Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Betoon agting aan die bejaardes onder julle

Betoon agting aan die bejaardes onder julle

“Jy moet aan ’n bejaarde agting betoon.”LEV. 19:32.

1. In watter droewige toestand is die wêreld?

JEHOVAH het nooit bedoel dat mense die aftakelende gevolge van veroudering moet ly nie. Inteendeel, sy voorneme was dat mans en vroue volmaakte gesondheid in die Paradys moet geniet. Maar ‘die hele skepping kreun voortdurend saam en ly voortdurend saam pyn’ (Rom. 8:22). Stel jou voor hoe God voel wanneer hy die verwoestende gevolge van sonde in die mens sien. Wat meer is, baie bejaardes word verwaarloos op ’n stadium in hulle lewe wanneer hulle meer hulp nodig het.Ps. 39:5; 2 Tim. 3:3.

2. Waarom is Christene dankbaar dat daar bejaardes in die gemeente is?

2 Jehovah se volk is dankbaar dat daar bejaardes in die gemeentes is. Ons vind baat by hulle wysheid en word aangevuur deur hulle voorbeeld van geloof. Baie van ons het een of meer bejaarde familielede. Maar of ons nou bejaarde familielede het of nie, ons stel in die welsyn van ons bejaarde broers en susters belang (Gal. 6:10; 1 Pet. 1:22). Ons almal sal daarby baat vind as ons God se beskouing van bejaardes ondersoek. Ons sal ook die verantwoordelikhede van familielede sowel as die gemeente teenoor ons geliefde bejaardes bespreek.

‘MOET MY NIE WEGWERP NIE’

3, 4. (a) Watter betekenisvolle versoek het die skrywer van Psalm 71 aan Jehovah gerig? (b) Wat kan bejaarde lede van die gemeente God vra?

3 “Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie;  moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie”, het die geïnspireerde skrywer van Psalm 71:9 God gesmeek. Hierdie psalm is blykbaar ’n voortsetting van Psalm 70, waarvan die opskrif “Van Dawid” is. Dit was dus waarskynlik Dawid wat die versoek gedoen het wat ons in Psalm 71:9 vind. Hy het God van sy jeug tot op sy ou dag gedien, en Jehovah het hom op kragtige maniere gebruik (1 Sam. 17:33-37, 50; 1 Kon. 2:1-3, 10). Nogtans het Dawid dit nodig geag om Jehovah te vra om aan te hou om aan hom guns te bewys.Lees Psalm 71:17, 18.

4 Vandag is baie mense soos Dawid. Ondanks bejaardheid en “rampspoedige dae” hou hulle aan om God na die beste van hulle vermoë te loof (Pred. 12:1-7). Baie van hulle kan moontlik nie alles doen wat hulle voorheen op verskeie gebiede van die lewe, insluitende die bediening, gedoen het nie. Maar soos Dawid kan hulle Jehovah ook smeek om aan te hou om aan hulle guns te bewys en vir hulle te sorg. Sulke getroue bejaardes kan daarvan seker wees dat God hulle gebede sal verhoor. Hulle bid immers oor dieselfde geldige bekommernisse as wat Dawid onder goddelike inspirasie uitgespreek het.

5. Hoe beskou Jehovah getroue bejaardes?

5 Die Skrif toon duidelik dat Jehovah getroue bejaardes hoog op prys stel en dat hy verwag dat sy knegte aan hulle agting moet betoon (Ps. 22:24-26; Spr. 16:31; 20:29). “Voor grys hare moet jy opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon, en jy moet jou God vrees. Ek is Jehovah”, sê Levitikus 19:32. Ja, toe hierdie woorde neergeskryf is, was dit ’n ernstige verantwoordelikheid om aan die bejaardes in die gemeente agting te betoon, en dit is vandag ook die geval. Maar gestel hulle het sorg nodig. Wie se verantwoordelikheid is dit?

DIE FAMILIE SE VERANTWOORDELIKHEID

6. Watter voorbeeld het Jesus daarin gestel om vir ’n ouer te sorg?

6 God se Woord sê vir ons: “Eer jou vader en jou moeder” (Eks. 20:12; Ef. 6:2). Jesus het hierdie gebod beklemtoon deur die Fariseërs en skrifgeleerdes wat geweier het om vir hulle ouers te sorg, te veroordeel (Mark. 7:5, 10-13). Jesus self het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Toe Jesus byvoorbeeld kort voor sy dood aan die folterpaal gehang het, het hy sy moeder, wat blykbaar op daardie stadium ’n weduwee was, aan die sorg van sy geliefde dissipel Johannes toevertrou.Joh. 19:26, 27.

7. (a) Watter beginsel het die apostel Paulus uiteengesit wanneer dit kom by gelowiges se verantwoordelikheid teenoor hulle ouers? (b) Wat is die konteks van Paulus se woorde?

7 Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf dat gelowiges vir hulle eie huisgesin moet sorg. (Lees 1 Timoteus 5:4, 8, 16.) Kyk na die konteks van Paulus se woorde aan Timoteus. Paulus het bespreek wie aan die vereistes voldoen om finansiële steun van die gemeente te ontvang en wie nie daaraan voldoen nie. Hy het uitdruklik gesê dat dit hoofsaaklik ’n bejaarde weduwee se gelowige kinders, kleinkinders en ander familielede se verantwoordelikheid is om vir haar te sorg. Daar sou dus geen onnodige finansiële las op die gemeente geplaas word nie. Net so is een van die maniere waarop Christene van vandag “godvrugtige toegewydheid” beoefen, om in die materiële behoeftes van behoeftige familielede te voorsien.

8. Waarom voorsien die Bybel nie spesifieke instruksies oor hoe om vir bejaarde ouers te sorg nie?

8 Eenvoudig gestel, is volwasse Christenkinders onder verpligting om seker te maak dat daar in hulle ouers se materiële behoeftes voorsien word. Hoewel Paulus van gelowige familielede gepraat het, moet ouers wat nie lede van die  Christengemeente is nie, nie verwaarloos word nie. Die maniere waarop kinders vir hulle ouers sorg, verskil. Elke situasie is anders. Die behoeftes, geaardheid en gesondheid van elke persoon verskil. Party bejaardes het baie kinders; ander het net een. Party kan staatshulp ontvang; ander kan nie. Hulle voorkeure verskil ook. Dit sal dus nie verstandig of liefdevol wees om die manier waarop iemand vir bejaarde familielede probeer sorg, te kritiseer nie. Jehovah kan immers enige skriftuurlike besluit seën en dit laat werk, en dit is al sedert Moses se dag die geval.Num. 11:23.

9-11. (a) Voor watter moeilike situasies kom party te staan? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom moet volwasse kinders nie oorhaastig die voltydse diens verlaat nie? Lig toe.

9 Wanneer ouers en kinders ver van mekaar af woon, kan dit moeilik wees om die nodige hulp aan bejaarde ouers te voorsien. As ’n ouer se gesondheid skielik agteruitgaan, dalk omdat hy of sy geval het, ’n been gebreek het of weens ’n ander krisis, sal dit dalk nodig wees om hom of haar te besoek. Ná so ’n voorval sal hy of sy hulp nodig hêdalk tydelik of dalk oor ’n lang tydperk. *

10 Voltydse knegte wat weens hulle teokratiese toewysings ver van die huis af is, kan voor baie moeilike besluite te staan kom. Dié wat as Betheliete, sendelinge en reisende opsieners dien, beskou hulle toewysing as kosbaar, ’n seën van Jehovah. Maar as hulle ouers siek word, is hulle eerste reaksie dalk: ‘Ons moet ons toewysing verlaat en huis toe gaan om na ons ouers om te sien.’ Dit sal egter verstandig wees om biddend te oorweeg of dit is wat die ouers werklik nodig het of selfs wil hê. Niemand moet diensvoorregte oorhaastig prysgee nie, en dit is dalk nie altyd nodig nie. Is die gesondheidsprobleem moontlik tydelik, iets waarmee die ouers se gemeente met graagte sal help?Spr. 21:5.

11 Beskou byvoorbeeld die geval van twee vleeslike broers wat ver van die huis af gedien het. Die een was ’n sendeling in Suid-Amerika en die ander het gewerk by die wêreldhoofkwartier, in Brooklyn, New York. Die broers se bejaarde ouers het hulp nodig gehad. Die seuns en hulle vrouens het die ouers in die Verre Ooste besoek om te sien watter hulp voorsien kon word, en hoe. Ná verloop van tyd het die egpaar in Suid-Amerika dit oorweeg om hulle toewysing te verlaat en terug te keer huis toe. Toe het hulle ’n oproep ontvang van die koördineerder van die liggaam van ouer manne in die ouers se gemeente. Daardie ouer manne het die situasie bespreek en wou hê dat die sendelinge so lank as moontlik in hulle toewysing moet bly. Die ouer manne het hierdie egpaar se diens waardeer en was vasbeslote om alles in hulle vermoë te doen om hulle te help om na hulle ouers om te sien. Almal in die familie het hierdie liefdevolle hulp waardeer.

12. Wat is die belangrikste oorweging wanneer ’n Christengesin besluit hoe om na hulle ouers om te sien?

12 Ongeag hoe ’n Christengesin ook al besluit om in die behoeftes van bejaarde ouers te voorsien, almal wat betrokke is, sal beslis wil seker maak dat dit eer op God se naam bring. Ons wil nooit soos die godsdiensleiers van Jesus se dag wees nie (Matt. 15:3-6). Ons wil hê dat ons besluite God en die gemeente tot eer moet strek.2 Kor. 6:3.

DIE GEMEENTE SE VERANTWOORDELIKHEID

13, 14. Waarom kan ons uit die Skrif aflei dat gemeentes daarin belangstel om na bejaarde gemeentelede om te sien?

13 Nie almal kan voltydse bedienaars  help soos hierbo gemeld is nie. Maar ’n situasie wat in die eerste eeu ontstaan het, toon duidelik dat gemeentes daarin belangstel om in die behoeftes van voorbeeldige bejaarde broers en susters te voorsien. Die Bybel sê aangaande die gemeente in Jerusalem dat “daar . . . nie een onder hulle [was] wat gebrek gely het nie”. Dit wil nie sê dat almal welgesteld was nie. Party het klaarblyklik min gehad, maar daar “is aan elkeen uitgedeel volgens sy behoefte” (Hand. 4:34, 35). Later het ’n ander situasie plaaslik ontstaan. Sekere “weduwees [is] in die daaglikse uitdeling [van voedsel] oor die hoof gesien”. Die apostels het dus bekwame manne aangestel wat op hulle beurt reëlings getref het om te verseker dat daar op voldoende en regverdige wyse in die weduwees se behoeftes voorsien word (Hand. 6:1-5). Die daaglikse uitdeling was wel ’n tydelike reëling wat bedoel was om in die behoeftes te voorsien van diegene wat op Pinkster 33 HJ Christene geword het en wat ’n tyd lank in Jerusalem gebly het om geestelik opgebou te word. Tog toon die apostels se optrede dat die gemeente kan help om vir behoeftige lede te sorg.

14 Soos gemeld is, het Paulus aan Timoteus instruksies gegee wat die omstandighede uiteengesit het waaronder Christenweduwees aan die vereistes sou voldoen om materiële bystand van die gemeente te ontvang (1 Tim. 5:3-16). Die geïnspireerde Bybelskrywer Jakobus het ook erken dat Christene onder verpligting is om na wese, weduwees en ander wat in verdrukking verkeer of behoeftig is, om te sien (Jak. 1:27; 2:15-17). Die apostel Johannes het ook geredeneer: “Wie hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom?” (1 Joh. 3:17). As elke Christen so ’n verpligting teenoor behoeftiges het, geld dit dan nie ook vir die gemeentes nie?

Hoe kan die gemeente help as ’n ongeluk plaasvind?(Sien paragrawe 15, 16)

15. Watter faktore is betrokke wanneer bystand aan bejaarde broers en susters verleen moet word?

15 In party lande voorsien die staat pensioene, welsynsdienste en tuissorgdienste vir bejaarde burgers (Rom. 13:6). In ander lande is sulke dienste nie beskikbaar nie. Die hoeveelheid fisiese bystand wat familielede en die gemeente aan bejaarde broers en susters moet gee, verskil dus van situasie tot situasie. As gelowige kinders ver van hulle ouers af woon, kan dit bepaal hoeveel hulp die kinders redelikerwys kan voorsien. Dit sal verstandig wees as die kinders vryelik met die ouer manne in hulle ouers se gemeente  kommunikeer om te verseker dat almal die familie se omstandighede verstaan. Byvoorbeeld, die ouer manne kan moontlik bystand verleen deur die ouers te help om uit te vind watter staats- en maatskaplike programme plaaslik beskikbaar is en om daaruit voordeel te trek. Hulle sal dalk ook dinge opmerk wat hulle onder die aandag van volwasse kinders kan bringsoos as die ouers nie hulle rekeninge oopmaak of hulle medikasie neem nie. Sulke goed bedoelde en liefdevolle kommunikasie kan verhoed dat ’n situasie vererger en kan help om praktiese oplossings te vind. Dit is duidelik dat mense wat praktiese hulp verleen en raad gee en as ’t ware as die kinders se “oë” dien, die familie ’n mate van gemoedsrus kan gee.

16. Hoe help party Christene bejaardes in die gemeente?

16 Uit geneentheid vir hulle geliefde bejaarde broers en susters gee party Christene vrywillig van hulle tyd en energie om te help waar hulle kan. Hulle maak ’n punt daarvan om spesiale belangstelling in bejaarde gemeentelede te toon. Party verdeel die werklas met ander in die gemeente en maak beurte om na bejaardes om te sien. Hoewel hulle omstandighede hulle nie toelaat om in die voltydse bediening te wees nie, wil hulle graag die kinders help om so lank as moontlik in hulle gekose toewysings te bly. Wat ’n uitstekende gees openbaar sulke broers tog! Hulle vrygewigheid stel die kinders natuurlik nie vry van die verantwoordelikheid om alles in hulle vermoë vir hulle ouers te doen nie.

BETOON AGTING AAN BEJAARDES DEUR HULLE AAN TE MOEDIG

17, 18. Watter gesindheid moet versorgers sowel as bejaardes openbaar?

17 Almal wat help om vir bejaardes te sorg, kan probeer om die situasie so aangenaam as moontlik te maak. As jy ’n rol hierin speel, moet jy jou bes doen om ’n positiewe gees te behou. In party gevalle lei die verouderingsproses tot wanhopigheid, selfs depressie. Daarom sal jy dalk ’n spesiale poging moet aanwend om agting aan bejaarde broers en susters te betoon en hulle aan te moedig deur jou gesprekke met hulle opbouend te hou. Dié wat ’n goeie rekord van toegewyde diens het, moet geprys word. Jehovah vergeet nie wat hulle in sy diens gedoen het nie, en mede-Christene vergeet dit ook nie.Lees Maleagi 3:16; Hebreërs 6:10.

18 Daarbenewens kan moeilike daaglikse take draagliker gemaak word wanneer die bejaardes en hulle versorgers op gepaste tye van humor gebruik maak (Prediker 3:1, 4). Baie bejaardes maak ’n punt daarvan om nie te veeleisend te wees nie. Hulle besef dat hulle gesindheid ’n uitwerking kan hê op die hoeveelheid aandag en besoeke wat hulle ontvang. Besoekers sal dikwels sê: “Ek het ’n bejaarde broer besoek om hom aan te moedig, maar hy het my aangemoedig.”Spr. 15:13; 17:22.

19. Watter vooruitsig kan jonk en oud vir die toekoms hê?

19 Ons sien gretig uit na die dag wanneer lyding en die gevolge van onvolmaaktheid tot ’n einde sal kom. Intussen moet God se knegte hulle hoop gevestig hou op dinge wat ewig is. Geloof in God se beloftes is immers ’n anker in tye van benoudheid of verdrukking. Danksy hierdie geloof “gee ons nie moed op nie, maar selfs al teer die mens wat ons uiterlik is weg, word die mens wat ons innerlik is, beslis van dag tot dag vernuwe” (2 Kor. 4:16-18; Heb. 6:18, 19). Maar wat, benewens sterk geloof in God se beloftes, kan jou help om die verantwoordelikheid na te kom om na ’n bejaarde om te sien? Die volgende artikel sal ’n paar praktiese wenke bespreek.

^ par. 9 Die volgende artikel sal ’n paar van die opsies bespreek wat moontlik aan bejaardes en hulle kinders beskikbaar is.