Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Julle is geheilig

Julle is geheilig

“Julle is skoon gewas, . . . julle is geheilig.”—1 KOR. 6:11.

1. Watter verontrustende verwikkelinge het Nehemia gesien toe hy na Jerusalem teruggekeer het? (Sien prent aan begin van artikel.)

DIE inwoners van Jerusalem is aan die praat. ’n Berugte uitlander woon in ’n vertrek in die tempel. Leviete verlaat hulle toewysings. In plaas daarvan dat die ouer manne op die Sabbat die leiding in aanbidding neem, dryf hulle handel. Baie Israeliete trou met nie-Jode. Dit is net ’n paar van die verontrustende verwikkelinge wat Nehemia sien toe hy die een of ander tyd ná 443 VHJ na Jerusalem terugkeer.—Neh. 13:6.

2. Hoe het Israel ’n heilige nasie geword?

2 Israel was ’n nasie wat aan God toegewy was. In 1513 VHJ was die Israeliete gretig om Jehovah se wil te doen. Hulle het gesê: “Al die woorde wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen” (Eks. 24:3). God het hulle dus geheilig, of as sy uitverkore volk afgesonder. Wat ’n voorreg was dit tog! Moses het hulle 40 jaar later herinner: “Jy is ’n heilige volk vir Jehovah jou God. Vir jou het Jehovah jou God uitgekies om sy volk te word, ’n spesiale eiendom, uit al die volke wat op die oppervlak van die aarde is.”—Deut. 7:6.

3. Wat was die geestelike toestand van die Jode toe Nehemia ’n tweede keer in Jerusalem aangekom het?

3 Ongelukkig het Israel se aanvanklike geesdrif om ’n heilige nasie te wees, nie lank geduur nie. Hoewel daar altyd individue was wat God gedien het, was dit vir die Jode oor die algemeen belangriker om die indruk te skep dat hulle heilig, of vroom, is as om God se wil te doen. Toe Nehemia ’n tweede keer in Jerusalem aangekom het, het sowat honderd jaar al verloop sedert ’n getroue oorblyfsel van Babilon af teruggekeer het om ware aanbidding te herstel. Die nasie se ywer vir geestelike dinge was weer eens besig om te verflou.

4. Watter faktore sal ons bespreek wat ons kan help om ’n heilige volk te bly?

4 Soos die Israeliete, is hedendaagse Getuies van  Jehovah in algemene sin deur God geheilig. Gesalfde Christene sowel as diegene van die “groot menigte” is heilig, afgesonder vir heilige diens (Op. 7:9, 14, 15; 1 Kor. 6:11). Nie een van ons wil ons heilige posisie voor God verloor soos die Israeliete dit uiteindelik verloor het nie. Wat kan ons help om te voorkom dat dit gebeur sodat ons heilig en nuttig in Jehovah se diens kan bly? In hierdie artikel sal ons vier faktore bespreek wat in Nehemia hoofstuk 13 na vore kom: (1) Vermy slegte assosiasie; (2) ondersteun teokratiese reëlings; (3) stel geestelike dinge eerste; en (4) bewaar jou Christelike identiteit. Kom ons ondersoek nou elkeen van hierdie faktore.

VERMY SLEGTE ASSOSIASIE

Hoe het Nehemia getoon dat hy aan Jehovah lojaal is?

(Sien paragrawe 5, 6)

5, 6. Wie was Eljasib en Tobia, en wat was moontlik die rede waarom Eljasib met Tobia geassosieer het?

5 Lees Nehemia 13:4-9. Aangesien ons deur onrein invloede omring word, is dit nie vir ons maklik om heilig te bly nie. Dink aan Eljasib en Tobia. Eljasib was die hoëpriester, en Tobia was ’n Ammoniet en waarskynlik ’n kleinamptenaar in die Persiese administrasie van Judea. Tobia en sy metgeselle het Nehemia se pogings om Jerusalem se mure te herbou, teëgestaan (Neh. 2:10). Ammoniete is nie toegelaat om in die tempelgebied in te kom nie (Deut. 23:3). Waarom sou die hoëpriester dan ’n eetsaal in die tempel tot die beskikking stel van ’n man soos Tobia?

6 Tobia was blykbaar ’n intieme metgesel van Eljasib. Tobia en sy seun Johanan het met Joodse vroue getrou, en baie Jode het met lof van Tobia gepraat (Neh. 6:17-19). Een van Eljasib se kleinseuns was getroud met die dogter van Sanballat, die goewerneur van Samaria, wat een van Tobia se intiemste metgeselle was (Neh. 13:28). Hierdie bande verklaar moontlik waarom die hoëpriester, Eljasib, toegelaat het dat ’n ongelowige en ’n teenstander hom beïnvloed. Maar Nehemia het getoon dat hy aan Jehovah lojaal is deur al Tobia se huisraad uit die eetsaal te gooi.

7. Hoe verseker ouer manne en ander dat hulle hulle heilige posisie voor Jehovah behou?

7 As ’n volk wat aan God toegewy is, moet ons bowenal aan Jehovah lojaal wees. Tensy ons by sy regverdige standaarde bly, sal ons nie in sy oë heilig bly nie. Ons moenie toelaat dat familiebande Bybelbeginsels oorskadu nie. Christen- ouer manne word gelei deur Jehovah se denke, nie deur hulle eie menings of gevoelens nie (1 Tim. 5:21). Die ouer manne let sorgvuldig daarop dat hulle niks doen wat hulle hulle heilige posisie voor God kan laat verloor nie.—1 Tim. 2:8.

8. Wat moet alle toegewyde knegte van Jehovah in gedagte hou wanneer dit by hulle assosiasie kom?

8 Dit sal goed wees om in gedagte te hou dat “slegte omgang . . . nuttige gewoontes [bederf]” (1 Kor. 15:33). Party van ons familielede is dalk nie ’n positiewe invloed in ons lewe nie. Eljasib het ’n goeie voorbeeld vir die volk gestel deur Nehemia ten volle te ondersteun in die herbouing van Jerusalem se mure (Neh. 3:1). Maar mettertyd het die skadelike invloed van Tobia en ander Eljasib blykbaar dinge laat doen wat hom voor Jehovah verontreinig het. Ons moet assosieer met mense wat ons aanspoor om aan heilsame Christelike bedrywighede deel te neem, soos om die Bybel te lees, Christelike vergaderinge by te woon en velddiens te doen. Familielede wat ons beïnvloed om te doen wat reg is, is vir ons baie kosbaar.

ONDERSTEUN TEOKRATIESE REËLINGS

9. Waarom was die tempelreëlings omvergegooi, en wie het Nehemia hiervoor blameer?

9 Lees Nehemia 13:10-13. Dit wil voorkom  asof die volk, teen die tyd dat Nehemia na Jerusalem teruggekeer het, feitlik geen bydraes aan die tempel gemaak het nie. Omdat die Leviete nie hierdie ondersteuning gehad het nie, het hulle hulle toewysings verlaat en hulle grond gaan bewerk. Nehemia het die landvoogde vir die situasie blameer. Dit was duidelik dat hulle nie hulle pligte nagekom het nie. Hulle het óf nie die volk se tiendes ingesamel nie óf dit nie na die tempel gestuur, soos hulle moes nie (Neh. 12:44). Nehemia het dus stappe gedoen om die tiendes te laat insamel. Hy het betroubare manne aangestel om oor die tempel se voorraadkamers toesig te hou en om die tiendes aan die Leviete uit te deel.

10, 11. Watter voorreg het God se volk wanneer dit kom by die ondersteuning van ware aanbidding?

10 Is daar ’n les wat ons hieruit kan leer? Ja, want ons word daaraan herinner dat ons die voorreg het om Jehovah met ons waardevolle dinge te eer (Spr. 3:9). Wanneer ons bydraes maak om Jehovah se werk te ondersteun, gee ons eenvoudig aan hom wat reeds aan hom behoort (1 Kron. 29:14-16). Ons dink dalk nie dat ons veel het om te gee nie, maar as ons die begeerte het, kan ons almal ’n bydrae maak.—2 Kor. 8:12.

11 Een groot gesin het jare lank ’n bejaarde spesialepionier-egpaar genooi om een keer per week ’n maaltyd saam met hulle te kom eet. Hoewel die ouers agt kinders gehad het, het die ma altyd gesê: “Wat is twee ekstra borde by ’n tafel wat vir tien gedek is?” ’n Weeklikse maaltyd lyk dalk nie na veel nie, maar hoe dankbaar was daardie pioniers tog vir die gasvryheid wat aan hulle betoon is! Op hulle beurt was hulle vir hulle gashere ’n seën. Die aanmoedigende woorde en ondervindinge van die egpaar het tot die kinders se geestelike vordering bygedra. Hulle het almal later die voltydse diens betree.

12. Watter goeie voorbeeld stel aangestelde manne in die gemeente?

12 Nog ’n les wat ons hieruit kan leer, is: Soos Nehemia, neem aangestelde manne van vandag die leiding daarin om teokratiese reëlings te ondersteun. Ander in die gemeente vind by hulle voorbeeld baat. In hierdie verband volg ouer manne ook die apostel Paulus na. Hy het ware aanbidding ondersteun en nuttige leiding voorsien. Hy het byvoorbeeld ’n aantal praktiese voorstelle gemaak oor hoe om bydraes te maak.—1 Kor. 16:1-3; 2 Kor. 9:5-7.

 STEL GEESTELIKE DINGE EERSTE

13. Hoe het party Jode ’n gebrek aan respek vir die Sabbat getoon?

13 Lees Nehemia 13:15-21. As ons toelaat dat ons oorbesorg raak oor materiële dinge, kan ons geleidelik ons geestelikheid verloor. Volgens Eksodus 31:13 was die doel van die weeklikse Sabbat om die Israeliete daaraan te herinner dat hulle ’n heilige volk is. Die Sabbat moes opsygesit word vir gesinsaanbidding, gebed en die bepeinsing van God se Wet. Maar vir party van Nehemia se tydgenote het die Sabbat net ’n doodgewone dag geword. Aanbidding is op die agtergrond geskuif. Toe Nehemia gesien het wat gebeur, het hy die stadspoorte teen skemer op die sesde dag laat toemaak en die uitlandse handelaars weggejaag voordat die Sabbat begin.

14, 15. (a) Wat kan met ons gebeur as ons nie ons sakebelange beperk nie? (b) Hoe kan ons in God se rus ingaan?

14 Wat kan ons uit Nehemia se voorbeeld leer? Een les is dat ons ons sakebelange moet beperk. So nie kan ons aandag maklik afgelei word—of ons hart selfs verdeeld raak—veral as ons ons sekulêre werk geniet. Hou Jesus se waarskuwing in gedagte dat ons nie twee here as slaaf kan dien nie. (Lees Matteus 6:24.) Hoe het Nehemia sy tyd in Jerusalem benut, al het hy finansiële middele gehad? (Neh. 5:14-18). Eerder as om sakeverhoudings met die Tiriërs of ander te smee, het hy hom daarop toegespits om sy broers te help en dinge te doen wat tot die heiliging van Jehovah se naam bygedra het. Net so spits Christen- ouer manne en bedieningsknegte hulle vandag daarop toe om dinge te doen wat die gemeente tot voordeel strek, en hierdie gees maak hulle by hulle medegelowiges geliefd. Gevolglik heers daar liefde, vrede en veiligheid onder God se volk.—Eseg. 34:25, 28.

15 Hoewel daar nie van Christene vereis word om ’n weeklikse Sabbat te hou nie, sê Paulus vir ons dat “’n sabbatsrus . . . vir die volk van God [oorbly]”. Hy voeg by: “Die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus, net soos God van syne” (Heb. 4:9, 10). As Christene kan ons in God se rus ingaan deur gehoorsaam in ooreenstemming met sy ontvouende voorneme op te tree. Stel jy en jou geliefdes gesinsaanbidding, vergaderingbywoning en die veldbediening eerste in julle lewe? Ons sal dalk ’n ferm standpunt teenoor ons werkgewer of sakevennote moet inneem, veral as hulle nie ons teokratiese prioriteite respekteer nie. Ons sal as ’t ware ‘die stadspoorte moet toemaak en die Tiriërs moet wegjaag’ as ons heilige dinge eerste wil stel en die gepaste aandag daaraan wil gee. Omdat ons geheilig is, kan ons ons gerus afvra: ‘Toon my lewenswyse dat ek afgesonder is vir Jehovah se diens?’—Matt. 6:33.

BEWAAR JOU CHRISTELIKE IDENTITEIT

16. Hoe is die nasie se identiteit as ’n heilige volk in Nehemia se dag in gevaar gestel?

16 Lees Nehemia 13:23-27. In Nehemia se dag het Israelitiese mans met uitlandse vroue getrou. Tydens sy eerste besoek aan Jerusalem het Nehemia al die ouer manne ’n geskrewe ooreenkoms laat teken waarin hulle plegtig belowe het dat Israelitiese mans nie met heidene sal trou nie (Neh. 9:38; 10:30). Maar ’n paar jaar later het hy gevind dat Joodse mans nie net uitlandse vrouens geneem het nie, maar dat die volk op die punt gestaan het om hulle identiteit as God se heilige volk te verloor! Die kinders van hierdie uitlandse vroue kon nie Hebreeus lees of praat nie. Sou hulle hulle as Israeliete identifiseer wanneer hulle ouer word? Of sou hulle hulle eerder beskou as Asdodiete, Ammoniete of Moabiete? Sou hulle God se Wet kon verstaan as hulle nie Hebreeus verstaan het nie? Hoe kon hulle Jehovah  leer ken en besluit om hom te dien pleks van die valse gode wat hulle moeders aanbid het? Spoedige en daadwerklike optrede was nodig, en dit is presies hoe Nehemia opgetree het.—Neh. 13:28.

Help jou kinders om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou (Sien paragrawe 17, 18)

17. Hoe kan ouers hulle kinders help om ’n persoonlike verhouding met Jehovah te hê?

17 Vandag moet ons daadwerklik optree om ons kinders te help om ’n Christelike identiteit te verkry. Ouers, vra julle af: ‘Hoe vlot praat ons kinders die “suiwer taal” van Bybelwaarheid? (Sef. 3:9). Weerspieël ons kinders se gesprekke die invloed van God se gees of dié van die wêreld?’ Moenie gou moed verloor as julle sien dat daar ruimte vir verbetering is nie. Dit neem tyd om ’n taal aan te leer, veral wanneer ons deur afleidings omring word. Julle kinders verkeer onder geweldige druk om hulle geloof prys te gee. Wees dus geduldig en gebruik julle aande vir Gesinsaanbidding en ander geleenthede om julle kinders te help om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou (Deut. 6:6-9). Beklemtoon die voordele wat dit inhou om anders as Satan se wêreld te wees (Joh. 17:15-17). En probeer die hart bereik.

18. Waarom is Christenouers in die beste posisie om hulle kinders voor te berei om hulle aan Jehovah toe te wy?

18 Op die ou end sal elke kind self besluit of hy of sy God wil dien of nie. Nogtans is daar baie wat ouers kan doen. Dit sluit in om die regte voorbeeld te stel, duidelike grense vas te stel en die gevolge van besluite met julle kinders te bespreek. Ouers, niemand is in ’n beter posisie as julle om julle kinders voor te berei om hulle aan Jehovah toe te wy nie. Hulle het julle hulp nodig om hulle Christelike identiteit te verkry en te bewaar. Ons almal moet natuurlik op ons hoede wees sodat ons nie ons figuurlike “boklere”—die eienskappe en standaarde wat ons as Christus se volgelinge identifiseer—verloor nie.—Op. 3:4, 5; 16:15.

GOD SAL ‘TEN GOEDE AAN ONS DINK’

19, 20. Hoe kan ons verseker dat Jehovah “ten goede” aan ons sal dink?

19 Een van Nehemia se tydgenote was die profeet Maleagi, wat gesê het dat “’n gedenkboek . . . geskryf [is] vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink” (Mal. 3:16, 17). God sal nooit diegene vergeet wat eerbiedige vrees vir hom en liefde vir sy naam openbaar nie.—Heb. 6:10.

20 Nehemia het gebid: “Dink tog aan my, o my God, ten goede” (Neh. 13:31). Soos Nehemia, sal ons name in God se gedenkboek wees as ons aanhou om slegte assosiasie te vermy, teokratiese reëlings te ondersteun, geestelike sake eerste te stel en ons Christelike identiteit te bewaar. Laat ons ‘voortdurend toets of ons in die geloof is’ (2 Kor. 13:5). As ons ons heilige verhouding met Jehovah behou, sal hy “ten goede” aan ons dink.