Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

‘Dit moet vir julle as ’n gedagtenis dien’

‘Dit moet vir julle as ’n gedagtenis dien’

“Dié dag moet vir julle as ’n gedagtenis dien, en julle moet dit . . . as ’n fees vir Jehovah vier.”—EKS. 12:14.

1, 2. Watter herdenking moet vir alle Christene van besondere belang wees, en waarom?

WATTER herdenking kom eerste by jou op wanneer jy aan herdenkings dink? “My huweliksherdenking”, sal ’n getroude persoon dalk sê. Vir ander is dit miskien die datum van ’n bekende geskiedkundige gebeurtenis, soos toe hulle vaderland onafhanklikheid verkry het. Maar weet jy van ’n nasionale herdenking wat al meer as 3 500 jaar lank gehou word?

2 Daar is so ’n herdenking—die Pasga. Dit was die herdenking van eertydse Israel se bevryding uit slawerny in Egipte. Hierdie herdenking moet vir jou belangrik wees. Waarom? Want dit hou verband met ’n paar baie belangrike aspekte van jou lewe. Maar jy dink dalk: ‘Die Pasga is ’n Joodse viering, en ek is nie ’n Jood nie. Waarom moet ek daarin belangstel?’ Die antwoord kan in hierdie betekenisvolle woorde gevind word: “Christus, ons pasga, is . . . geoffer” (1 Kor. 5:7). Om die betekenis van hierdie waarheid te verstaan, moet ons meer omtrent die Joodse Pasga weet en dit ondersoek in die lig van ’n bevel wat aan alle Christene gegee is.

DIE PASGA—WAAROM?

3, 4. Watter gebeurtenisse het die eerste Pasga voorafgegaan?

3 Honderdmiljoene mense regoor die wêreld wat nie Jode is nie, weet iets omtrent die gebeurtenisse wat die eerste Pasga voorafgegaan het. Hulle het dalk al in die Bybelboek Eksodus daarvan gelees, die verhaal gehoor of ’n rolprent gesien wat op die verslag gebaseer is.

4 Toe die Israeliete al jare lank slawe in Egipte was, het Jehovah Moses en sy broer, Aäron, na Farao gestuur om hom te vra om Sy volk vry te laat. Daardie hoogmoedige Egiptiese heerser wou die Israeliete nie laat gaan nie, en daarom het Jehovah die land met ’n reeks verwoestende plae getref. Uiteindelik het  God ’n tiende plaag gestuur, die dood van Egipte se eersgeborenes, en dit het Farao wel beweeg om hulle vry te laat.—Eks. 1:11; 3:9, 10; 5:1, 2; 11:1, 5.

5. Watter voorbereidings moes die Israeliete tref voordat hulle vrygelaat sou word? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Maar wat moes die Israeliete doen voordat hulle vrygelaat sou word? Dit was omtrent die tyd van die lentenagewening in 1513 VHJ, in die Hebreeuse maand Abib, wat later Nisan genoem is. * God het gesê dat die Israeliete op die tiende dag van daardie maand voorbereidings moet begin tref om sekere stappe op 14 Nisan te volg. Dié dag het met sononder begin omdat Hebreeuse dae van sononder tot sononder gestrek het. Op 14 Nisan moes elke huisgesin ’n skaapram (of ’n bokram) slag en die deurposte en die boonste deel van die deuropening van die huis met die bloed bespat (Eks. 12:3-7, 22, 23). Die gesin moes ’n maaltyd van gebraaide lam saam met ongesuurde brood en kruie eet. God se engel sou deur die land trek en Egipte se eersgeborenes ombring, maar die gehoorsame Israeliete sou beskerm word, en dan sou hulle vrygelaat word.—Eks. 12:8-13, 29-32.

6. Hoe moes God se volk die Pasga in latere tye beskou?

6 Dit is wat gebeur het, en die Israeliete moes hulle bevryding in toekomstige jare onthou. God het vir hulle gesê: “Dié dag moet vir julle as ’n gedagtenis dien, en julle moet dit in al julle geslagte as ’n fees vir Jehovah vier. As ’n insetting tot onbepaalde tyd moet julle dit vier.” Die viering op die 14de moes deur ’n sewedaagse fees gevolg word. Hoewel die Pasga eintlik op 14 Nisan gevier is, kon die naam Pasga na al agt dae van die fees verwys (Eks. 12:14-17; Luk. 22:1; Joh. 18:28; 19:14). Die Pasga was een van die vasgestelde feeste (“herdenkings”, The Bible in Living English) wat die Hebreërs elke jaar moes vier.—2 Kron. 8:13.

7. Wat het Jesus op die laaste geldige Pasga ingestel?

7 Aangesien Jesus en sy apostels Jode onder die Mosaïese Wet was, het hulle die jaarlikse Pasga gevier (Matt. 26:17-19). Die laaste keer dat hulle dit gedoen het, het Jesus ’n nuwe herdenking ingestel wat sy volgelinge jaarliks moes hou—die Here se Aandmaal. Maar op watter dag moes hulle dit hou?

DIE HERE SE AANDMAAL—OP WATTER DAG?

8. Watter vraag ontstaan in verband met die Pasga en die Here se Aandmaal?

8 Aangesien Jesus die Here se Aandmaal reg ná die laaste geldige Pasga ingestel het, sou hierdie nuwe herdenking met die dag van die Pasga saamval. Jy het dalk al gesien dat die datum van die Joodse Pasga op hedendaagse kalenders soms met ’n dag of wat verskil van die datum waarop ons Christus se dood herdenk. Waarom die verskil? Die antwoord hou gedeeltelik verband met die bevel wat God aan die Israeliete gegee het. Nadat Moses gesê het dat “die hele gemeente van die vergadering van Israel [die lam moet] slag”, het hy gesê presies wanneer op 14 Nisan hulle dit moet doen.—Lees Eksodus 12:5, 6.

9. Wanneer moes die Pasgalam volgens Eksodus 12:6 geslag word? (Sien ook die venster  “Watter deel van die dag?”)

9 The Pentateuch and Haftorahs sê dat die lam volgens Eksodus 12:6 “tussen die twee aande” geslag moes word. Party Bybelvertalings gebruik hierdie presiese bewoording. Ander, insluitende die Joodse Tanakh, vertaal dit as “met skemer”. Nog ander vertaal dit as “teen die aand” of “omtrent sononder”. Die lam moes dus  geslag word nadat die son gesak het, maar terwyl dit nog lig was, aan die begin van 14 Nisan.

10. Wanneer is die lam volgens party geslag, maar watter vraag ontstaan?

10 In latere tye het party Jode gedink dat dit ure sou geneem het om al die lammers te slag wat na die tempel gebring is. Daarom is daar gedink dat Eksodus 12:6 na die einde van 14 Nisan verwys, tussen die tyd wanneer die son begin sak het (ná twaalfuur die middag) en die einde van die dag met sononder. Maar wanneer sou die maaltyd dan geëet word? Professor Jonathan Klawans, ’n kenner van eertydse Judaïsme, het gesê: “Die nuwe dag begin wanneer die son sak; die offerande word dus op die 14de gebring, maar die begin van die Pasga en die maaltyd val eintlik op die 15de, hoewel hierdie opeenvolging van gebeurtenisse nie in Eksodus uiteengesit word nie.” Hy het ook geskryf: “Die Rabbynse lektuur . . . beweer nie eers om vir ons te sê hoe die Seder [Pasgamaal] voor die vernietiging van die Tempel [in 70 HJ] gehou is nie.”—Ons kursiveer.

11. (a) Wat het op die Pasga van 33 HJ met Jesus gebeur? (b) Waarom is 15 Nisan 33 HJ ’n “groot” Sabbat genoem? (Sien voetnoot.)

11 Ons het dus rede om te vra: Wat van die Pasga van 33 HJ? Wel, op 13 Nisan, toe die dag nader gekom het “waarop die pasgaslagoffer geoffer [moes] word”, het Christus vir Petrus en Johannes gesê: “Gaan maak die pasga vir ons gereed dat ons dit kan eet” (Luk. 22:7, 8). Ná sononder op 14 Nisan, wat Donderdagaand sou gewees het, ‘het die uur eindelik gekom’ vir die Pasgamaal. Jesus het daardie maaltyd saam met sy apostels geëet, en toe het hy die Here se Aandmaal ingestel (Luk. 22:14, 15). Hy is daardie aand in hegtenis geneem en verhoor. Jesus is omtrent twaalfuur die middag op 14 Nisan aan die paal hang, en hy het daardie middag gesterf (Joh. 19:14). “Christus, ons pasga, is [dus] geoffer” op dieselfde dag waarop die Pasgalam geslag is (1 Kor. 5:7; 11:23; Matt. 26:2). Voordat daardie Joodse dag verby was, is Jesus begrawe—voor die begin van 15 Nisan. *Lev. 23:5-7; Luk. 23:54.

’N HERDENKING WAARUIT JY KAN LEER

12, 13. Hoe was Joodse kinders by die Pasgaviering betrokke?

12 Maar kom ons dink terug aan die eerste Pasga in Egipte. Moses het gesê  dat God se volk die Pasga in die toekoms moet vier; dit moes ’n voorskrif wees “tot onbepaalde tyd”. Gedurende daardie jaarlikse herdenking sou kinders hulle ouers vrae oor die betekenis van die geleentheid vra. (Lees Eksodus 12:24-27; Deut. 6:20-23.) Gevolglik sou die Pasga selfs vir kinders as “’n gedagtenis” dien.—Eks. 12:14.

13 Met elke nuwe geslag sou belangrike lesse beklemtoon word en van vader tot seun oorgedra word. Een les was dat Jehovah sy aanbidders kan beskerm. Die kinders is nie geleer dat God ’n vae, abstrakte begrip is nie. Jehovah is ’n werklike, lewende God wat in sy volk belangstel en ten behoewe van hulle optree. Hy het dit bewys deur die Israelitiese eersgeborenes te beskerm “toe hy die Egiptenaars met die plaag getref” het. Hy het die eersgeborenes se lewens bewaar.

14. Watter les uit die verslag van die Pasga kan Christenouers hulle kinders leer?

14 Christenouers vertel nie elke jaar vir hulle seuns en dogters wat die betekenis van daardie Pasga is nie. Maar leer julle julle kinders dieselfde les—dat God sy volk beskerm? Kan hulle sien dat julle vas oortuig is dat Jehovah nog steeds vir sy volk ’n ware Beskermer is? (Ps. 27:11; Jes. 12:2). En doen julle dit in die vorm van ’n aangename gesprek tussen julle en julle kinders en nie in die vorm van ’n saai preek nie? Wend ’n poging aan om hierdie les oor te dra sodat julle julle gesin se geestelike groei kan bevorder.

Watter lesse kan julle julle kinders uit die verslag van die Pasga leer? (Sien paragraaf 14)

15, 16. Wat leer ons omtrent Jehovah uit die verslae van die Pasga en die uittog uit Egipte?

15 Jehovah se vermoë om sy volk te beskerm, is nie die enigste les wat ons uit die verslag van die Pasga kan leer nie. Hy het hulle ook verlos deur ‘hulle uit Egipte uit te lei’. Dink aan wat dit behels het. Hulle is deur ’n wolkkolom en ’n vuurkolom gelei. Hulle het op die seebodem geloop terwyl die Rooisee aan albei kante bo hulle uitgetoring het. Toe hulle veilig aan die ander kant was, het hulle gesien hoe daardie waters op die Egiptiese leër neerstort. Nadat die Israeliete so verlos is, het hulle gesing: “Laat my tot Jehovah sing . . . Die perd en sy ruiter het hy in die see gewerp. Jah is my sterkte en my mag, want hy kom tot my redding.”—Eks. 13:14, 21, 22; 15:1, 2; Ps. 136:11-15.

16 Help julle julle kinders om hulle vertroue in Jehovah as ’n Verlosser te stel? Kan hulle uit julle gesprekke en besluite sien dat julle hiervan oortuig is? Julle kan gerus Eksodus hoofstukke 12-15 tydens julle aand vir Gesinsaanbidding bespreek en beklemtoon hoe Jehovah sy volk verlos het. By ander tye kan julle hierdie punt beklemtoon tydens ’n bespreking van Handelinge 7:30-36 of Daniël 3:16-18, 26-28. Ja, jonk en oud moet die vertroue hê dat Jehovah nie net in die verlede ’n Verlosser was nie. Net soos hy sy volk in Moses se dag verlos het, sal hy ons in die toekoms verlos.—Lees 1 Tessalonisense 1:9, 10.

 WAT ONS MOET ONTHOU

17, 18. Waaraan moet die gebruik van bloed tydens die eerste Pasga ons laat dink?

17 Ware Christene herdenk nie die Joodse Pasga nie. Daardie herdenking was deel van die Mosaïese Wet, en ons is nie onder die Wet nie (Rom. 10:4; Kol. 2:13-16). ’n Ander gebeurtenis, die dood van God se Seun, lê ons egter na aan die hart. Tog is daar aspekte van die Pasgaviering wat in Egipte ingestel is, wat vir ons betekenisvol is.

18 Die bloed van die lam waarmee die deurposte en die boonste deel van die deuropening bespat is, het lewens bewaar. Vandag bring ons nie diereoffers aan God nie—nie op die dag van die Pasga of op enige ander tyd nie. Maar daar is ’n beter offerande wat lewe vir ewig kan bewaar. Die apostel Paulus het geskryf oor “die gemeente van die eersgeborenes, wat in die hemele opgeskryf is”. Die lewens van hierdie gesalfde Christene word bewaar deur “die bloed van die besprinkeling”, Jesus se bloed (Heb. 12:23, 24). Jesus se bloed maak dit ook vir Christene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, moontlik om die lewe te verkry. Hulle moet hulle gereeld herinner aan die versekering: “Deur middel van hom het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings, volgens die rykdom van sy onverdiende goedhartigheid.”—Ef. 1:7.

19. Hoe kan die gebeure by Jesus se dood ons vertroue in profesieë versterk?

19 Toe die lam vir die Pasgamaal geslag is, moes die Israeliete nie enige van die bene daarvan breek nie (Eks. 12:46; Num. 9:11, 12). Wat van “die Lam van God” wat gekom het om die losprys te voorsien? (Joh. 1:29). Hy is tussen twee misdadigers aan die paal gehang. Die Jode het Pilatus gevra dat die bene van die mans wat aan die paal gehang is, gebreek moet word. Dit sou hulle dood bespoedig sodat hulle nie op 15 Nisan, ’n dubbele Sabbat, nog aan die paal sou hang nie. Soldate het die bene van die twee misdadigers gebreek, “maar toe hulle by Jesus kom, het hulle nie sy bene gebreek nie, aangesien hulle gesien het dat hy reeds dood is” (Joh. 19:31-34). Dit het ooreengekom met wat met die Pasgalam gedoen is; in hierdie sin was die lam dus “’n skaduwee” van wat op 14 Nisan 33 HJ sou plaasvind (Heb. 10:1). Wat meer is, die manier waarop sake verloop het, het die woorde in Psalm 34:20 vervul, en dit versterk ons vertroue in profesieë.

20. Watter belangrike verskil is daar tussen die Pasga en die Here se Aandmaal?

20 Daar bestaan egter verskille tussen hoe die Jode die Pasga moes herdenk en hoe Christus sy volgelinge beveel het om die Here se Aandmaal te hou. In Egipte het die Israeliete die lam se vleis geëet, maar nie die bloed nie. Dit verskil van die instruksies wat Jesus aan sy dissipels gegee het. Hy het gesê dat diegene wat “in die koninkryk van God” sou regeer, die brood moet eet en die wyn moet drink wat as simbole van sy vlees en sy bloed dien. Ons sal dit in meer besonderhede in die volgende artikel bespreek.—Mark. 14:22-25.

21. Waarom is dit voordelig om meer omtrent die Pasga te weet?

21 Daar bestaan nietemin geen twyfel dat die Pasga ’n belangrike gebeurtenis in God se handelinge met Israel was nie, en elkeen van ons kan waardevolle lesse daaruit leer. Hoewel die Pasga ‘’n gedagtenis moes wees’ vir Jode, en nie vir Christene nie, moet ons as Christene meer daaromtrent weet en die belangrike lesse ter harte neem wat dit voorsien as deel van ‘die hele Skrif wat deur God geïnspireer is’.—2 Tim. 3:16.

^ par. 5 Hoewel hierdie Hebreeuse maand eers ná die Babiloniese ballingskap die naam Nisan gegee is, sal ons eenvoudigheidshalwe na die eerste maand van die Joodse Hebreeuse kalender as Nisan verwys.

^ par. 11 Met sononder het 15 Nisan begin, wat beteken het dat die gewone weeklikse Sabbat (Saterdag) daardie jaar saamgeval het met die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Koeke, wat altyd ’n sabbat was. Omdat die twee Sabbatte op dieselfde dag geval het, was dit ’n “groot” Sabbat.—Lees Johannes 19:31, 42.