Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Ons gaan die einde van hierdie ou wêreld saam tegemoet

Ons gaan die einde van hierdie ou wêreld saam tegemoet

“Ons is lede wat aan mekaar behoort.”​—EF. 4:25.

1, 2. Hoe wil God hê dat sy knegte, jonk sowel as oud, hom moet aanbid?

IS JY ’n jongmens? Indien wel, wees verseker dat jy, as deel van Jehovah se wêreldwye gemeente, werklik waardeer word. In baie lande is daar ’n groot aantal jongmense onder diegene wat gedoop word. Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien dat soveel jongmense hulle skaar by diegene wat besluit het om Jehovah te dien!

2 As ’n jongmens geniet jy dit seker om saam met ander jongmense te wees. Dit is vir ons lekker om te assosieer met ander van ons ouderdomsgroep. Maar hetsy ons jonk of oud is en ongeag wat ons agtergrond is, God wil hê dat ons hom in eenheid moet aanbid. Die apostel Paulus het geskryf dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:3, 4). Openbaring 7:9 sê dat God se aanbidders uit “alle nasies en stamme en volke en tale” kom.

3, 4. (a) Watter gees is vandag algemeen onder jongmense? (b) Watter gesindheid strook met Efesiërs 4:25?

3 Hoe verskil jong knegte van Jehovah tog van jongmense van hierdie wêreld! Baie wat Jehovah nie dien nie, lei ’n selfsugtige  lewe en stel net belang in wat hulle wil hê. Party navorsers het al gesê dat jongmense vandag selfsugtiger is as ooit tevore. Die manier waarop hulle praat en aantrek, toon dat hulle geen respek het vir die ouer geslag, wat volgens hulle outyds is nie.

4 Hierdie gees is oral om ons. Daarom vind jong knegte van Jehovah dat dit groot inspanning verg om hierdie gees te vermy en om God se beskouing te aanvaar. Selfs in die eerste eeu moes Paulus medegelowiges aanspoor om “die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” en waarin hulle “vroeër . . . gewandel het”, te vermy. (Lees Efesiërs 2:1-3.) Jongmense wat besef dat dit belangrik is om hierdie gees te vermy en om in eenheid met al hulle broers saam te werk, moet geprys word. Hierdie gesindheid strook met Paulus se woorde: “Ons is lede wat aan mekaar behoort” (Ef. 4:25). Namate die einde van hierdie ou wêreld nader kom, sal dit al hoe belangriker word om in eenheid saam te werk. Kom ons kyk na ’n paar Bybelvoorbeelde wat ons sal help om te besef dat dit belangrik is om bymekaar te bly, om verenig te wees.

HULLE HET BYMEKAAR GEBLY

5, 6. Watter les oor die belangrikheid daarvan om bymekaar te bly, vind ons in die verslag oor Lot en sy dogters?

5 In die verlede het Jehovah sy volk beskerm wanneer hulle gedurende moeilike tye verenig gebly en mekaar gehelp het. Hedendaagse knegte van God, jonk sowel as oud, kan uit Bybelvoorbeelde leer. Een so ’n voorbeeld is Lot.

6 Lot en sy gesin het in gevaar verkeer omdat Sodom, die stad waar hulle gewoon het, vernietig sou word. God se engele het Lot aangespoor om die stad te verlaat en na die bergstreek te vlug. Hulle het gesê: “Vlug ter wille van jou siel!” (Gen. 19:12-22). Lot en sy twee dogters het die instruksies gehoorsaam. Ongelukkig het ander wat na aan hulle was, dit nie gedoen nie. Die jong mans wat aan Lot se dogters verloof was, het gedink dat Lot “’n grap maak”. Dit het hulle hulle lewe gekos (Gen. 19:14). Net Lot en sy dogters, wat bymekaar gebly het, het die vernietiging van die stad oorleef.

7. Hoe het Jehovah die verenigde groep gehelp wat Egipte verlaat het?

7 Kyk na nog ’n voorbeeld. Toe die Israeliete Egipte verlaat het, het hulle nie onafhanklike groepe gevorm, met elke groep wat sy eie rigting inslaan nie. En toe Moses “sy hand oor die see uitgesteek” het en Jehovah die see gekloof het, het Moses nie alleen of met net ’n paar van die Israeliete deurgestap nie. Dit was eerder die hele gemeente wat, met Jehovah se beskerming, deurgetrek het (Eks. 14:21, 22, 29, 30). Hulle het ’n gees van eenheid geopenbaar, en “’n groot gemengde geselskap”, nie-Israeliete wat vroeër by hulle aangesluit het, was saam met hulle (Eks. 12:38). Ons kan ons nie indink dat ’n paar individue, dalk ’n groep jongmense, hulle eie rigting sou inslaan om ’n roete te volg wat hulle gemeen het beter sou wees nie. Sou dit nie sinneloos gewees het om dit te doen en Jehovah se beskerming te verloor nie?​—1 Kor. 10:1.

8. Hoe het God se volk in Josafat se dag eenheid geopenbaar?

8 In koning Josafat se dag het God se volk te staan gekom voor ’n gedugte vyand, “’n groot menigte” uit omliggende gebiede (2 Kron. 20:1, 2). Dit is prysenswaardig dat God se knegte die vyand nie in hulle eie krag probeer oorwin het nie. Hulle het hulle eerder tot Jehovah gewend. (Lees 2 Kronieke 20:3, 4.) En hulle het dit nie afsonderlik, elkeen soos hy  goedgedink het, gedoen nie. Die Bybelverslag sê vir ons: “Almal van Juda [het] voor Jehovah gestaan, selfs hulle kindertjies, hulle vrouens en hulle seuns” (2 Kron. 20:13). Jonk sowel as oud het in geloof saam daarna gestreef om Jehovah se leiding te volg, en Jehovah het hulle teen hulle vyand beskerm (2 Kron. 20:20-27). Is dit nie ’n goeie voorbeeld wat toon hoe God se volk uitdagings die hoof moet bied nie?

9. Wat kan ons uit die dade en die gesindheid van die vroeë Christene oor eenheid leer?

9 Die vroeë Christene was ook ’n goeie voorbeeld van hoe om saam te werk. Byvoorbeeld, nadat baie Jode en proseliete Christene geword het, het hulle hulle toegelê “op die leer van die apostels en op mededeelsaamheid, op die eet van maaltye en op gebede” (Hand. 2:42). Hierdie eenheid was veral duidelik tydens vervolging, toe hulle mekaar werklik nodig gehad het (Hand. 4:23, 24). Stem jy nie saam dat dit noodsaaklik is om gedurende kritieke tye saam te werk nie?

WEES VERENIG TERWYL JEHOVAH SE DAG NADER KOM

10. Wanneer sal eenheid veral belangrik wees?

10 Een van die donkerste tydperke in die mensegeskiedenis is op hande. Die profeet Joël beskryf dit as “’n dag van duisternis en somberheid” (Joël 2:1, 2; Sef. 1:14). Gedurende daardie tyd moet God se volk verenig wees. Dink aan Jesus se woorde: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes.”​—Matt. 12:25.

11. Wat kan God se volk uit Psalm 122:3, 4 oor eenheid leer? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

11 Gedurende die tyd van benoudheid wat vir hierdie stelsel voorlê, sal ons waarlik verenig moet wees. Ons kan die geestelike eenheid wat ons dan moet hê, vergelyk met hoe die huise in eertydse Jerusalem gebou is. Die huise was so naby aan mekaar dat die psalmis Jerusalem beskryf het as “’n stad wat in eenheid saamgevoeg is”. Dit het die inwoners in staat gestel om mekaar te help en te beskerm. Wat meer is, die huise wat so naby aan mekaar was, is ’n goeie voorstelling van die geestelike eenheid onder die hele nasie wanneer al “die stamme van Jah” vir aanbidding bymekaargekom het. (Lees Psalm 122:3, 4.) Vandag en in die kritieke dae wat voorlê, moet ons eweneens “in eenheid saamgevoeg” bly.

12. Wat sal ons help om die komende aanval op God se volk te oorleef?

12 Waarom is dit so belangrik dat ons gedurende daardie tyd “in eenheid saamgevoeg” moet wees? Esegiël hoofstuk 38 voorspel dat “Gog van die land Magog” God se volk sal aanval. Wanneer dit gebeur, moet ons nie toelaat dat enigiets ons verdeel nie. Ons sal ons sekerlik nie tot die wêreld wil wend om ons te help nie. Ons wil eerder na aan ons broers bly. Ons sal natuurlik nie oorleef bloot omdat ons deel van ’n groep is nie. Jehovah en sy Seun sal diegene wat Jehovah se naam aanroep, gedurende daardie rampspoedige tyd beskerm (Joël 2:32; Matt. 28:20). Maar is dit redelik om te dink dat diegene wat nie in eenheid met God se kudde gebly het nie—diegene wat hulle eie weg ingeslaan het—gered sal word?​—Miga 2:12.

13. Watter lesse kan godvresende jongmense leer uit wat ons tot dusver bespreek het?

13 Is dit dan nie duidelik dat dit verstandig is om eerder na aan jou broers te bly as om jongmense te volg wat hulle afsonder nie? Die tyd kom nader wanneer ons—jonk sowel as oud—mekaar werklik nodig sal hê! Ja, ons moet nou al leer om saam te werk, om die eenheid te verkry wat in die toekoms so noodsaaklik sal wees.

 “LEDE WAT AAN MEKAAR BEHOORT”

14, 15. (a) Waarom voorsien Jehovah vandag opleiding aan jonk sowel as oud? (b) Watter raad gee Jehovah ons om ons aan te spoor om verenig te wees?

14 Jehovah help ons “om hom skouer aan skouer te dien” (Sef. 3:8, 9). Hy lei ons op sodat ons in sy ewige voorneme kan inpas. Wat is sy voorneme? “Om alles weer byeen te bring in die Christus.” (Lees Efesiërs 1:9, 10.) Ja, hy wil alle gewillige skepsele in die ganse heelal verenig, en hy sal daarin slaag. Help dit jou as ’n jongmens om te sien hoe belangrik dit is om in eenheid met Jehovah se organisasie saam te werk?

15 Jehovah leer ons om nou al in eenheid te wees, met die doel om eenheid vir ewig te geniet. Die Skrif sê herhaaldelik dat ons “sorg vir mekaar moet dra”, “tere geneentheid vir mekaar [moet] hê”, moet aanhou “om mekaar . . . te vertroos” en “mekaar op te bou” (1 Kor. 12:25; Rom. 12:10; 1 Tess. 4:18; 5:11). Jehovah weet dat Christene onvolmaak is en dat dit dus vir ons ’n uitdaging kan wees om ons eenheid te bewaar. Ons moet ons dus inspan om ‘mekaar vryelik te vergewe’.​—Ef. 4:32.

16, 17. (a) Wat is een doel van Christelike vergaderinge? (b) Wat kan jongmense leer uit die voorbeeld wat Jesus as ’n jongmens gestel het?

16 Jehovah voorsien ook Christelike vergaderinge om ons te leer om verenig te bly. Ons het die aansporing in Hebreërs 10:24, 25 al dikwels gelees. Een doel van hierdie vergaderinge is om “op mekaar ag [te] gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor”. Maar dit is betekenisvol dat die vergaderinge voorsien word sodat ons “mekaar [kan] aanmoedig, en dit des te meer namate [ons] die dag sien nader kom”.

17 As ’n jongmens het Jesus ’n goeie voorbeeld gestel wanneer dit kom by waardering vir sulke reëlings. Toe hy 12 was, was hy saam met sy ouers by ’n groot geestelike vergadering. Hulle moes op ’n stadium na hom gaan soek, maar nie omdat hy weggedwaal het om met ander jongmense te gaan assosieer nie. Inteendeel, Josef en Maria het hom by die tempel gevind waar hy met die onderrigters oor geestelike dinge gepraat het.​—Luk. 2:45-47.

18. Hoe kan ons gebede tot eenheid bydra?

18 Behalwe om liefde vir mekaar aan te kweek en ons band van eenheid by  Christelike vergaderinge te versterk, kan ons ook vir mekaar bid. As ons spesifiek is wanneer ons ten behoewe van ons broers tot Jehovah bid, herinner dit ons aan ons besorgdheid oor mekaar. Dit is nie net volwasse Christene wat hierdie dinge kan en moet doen nie. Jongmense, maak julle gebruik van hierdie voorsienings om ’n hegte band met julle geestelike familie te smee? As julle dit doen, kan dit julle help om te verseker dat julle nie deel is van hierdie ou wêreld wanneer dit vernietig word nie.

Ons kan almal vir ons broers bid (Sien paragraaf 18)

ONS MOET TOON DAT ‘ONS LEDE IS WAT AAN MEKAAR BEHOORT’

19-21. (a) Op watter uitsonderlike manier toon ons dat ‘ons lede is wat aan mekaar behoort’? Gee voorbeelde. (b) Watter les leer jy uit hoe party broers tydens rampe gereageer het?

19 Jehovah se volk lewe reeds in ooreenstemming met die beginsel in Romeine 12:5: “Ons [is] lede wat . . . aan mekaar behoort.” Ons sien bewys hiervan wanneer rampe plaasvind. In Desember 2011 het ’n tropiese storm hewige oorstromings veroorsaak op die Filippynse eiland Mindanao. Binne een aand het meer as 40 000 huise oorstroom, insluitende baie van ons broers se huise. Maar die takkantoor berig dat “Christenbroers in ander gebiede hulp voorsien het nog voordat die noodlenigingskomitees aan die werk kon spring”.

20 Toe ’n groot aardbewing en die tsoenami wat daarop gevolg het, die oostelike deel van Japan getref het, het baie broers en susters ook groot verliese gely. Party het feitlik alles verloor. Josjiko, wat haar huis verloor het, het sowat 40 kilometer van die Koninkryksaal af gewoon. Sy vertel: “Later was ons verbaas om uit te vind dat die kringopsiener en ’n ander broer die dag ná die aardbewing na ons kom soek het.” Sy voeg met ’n breë glimlag by: “Ons het dit werklik waardeer dat die gemeente so goed in ons geestelike behoeftes voorsien het. Ons het ook jasse, skoene, sakke en slaapklere ontvang.” ’n Lid van die noodlenigingskomitee sê: “Broers regoor Japan het soos een man opgetree en mekaar probeer help. Broers het selfs van die Verenigde State af gekom om te help. Toe hulle gevra is waarom hulle so ver gereis het, het hulle gesê: ‘Ons is verenig met ons broers in Japan, en hulle het hulp nodig.’” Is jy nie trots daarop om deel te wees van ’n organisasie wat soveel vir sy lede omgee nie? Jy kan daarvan seker wees dat dit Jehovah baie bly maak om so ’n verenigde gees te sien.

21 As ons nou al hierdie gees openbaar, sal dit ons help om moeilike situasies wat voorlê, as ’n verenigde volk tegemoet te gaan, selfs as ons in sekere wêrelddele van ons broers afgesny is. Hierdie gees berei ons in werklikheid voor op probleme waarvoor ons heel waarskynlik te staan sal kom wanneer hierdie ou stelsel ondergaan. Foemiko, ’n tifoonslagoffer in Japan, sê: “Die einde is baie naby. Ons moet aanhou om ons medegelowiges te help terwyl ons uitsien na die tyd wanneer daar nie meer rampe sal wees nie.”

22. Watter langtermynvoordeel kan Christelike eenheid inhou?

22 Jonk sowel as oud wat nou daarna streef om verenig te wees, berei hulle in werklikheid voor om die einde van hierdie goddelose, verdeelde wêreld te oorleef. Soos in die verlede, sal ons God sy volk verlos (Jes. 52:9, 10). Hou altyd in gedagte dat jy onder diegene kan wees wat deur God verlos sal word as jy jou inspan om deel te wees van sy verenigde volk. Nog iets wat sal help, is groter waardering vir wat ons reeds ontvang het. Ons volgende artikel sal hierdie onderwerp bespreek.