Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Help ander om hulle volle potensiaal te bereik

Help ander om hulle volle potensiaal te bereik

“Ek sal raad gee met my oog op jou.” —PS. 32:8.

1, 2. Hoe beskou Jehovah sy aardse knegte?

WANNEER ouers sien hoe hulle kinders speel, is hulle dikwels verbaas oor die natuurlike vermoëns wat die jonges het. Dalk het jy dit al self gesien. Een kind is dalk van nature rats of ’n goeie atleet, terwyl sy broer of suster beter met bordspeletjies is of meer kunstig is. Maar ongeag wat hulle kinders se gawes is, ouers put vreugde daaruit om hulle potensiaal te ontdek.

2 Jehovah stel ook opreg belang in sy aardse kinders. Hy beskou sy hedendaagse knegte as “die begeerlike dinge van al die nasies” (Hag. 2:7). Hulle is veral weens hulle geloof en toegewydheid kosbaar. Maar jy het dalk al opgelet dat jou mede-Getuies talle verskillende talente het. Party broers hou uitstekende toesprake, terwyl ander baie goeie organiseerders is. Baie susters leer ander tale vinnig aan en gebruik dit doeltreffend in die bediening, terwyl ander ’n wonderlike voorbeeld daarin stel om ondersteuning te gee aan dié wat aanmoediging nodig het of om na die siekes om te sien (Rom. 16:1, 12). Waardeer ons dit nie om saam met al hierdie Christene in die gemeente te wees nie?

3. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Maar party medegelowiges, insluitende jong of pas gedoopte  broers, het dalk nog nie hulle plek in die gemeente gevind nie. Hoe kan ons hulle help om hulle volle potensiaal te bereik? Waarom moet ons die goeie in hulle probeer vind en hulle sodoende beskou soos Jehovah hulle beskou?

JEHOVAH SIEN DIE GOEIE IN SY KNEGTE

4, 5. Hoe toon die verslag in Rigters 6:11-16 dat Jehovah sy knegte se potensiaal raaksien?

4 Daar is ’n aantal Bybelverslae wat duidelik toon dat Jehovah nie net die goeie in sy knegte sien nie, maar ook hulle potensiaal raaksien. Byvoorbeeld, toe Gideon gekies is om God se volk te bevry toe hulle deur die Midianiete verdruk is, was hy ongetwyfeld verstom toe die engel hom gegroet het met die woorde: “Jehovah is met jou, dapper, sterk man.” Op daardie stadium het Gideon klaarblyklik allesbehalwe “sterk” gevoel. Hy het sy twyfel uitgespreek en erken hoe gering hy voel. Maar soos die res van die gesprek toon, het Jehovah beslis ’n baie positiewer beskouing van sy kneg gehad as wat Gideon van homself gehad het.—Lees Rigters 6:11-16.

5 Jehovah het die vertroue gehad dat Gideon Israel kon verlos omdat Hy gesien het watter vaardighede hy gehad het. Om maar een ding te noem, Jehovah se engel het opgemerk dat Gideon met al sy mag koring uitgeslaan het. Nog iets het die engel se aandag getrek. In Bybeltye het boere graan gewoonlik buitekant uitgeslaan sodat die wind die kaf kon wegwaai. Maar Gideon het koring in die geheim in ’n wynpers uitgeslaan sodat hy sy karige oes vir die Midianiete kon wegsteek. Wat ’n slim strategie! Dit is geen wonder dat Gideon in Jehovah se oë nie net ’n versigtige boer was nie—hy was ’n skerpsinnige man. Ja, Jehovah het sy potensiaal raakgesien en het hom opgelei.

6, 7. (a) Hoe het Jehovah se beskouing van die profeet Amos verskil van dié van party Israeliete? (b) Wat toon dat Amos nie ongeletterd was nie?

6 Die verslag oor die profeet Amos toon ook dat Jehovah die potensiaal van een van sy knegte raakgesien het, al het hy dalk vir ander onbelangrik of nederig gelyk. Amos het homself beskryf as ’n veewagter en ’n prikker van wildevye—’n vyesoort wat as kos vir die armes beskou is. Toe Jehovah Amos aangestel het om ’n oordeelsboodskap aan die afgodsaanbiddende tienstammeryk van Israel bekend te maak, het party Israeliete moontlik gedink dat hy nie die regte persoon was nie.—Lees Amos 7:14, 15.

7 Amos het van ’n afgeleë dorpie gekom, maar sy kennis van die gebruike en heersers van sy tyd het bewys dat hy nie oningelig was nie. Hy was waarskynlik goed vertroud met die toestande in Israel, en sy kennis omtrent naburige nasies was moontlik te danke aan gesprekke wat hy met reisende handelaars gevoer het (Amos 1:6, 9, 11, 13; 2:8; 6:4-6). Party Bybelgeleerdes van vandag sê dat Amos ’n goeie skrywer was. Die profeet het nie net eenvoudige en kragtige woorde gekies nie, maar het ook goed gebruik gemaak van herhaling en woordspeling. Trouens, Amos se moedige antwoord aan die verdorwe priester Amasia het bevestig dat Jehovah die regte persoon gekies het en dat hy sy vermoëns, wat dalk nie vir ander ooglopend was nie, kon gebruik.—Amos 7:12, 13, 16, 17.

8. (a) Watter versekering het Jehovah Dawid gegee? (b) Waarom is die woorde van Psalm 32:8 gerusstellend vir diegene wat ’n gebrek aan selfvertroue of vaardighede het?

8 Ja, Jehovah sien elkeen van sy knegte se potensiaal raak. Hy het koning Dawid daarvan verseker dat hy hom altyd sou lei, met sy ‘oog op hom’. (Lees Psalm 32:8.) Waarom is dit vir ons aanmoedigend? Al het ons ’n gebrek aan  selfvertroue, kan Jehovah ons help om meer te doen as wat ons gedink het ons kan en om doelwitte te bereik wat vir ons voorheen ondenkbaar was. Net soos ’n goeie onderrigter ’n onervare leerling stap vir stap rig, rig Jehovah ons sodat ons geestelike vordering kan maak. Jehovah kan ook medegelowiges gebruik om ons te help om ons volle potensiaal te bereik. Hoe so?

PROBEER DIE GOEIE IN ANDER VIND

9. Hoe kan ons Paulus se vermaning toepas om ‘’n oog te hou’ op die belange van ander?

9 Paulus het alle Christene aangespoor om ‘’n oog te hou’ op die belange van medegelowiges. (Lees Filippense 2:3, 4.) Die punt van Paulus se raad is dat ons ander se gawes moet raaksien en dit moet erken. Hoe voel ons wanneer iemand belangstelling toon in die vordering wat ons maak? Gewoonlik spoor dit ons aan om verdere vordering te maak en bring dit die beste in ons na vore. Net so help ons ons medegelowiges om geestelik te floreer en te groei as ons toon dat ons hulle pogings waardeer.

10. Aan wie moet ons veral aandag skenk?

10 Aan wie moet ons veral aandag skenk? Ons almal het natuurlik van tyd tot tyd spesiale aandag nodig. Maar jong of pas gedoopte broers moet werklik voel dat hulle by die gemeente se bedrywighede betrokke is. Dit sal hulle help om te verstaan dat hulle wel ’n nuttige rol in Jehovah se organisasie speel. Maar as sulke broers nie gepaste erkenning kry nie, kan dit hulle begeerte smoor om meer verantwoordelikhede na te streef, iets wat God se Woord hulle aanspoor om te doen.—1 Tim. 3:1.

11. (a) Hoe het ’n ouer man ’n jong man gehelp om sy skaamheid te oorkom? (b) Watter les leer jy uit Julien se ondervinding?

11 Ludovic, ’n ouer man wat by sulke belangstelling baat gevind het toe hy jonger was, sê: “’n Broer maak vinniger vordering wanneer ek opregte belangstelling in hom toon.” Julien was so ’n jong man. Ludovic het opgelet dat Julien skaam is, en wanneer hy meer in die gemeente probeer doen het, was hy onseker van homself en het hy eienaardig opgetree. Ludovic sê: “Ek kon sien dat hy eintlik baie goedhartig was en dat hy ander in die gemeente werklik wou help. Eerder as om sy beweegredes te bevraagteken, het ek dus op sy positiewe eienskappe gekonsentreer en hom probeer aanmoedig.” Ná verloop van tyd het Julien gekwalifiseer om as ’n bedieningskneg te dien, en nou is hy ’n gewone pionier.

HELP HULLE OM HULLE VOLLE POTENSIAAL TE BEREIK

12. Watter belangrike eienskap is nodig om iemand te help om sy volle potensiaal te bereik? Gee ’n voorbeeld.

12 As ons ander wil help om hulle volle potensiaal te bereik, moet ons onderskeidingsvermoë aan die dag lê. Soos Julien se ondervinding toelig, sal ons dalk verder as ’n persoon se swak punte moet kyk om te sien watter goeie eienskappe en vaardighede hy het wat verder ontwikkel kan word. Dit is wat Jesus in die geval van die apostel Petrus gedoen het. Hoewel dit soms gelyk het asof Petrus onbetroubaar is, het Jesus voorspel dat hy so standvastig soos ’n rots sou word.—Joh. 1:42.

13, 14. (a) Hoe het Barnabas onderskeidingsvermoë aan die dag gelê in die geval van die jong Markus? (b) Hoe is ’n jong broer op soortgelyke wyse as Markus gehelp? (Sien prent aan begin van artikel.)

13 Barnabas het soortgelyke onderskeidingsvermoë aan die dag gelê in die geval van Johannes, wat die Romeinse bynaam Markus gehad het (Hand. 12:25). Gedurende Paulus se eerste sendingreis met Barnabas het Markus as ’n “helper” gedien en het hy moontlik na hulle fisiese  behoeftes omgesien. Maar toe hulle by Pamfilië aangekom het, het Markus skielik sy metgeselle in die steek gelaat. Hulle moes sonder hom noordwaarts reis deur ’n gebied wat berug was vir rowers (Hand. 13:5, 13). Maar Barnabas het blykbaar verder as Markus se eienaardige optrede gekyk en hom later verdere opleiding gegee (Hand. 15:37-39). Dit het die jong man gehelp om ’n volwasse kneg van Jehovah te word. Interessant genoeg, Markus het hulp verleen aan Paulus, toe hy in Rome in die tronk was. En toe die apostel aan die Christene in die gemeente in Kolosse geskryf het, het hy goed van hom gepraat (Kol. 4:10). Stel jou voor hoe bly Barnabas moes gewees het toe Paulus selfs gevra het dat Markus hom moet kom help.—2 Tim. 4:11.

14 Alexandre, ’n pas aangestelde ouer man, vertel hoe hy baat gevind het by ’n broer se insigryke benadering: “Toe ek jonger was, was dit werklik vir my moeilik om in die openbaar te bid. ’n Ouer man het vir my gewys hoe om daarvoor voor te berei en meer ontspanne te wees. Pleks van my nie weer te vra om te bid nie, het hy my gereeld geleenthede gegee om by velddiensvergaderinge te bid. Mettertyd het ek meer selfvertroue ontwikkel.”

15. Hoe het Paulus waardering getoon vir sy broers?

15 Sê ons vir ’n mede-Christen in wie ons ’n goeie eienskap sien, hoeveel ons daardie eienskap waardeer? In Romeine hoofstuk 16 het Paulus erkenning gegee aan meer as 20 medegelowiges vir eienskappe wat hulle by hom geliefd gemaak het (Rom. 16:3-7, 13). Paulus het byvoorbeeld erken dat Andronikus en Junias Christus langer as hy gedien het, wat hulle Christelike volharding beklemtoon het. Paulus het ook met geneentheid gepraat van die moeder van Rufus, en moontlik verwys na die liefdevolle sorg wat sy vroeër aan hom voorsien het.

Frédéric (links) het Rico aangespoor om in sy diens aan Jehovah te volhard (Sien paragraaf 16)

16. Wat kan die gevolg wees wanneer ’n jongmens geprys word?

16 As ons iemand opreg prys, kan dit goeie resultate oplewer. Kyk na die geval van Rico, ’n jong seun in Frankryk, wat ontmoedig was omdat sy pa, wat nie ’n Getuie was nie, nie wou hê dat Rico gedoop moes word nie. Rico het gedink dat hy sou moes wag totdat hy mondig is om Jehovah ten volle te dien. Hy was ook hartseer omdat die kinders by die skool hom gespot het. Frédéric, ’n gemeentelike ouer man wat gevra is om die Bybel met hom te studeer, vertel: “Ek het Rico geprys omdat hierdie teenstand getoon het dat hy moedig genoeg was om oor sy geloof te praat.” Hierdie woorde het Rico meer vasbeslote gemaak om aan te hou om voorbeeldig te wees en het hom gehelp om nader aan sy pa te kom. Rico is gedoop toe hy 12 jaar oud was.

Jérôme (regs) het Ryan gehelp om te kwalifiseer om as ’n sendeling te dien (Sien paragraaf 17)

17. (a) Hoe kan ons ons broers help om vordering te maak? (b) Hoe het ’n sendeling persoonlike belangstelling in jong broers getoon, en wat was die gevolg?

17 Elke keer dat ons ons medegelowiges prys omdat hulle ’n toewysing goed  behartig het of ’n prysenswaardige poging aanwend, spoor ons hulle aan om Jehovah hulle beste te gee. Sylvie, * wat al jare lank in Frankryk by Bethel dien, het gesê dat susters broers ook kan prys. Sy het gesê dat susters dikwels dinge raaksien en waardeer wat mans nie sien nie. Benewens die hulp van ervare broers, kan susters se woorde dus verdere aanmoediging voorsien. Sy het bygevoeg: “Ek beskou dit as my plig om ander te prys” (Spr. 3:27). Jérôme, ’n sendeling in Frans-Guiana, het al talle jong mans gehelp om te kwalifiseer om sendingwerk te doen. Hy sê: “Ek het opgemerk dat jong broers meer selfvertroue ontwikkel as ek hulle vir spesifieke dinge in hulle bediening of vir weldeurdagte kommentare prys. Dan ontwikkel hulle hulle vaardighede verder.”

18. Waarom is dit voordelig om saam met jonger broers te werk?

18 Ons kan medegelowiges ook aanspoor om geestelike vordering te maak deur saam met hulle te werk. ’n Ouer man kan ’n jonger broer wat rekenaarvaardig is, vra om inligting op jw.org/af uit te druk wat aanmoedigend kan wees vir bejaardes wat nie rekenaars het nie. Of as jy werk doen aan die Koninkryksaal, kan jy gerus ’n jong broer nooi om saam met jou te werk. Sulke pogings sal jou die geleentheid gee om jongmense waar te neem en te prys en die goeie gevolge daarvan te sien.—Spr. 15:23.

BOU VIR DIE TOEKOMS

19, 20. Waarom moet ons ander help om vordering te maak?

19 Toe Jehovah Josua aangestel het om die Israeliete te lei, het hy Moses ook beveel om Josua ‘aan te moedig en te versterk’. (Lees Deuteronomium 3:28.) Al hoe meer mense sluit hulle by ons wêreldwye gemeente aan. Alle ervare Christene—nie net ouer manne nie—kan jong broers en nuwelinge help om hulle volle potensiaal te bereik. Al hoe meer mense sal dus die voltydse bediening betree en “bekwaam . . . wees om ander te leer”.—2 Tim. 2:2.

20 Hetsy ons aan ’n goed gevestigde gemeente behoort, of aan ’n klein groepie wat nog ’n gemeente moet word, laat ons vir die toekoms bou. Dit is belangrik om Jehovah na te volg, wat altyd die goeie in sy knegte probeer vind.

^ par. 17 Naam is verander.