Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Outyds of voor sy tyd?

Outyds of voor sy tyd?

DIE WETENSKAP

DIE BYBEL IS NIE ’N WETENSKAPHANDBOEK NIE, MAAR DIT BEVAT INLIGTING WAT VER VOOR SY TYD WAS. KYK NA ’N PAAR VOORBEELDE.

Het die fisiese heelal ’n begin gehad?

Wetenskaplikes was jare lank vas oortuig dat die antwoord nee is. Nou word daar oor die algemeen aanvaar dat die heelal wel ’n begin gehad het. Dit is wat die Bybel nog altyd gesê het. — Genesis 1:1.

Wat is die vorm van die aarde?

In die ou tyd het baie mense gedink dat die aarde plat is. In die vyfde eeu VHJ het Griekse wetenskaplikes voorgestel dat dit ’n sfeer is, of ’n ronde vorm het. Maar die Bybelskrywer Jesaja het lank voor dit, in die agtste eeu VHJ, gepraat van “die kring van die aarde”. Hy het ’n woord gebruik wat ook as sfeer vertaal kan word. — Jesaja 40:22.

Kan die fisiese hemel met verloop van tyd agteruitgaan?

In die vierde eeu VHJ het die Griekse wetenskaplike Aristoteles gesê dat dinge net op die aarde agteruitgaan, maar dat die sterrehemel nie kan verander of agteruitgaan nie. Mense het eeue lank so gedink. Maar in die 19de eeu het wetenskaplikes die wet van entropie geformuleer. Volgens hierdie formule gaan alle materie agteruit, of dit nou in die hemel of op die aarde is. Een van die wetenskaplikes wat gehelp het om hierdie formule te ontwikkel, Lord Kelvin, het saamgestem met wat die Bybel oor die hemel en die aarde sê: “Net soos ’n kleed sal hulle almal verslyt” (Psalm 102:25, 26). Kelvin het geglo dat God die mag het om te keer dat hierdie proses van agteruitgang Sy skeppingswerke vernietig, net soos die Bybel sê. — Prediker 1:4.

Wat hou planete soos ons aarde in hulle posisie?

Aristoteles het gesê dat elke ster en planeet binne-in sy eie kristalagtige sfeer is. Volgens hom was elke sfeer binne-in die volgende een, en die aarde was reg in die middel. Teen die 18de eeu HJ het wetenskaplikes die idee begin aanvaar dat die sterre en die planete dalk net in die ruimte hang. In die boek Job, wat in die 15de eeu VHJ geskryf is, lees ons dat die Skepper ‘die aarde aan niks ophang’ nie. — Job 26:7.

 DIE MEDIESE WETENSKAP

DIE BYBEL IS NIE ’N MEDIESE HANDBOEK NIE, MAAR DIE DINGE WAT DIT OOR GESONDHEID SÊ, IS VER VOOR SY TYD.

Hou siek mense eenkant.

Die Mosaïese Wet het beveel dat mense met melaatsheid weg van ander mense gehou moet word. Mediese dokters het eers teen die Middeleeue, toe daar epidemies uitgebreek het, die voordeel van hierdie goeie raad besef. Dit word vandag nog steeds gebruik. — Levitikus hoofstuk 13 en 14.

Om hande te was nadat daar aan ’n lyk geraak is.

Tot laat in die 19de eeu het dokters met lyke gewerk en dan hulle pasiënte behandel sonder om eers hulle hande te was. Baie mense het as gevolg hiervan gesterf. Maar die Mosaïese Wet het duidelik gesê dat enigiemand wat aan ’n dooie liggaam raak, seremonieel onrein is. Dit het selfs gesê dat water gebruik moes word om hierdie persoon seremonieel te reinig. Sulke godsdiensgebruike het beslis ook gehelp om mense gesond te hou. — Numeri 19:11, 19.

Rioolverwydering.

Elke jaar gaan meer as ’n halfmiljoen kinders dood as gevolg van diarree. Dit gebeur meestal omdat hulle blootgestel word aan menslike ontlasting wat nie behoorlik verwyder is nie. Die Mosaïese Wet het gesê dat menslike ontlasting begrawe moet word, ver weg van waar mense woon. — Deuteronomium 23:13.

Die regte tyd vir besnyding.

God se Wet het vereis dat babaseuntjies besny moes word wanneer hulle agt dae oud is (Levitikus 12:3). Dit wil voorkom asof dit ’n week neem voordat pasgebore babas se bloed die vermoë het om behoorlik te stol. In Bybeltye, voordat moderne mediese behandeling beskikbaar was, was dit verstandig om meer as ’n week te wag voordat ’n kind besny word.

Die verband tussen emosionele en fisiese gesondheid.

Mediese navorsers en wetenskaplikes sê dat positiewe emosies soos vreugde, hoop, dankbaarheid en ’n gewilligheid om te vergewe voordelig kan wees vir ’n mens se gesondheid. Die Bybel sê: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel, maar ’n verslae gees droog die gebeente uit.” — Spreuke 17:22.