Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Mylpale in my lewe van Koninkryksdiens

Mylpale in my lewe van Koninkryksdiens

In 1947 het Katolieke priesters in Santa Ana, El Salvador, moeilikheid vir die Getuies probeer veroorsaak. Terwyl die broers hulle weeklikse Wagtoring-studie gehou het, het seuns groot klippe deur die oop deur van die sendinghuis gegooi. Toe het ’n groep oproerige mense daar opgedaag met priesters aan die voortou. Party het fakkels gedra; ander het beelde gedra. Hulle het die gebou twee uur lank met klippe gegooi en gesing: “Lank lewe die Maagd!” en “Mag Jehovah sterf!” Dit was veronderstel om die sendelinge uit die dorp uit te dryf. Ek weet dit omdat ek een van daardie sendelinge was, en ek het daardie vergadering 67 jaar gelede bygewoon. *

TWEE jaar voor die bogenoemde gebeurtenis het ek en my sendelingmetgesel, Evelyn Trabert, van die vierde klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer, wat destyds naby Ithaca, New York, geleë was. Ons is gevra om in Santa Ana te gaan dien. Maar voordat ek verder gaan met my verhaal van sendingwerk wat oor byna 29 jaar gestrek het, wil ek julle vertel waarom ek besluit het om hierdie werk te doen.

MY GEESTELIKE ERFENIS

My ouers, John en Eva Olson, het in 1923, die jaar toe ek gebore is, in Spokane, Washington, VSA, gewoon. Hulle was Lutherane, maar hulle het nie aan die kerklering van die helse vuur geglo nie, aangesien dit nie ooreengestem het met hulle geloof in ’n God van liefde nie (1 Joh. 4:8). My pa het in ’n bakkery gewerk, en een aand het ’n medewerker hom verseker dat die Bybel nie leer dat die hel ’n plek van pyniging is nie. Kort voor lank het my ouers saam met Jehovah se Getuies begin studeer en geleer wat die Bybel werklik oor die lewe ná die dood leer.

Ek was net nege jaar oud, maar ek onthou hoe ek na my ouers geluister het wanneer hulle geesdriftig gepraat het oor die nuutgevonde Bybelwaarhede wat hulle geleer het. Hulle het selfs groter  geesdrif gehad toe hulle die naam van die ware God, Jehovah, geleer het en van die verwarrende Drie-eenheidsleer bevry is. Ek het hierdie wonderlike skriftuurlike leringe soos ’n spons begin absorbeer, en ‘die waarheid wat jou vrymaak’ geleer (Joh. 8:32). Daarom was Bybelstudie nooit vir my vervelig nie; trouens, ek het dit nog altyd geniet om God se Woord te ondersoek. Hoewel ek skaam was, het ek saam met my ouers in die predikingswerk uitgegaan. Hulle is in 1934 gedoop. In 1939, op 16-jarige ouderdom, het ek by hulle as ’n gedoopte kneg van Jehovah aangesluit.

Saam met my ma en pa by die byeenkoms in 1941 in St. Louis, Missouri

In die somer van 1940 het my ouers hulle huis verkoop, en ons drie het voltyds in Coeur d’Alene, Idaho, begin pionier. Ons het ’n woonstel bo ’n motorwerkwinkel gehuur. Ons plekkie is ook gebruik om vergaderinge te hou. Op daardie stadium het min gemeentes Koninkryksale gehad, en daarom het hulle in privaat huise of gehuurde kamers vergader.

In 1941 het ek en my ouers die byeenkoms in St. Louis, Missouri, bygewoon. Sondag was “Kinderdag”, en kinders tussen die ouderdomme van 5 en 18 het reg voor die verhoog gesit. Die hoogtepunt van broer Joseph F. Rutherford se toespraak was toe hy met ons jonges gepraat het: “Al julle . . . kinders . . . wat ingestem het om God en sy Koning te gehoorsaam, staan asseblief op!” Ons almal het opgestaan. Toe het broer Rutherford gesê: “Kyk! Meer as 15 000 nuwe getuies vir die Koninkryk!” Daardie oomblik het my selfs meer vasbeslote gemaak om die pionierdiens my loopbaan te maak.

ONS GESIN SE TOEWYSINGS

’n Paar maande ná die byeenkoms in St. Louis het ons gesin na die suide van Kalifornië getrek. Daar, in die stad Oxnard, was ons toewysing om ’n gemeente te stig. Ons het in ’n klein woonwa met net een bed gewoon. My “bed” moes elke aand op die eettafel opgemaak word—dit was nogal ’n groot verandering van die tyd toe ek my eie slaapkamer gehad het!

Net voordat ons in Kalifornië aangekom het, het Japan op 7 Desember 1941 Pearl Harbor in Hawaii aangeval. Die volgende dag het die Verenigde State by die Tweede Wêreldoorlog betrokke geraak. Die owerheid het ’n reël ingestel waar ons almal snags al die ligte moes afsit. Japannese duikbote het die Kaliforniese kus gepatrolleer, en die pikdonkerte het gehelp keer dat hulle teikens op die vasteland raakskiet.

’n Paar maande later, in September 1942, het ons die Nuwe Wêreld- Teokratiese Byeenkoms in Cleveland, Ohio, bygewoon. Daar het ons na broer Nathan H. Knorr geluister, wat die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” gelewer het. Hy het Openbaring hoofstuk 17 bespreek, wat ’n “wilde dier” beskryf wat ‘was, maar nie is nie, en tog op die punt staan om uit die afgrond op te kom’ (Op. 17:8, 11). Broer Knorr het verduidelik dat “die wilde dier” die Volkebond was, wat in 1939 ophou funksioneer het. Die Bybel het voorspel dat die Volkebond vervang sou word, wat tot ’n tyd van relatiewe vrede sou lei. En dit is presies wat gebeur het. In 1945 het die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom. Daarna het die “dier” weer verrys as die Verenigde Nasies. Jehovah se Getuies het toe hulle wêreldwye predikingswerk uitgebrei, en wat ’n groot toename was daar tog sedert daardie tyd!

My Gileaddiploma

Daardie profesie het my help besef wat voorlê. Toe daar aangekondig is dat die Gileadskool die  volgende jaar sou begin, het my begeerte ontwikkel om ’n sendeling te word. In 1943 is ek toegewys om in Portland, Oregon, te pionier. In daardie dae het ons ’n grammofoon gebruik om toesprake vir huisbewoners by hulle deur te speel, en dan het ons vir hulle Bybellektuur oor God se Koninkryk aangebied. Daardie hele jaar kon ek nie ophou dink aan sendingdiens nie.

In 1944 was ek verheug om ’n uitnodiging na Gilead te ontvang saam met my dierbare vriendin Evelyn Trabert. Ons onderrigters het ons vyf maande lank gewys hoe om vreugde uit ons studie van die Bybel te put. Hulle nederigheid het ons beïndruk. Soms wanneer ons ’n maaltyd geëet het, het daardie einste broers ons bedien. Ons het op 22 Januarie 1945 gegradueer.

MY SENDINGTOEWYSING

Ek en Evelyn het saam met Leo en Esther Mahan in Junie 1946 by ons toewysing in El Salvador aangekom. Ons het gevind dat daardie veld “wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Die voorval wat aan die begin van die artikel genoem is, toon hoe woedend die geestelikes was. Net ’n week vroeër het ons ons eerste kringbyeenkoms in Santa Ana gehou. Ons het die openbare toespraak wyd en syd geadverteer, en ons was oorstelp van vreugde toe byna 500 dit bygewoon het. Eerder as om uit die dorp uitgedryf te word, was ons meer vasbeslote om te bly en opregtes van hart te help. Hoewel die geestelikes mense gewaarsku het om nie die Bybel te lees nie en min mense ’n Bybel kon bekostig, het baie na die waarheid gehonger. Hulle het waardering gehad vir die feit dat ons Spaans probeer leer het sodat ons hulle kan leer omtrent die ware God, Jehovah, en sy kosbare belofte om ’n Paradys op aarde te herstel.

Uit my Gileadklas is vyf van ons na El Salvador gestuur. Van links na regs: Evelyn Trabert, Millie Brashier, Esther Mahan, ek en Leo Mahan

Rosa Ascencio was een van my eerste studente. Nadat sy die Bybel begin studeer het, het sy die man saam met wie sy gebly het, verlaat. Toe het hy die Bybel begin studeer. Hulle het getrou, is gedoop en het ywerige Getuies vir Jehovah geword. Rosa was die eerste plaaslike pionier in Santa Ana. *

Rosa het ’n klein kruidenierswinkel besit. Wanneer sy in die bediening uitgegaan het, het sy haar winkel gesluit en op Jehovah vertrou om in haar behoeftes te voorsien. Wanneer sy haar winkel weer ná ’n paar uur oopgemaak het, het klante ingestroom. Sy het eerstehands die waarheid van Matteus 6:33 ondervind en was tot haar dood toe getrou.

Daar was ’n man wat ’n huis aan ons, ’n groep van ses sendelinge, verhuur het. By een geleentheid het die plaaslike priester hom kom waarsku dat hy en sy vrou geëkskommunikeer sal word as hy aanhou om die huis aan ons te verhuur. Die man, ’n vername sakeman, was reeds gewalg deur die gedrag van die geestelikes en het nie voor die druk geswig nie. Hy het selfs vir die priester gesê dat hy nie sou omgee om uit die kerk gesit te word  nie. Hy het ons verseker dat ons welkom is om so lank as wat ons wil, daar te bly.

’N GERESPEKTEERDE BURGER WORD ’N GETUIE

Takkantoor wat in 1955 gebou is

In die hoofstad, San Salvador, het ’n ander sendeling die Bybel studeer met die vrou van ’n ingenieur met die naam Baltasar Perla. Hierdie goedhartige man het sy geloof in God verloor nadat hy die huigelary van die godsdiensleiers gesien het. Toe die tyd aangebreek het om ’n takkantoor te bou, het Baltasar, hoewel hy nog nie in die waarheid was nie, aangebied om die gebou sonder betaling te ontwerp en te bou.

Nadat Baltasar op die bouprojek met Jehovah se volk geassosieer het, was hy oortuig dat hy die ware godsdiens gevind het. Hy is op 22 Julie 1955 gedoop, en sy vrou, Paulina, is kort daarna gedoop. Albei hulle kinders dien Jehovah getrou. Sy seun, Baltasar jr., dien al 49 jaar lank by die Bethel in Brooklyn, waar hy die immer toenemende wêreldwye predikingswerk ondersteun en nou ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee is. *

Toe ons byeenkomste in San Salvador begin hou het, het broer Perla gehelp reël dat ons ’n groot gimnastieksaal daarvoor kon gebruik. Aanvanklik het ons net ’n paar rye stoele gebruik, maar met Jehovah se seën het ons getalle jaar ná jaar bly toeneem totdat ons die gimnastieksaal volgemaak het en selfs te veel geword het vir die saal! By hierdie vreugdevolle geleenthede het ek diegene gesien met wie ek die Bybel gestudeer het. Stel jou voor hoe ek gevoel het toe my voormalige studente my voorgestel het aan my “kleinkinders”—pasgedooptes met wie hulle gestudeer het!

Broer F.W. Franz spreek sendelinge by ’n byeenkoms toe

By een byeenkoms het ’n broer na my toe gekom en gesê dat hy wou bieg. Ek het hom nie herken nie en was nuuskierig. Hy het gesê: “Ek was een van die seuns wat julle in Santa Ana met klippe gegooi het.” Nou was hy ook ’n kneg van Jehovah! My hart het oorgeloop van vreugde. Daardie gesprek het vir my die feit beklemtoon dat die voltydse bediening die lonendste loopbaan is wat enigiemand kan kies.

Die eerste kringbyeenkoms wat ons in El Salvador bygewoon het

 BEVREDIGENDE KEUSES

Ek het omtrent 29 jaar lank as ’n sendeling gedien in El Salvador, eers in die stad Santa Ana, toe in Sonsonate, toe in Santa Tecla en laastens in San Salvador. In 1975, nadat ek dit lank en biddend oorweeg het, het ek my sendingtoewysing verlaat en na Spokane teruggekeer. My getroue, bejaarde ouers het my hulp nodig gehad.

Nadat my pa in 1979 gesterf het, het ek na my ma omgesien, wat al hoe swakker en hulpeloser geword het. Sy het nog agt jaar lank gelewe en op die ouderdom van 94 gesterf. Daardie moeilike tydperk het my fisies en emosioneel uitgeput. Die stres het pynlike gordelroos veroorsaak. Maar deur middel van gebed en Jehovah se liefdevolle arms rondom my om my op te beur, kon ek hierdie toets van volharding verduur. Dit is soos Jehovah gesê het: “Tot die grysheid toe sal ek julle ondersteun . . . en ontkoming . . . verskaf.”—Jes. 46:4.

In 1990 het ek na Omak, Washington, getrek. Daar het ek weer nuttig gevoel in die Spaanse veld, en talle van my Bybelstudente is gedoop. Teen November 2007 kon ek nie meer na my huis in Omak omsien nie, en daarom het ek na ’n woonstel in die nabygeleë dorp Chelan, Washington, getrek. Die Spaanse gemeente hier kyk sedertdien goed na my, en ek is baie dankbaar hiervoor. Aangesien ek die enigste bejaarde Getuie hier is, het die broers en susters my liefdevol “aangeneem” as hulle “ouma”.

Ek het gekies om nie te trou en ’n gesin te hê nie sodat ek meer in die bediening kon doen “sonder om afgelei te word”, maar tog het ek talle geestelike kinders (1 Kor. 7:34, 35). Ek het geredeneer dat ek in hierdie stelsel nie alles kan hê nie. Daarom het ek my toewyding om Jehovah heelhartig te dien, eerste gestel. In die nuwe wêreld sal daar baie tyd wees om allerhande ander heilsame bedrywighede te geniet. My gunstelingteks is Psalm 145:16, wat ons verseker dat Jehovah ‘die begeerte van alles wat lewe, bevredig’.

Pionierdiens hou my jonk van hart

Op 91-jarige ouderdom is my gesondheid nog redelik goed, en daarom pionier ek nog steeds. Die pionierdiens hou my jonk van hart en gee my ’n doel in die lewe. Toe ek die eerste keer in El Salvador aangekom het, het die predikingswerk net begin. Ten spyte van Satan se volgehoue teenstand is daar nou meer as 39 000 verkondigers in daardie land. Dit het werklik my geloof versterk. Dit is duidelik dat Jehovah se heilige gees ongetwyfeld die pogings van sy volk ondersteun!

^ par. 4 Sien die 1981 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 45-46.

^ par. 19 1981 Yearbook, bladsye 41-42.

^ par. 24 1981 Yearbook, bladsye 66-67, 74-75.