Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | WAAROM EERLIK WEES?

Waarom eerlikheid die beste is

Waarom eerlikheid die beste is

“Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra.”—Hebreërs 13:18.

Die oorspronklike Griekse woord wat soms in die Bybel as “eerlikheid” vertaal word, beteken letterlik “iets wat van nature goed is”. Dit kan ook verwys na iets wat in ’n sedelike sin mooi is.

Christene neem die apostel Paulus se geïnspireerde woorde ernstig op, toe hy gesê het: “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.” Wat behels dit?

DIE INNERLIKE STRYD

Die meeste mense kyk soggens in die spieël voordat hulle die huis verlaat. Waarom? Omdat hulle goed wil lyk. Maar daar is iets wat baie belangriker is as ’n mooi haarstyl of mooi klere. Ja, die persoon wat ons innerlik is, kan maak dat ons vir ander mooi of lelik is.

God se Woord sê reguit dat ons geneig is om te doen wat sleg is. “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af”, sê Genesis 8:21. As ons eerlik wil wees, moet ons dus teen ons ingebore sondige neigings stry. Die apostel Paulus het ’n treffende beskrywing gegee van sy eie stryd teen die sonde en gesê: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.”—Romeine 7:22, 23.

Byvoorbeeld, as ons hart ons wil oorreed om iets slegs te doen en ons ’n sterk neiging het om oneerlik te wees, hoef ons nie na ons hart te luister nie. Ons het ’n keuse. Ons kan besluit om ’n slegte gedagte te verwerp, en ons kan eerlik bly ondanks al die oneerlikheid om ons.

HOE OM DIE STRYD TE WEN

As ons eerlik wil wees, moet ons goeie sedes hê. Maar ongelukkig dink baie mense meer aan hulle voorkoms as aan hulle sedes. Daarom regverdig hulle hoe oneerlik hulle kan wees afhangende van die situasie waarin hulle is. Die boek The (Honest) Truth About Dishonesty stel dit so: “Ons is oneerlik tot op die punt waar ons ons nog kan oortuig dat ons redelik eerlik is.” Maar is daar ’n betroubare standaard wat ons kan help om self te besluit of ons enigsins oneerlik mag wees? Gelukkig is daar.

Miljoene mense regoor die wêreld het gevind dat die Bybel die volmaakte standaard voorsien. Die Bybel bevat die beste sedelike standaarde (Psalm 19:7). Dit gee betroubare leiding oor dinge soos die gesinslewe, werk, sedes en ons verhouding met God. Dit het die toets van die tyd deurstaan. Die wette en beginsels daarin is op alle nasies, rasse, stamme en volke van toepassing. As ons die Bybel ondersoek, peins oor  wat dit sê en die raad daarin toepas, kan ons ons hart leer om eerlik en opreg te wees.

Maar om die stryd teen oneerlikheid te wen, verg meer as om net akkurate kennis van die Bybel in te neem. Die wêreld waarin ons lewe, het slegte sedes en plaas druk op ons om sy korrupte standaarde te aanvaar. Dit is waarom ons God moet vra om ons te help en te ondersteun (Filippense 4:6, 7, 13). As ons dit doen, sal ons die moed hê om ons standpunt in te neem vir wat reg is en in alles eerlik te wees.

DIE VOORDELE VAN EERLIKHEID

Hitosji, wat in die eerste artikel aangehaal is, het voordeel getrek uit sy reputasie as ’n eerlike werker. Hy werk nou vir iemand wat sy eerlikheid waardeer. “Ek is dankbaar dat ek werk kon vind wat my toelaat om ’n skoon gewete te behou”, sê Hitosji.

Daar is ander wat hulle in ’n soortgelyke situasie bevind. Kyk na ’n paar voorbeelde van party wat baat gevind het by die Bybelbeginsel om ‘ons in alles eerlik te gedra’.

  • ’n Skoon gewete

    “Toe ek 13 jaar oud was, het ek die skool verlaat en saam met diewe begin werk. Ek het dus 95 persent van my inkomste verdien deur oneerlik te wees. Later het ek getrou, en ek en my man het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ons het geleer dat Jehovah * God oneerlikheid haat, en daarom het ons besluit om ons lewe te verander. In 1990 het ons ons lewe aan Jehovah toegewy en is ons as Jehovah se Getuies gedoop.—Spreuke 6:16-19.

    “In die verlede was my huis vol gesteelde goedere, maar nou is dit nie meer so nie; en dit gee my ’n skoon gewete. As ek terugdink aan al die jare wat ek ’n oneerlike lewe gelei het, is ek dankbaar aan Jehovah vir sy groot genade. Dit laat my so tevrede voel om elke aand te gaan slaap in die wete dat ek Jehovah se hart bly maak.”—Cheryl, Ierland.

    “Toe my bestuurder uitgevind het dat ek omkoopgeld van ’n potensiële kliënt geweier het, het hy vir my gesê: ‘Jou God maak jou so ’n betroubare persoon! Dit is werklik ’n seën om jou hier in ons maatskappy te hê.’ Om in alles eerlik te wees, maak dit vir my moontlik om ’n skoon gewete voor Jehovah God te hê. Dit laat my ook toe om my gesin en ander te help om dit ook te doen.”—Sonny, Hongkong.

  • Gemoedsrus

    “Ek werk as ’n uitvoerende assistent by ’n internasionale bank. In hierdie bedryf is dit belangriker om geld te maak as om eerlik te wees. Die algemene beskouing is: ‘Wat’s verkeerd met ’n bietjie oneerlikheid as dit rykdom bevorder en die ekonomie aanhelp?’ Maar ek is eerlik, en dit gee my gemoedsrus. Ek is vasbeslote om eerlik te bly en die gevolge daarvan te dra. My werkgewer weet dat ek nie vir hulle of namens hulle sal lieg nie.”—Tom, Verenigde State.

  • Selfrespek

    “My bestuurder het my gevra om ’n leuen te vertel oor voorraad wat by die werk weggeraak het, maar ek het geweier. Toe die diewe uiteindelik gevang is, het my werkgewer my vir my eerlikheid bedank. Dit verg moed om in ’n oneerlike wêreld eerlik te wees. Maar op die ou end, wen ons die vertroue en respek van ander.”—Kaori, Japan.

’n Skoon gewete, gemoedsrus en selfrespek—hierdie voordele toon dat eerlikheid werklik die beste is. Stem jy nie saam nie?

^ par. 18 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.