Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Sal jy opofferings vir die Koninkryk maak?

Sal jy opofferings vir die Koninkryk maak?

“God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 KOR. 9:7.

1. Watter soort opofferings maak baie mense, en waarom?

MENSE maak gewilliglik opofferings vir die dinge wat vir hulle belangrik is. Ouers gee hulle tyd, geld en energie om hulle kinders te bevoordeel. Terwyl hulle vriende speel en ontspan, bestee jong atlete wat hulle land in die Olimpiese Spele wil verteenwoordig, elke dag ure aan strawwe oefening. Jesus het ook opofferings gemaak vir die dinge wat vir hom belangrik was. Hy het nie luukshede nagejaag nie, en hy het nie kinders gehad nie. Hy het eerder gekies om hom toe te spits op die bevordering van Koninkryksbelange (Matt. 4:17; Luk. 9:58). Sy volgelinge het eweneens baie prysgegee om God se Koninkryk te ondersteun. Die bevordering van daardie Koninkryk was vir hulle van die allergrootste belang, en hulle het opofferings gemaak sodat hulle soveel moontlik kon doen om die Koninkryk te ondersteun (Matt. 4:18-22; 19:27). Ons kan ons dus afvra: ‘Wat is in my lewe belangrik?’

2. (a) Watter opofferings moet alle ware Christene maak? (b) Watter bykomende opofferings maak party?

2 Daar is sekere opofferings wat alle ware Christene moet maak en wat noodsaaklik is as ons ’n goeie verhouding met Jehovah wil opbou en behou. Hierdie opofferings sluit in dat ons tyd en energie bestee aan gebed, Bybellees, gesinsaanbidding, vergaderingbywoning en die veldbediening (Jos. 1:8; Matt. 28:19, 20; Heb. 10:24, 25). * Weens ons pogings en Jehovah se seën word die predikingswerk bespoedig, en baie stroom steeds na “die berg van die huis van Jehovah” (Jes. 2:2). Om Koninkryksbedrywighede te ondersteun, maak baie mense opofferings om by Bethel te dien, met die bou van Koninkryksale en Byeenkomssale te help, byeenkomste te reël of ná ’n  natuurramp noodlenigingswerk te doen. Hierdie bykomende werk is nie ’n vereiste om die lewe te verkry nie, maar is noodsaaklik om Koninkryksbelange te ondersteun.

3. (a) Hoe vind ons daarby baat wanneer ons opofferings vir die Koninkryk maak? (b) Watter vrae moet ons ons afvra?

3 Dit was nog nooit belangriker om die Koninkryk daadwerklik te ondersteun nie. Dit verskaf ons vreugde om te sien dat baie gewilliglik vir Jehovah opofferings maak. (Lees Psalm 54:6.) So ’n vrygewige gees bring vir ons groot vreugde mee terwyl ons op die koms van God se Koninkryk wag (Deut. 16:15; Hand. 20:35). Maar ons almal moet ’n deeglike selfondersoek doen. Kan ons verdere opofferings vir die Koninkryk maak? Hoe gebruik ons ons tyd, geld, energie en vermoëns? Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons opofferings maak? Kom ons kyk na ’n patroon wat ons kan navolg wanneer ons vrywillige offerandes bring, en sodoende ons vreugde vergroot.

OFFERANDES IN EERTYDSE ISRAEL

4. Hoe het die Israeliete daarby baat gevind wanneer hulle offerandes gebring het?

4 Die eertydse Israeliete moes offerandes bring om vergifnis van sondes te verkry. Offerandes was nodig as die volk Jehovah se guns wou geniet. Party hiervan was verpligtend; ander was vrywillig (Lev. 23:37, 38). Heelbrandoffers kon as vrywillige gawes aan Jehovah gebring word. Een uitstekende voorbeeld van ’n geleentheid waarby offerandes gebring is, was toe die tempel in Salomo se dag ingewy is.—2 Kron. 7:4-6.

5. Watter voorsiening het Jehovah vir diegene met beperkte middele gemaak?

5 Jehovah het liefdevol verstaan dat nie almal offerandes van dieselfde waarde kon gee nie, en hy het vereis dat elkeen net gee wat hy kan. Jehovah se wet het bepaal dat die bloed van die dier uitgegiet moet word, wat “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” deur sy Seun, Jesus, sou wees (Heb. 10:1-4). Maar Jehovah was nie onbuigsaam wat die toepassing van hierdie wet betref het nie. God het byvoorbeeld ’n offerande van tortelduiwe aanvaar as die persoon nie kon bekostig om ’n ram of ’n bul te offer nie. Selfs die armes kon dus vreugdevol offerandes aan Jehovah bring (Lev. 1:3, 10, 14; 5:7). Hoewel verskillende diere geoffer is, was daar twee dinge wat Jehovah  vereis het van elkeen wat ’n vrywillige offerande gebring het.

6. Wat is vereis van almal wat offerandes gebring het, en hoe belangrik was dit om aan hierdie vereistes te voldoen?

6 Eerstens moes die persoon sy beste gee. Jehovah het vir die volk gesê dat elke offerande sonder gebrek moet wees om “goedkeuring [te] verkry” (Lev. 22:18-20). As daar ’n gebrek aan die dier was, sou Jehovah dit nie as ’n aanneemlike offerande beskou nie. Tweedens moes die persoon wat die offerande bring, rein en onbesmet wees. As die persoon onrein was, moes hy, voordat hy ’n vrywillige gawe kon bring, ’n sondoffer of ’n skuldoffer bring sodat hy weer ’n rein posisie voor Jehovah kon verkry (Lev. 5:5, 6, 15). Dit was ’n ernstige saak. Jehovah het bepaal dat iemand uit God se volk uitgeroei moet word as hy in ’n onrein toestand van ’n gemeenskapsoffer eet, wat vrywillige gawes ingesluit het (Lev. 7:20, 21). As die persoon wat die offerande bring, egter ’n rein posisie voor Jehovah geniet het en die offerande sonder gebrek was, kon die gewer hom met ’n skoon gewete verbly.—Lees 1 Kronieke 29:9.

HEDENDAAGSE OFFERANDES

7, 8. (a) Watter vreugde ondervind baie omdat hulle opofferings vir die Koninkryk maak? (b)Wat het ons wat ons ter bevordering van Koninkryksbelange kan gebruik?

7 Vandag is baie ook gewillig om hulle in Jehovah se diens in te span, en Jehovah skep behae hierin. Dit is lonend om werk ten behoewe van ons broers te doen. ’n Broer wat help met noodlenigingswerk en die bou van Koninkryksale, sê dat dit moeilik is om die bevrediging te beskryf wat hierdie diens hom verskaf. Hy sê: “Wanneer ek die vreugde en waardering van die plaaslike broers en susters sien wanneer hulle in hulle nuwe Koninkryksaal staan of wanneer hulle ná ’n natuurramp bystand ontvang, maak dit al die werk en inspanning die moeite werd.”

Baie offerandes was vrywillige gawes, net soos die offerandes wat ons vandag bring (Sien paragrawe 7-13)

8 Jehovah se hedendaagse organisasie het nog altyd na geleenthede gesoek om Jehovah se werk te ondersteun. Broer C.T. Russell het in 1904 geskryf: “Elkeen moet homself beskou as iemand wat deur die Here aangestel is as die bestuurder van sy eie tyd, invloed, geld, ens., en elkeen moet hierdie talente na die beste van sy vermoë probeer gebruik, tot eer  van die Meester.” Hoewel ons baie seëninge ontvang wanneer ons offerandes aan Jehovah maak, is ’n koste daaraan verbonde (2 Sam. 24:21-24). Kan ons ons tyd, geld, energie en vermoëns beter benut?

9. Watter beginsel in Lukas 10:2-4 kan ons toepas wanneer dit kom by hoe ons ons tyd benut?

9 Ons tyd. Dit verg baie tyd en inspanning om ons lektuur te vertaal en te druk, plekke van aanbidding te bou, byeenkomste te reël, met noodlenigingswerk te help en aan baie ander noodsaaklike bedrywighede deel te neem. Maar daar is net 24 uur in ’n dag. Jesus het ’n beginsel voorsien wat ons kan help. Toe Jesus sy dissipels in die bediening uitgestuur het, het hy vir hulle gesê om “niemand langs die pad met ’n omhelsing [te] groet nie” (Luk. 10:2-4). Waarom het Jesus hierdie instruksie gegee? Een Bybelgeleerde sê: “Begroetinge onder die Oosterlinge was nie, soos onder ons, net ’n knik of handdruk nie, maar hulle het mekaar omhels, voor mekaar neergebuig en hulle selfs op die grond neergewerp. Dit alles het baie tyd in beslag geneem.” Jesus het nie bedoel dat sy volgelinge onbeskof moet wees nie. Hy het hulle eerder gehelp om te sien dat hulle tyd beperk is en dat hulle dit goed moet benut om na die belangriker dinge om te sien (Ef. 5:16). Kan ons hierdie beginsel toepas sodat ons meer tyd kan hê om Koninkryksbelange te bevorder?

10, 11. (a) Wat is ’n paar maniere waarop ons bydraes vir die wêreldwye werk gebruik word? (b) Watter beginsel in 1 Korintiërs 16:1, 2 kan ons help?

10 Ons geld. Dit verg baie geld om Koninkryksbedrywighede te finansier. Tienmiljoene rande word elke jaar bestee om die uitgawes van reisende opsieners, spesiale pioniers en sendelinge te dek. Meer as 24 500 Koninkryksale is sedert 1999 in lande met beperkte middele gebou. Maar byna 6 400 bykomende Koninkryksale is nog nodig. Ongeveer 100 miljoen eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! word elke maand gedruk. Dit alles word deur julle vrywillige bydraes gedek.

11 Die apostel Paulus het ’n beginsel voorsien wat ons moet volg wanneer ons ’n bydrae wil maak. (Lees 1 Korintiërs 16:1, 2.) Hy het sy broers in Korinte onder inspirasie aangemoedig om nie tot die einde van die week te wag om te sien wat hulle oorhet nie, maar om eerder aan die begin van die week iets opsy te sit volgens wat hulle kon bekostig. Soos in die eerste eeu beplan broers en susters in ons tyd vooruit sodat hulle ruimhartig na gelang van hulle omstandighede kan gee (Luk. 21:1-4; Hand. 4:32-35). Jehovah stel so ’n vrygewige gees hoog op prys.

12, 13. Waarom huiwer party om hulle energie en vermoëns te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder, maar hoe sal Jehovah hulle help?

12 Ons energie en vermoëns. Jehovah ondersteun ons in ons pogings om ons energie en vermoëns te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. Hy belowe om ons te help wanneer ons moeg raak (Jes. 40:29-31). Dink jy dat jy nie die nodige vaardighede het om met die werk te help nie? Redeneer jy dat daar ander is wat bekwamer is? Hou in gedagte dat Jehovah enigiemand se natuurlike vermoëns kan vergroot, net soos hy in die geval van Besaleël en Oholiab gedoen het.—Eks. 31:1-6; sien prent aan begin van artikel.

13 Jehovah spoor ons aan om ons allerbeste te gee (Spr. 3:27). Gedurende die herbouing van die tempel het Jehovah vir die Jode in Jerusalem gesê om ernstig  oor hulle aandeel aan die bouwerk na te dink (Hag. 1:2-5). Hulle aandag was afgelei en hulle het hulle fokus verloor. Dit sal goed wees as ons kyk of ons prioriteite in lyn is met Jehovah s’n. Kan ons ‘ons hart op ons weë rig’ sodat ons in hierdie laaste dae ’n groter aandeel aan die Koninkrykswerk kan hê?

OPOFFERINGS VOLGENS WAT ONS HET

14, 15. (a) Hoe word ons aangemoedig deur die voorbeeld van ons broers met beperkte middele? (b) Wat moet ons begeerte wees?

14 Baie woon in gebiede waar ontberinge of armoede algemeen is. Ons organisasie probeer om die tekort van ons broers wat in sulke lande woon, ‘aan te vul’ (2 Kor. 8:14). Maar selfs broers met beperkte middele waardeer die voorreg om te gee. Dit behaag Jehovah wanneer diegene wat arm is, beweeg word om blymoedig te gee.—2 Kor. 9:7.

15 In een baie arm land in Afrika baken party broers ’n klein gedeelte van hulle tuin af en gebruik hulle die geld wat hulle hieruit verdien om die Koninkrykswerk te ondersteun. In daardie selfde land is ’n bouprojek beplan om ’n Koninkryksaal te bou wat baie nodig was. Die plaaslike broers en susters wou help. Maar die projek sou in die middel van hulle plantseisoen begin. Hulle was nogtans vasbeslote om ’n aandeel te hê, en daarom het hulle bedags aan die Koninkryksaalprojek gewerk en dan saans in hulle landerye gaan werk om hulle gewasse te plant. Wat ’n selfopofferende gees! Dit herinner ons aan die broers in eerste-eeuse Masedonië. Hulle het in “diep armoede” verkeer, en tog het hulle gesmeek om die voorreg om te gee (2 Kor. 8:1-4). Mag elkeen van ons eweneens ‘gee ooreenkomstig die seën wat Jehovah ons gegee het’.—Lees Deuteronomium 16:17.

16. Hoe kan ons seker maak dat ons opofferings vir Jehovah aanneemlik is?

16 ’n Woordjie van waarskuwing is egter gepas. Soos die eertydse Israeliete, moet ons seker maak dat ons vrywillige offerandes vir God aanneemlik is. Ons moet ons balans handhaaf sodat ons ons vernaamste verantwoordelikhede in verband met ons gesin en die aanbidding van Jehovah kan nakom. Die feit dat ons van ons tyd en middelle ten behoewe van ander gee, moenie daartoe lei dat ons ons gesin se geestelikheid of fisiese welsyn verwaarloos nie. Anders gee ons in werklikheid volgens wat ons nie het nie. (Lees 2 Korintiërs 8:12.) Daarbenewens moet ons geestelik sterk bly (1 Kor. 9:26, 27). Ja, wanneer ons aan Bybelstandaarde voldoen, sal ons opofferings vir ons groot vreugde en tevredenheid meebring en vir Jehovah “veral aanneemlik” wees.

ONS OPOFFERINGS IS BAIE WAARDEVOL

17, 18. Hoe voel ons oor almal wat opofferings vir die Koninkryk maak, en wat moet ons almal oorweeg?

17 Baie van ons broers en susters ‘giet hulle soos ’n drankoffer uit’ in hulle werk om die noodsaaklike Koninkryksbedrywighede te ondersteun (Fil. 2:17). Ons waardeer opreg diegene wat so ’n vrygewige gees openbaar. Die vrouens en kinders van die broers wat die leiding in Koninkryksbedrywighede neem, moet ook geprys word vir hulle vrygewige en selfopofferende gees.

18 Dit verg baie harde werk om Koninkryksbelange te ondersteun. Mag ons almal biddend oorweeg hoe ons soveel as moontlik kan doen. Jy kan die vertroue hê dat die belonings nou groot is en “in die komende stelsel van dinge” nog groter sal wees.—Mark. 10:28-30.

^ par. 2 Sien die artikel “Bring heelhartige offerandes aan Jehovah” in Die Wagtoring van 15 Januarie 2012, bladsye 21-25.