Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 UIT ONS ARGIEF

Die “Eurekadrama” het baie gehelp om Bybelwaarheid te vind

Die “Eurekadrama” het baie gehelp om Bybelwaarheid te vind

“EUREKA!” Daardie woord beteken: “Ek het dit gevind!” Gedurende die goudstormloop van die 19de eeu in Kalifornië, VSA, kon hierdie uitroep gehoor word wanneer ’n mynwerker goud gevind het. Maar Charles Taze Russell en mede-Bybelstudente het iets baie waardevollers gevind—Bybelwaarheid. En hulle was gretig om ander daarvan te vertel.

Teen die somer van 1914 het miljoene mense in groot stede gestroom na die “Fotodrama van die Skepping”, ’n agt uur lange aanbieding wat deur die Internasionale Bybelstudente-vereniging (IBSA) vervaardig is. Met sy pragtige rolprente, helder kleurskyfies, fassinerende vertelling en mooi klassieke musiek het hierdie aanbieding, wat op die Bybel gebaseer is, kykers geneem vanaf die skepping, deur die mensegeskiedenis, tot aan die einde van Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy.—Op. 20:4. *

Maar wat van diegene wat in klein dorpies en landelike gebiede gewoon het? Die IBSA het in Augustus 1914 die “Eurekadrama”—’n draagbare weergawe van die “Fotodrama” sonder die rolprentvertonings—vrygestel sodat almal wat na die waarheid honger, daarby kan baat vind. Daar was drie soorte om van te kies, elkeen beskikbaar in ’n aantal tale: Die “Eureka X”-weergawe het al die opgeneemde vertellings en musiek bevat. Die “Eureka Y”-weergawe het al die opnames sowel as pragtige veelkleurige skyfies ingesluit. En die “Eureka-gesinsdrama”, wat bedoel is om by die huis gekyk te word, het vertelling en gesange ingesluit. Goedkoop grammofone en projeksietoerusting kon ook verkry word.

’n Projektor is gebruik om die kleurskyfies te vertoon

Sonder om ’n rolprentprojektor of ’n groot skerm te gebruik, kon Bybelstudente met behulp van hierdie gratis aanbieding nuwe gebiede buite die stad met die Koninkryksboodskap bereik. Die “Eureka X”-weergawe, wat net klank bevat het, kon bedags of snags gespeel word. Die “Eureka Y”-skyfieprojektor kon sonder elektrisiteit werk, aangedryf deur ’n karbiedlamp. “Ons kan hierdie skyfies op byna enige plek vertoon”, het ’n berig in die Finse Watch Tower gesê. Hoe waar was dit tog!

In plaas daarvan om groot teaters te huur, het vindingryke Bybelstudente dikwels gratis fasiliteite gevind, soos klaskamers, hofgeboue, spoorwegstasies en selfs die voorkamers van groot huise. Baie vertonings het buite plaasgevind, en die “skerm” was ’n groot wit laken wat aan die kant van ’n skuur gehang is. Anthony Hambuch het geskryf: “Boere het ’n  klein stadion in hulle boorde opgerig wat bestaan het uit ’n groot aantal stompe waarop mense kon sit en die program geniet.” Hierdie “Eureka”-span het ’n “Drama-wa” gebruik vir hulle gereedskap, bagasie en kampeer- en kooktoerusting.

Gehore wat na die “Eurekadrama” kom kyk het, het gewissel van ’n handjie vol tot honderde mense. In die Verenigde State het 400 mense ’n vertoning in ’n skoolhuis bygewoon, al was daar net 150 inwoners in die dorp. Op ander plekke het party agt kilometer soontoe en agt kilometer terug gestap om die “Eurekadrama” te sien. In Swede is Charlotte Ahlberg se bure wat in haar huisie bymekaargekom het, “waarlik diep geraak” toe hulle die opnames gehoor het. Ongeveer 1 500 het na ’n vertoning in ’n afgesonderde mynstad in Australië gekom. Die Watch Tower het gesê dat “professors en studente beïndruk is met die prente en die wonderlike grammofoonplate” toe die “Eurekadrama” by hoërskole en kolleges vertoon is. Die “Eurekadrama” was selfs in plekke met bioskope gewild.

SAADJIES VAN WAARHEID WORD GEKWEEK

Die “Eurekadrama” het ’n nuttige middel geword in “klasuitbreidingswerk”, waar Bybelstudentklasse sprekers uitgestuur het om nuwe studieklasse te begin. Dit is moeilik om vas te stel hoeveel mense die “Eurekadrama” gesien het. Baie stelle van die “Drama” is gedurig gebruik. Maar in 1915 het slegs 14 van die 86 “Drama”-spanne hulle bedrywighede gereeld gerapporteer. Hoewel die opsomming aan die einde van die jaar gesê het dat dit ’n jammerte was dat die rapport onvolledig is, het dit ook gesê dat meer as ’n miljoen die “Drama” gesien het. Ongeveer 30 000 mense het Bybellektuur aangevra.

Die “Eurekadrama” het dalk net ’n dowwe spoor in die geskiedenis gelaat, maar vanaf Australië tot Argentinië, vanaf Suid-Afrika tot die Britse Eilande en in Indië en op die Karibiese Eilande het miljoene klaarblyklik hierdie unieke aanbieding gesien. Baie onder hulle het Bybelwaarheid gevind—waardevoller as goud—en kon uitroep: “Eureka!”

^ par. 4 Sien “Uit ons argief—’n Honderd jaar oue bewys van geloof”, in Die Wagtoring van 15 Februarie 2014, bladsye 30-32.