Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die weduwee van Sarfat is beloon vir haar geloof

Die weduwee van Sarfat is beloon vir haar geloof

’N ARM weduwee omhels haar seuntjie, haar enigste kind. Sy kan haar oë nie glo nie. Net kort tevore het sy sy lewelose liggaam met teerheid in haar arms vasgehou. Nou kyk die vrou na haar verrese seun en is sy verheug om sy glimlag te sien. “Kyk”, sê haar gas, “jou seun lewe.”

Dié dramatiese opstanding het amper 3 000 jaar gelede plaasgevind. Jy kan hieroor lees in 1 Konings hoofstuk 17. Die gas is God se profeet Elia. En die moeder? Sy is ’n weduwee wat in die dorp Sarfat gewoon het, en haar naam word nie genoem nie. Die opstanding van haar seun was een van die geloofversterkendste gebeurtenisse in haar lewe. In ons bespreking van hierdie weduwee sal ons ’n paar belangrike lesse leer.

ELIA VIND ’N WEDUWEE WAT GELOOF HET

Jehovah het bepaal dat daar ’n lang droogte sou wees in die ryk van Agab, die goddelose koning van Israel. Nadat Elia voorspel het dat daar ’n droogte sou wees, het God hom vir Agab verberg en het hy die profeet wonderdadig met brood en vleis gevoed wat deur rawe na hom toe gebring is. Toe het Jehovah vir Elia gesê: “Staan op, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en jy moet daar woon. Kyk! Ek sal ’n vrou, ’n weduwee, daar beslis beveel om jou van voedsel te voorsien.”—1 Kon. 17:1-9.

Toe Elia in Sarfat aangekom het, het hy ’n arm weduwee gesien wat besig was om stukke hout bymekaar te maak. Kon sy die vrou wees wat die profeet van voedsel sou voorsien? Hoe sou sy dit kon doen, aangesien sy self so arm was? Ten spyte van enige bedenkinge wat Elia dalk gehad het, het hy ’n gesprek met die vrou aangeknoop. Hy het gesê: “Gaan haal asseblief vir my ’n slukkie water in ’n houer sodat ek kan drink.” Toe sy vir hom water gaan haal, het Elia bygevoeg: “Bring asseblief vir my ’n stukkie brood” (1 Kon. 17:10, 11). Dit was  nie vir die weduwee ’n probleem om vir die vreemdeling water te gee nie, maar dit was wel ’n probleem om vir hom brood te gee.

“So waar as Jehovah u God lewe”, het sy gesê, “ek het geen ronde koek nie, net ’n hand vol meel in die groot kruik en ’n bietjie olie in die klein kruik; en kyk, ek maak ’n paar stukke hout bymekaar, en ek moet ingaan en vir my en my seun iets maak, en ons sal dit moet eet en sterf” (1 Kon. 17:12). Kom ons kyk wat ons uit hierdie gesprek kan leer.

Die weduwee het besef dat Elia ’n godvresende Israeliet is. Dit blyk duidelik uit haar woorde “so waar as Jehovah u God lewe”. Dit wil voorkom asof sy ’n mate van kennis van Israel se God gehad het, maar dat dit nie genoeg was om die woorde “my God” te gebruik toe sy na Jehovah verwys het nie. Sy het in Sarfat gewoon, ’n dorp wat ‘behoort het aan’, of klaarblyklik afhanklik was van, die Fenisiese stad Sidon. Die inwoners van Sarfat was heel waarskynlik Baälaanbidders. Nietemin het Jehovah iets besonders in hierdie weduwee gesien.

Hoewel die arm weduwee van Sarfat tussen afgodedienaars gewoon het, het sy geloof beoefen. Jehovah het Elia na die vrou toe gestuur vir haar onthalwe, asook vir die profeet se onthalwe. Ons kan ’n belangrike les hieruit leer.

Nie al die Baälaanbiddende inwoners van Sarfat was heeltemal verdorwe nie. Deur Elia na hierdie weduwee te stuur, het Jehovah getoon dat Hy ag gee op welmenende persone wat Hom nog nie dien nie. Ja, “in elke nasie is die mens wat [God] vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik”.—Hand. 10:35.

Hoeveel mense in julle gebied is soos die weduwee van Sarfat? Hoewel hulle dalk omring is deur aanhangers van valse godsdiens, smag hulle dalk na iets beters. Hulle het moontlik min of geen kennis van Jehovah nie en het dus hulp nodig voordat hulle ware aanbidding kan aanneem. Soek jy na sulke mense en help jy hulle?

‘MAAK EERS VIR MY ’N KLEIN RONDE KOEK’

Dink na oor wat Elia die weduwee gevra het om te doen. Sy het kort tevore vir hom gesê dat sy nog net een maaltyd vir haar en haar seun sou voorberei en dat hulle dit dan sou eet en sou sterf. Maar wat het Elia gesê? “Moenie bang wees nie. Gaan in, doen volgens jou woord. Maar maak van wat daar is eers vir my ’n klein ronde koek, en jy moet dit na my toe uitbring, en daarna kan jy vir jou en jou seun iets maak. Want só het Jehovah, die God van Israel, gesê: ‘Die groot kruik meel sal nie opraak nie, en die klein kruik olie sal nie leegraak nie tot die dag dat Jehovah ’n stortreën op die oppervlak van die aarde gee.’”—1 Kon. 17:11-14.

‘Hoe kan jy my vra om ons laaste maaltyd weg te gee? Jy is seker nie ernstig nie’, sou party dalk gesê het. Maar dit was nie hoe hierdie weduwee gereageer het nie. Ten spyte van haar beperkte kennis van Jehovah, het sy Elia geglo en gedoen wat hy haar gevra het. Wat ’n groot toets van geloof was dit tog—en wat ’n wyse besluit het sy tog geneem!

Die weduwee se geloof in Elia se God, Jehovah, het haar en haar seun se lewe bewaar

God het daardie arm weduwee nie verlaat nie. Net soos Elia belowe het, het Jehovah haar skrapse voorraad olie en meel vermeerder, sodat dit genoeg was om Elia, die weduwee en haar seun aan die lewe te hou totdat die droogte geëindig het. Ja, “die groot kruik meel het nie opgeraak nie, en die klein kruik olie het nie leeggeraak nie, volgens Jehovah se woord wat hy deur middel van Elia gespreek het”  (1 Kon. 17:16; 18:1). As hierdie vrou anders opgetree het, sou die ronde koek wat sy van haar skrapse voorraad meel en olie gemaak het, heel waarskynlik haar laaste maaltyd gewees het. Maar sy het in geloof opgetree, op Jehovah vertrou en eers vir Elia kos gegee.

Een les wat ons hieruit kan leer, is dat God diegene seën wat geloof beoefen. As jy geloof beoefen wanneer jou onkreukbaarheid getoets word, sal Jehovah jou help. Hy sal ’n Voorsiener, ’n Beskermer en ’n Vriend wees om jou te help om jou beproewing die hoof te bied.—Eks. 3:13-15.

In 1898 het Zion’s Watch Tower hierdie les oor die weduwee se verhaal bevat: “As die vrou die geloof gehad het wat nodig was om gehoorsaam te wees, sou sy waardig geag word om die Here se hulp deur die Profeet te ontvang; as sy nie geloof beoefen het nie, sou hy moontlik ’n ander weduwee gevind het wat dit wel sou doen. Dit is ook die geval met ons—op ons lewenspad neem die Here ons soms na ’n plek waar hy ons geloof toets. As ons geloof beoefen, sal ons die seën ontvang; as ons dit nie doen nie, sal ons dit verloor.”

Wanneer ons voor spesifieke beproewinge te staan kom, moet ons goddelike leiding in die Skrif en in ons Bybelpublikasies soek. Dan moet ons in ooreenstemming optree met Jehovah se riglyne, ongeag hoe moeilik dit dalk is om te aanvaar. Ons sal beslis geseën word as ons in ooreenstemming met hierdie wyse spreuk optree: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spr. 3:5, 6.

‘U HET NA MY TOE GEKOM OM MY SEUN DOOD TE MAAK’

Nog ’n toets van geloof het vir die weduwee voorgelê. “Ná hierdie dinge”, sê die Bybelverslag, “het die seun van die vrou, die meesteres van die huis, siek geword, en sy siekte het so ernstig geword dat daar geen asem in hom oorgebly het nie.” Die treurende moeder het na ’n rede vir hierdie tragedie gesoek en het vir Elia gesê: “Wat het ek met u te doen, o man van die ware God? U het na my toe gekom om my oortreding in herinnering te bring en om my seun dood te maak” (1 Kon. 17:17, 18). Wat beteken hierdie bittere woorde?

Het die vrou aan ’n sonde van die verlede gedink wat haar gewete gepla het? Het sy gedink dat haar seun se dood goddelike vergelding was en dat Elia God se boodskapper en die oorsaak van haar seun se dood was? Die Bybel sê nie vir ons nie, maar een ding is seker: Die weduwee het God nie van enige onregverdigheid beskuldig nie.

Elia was ongetwyfeld geskok deur die dood van die weduwee se seun en die feit dat sy gedink het dat die blote teenwoordigheid van die profeet die rede vir haar hartverskeurende verlies was. Nadat Elia die seun se lewelose liggaam na die dakvertrek gedra het, het hy uitgeroep: “O Jehovah my God, moet u ook oor die weduwee by wie ek as ’n vreemdeling woon, kwaad bring deur haar seun dood te maak?” Die gedagte dat oneer op God se naam gebring sou word as Hy sou toelaat dat hierdie goedhartige en gasvrye vrou verder sou ly, was vir die profeet net te veel. Elia het dus gesmeek: “O Jehovah my God, laat die siel van hierdie kind asseblief in hom terugkeer.”—1 Kon. 17:20, 21.

“KYK, JOU SEUN LEWE”

Jehovah het Elia se gebed verhoor. Die weduwee het in sy profeet se behoeftes voorsien en het geloof beoefen. God het blykbaar toegelaat dat die seun sterf omdat hy geweet het dat ’n opstanding—die eerste wat in die Skrif opgeteken is—sou plaasvind en dat dit toekomstige geslagte hoop sou gee. Op Elia se dringende versoek het Jehovah die kind opgewek. Stel jou die weduwee se groot vreugde voor toe Elia gesê het: “Kyk, jou seun lewe”! Die weduwee het toe vir Elia gesê: “Nou weet ek inderdaad dat u ’n man van God is en dat Jehovah se woord in u mond waar is.”—1 Kon. 17:22-24.

Die verslag in 1 Konings hoofstuk 17 sê niks verder oor hierdie vrou nie. Maar die feit dat Jesus haar gunstig vermeld het, gee te kenne dat sy Jehovah dalk vir die res van haar lewe getrou gedien het (Luk. 4:25, 26). Haar verhaal leer ons dat God diegene seën wat goed doen aan sy knegte (Matt. 25:34-40). Dit toon dat God vir getroue mense sorg, selfs onder moeilike omstandighede (Matt. 6:25-34). Die verslag toon ook dat Jehovah die begeerte en die vermoë het om die dooies op te wek (Hand. 24:15). Dit is ongetwyfeld uitstekende redes om aan die weduwee van Sarfat te dink.