Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Lesse uit ’n goed voorbereide gebed

Lesse uit ’n goed voorbereide gebed

“Laat hulle u glorieryke naam loof.”—NEH. 9:5.

1. Watter samekoms van God se volk sal ons bespreek, en watter vrae ontstaan?

“STAAN op, loof Jehovah julle God van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd.” Met hierdie treffende woorde is God se eertydse volk byeengeroep om saam tot Jehovah te bid. Dit is een van die langste gebede in die Bybelverslag (Neh. 9:4, 5). Hierdie samekoms het op die 24ste dag van die sewende Joodse maand, Tisjri, 455 VHJ, in Jerusalem plaasgevind. Terwyl ons kyk na gebeure wat hierdie spesiale dag voorafgegaan het, kan jy jou afvra: ‘Watter goeie gewoonte het tot die sukses van die geleentheid bygedra? Watter ander lesse kan ek uit hierdie goed voorbereide gebed leer?’—Ps. 141:2.

’N SPESIALE MAAND

2. Watter goeie voorbeeld het die Israeliete vir ons gestel toe hulle ná die herbouing van Jerusalem se mure bymekaargekom het?

2 ’n Maand voor die bogenoemde samekoms het die Jode die herbouing van Jerusalem se mure voltooi (Neh. 6:15). God se volk het die werk binne net 52 dae voltooi, en toe het hulle op hulle geestelike behoeftes gekonsentreer. Op die eerste dag van die nuwe maand, Tisjri, het hulle dus op die openbare plein bymekaargekom om te luister terwyl Esra, asook ander Leviete, God se Wet voorgelees en verduidelik het . Gesinne, insluitende “almal wat genoeg begrip gehad het om te luister”, het “van dagbreek af tot die middaguur toe” gestaan en luister. Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir dié van ons wat vandag vergaderinge bywoon in gerieflike Koninkryksale! Maar vind jy soms by sulke geleenthede dat jou gedagtes dwaal en dat jy aan minder belangrike dinge begin dink? Indien wel, dink weer aan die voorbeeld van daardie eertydse Israeliete wat nie net na die voorlesing van die Wet geluister het nie, maar dit in so ’n  mate ter harte geneem het dat hulle begin huil het omdat hulle as ’n nasie versuim het om God se Wet te gehoorsaam.—Neh. 8:1-9.

3. Watter opdrag het die Israeliete gehoorsaam?

3 Maar dít was nie nou vir hulle die tyd om hulle sondes in die openbaar te bely nie. Omdat dit ’n feesdag was, was dit veronderstel om ’n vreugdevolle tyd te wees in hulle aanbidding van Jehovah (Num. 29:1). Daarom het Nehemia vir die volk gesê: “Gaan, eet die vettighede en drink die soetighede, en stuur porsies aan die een vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig vir ons Here, en moenie bedroef voel nie, want die vreugde van Jehovah is julle vesting.” Die volk was gehoorsaam, en daarom het hulle “hulle grootliks . . . verheug” op daardie dag.—Neh. 8:10-12.

4. Wat het die Israelitiese gesinshoofde gedoen, en wat was ’n merkwaardige kenmerk van hierdie Huttefees?

4 Die volgende dag het die gesinshoofde bymekaargekom om te sien hoe die volk God se Wet nougesetter kon nakom . In hulle studie van die Skrif het hulle gevind dat die Huttefees en die plegtige vergadering waarmee dit afgesluit is, in die sewende maand, van die 15de tot die 22ste dag van Tisjri, gehou moes word, en daarom het hulle voorbereidings begin tref . Dit was die suksesvolste Huttefees sedert die dae van Josua en het tot “baie groot blydskap” gelei. ’n Belangrike kenmerk van hierdie fees was die openbare voorlesing van God se Wet, “dag na dag . . . van die eerste dag tot die laaste dag”.—Neh. 8:13-18.

’N DAG VAN BELYDENIS

5. Wat het God se volk gedoen net voordat die Leviete hulle voor Jehovah in gebed verteenwoordig het?

5 Twee dae later was dit die regte tyd vir die Israeliete om in die openbaar te bely dat hulle nie God se Wet gehoorsaam het nie. Dit was nie ’n feesdag waarop hulle fees gevier het nie. God se volk het eerder gevas en hulle in saklinne geklee as ’n teken dat hulle rou. In die oggend is God se Wet weer ongeveer drie uur lank aan die volk voorgelees. In die middag “het hulle belydenis gedoen en hulle voor Jehovah hulle God neergebuig” . Toe het die Leviete die volk met hulle goed voorbereide gebed verteenwoordig .—Neh. 9:1-4.

6. Wat het die Leviete gehelp om ’n betekenisvolle gebed te doen, en watter les leer ons hieruit?

6 Die feit dat die Leviete God se Wet dikwels gelees het, het hulle ongetwyfeld gehelp om hierdie betekenisvolle gebed voor te berei. Die eerste tien verse vestig die aandag uitsluitlik op Jehovah se werke en eienskappe. In die res van die gebed word God se “oorvloedige barmhartigheid” herhaaldelik beklemtoon en erken  die Israeliete openlik dat hulle nie sulke liefdevolle behandeling waardig is nie (Neh. 9:19, 27, 28, 31). As ons daagliks oor God se Woord peins en Jehovah sodoende toelaat om met ons te praat voordat ons tot hom bid, sal ons gebede, soos dié van die Leviete, betekenisvol wees, nie herhalend nie.—Ps. 1:1, 2.

7. Wat het die Leviete God gevra, en wat leer ons hieruit?

7 Die gebed bevat net een beskeie versoek. Dit word gevind in die laaste deel van vers 32 wat sê: “Nou, o ons God, die groot, magtige en vreesinboesemende God, wat die verbond en liefderyke goedhartigheid hou, laat al die teëspoed wat ons, ons konings, ons vorste en ons priesters en ons profete en ons voorvaders en u hele volk van die dae van die konings van Assirië af tot vandag toe getref het, nie gering voor u lyk nie.” Die Leviete het dus vir ons ’n goeie voorbeeld gestel om Jehovah eers te loof en te dank voordat ons enige persoonlike versoeke in gebed tot hom rig.

HULLE LOOF GOD SE GLORIERYKE NAAM

8, 9. (a) Op watter nederige wyse het die Leviete hulle gebed begin? (b) Na watter twee hemelse leërs verwys die Leviete klaarblyklik?

8 Hoewel hulle gebed goed voorbereid was, was daardie Leviete nederig en het hulle gevoel dat hulle woorde nie die lof wat Jehovah werklik toekom, ten volle kon uitdruk nie. Die gebed begin dus met hierdie beskeie versoek aangaande God se volk: “Laat hulle u glorieryke naam loof, wat bo alle seën en lof verhewe is.”—Neh. 9:5.

9 “U alleen is Jehovah”, gaan die gebed voort, “u het die hemel gemaak, ja, die hemel der hemele, en sy hele leër, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is; en u hou dit alles in die lewe; en die leër van die hemel buig hulle voor u neer” (Neh. 9:6). Ja, Jehovah God het die ganse heelal geskep, wat uit tallose sterrestelsels bestaan. Dit is net so ontsagwekkend om te dink dat hy alles geskep het op ons pragtige planeet, wat die wonderlike vermoë het om ’n verstommende verskeidenheid lewende dinge te onderhou—lewende dinge wat aanhou om volgens hulle soort voort te plant. Die heilige engele van God, wat ook beskryf kan word as die “leër van die hemel”, het dit alles gesien (1 Kon. 22:19; Job 38:4, 7). Wat meer is, die engele doen nederig God se wil deur te dien ten behoewe van sondige mense “wat redding gaan beërf” (Heb. 1:14). Wat ’n uitstekende voorbeeld stel die engele tog vir ons terwyl ons Jehovah eendragtig soos ’n goed opgeleide leër dien!—1 Kor. 14:33, 40.

10. Wat leer ons uit God se handelinge met Abraham?

10 Toe het die Leviete die aandag gevestig op God se handelinge met Abram, wat teen die tyd dat hy 99 was, nog nie ’n kind by sy onvrugbare vrou, Sarai, verwek  het nie. Dit is toe dat Jehovah sy naam verander het na Abraham, wat “vader van ’n menigte” beteken (Gen. 17:1-6, 15, 16). God het Abraham ook belowe dat sy saad die land Kanaän sou beërf. Mense vergeet dikwels hulle beloftes, maar nie Jehovah nie. Dit strook met wat die Leviete se gebed verder sê: “U is Jehovah, die ware God, wat Abram uitgekies het en hom uit Ur van die Galdeërs uitgelei het en sy naam Abraham gemaak het. En u het sy hart getrou bevind voor u; daarom is die verbond met hom gesluit om aan hom die land van die Kanaäniete . . . te gee, om dit aan sy saad te gee; en u het u woorde uitgevoer, omdat u regverdig is” (Neh. 9:7, 8). Mag ons ook ons regverdige God navolg deur altyd by ons woord te probeer bly.—Matt. 5:37.

JEHOVAH SE WONDERLIKE WERKE TEN BEHOEWE VAN SY VOLK

11, 12. Verduidelik wat Jehovah se naam beteken en hoe dit in sy handelinge met Abraham se nakomelinge gesien kan word.

11 Die naam Jehovah beteken “Hy laat word”, wat daarop dui dat God stelselmatig sy beloftes laat bewaarheid word. Dit kan duidelik gesien word in God se handelinge met die nakomelinge van Abraham toe hulle slawe in Egipte was. Op daardie stadium het dit onmoontlik gelyk dat die hele nasie bevry sou kon word en dat hulle hulle in die Beloofde Land sou kon vestig. Maar deur ’n reeks progressiewe stappe het God sy belofte laat bewaarheid word en sodoende bewys dat hy die unieke en roemryke naam Jehovah waardig is.

12 Die gebed wat deur Nehemia opgeteken is, sê van Jehovah: “U het die ellende van ons voorvaders in Egipte gesien en hulle geroep by die Rooi See gehoor. Toe het u tekens en wonderwerke gedoen teen Farao en al sy knegte en die hele volk van sy land, want u het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het; en u het vir u ’n naam gemaak soos dit vandag is. En die see het u voor hulle gekloof, sodat hulle op droë grond deur die see getrek het; en hulle agtervolgers het u in die dieptes gewerp soos ’n klip in die sterk waters.” Dan sê die gebed wat Jehovah nog vir sy volk gedoen het: “U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle onderwerp . . . En hulle het versterkte stede en ’n vet land ingeneem en huise vol allerhande goeie dinge in besit geneem, uitgekapte reënputte, wingerde en olyfboorde en bome vir voedsel in oorvloed, en hulle het begin eet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u groot goedheid.”—Neh. 9:9-11, 24, 25.

13. Hoe het Jehovah in Israel se geestelike behoeftes voorsien, maar hoe het die volk gereageer?

13 God het baie ander stappe gedoen om sy voorneme stelselmatig te verwesenlik. Byvoorbeeld, kort nadat Israel Egipte verlaat het, het Jehovah in hulle geestelike behoeftes voorsien. “Op die berg Sinai”, sê die Leviete in hulle gebed tot God, “het [hy] neergedaal en uit die hemel met hulle gepraat en vir hulle regverdige regterlike beslissings en wette van waarheid, goeie voorskrifte en gebooie gegee” (Neh. 9:13). Jehovah het sy volk probeer onderrig sodat hulle waardig sou wees om sy heilige naam te dra as diegene wat die Beloofde Land sou beërf, maar hulle het die goeie dinge wat hulle geleer het, verwerp.—Lees Nehemia 9:16-18.

DIE BELANGRIKHEID VAN DISSIPLINE

14, 15. (a) Hoe het Jehovah barmhartig vir sy sondige volk gesorg? (b) Wat leer ons uit God se handelinge met sy uitverkore volk?

14 Die Leviete se gebed verwys na twee spesifieke sondes wat Israel gepleeg het kort nadat hulle by die berg Sinai belowe het om God se Wet te onderhou. Hiervoor het hulle tereg verdien dat Jehovah hulle in die wildernis laat sterf. Maar die gebed  loof Jehovah: “In u oorvloedige barmhartigheid [het u] hulle nie in die wildernis verlaat nie. . . . Veertig jaar lank het u hulle . . . van voedsel voorsien. Hulle het niks kortgekom nie. Hulle klere het nie verslyt nie, en hulle voete het nie geswel nie” (Neh. 9:19, 21). Vandag voorsien Jehovah ons ook van alles wat ons nodig het om hom getrou te dien. Mag ons nooit soos die duisende Israeliete wees wat weens hulle ongehoorsaamheid en gebrek aan geloof in die wildernis gesterf het nie. Trouens, hierdie dinge “is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het”.—1 Kor. 10:1-11.

15 Nadat die Israeliete die Beloofde Land beërf het, het hulle ongelukkig die sinlike, moorddadige aanbidding van Kanaänitiese gode aangeneem. Jehovah het dus toegelaat dat sy uitverkore volk deur naburige nasies onderdruk word. Wanneer hulle berou getoon het, het Jehovah hulle barmhartig vergewe en van hulle vyande gered. Dit het “herhaaldelik” gebeur. (Lees Nehemia 9:26-28, 31.) “U was baie jare lank toegewend teenoor hulle en het teen hulle bly getuig deur u gees, deur middel van u profete, en hulle het nie geluister nie”, het die Leviete bely. “Uiteindelik het u hulle in die hand van die volke van die lande gegee.”—Neh. 9:30.

16, 17. (a) Hoe was die Israeliete se situasie ná die ballingskap anders as toe hulle voorvaders aanvanklik die Beloofde Land beërf het? (b) Wat het die Israeliete bely, en wat het hulle belowe om te doen?

16 Selfs nadat die Israeliete uit ballingskap teruggekeer het, het hulle weer in ’n patroon van ongehoorsaamheid verval. Wat was die gevolg? Die Leviete het verder gebid: “Kyk! Ons is vandag slawe; en wat die land betref wat u aan ons voorvaders gegee het om die vrug en die goeie dinge daarvan te eet, kyk! ons is slawe daarin, en die opbrengs daarvan is oorvloedig vir die konings wat u oor ons gestel het weens ons sondes, en . . . ons is in groot benoudheid.”—Neh. 9:36, 37.

17 Het die Leviete te kenne gegee dat God onregverdig was omdat hy toegelaat het dat hulle in benoudheid verkeer? Beslis nie! “U is regverdig”, het hulle bely, “in alles wat oor ons gekom het, want u het getrou gehandel, maar dit is ons wat goddeloos gehandel het” (Neh. 9:33). Dan sluit hierdie onselfsugtige gebed af met ’n plegtige belofte dat die nasie voortaan God se Wet sal gehoorsaam. (Lees Nehemia 9:38; 10:29.) Dit word bevestig in ’n geskrewe dokument wat geteken word met die seëls van 84 Joodse leiers.—Neh. 10:1-27.

18, 19. (a) Wat het ons nodig as ons tot in God se nuwe wêreld behoue wil bly? (b) Waarvoor moet ons aanhou bid, en waarom?

18 Ons het Jehovah se dissipline nodig sodat ons aan die vereistes kan voldoen om tot in sy regverdige nuwe wêreld behoue te bly. “Watter seun is daar wat nie deur ’n vader gedissiplineer word nie?” het die apostel Paulus gevra (Heb. 12:7). Ons toon dat ons God se leiding in ons lewe aanvaar deur getrou in sy diens te volhard en toe te laat dat sy gees ons louter. En as ons ’n ernstige sonde begaan, kan ons seker wees dat Jehovah ons sal vergewe as ons waarlik berouvol is en nederig dissipline aanvaar.

19 Binnekort sal Jehovah ’n selfs glorieryker naam vir homself maak as toe hy die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos het (Eseg. 38:23). En net soos sy eertydse volk die Beloofde Land beërf het, sal alle Christene wat as getroue aanbidders van Jehovah volhard, beslis die lewe in God se regverdige nuwe wêreld beërf (2 Pet. 3:13). Laat ons dus, aangesien ons sulke wonderlike vooruitsigte het, aanhou bid vir die heiliging van God se glorieryke naam. Die volgende artikel sal nog ’n gebed bespreek waarmee ons in ooreenstemming moet optree as ons God se seën nou en tot in alle ewigheid wil geniet.