Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom het Jesus trane gestort voordat hy Lasarus opgewek het, soos Johannes 11:35 toon?

Wanneer ’n geliefde sterf, is dit vir ons natuurlik om te huil omdat ons na die persoon sal verlang. Hoewel Jesus lief was vir Lasarus, het hy nie trane gestort omdat Lasarus gesterf het nie. Hy het gehuil uit medelye vir die bedroefdes, soos die konteks van Johannes se verslag aandui.—Joh. 11:36.

Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het hy nie onmiddellik na hom toe gegaan om hom te genees nie. Die verslag sê: “Toe [Jesus] hoor dat [Lasarus] siek is, het hy tog nog twee dae op die plek gebly waar hy was” (Joh. 11:6). Waarom het Jesus getalm? Hy het dit met ’n doel gedoen. Hy het gesê: “Hierdie siekte het nie die dood ten doel nie, maar is tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (Joh. 11:4). Die dood was nie die “doel”, of eindresultaat, van Lasarus se siekte nie. Jesus wou Lasarus se dood gebruik “tot die heerlikheid van God”. Hoe? Jesus het op die punt gestaan om ’n skouspelagtige wonderwerk te verrig deur sy geliefde vriend uit die graf op te wek.

Gedurende hierdie bespreking met sy dissipels het Jesus die dood vergelyk met ’n toestand wat soortgelyk is aan slaap. Dit is waarom hy vir hulle gesê het dat hy “daarheen [reis] om [Lasarus] uit die slaap wakker te maak” (Joh. 11:11). Vir Jesus was dit so maklik om Lasarus uit die dood op te wek, as wat dit vir ’n ouer is om sy kind uit die slaap wakker te maak. Daar was dus geen rede vir hom om bedroef te wees oor Lasarus se dood nie.

Wat het Jesus dan tot trane beweeg? Die konteks voorsien weer eens die antwoord. Toe Jesus Lasarus se suster Maria ontmoet het en haar en ander sien huil het, het hy “in die gees gekreun en verontrus geword”. Om hulle pyn te sien, het hom so seergemaak dat hy “in die gees gekreun” het. Dit is waarom ‘Jesus trane gestort het’. Dit het Jesus baie hartseer gemaak om sy geliefde vriende so diep bedroef te sien.—Joh. 11:33, 35.

Hierdie verslag toon dat Jesus die krag en vermoë het om ons geliefdes in die komende nuwe wêreld op te wek en tot gesondheid te herstel. Dit help ons ook om te besef dat Jesus meegevoel het met diegene wat ’n geliefde as gevolg van Adamitiese dood verloor het. Nog ’n les wat ons uit hierdie verslag kan leer, is dat ons medelye moet hê met diegene wat oor die dood van ’n geliefde treur.

Jesus het geweet dat hy Lasarus sou opwek. Nogtans het hy trane gestort weens sy diep liefde vir sy vriende en sy medelye met hulle. Net so sal ons empatie ons moontlik beweeg om te “huil saam met mense wat huil” (Rom. 12:15). Om so aan droefheid uiting te gee, is nie ’n aanduiding dat ’n persoon ’n gebrek aan geloof in die opstandingshoop het nie. Hoe gepas is dit dan dat Jesus die voorbeeld daarin gestel het om simpatie vir die bedroefdes te toon deur te huil, selfs al het hy geweet dat hy Lasarus sou opwek.