Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Baie word gevoed deur middel van ’n klein groepie

Baie word gevoed deur middel van ’n klein groepie

“Nadat [Jesus] die brode gebreek het, het hy dit aan die dissipels uitgedeel, en die dissipels weer aan die skare.”—MATT. 14:19.

1-3. Beskryf hoe Jesus ’n groot skare in die omgewing van Betsaida gevoed het. (Sien prent aan begin van artikel.)

STEL jou die toneel voor. (Lees Matteus 14:14-21.) Dit is net voor die Pasga van 32 HJ. ’n Skare van sowat 5 000 mans, buiten vroue en jong kinders, is saam met Jesus en sy dissipels by ’n verlate plek in die omgewing van Betsaida, ’n dorpie aan die noordelike oewer van die See van Galilea.

2 Wanneer Jesus die skare sien, voel hy innig jammer vir hulle, en daarom genees hy die siekes onder hulle en leer hy hulle baie dinge oor God se Koninkryk. Wanneer dit laat word, spoor die dissipels Jesus aan om die mense weg te stuur sodat hulle na die nabygeleë dorpies kan gaan om vir hulleself kos te koop. Maar Jesus sê vir sy dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Sy woorde het seker vir hulle vreemd geklink, want hulle het maar min by hulle gehad—vyf brode en twee vissies.

3 Uit medelye verrig Jesus ’n wonderwerk—die enigste wonderwerk wat deur al vier Evangelieskrywers opgeteken is (Mark. 6:35-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-13). Jesus vra sy dissipels om vir die skare te sê om in groepe van 50 en van 100 op die groen gras te gaan sit. Nadat hy ’n seën gevra het, begin hy die brood breek en verdeel hy die visse. Maar in plaas van die kos regstreeks aan die mense te gee, deel Jesus dit uit “aan die dissipels . . . , en die dissipels weer aan die skare”. Wonder bo wonder is daar meer as genoeg vir almal om te eet! Dink net: Jesus het duisende gevoed deur middel van ’n klein groepie—sy dissipels. *

4. (a) Die voorsiening van watter soort voedsel was vir Jesus selfs belangriker, en waarom? (b) Wat sal ons in hierdie en die volgende studieartikel bespreek?

4 Vir Jesus was dit selfs belangriker om geestelike voedsel aan sy volgelinge te voorsien. Hy het geweet dat dit tot die ewige lewe lei as ’n persoon geestelike voedsel, die waarhede in God se Woord, inneem (Joh. 6:26, 27; 17:3). Dieselfde medelye wat Jesus beweeg het  om die skare met brode en visse te voed, het hom beweeg om baie ure daaraan te bestee om sy volgelinge te leer (Mark. 6:34). Maar hy was daarvan bewus dat sy tyd op die aarde kort sou wees en dat hy sou teruggaan hemel toe (Matt. 16:21; Joh. 14:12). Hoe sou die verrese Jesus seker maak dat sy volgelinge op die aarde geestelik goed gevoed bly? Hy sou ’n soortgelyke patroon volg—hy sou baie deur middel van ’n klein groepie voed. Maar wie sou hierdie klein groepie uitmaak? Kom ons kyk hoe Jesus ’n klein groepie gebruik het om sy talle eerste-eeuse gesalfde volgelinge te voed. Ons sal dan in die volgende artikel ’n vraag bespreek wat vir ons almal van die uiterste belang is: Hoe kan ons die klein groepie identifiseer deur wie Christus ons vandag voed?

Duisende is gevoed deur middel van ’n klein groepie (Sien paragraaf 4)

JESUS KIES DIE KLEIN GROEPIE

5, 6. (a) Watter gewigtige besluit het Jesus geneem om te verseker dat sy volgelinge ná sy dood geestelik goed gevoed sou wees? (b) Hoe het Jesus sy apostels voorberei om ná sy dood ’n sleutelrol te speel?

5 ’n Verantwoordelike gesinshoof tref reëlings sodat daar na sy gesin omgesien sal word indien hy sou sterf. Net so het Jesus—wat die Hoof van die Christengemeente sou word—reëlings getref sodat daar ná sy dood geestelik na sy volgelinge omgesien sou word (Ef. 1:22). Byvoorbeeld, omtrent twee jaar voor sy dood het Jesus ’n gewigtige besluit geneem. Hy het die eerste lede van die klein groepie gekies deur wie hy later baie sou voed. Let op wat gebeur het.

6 Nadat Jesus die hele nag gebid het, het hy sy dissipels bymekaargeroep en 12 apostels onder hulle uitgekies (Luk. 6:12-16). Gedurende die volgende twee jaar was hy besonder na aan die 12 en het hy hulle deur sy woorde sowel as sy voorbeeld geleer. Hy het geweet dat hulle baie het om te leer; trouens, hulle het nog steeds as “dissipels” bekend gestaan (Matt. 11:1; 20:17). Hy het hulle waardevolle raad en intensiewe opleiding in die bediening gegee (Matt. 10:1-42; 20:20-23; Luk. 8:1; 9:52-55). Hy het hulle klaarblyklik voorberei om ’n sleutelrol te speel nadat hy gesterf het en teruggekeer het hemel toe.

7. Hoe het Jesus ’n leidraad voorsien oor wat die apostels se belangrikste werk sou wees?

7 Wat sou die rol van die apostels wees? Net voor Pinkster 33 HJ het dit duidelik geword dat die apostels ’n “opsienersamp” sou beklee (Hand. 1:20). Maar wat sou hulle belangrikste werk wees? Ná Jesus se opstanding het hy ’n leidraad voorsien in ’n gesprek wat hy met die apostel Petrus gehad het. (Lees Johannes 21:1, 2, 15-17.) In die teenwoordigheid van party van die ander apostels het Jesus vir Petrus gesê: “Voed my skapies.” Hierdeur het Jesus aangedui dat sy apostels lede van die klein groepie sou wees deur wie hy geestelike voedsel aan baie sou voorsien. Wat ’n treffende aanduiding van hoe Jesus oor sy “skapies” voel! *

BAIE WORD VANAF PINKSTER GEVOED

8. Hoe het nuwe gelowiges by Pinkster getoon dat hulle duidelik besef wie die kanaal is wat Christus gebruik het?

8 Vanaf Pinkster 33 HJ het die verrese Christus sy apostels gebruik as die kanaal waardeur hy die res van sy gesalfde dissipels gevoed het. (Lees Handelinge 2:41, 42.) Die Jode en die proseliete wat op daardie dag geesgesalfde Christene geword het, het duidelik besef wie hierdie kanaal uitmaak. Hulle het sonder huiwering “voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels”. Volgens ’n geleerde kan die Griekse werkwoord wat vertaal word met “voortgegaan om hulle toe te lê” die betekenis hê van “onwrikbare en doelgerigte getrouheid aan ’n sekere handelswyse”. Die nuwe gelowiges het ’n groot honger na geestelike voedsel gehad,  en hulle het presies geweet waar om dit te kry. Met onwankelbare lojaliteit het hulle hulle tot die apostels gewend om die woorde en dade van Jesus te verduidelik en om nuwe lig te werp op die betekenis van die Skrifgedeeltes wat op hom betrekking het. *Hand. 2:22-36.

9. Hoe het die apostels getoon dat hulle hulle verantwoordelikheid om Jesus se skape te voed, duidelik voor oë hou?

9 Die apostels het hulle verantwoordelikheid om Jesus se skape te voed, duidelik voor oë gehou. Let byvoorbeeld op hoe hulle ’n sensitiewe kwessie wat verdeeldheid kon veroorsaak het, in die pas gestigte gemeente hanteer het. Ironies genoeg het die saak te doen gehad met voedsel—fisiese voedsel. Griekssprekende weduwees is in die daaglikse uitdeling van voedsel oor die hoof gesien, maar Hebreeussprekende weduwees is nie. Hoe het die apostels hierdie sensitiewe kwessie opgelos? “Die twaalf” het sewe bekwame broers aangestel om toesig te hou oor die “nodige aangeleentheid”, naamlik die uitdeling van voedsel. Die apostels—van wie die meeste ongetwyfeld gehelp het om voedsel uit te deel aan die skare wat Jesus wonderdadig gevoed het—het besef dat dit vir hulle belangriker is om hulle op die voorsiening van geestelike voedsel toe te lê. Hulle het hulle dus “aan die bediening van die woord” gewy.—Hand. 6:1-6.

10. Hoe het Christus die apostels en ouer manne in Jerusalem gebruik?

10 Teen 49 HJ het ander bekwame ouer manne al aangesluit by die apostels wat nog gelewe het. (Lees Handelinge 15:1, 2.) “Die apostels en ouer manne in Jerusalem” het as ’n bestuursliggaam gedien. As Hoof van die gemeente het Christus hierdie klein groepie bekwame manne gebruik om leerstellige geskille te besleg en die verkondiging en onderrigting van die goeie nuus van die Koninkryk te rig en daaroor toesig te hou.—Hand. 15:6-29; 21:17-19; Kol. 1:18.

11, 12. (a) Wat toon dat Jehovah die reëling geseën het waardeur sy Seun die eerste-eeuse gemeentes gevoed het? (b) Waarom kon die kanaal wat Christus gebruik het om geestelike voedsel te voorsien, duidelik geïdentifiseer word?

11 Het Jehovah die reëling geseën waardeur sy Seun die eerste-eeuse gemeentes gevoed het? Beslis! Hoe kan ons hiervan seker wees? Die boek Handelinge sê vir ons: “Terwyl hulle [die apostel Paulus en sy reisende metgeselle] deur die stede voortgereis het, het hulle aan diegene wat daar was, die verordeninge waarop die  apostels en ouer manne in Jerusalem besluit het, oorgedra om te onderhou. Daarom is die gemeentes inderdaad voortdurend standvastig gemaak in die geloof en het hulle van dag tot dag in getal bly toeneem” (Hand. 16:4, 5). Let op dat daardie gemeentes gefloreer het omdat hulle lojaal met die bestuursliggaam in Jerusalem saamgewerk het. Lewer dit nie bewys van Jehovah se seën op die reëling waardeur sy Seun die gemeentes gevoed het nie? Ons moet onthou dat geestelike voorspoed slegs moontlik is met Jehovah se ryk seën.—Spr. 10:22; 1 Kor. 3:6, 7.

12 Tot dusver het ons gesien dat Jesus ’n patroon gevolg het wanneer hy sy volgelinge gevoed het: Hy het baie deur middel van ’n klein groepie gevoed. Die kanaal wat hy gebruik het om geestelike voedsel te voorsien, kon duidelik geïdentifiseer word. Die apostels—die oorspronklike lede van die bestuursliggaam—kon immers bewys lewer van goddelike steun. “Deur die hande van die apostels het daar baie tekens en voortekens onder die volk plaasgevind”, sê Handelinge 5:12. * Daar was dus geen rede vir dié wat Christene geword het, om te wonder wie werklik die groep is wat Christus gebruik om sy skape te voed nie. Maar teen die einde van die eerste eeu het die situasie verander.

In die eerste eeu was daar duidelike bewyse van wie Jesus gebruik het om die gemeente te voed (Sien paragraaf 12)

TOE DIE ONKRUID BAIE WAS EN DIE KORINGHALMS MIN

13, 14. (a) Watter waarskuwing het Jesus oor ’n aanval gegee, en wanneer het sy woorde begin waar word? (b) Uit watter twee oorde sou die aanval kom? (Sien eindnota.)

13 Jesus het voorspel dat die Christengemeente aangeval sou word. Onthou dat Jesus in sy profetiese illustrasie van die koring en die onkruid gewaarsku het dat onkruid (naamchristene) gesaai sou word oor ’n saailand waarin daar kort tevore koring (gesalfde Christene) gesaai is. Hy het gesê dat die groepe toegelaat sou word om sy aan sy, sonder inmenging, te groei tot die oestyd toe, wat gedurende “’n voleinding van ’n stelsel van dinge” sou aanbreek (Matt. 13:24-30, 36-43). Dit was nie lank voordat Jesus se woorde begin waar word het nie. *

14 Die afvalligheid het in die eerste eeu tot ’n mate in die gemeente ingedring, maar Jesus se getroue apostels het “as ’n teëhouer” gedien deur die besmetting en invloed van valse leringe teë te werk (2 Tess. 2:3, 6, 7). Maar toe die laaste van die apostels gesterf het, het die afvalligheid wortelgeskiet en gefloreer gedurende ’n lang groeiseisoen wat oor baie eeue gestrek het. Wat meer is, gedurende daardie tyd het die onkruid baie geword en was daar min koringhalms. Daar was geen bestendige, georganiseerde kanaal om geestelike voedsel te voorsien nie. Dit sou uiteindelik verander. Maar die vraag is: Wanneer?

DIE OESTYD—WIE SOU DIE VOEDSEL VOORSIEN?

15, 16. Watter resultate het die Bybelstudente se ywerige studie van die Skrif gelewer, en watter vraag ontstaan?

15 Na aan die einde van die groeiseisoen het groot belangstelling in Bybelwaarheid opgevlam. Onthou dat ’n klein groepie opregte waarheidsoekers in die 1870’s bymekaargekom het en Bybelklasse gevorm het wat afgeskeie was van die onkruid—naamchristene in die kerke en sektes van die Christendom. Met nederige harte en ’n oop gemoed het daardie opregte Bybelstudente, soos hulle hulleself genoem het, die Skrif noukeurig en biddend ondersoek.—Matt. 11:25.

16 Die Bybelstudente se ywerige studie van die Skrif het goeie resultate gelewer. Daardie lojale mans en vroue het valse leerstellings blootgelê en geestelike waarhede verkondig deur Bybellektuur uit te gee en dit wyd en syd te versprei. Hulle werk het die harte en verstande van baie  mense bereik wat na geestelike waarheid gehonger en gedors het. ’n Interessante vraag ontstaan dus: Was die Bybelstudente in die jare voor 1914 die aangestelde kanaal waardeur Christus sy skape sou voed? Nee. Hulle was nog in die groeiseisoen, en die reëling vir ’n kanaal om geestelike voedsel te voorsien, was nog aan die ontwikkel. Die tyd het toe nog nie aangebreek vir die onkruidagtige naamchristene om van die ware Christelike koring afgeskei te word nie.

17. Watter belangrike gebeure het in 1914 begin ontvou?

17 Soos ons in die vorige artikel geleer het, het die oestyd in 1914 begin. In daardie jaar het ’n aantal belangrike gebeure begin ontvou. Jesus is as Koning op die troon geplaas, en die laaste dae het begin (Op. 11:15). Vanaf 1914 tot die vroeë deel van 1919 het Jesus sy Vader na die geestelike tempel vergesel om ’n inspeksie- en reinigingswerk te doen wat uiters nodig was (Mal. 3:1-4). * Toe, in 1919, het die tyd aangebreek om die koring te begin insamel. Was dit uiteindelik die tyd vir Christus om een georganiseerde kanaal aan te stel om geestelike voedsel te voorsien? Ja, beslis!

18. Watter aanstelling het Jesus voorspel sou hy maak, en wat was die kritieke vraag aan die begin van die laaste dae?

18 In sy profesie oor die tyd van die einde het Jesus voorspel dat hy ’n kanaal sou aanstel om geestelike “voedsel op die regte tyd te gee” (Matt. 24:45-47). Watter kanaal sou hy gebruik? In ooreenstemming met die patroon wat Jesus in die eerste eeu gevolg het, sou hy weer eens baie deur middel van ’n klein groepie voed. Maar aan die begin van die laaste dae was die kritieke vraag: Wie sal die klein groepie wees? Hierdie en ander vrae oor Jesus se profesie sal in die volgende artikel bespreek word.

 

^ par. 3 Paragraaf 3: By ’n latere geleentheid, toe Jesus 4 000 mans, buiten vroue en kinders, wonderdadig gevoed het, het hy weer eens die voedsel “aan die dissipels begin uitdeel, en die dissipels weer aan die skare”.—Matt. 15:32-38.

^ par. 7 Paragraaf 7: Gedurende Petrus se leeftyd het al die “skapies” wat gevoed moes word, die hemelse hoop gekoester.

^ par. 8 Paragraaf 8: Die feit dat nuwe gelowiges “voortgegaan [het] om hulle toe te lê op die leer van die apostels”, gee te kenne dat die apostels op ’n gereelde basis onderrig het. Van die apostels se leringe is permanent opgeteken in die geïnspireerde boeke wat nou deel uitmaak van die Christelike Griekse Geskrifte.

^ par. 12 Paragraaf 12: Hoewel ander buiten die apostels wonderdadige gawes van die gees ontvang het, wil dit voorkom asof hierdie wonderdadige gawes in die meeste gevalle regstreeks deur ’n apostel of in die teenwoordigheid van ’n apostel aan ander oorgedra is.—Hand. 8:14-18; 10:44, 45.

^ par. 13 Paragraaf 13: Die apostel Paulus se woorde in Handelinge 20:29, 30 toon dat die gemeente uit twee oorde aangeval sou word. Eerstens sou naamchristene (“onkruid”) onder ware Christene “inkom”. Tweedens sou party uit die ware Christene se “eie midde” afvalliges word en “verdraaide dinge spreek”.

^ par. 17 Paragraaf 17: Sien bladsy 11, paragraaf 6, van die artikel “Kyk! Ek is met julle al die dae”, in hierdie nommer.