelgedagtes is uit die weg geruim toe hulle en ander dissipels Jesus ná sy opstanding by verskillende geleenthede gesien het. Trouens, by een geleentheid het meer as 500 ooggetuies hom gesien.​—1 Korintiërs 15:6.

Die dissipels het, ten spyte van die moontlikheid dat hulle in hegtenis geneem en doodgemaak kon word, Jesus se opstanding moedig aan almal verkondig​—selfs aan diegene wat verantwoordelik was vir sy teregstelling (Handelinge 4:1-3, 10, 19, 20; 5:27-32). Sou so baie dissipels so moedig gewees het as hulle nie doodseker was dat Jesus werklik uit die dood opgewek is nie? Trouens, die feit dat Jesus opgewek is, was die dryfkrag agter die groot invloed wat die Christelike godsdiens destyds op die wêreld gehad het en nog steeds het.

Die Evangelieverslae van Jesus se dood en opstanding het al die kenmerke van ’n betroubare geskiedkundige verslag. As jy dit noukeurig lees, sal dit jou oortuig dat hierdie gebeurtenisse werklik plaasgevind het. Jou oortuiging kan verder versterk word as jy verstaan waarom dit plaasgevind het. Die volgende artikel sal meer hieroor verduidelik.

^ par. 7 Tacitus, wat omstreeks die jaar 55 gebore is, het geskryf dat “Christus, aan wie die naam [Christene] ontleen is, tydens die bewind van Tiberius die doodstraf opgelê is deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus”. Ander skrywers wat na Jesus verwys het, is Suetonius (eerste eeu); die Joodse geskiedskrywer Josefus (eerste eeu); en Plinius die Jongere, die goewerneur van Bitinië (vroeë tweede eeu).