Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Vervul jou rol as ’n evangeliedienaar

Vervul jou rol as ’n evangeliedienaar

“Doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit.”—2 TIM. 4:5.

1. Waarom kan Jehovah die eerste en die grootste Evangeliedienaar genoem word?

’N EVANGELIEDIENAAR is iemand wat goeie nuus verkondig. Jehovah God is die eerste en grootste Evangeliedienaar. Onmiddellik nadat ons eerste ouers in opstand gekom het, het Jehovah die goeie nuus bekendgemaak dat die slang—in werklikheid Satan die Duiwel—vernietig sal word (Gen. 3:15). Deur die eeue heen het Jehovah getroue manne geïnspireer om besonderhede neer te skryf oor hoe sy naam van smaad gereinig sal word, hoe die skade wat deur Satan aangerig is, ongedaan gemaak sal word en hoe die mensdom weer die geleenthede sal kan hê wat Adam en Eva verbeur het.

2. (a) Watter rol speel die engele in verband met die evangelisasiewerk? (b) Watter voorbeeld het Jesus vir evangeliedienaars gestel?

2 Die engele is ook evangeliedienaars. Hulle verkondig goeie nuus, en hulle help ander om goeie nuus te versprei (Luk. 1:19; 2:10; Hand. 8:26, 27, 35; Op. 14:6). Wat van die aartsengel Migael? Toe hy op die aarde was as Jesus, het hy die beste voorbeeld vir menslike evangeliedienaars gestel. Trouens, Jesus het die verkondiging van die goeie nuus die middelpunt van sy lewe gemaak!—Luk. 4:16-21.

3. (a) Wat is die goeie nuus wat ons verkondig? (b) Watter vrae is vir ons as evangeliedienaars van belang?

3 Jesus het sy dissipels die opdrag gegee om evangeliedienaars te wees (Matt. 28:19, 20; Hand. 1:8). Die apostel Paulus het sy medewerker Timoteus aangespoor: “Doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit” (2 Tim. 4:5). Wat is die goeie nuus wat ons as volgelinge van Jesus verkondig? Dit sluit die gerusstellende waarheid in dat ons hemelse Vader, Jehovah, ons liefhet (Joh. 3:16; 1 Pet. 5:7). Die Koninkryk is ’n bewys van Jehovah God se liefde vir die mensdom. Ons vertel ander dus met graagte dat almal wat hulle aan Koninkryksheerskappy  onderwerp, aan God gehoorsaam is en regverdigheid beoefen, vriendskap met hom kan geniet (Ps. 15:1, 2). Om die waarheid te sê, dit is Jehovah se voorneme om ’n einde aan alle onregverdige lyding te maak. Hy sal ook die pyn verwyder wat ons ondervind wanneer ons dink aan lyding wat ons in die verlede verduur het. Watter goeie nuus is dit tog! (Jes. 65:17). Aangesien ons evangeliedienaars is, sal dit goed wees as ons kyk na die antwoorde op twee belangrike vrae: Waarom is dit vandag noodsaaklik dat mense die goeie nuus hoor? En hoe kan ons ons rol as evangeliedienaars met welslae vervul?

WAAROM MOET MENSE DIE GOEIE NUUS HOOR?

Help mense om uit te vind waarom hulle glo wat hulle glo

4. Watter leuens word mense soms oor God vertel?

4 Stel jou voor dat daar vir jou gesê word dat jou vader jou en die res van die gesin verlaat het. Gestel diegene wat beweer dat hulle hom ken, sê dat hy afsydig, geheimsinnig en wreed is. Party wil selfs hê jy moet glo dat dit nutteloos is om weer met jou vader in aanraking te probeer kom omdat hy dood is. In werklikheid word baie mense soortgelyke dinge oor God vertel. Hulle word geleer dat God ’n verborgenheid is, dat ons hom nie kan leer ken nie of dat hy wreed is. Byvoorbeeld, party godsdiensleiers beweer dat God slegte mense vir ewig in ’n plek van pyniging sal straf. Ander blameer God vir die lyding wat deur natuurrampe veroorsaak word. Hoewel goeie mense sowel as slegte mense in hierdie rampe omkom, word daar gesê dat dit ’n straf van God af is.

Maak hulle verstand en hart vir die waarheid oop

5, 6. Watter uitwerking het die evolusieteorie en valse leerstellings op mense gehad?

5 Ander voer aan dat God nie bestaan nie. Dink byvoorbeeld aan die evolusieteorie. Baie wat dit voorstaan, sê dat lewe ontstaan het sonder dat ’n intelligente Ontwerper betrokke was. Hulle beweer dat daar geen Skepper is nie. Party het selfs gesê dat die mens maar net nog ’n dier is en dat dit ons dus nie moet verbaas as ’n persoon dierlik optree nie. Hulle redeneer dat die sterkes maar net sogenaamde natuurwette volg wanneer hulle die swakkes wreed oorheers. Dit is dus nie verbasend dat baie glo dat daar altyd ongeregtigheid sal wees nie. Daarom het diegene wat in evolusie glo, geen ware hoop nie.

6 Die evolusieteorie en valse leerstellings het ongetwyfeld bygedra tot die ellende wat die mensdom gedurende die laaste dae ondervind het (Rom. 1:28-31; 2 Tim. 3:1-5). Hierdie menseleringe het geen ware en blywende goeie nuus gebring nie. Soos die apostel Paulus sê, het dit mense eerder “verstandelik in duisternis . . . en vervreemd . . . van die lewe wat tot God behoort”, gelaat (Ef. 4:17-19). Daarbenewens het die evolusieteorie en valse leerstellings mense verhinder om die goeie nuus aan te neem wat van God af kom.—Lees Efesiërs 2:11-13.

Help hulle om te redeneer sodat hulle tot die regte gevolgtrekkings kan kom

7, 8. Wat is die enigste manier waarop mense die goeie nuus ten volle kan verstaan?

7 Om met God versoen te word, moet mense eerstens oortuig wees dat Jehovah bestaan en dat daar goeie redes is om nader aan hom te kom. Ons kan hulle help om hierdie kennis op te doen deur hulle aan te spoor om die skepping te ondersoek. Wanneer mense die skepping onbevooroordeeld bestudeer, leer hulle oor God se wysheid en krag (Rom. 1:19, 20). Ons kan die twee brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe gebruik om mense ’n gevoel van ontsag te help ontwikkel wanneer hulle aan ons Grootse Skepper se werke dink. Maar diegene wat net uit die skepping leer, sal nie die antwoorde vind op die lewe se ingewikkeldste vrae nie, soos: Waarom laat God lyding toe? Wat is God se voorneme met die aarde? Gee God vir my as ’n individu om?

 8 Die enigste manier waarop mense die goeie nuus oor God en sy voorneme ten volle kan verstaan, is deur die Bybel te bestudeer. Wat ’n voorreg het ons tog om mense te help om antwoorde op hulle vrae te vind! Maar om die hart te bereik van dié wat na ons luister, moet ons meer doen as om hulle net die feite te leer; ons moet hulle oortuig (2 Tim. 3:14). Ons kan meer oortuigend wees as ons Jesus se voorbeeld volg. Waarom was hy so suksesvol? Een rede is dat hy vrae doeltreffend gebruik het. Hoe kan ons hom navolg?

SUKSESVOLLE EVANGELIEDIENAARS GEBRUIK VRAE DOELTREFFEND

9. Wat moet ons doen as ons mense geestelik wil help?

9 Waarom moet ons Jesus navolg deur vrae in die evangelisasiewerk te gebruik? Wel, dink aan hierdie scenario: Jou dokter sê vir jou dat hy goeie nuus het. Hy kan jou van jou siekte genees as jy ’n ernstige operasie ondergaan. Jy glo hom dalk. Maar sê nou hy maak hierdie belofte nog voordat hy jou enige vrae oor jou gesondheid gevra het? Dan sal jy waarskynlik nie in hom vertroue hê nie. Ongeag hoe begaafd die dokter moontlik is, hy moet vrae vra en uitvind wat die simptome is voordat hy jou werklik kan help. As ons mense wil help om die goeie nuus van die Koninkryk aan te neem, moet ons eweneens die kuns bemeester om doeltreffende vrae te vra. Ons kan hulle slegs help as ons werklik verstaan wat hulle geestelike toestand is.

Om die hart te bereik van dié wat na ons luister, moet ons hulle oortuig

10, 11. Wat sal ons kan doen as ons Jesus se onderrigtingsmetodes navolg?

10 Jesus het geweet dat goed gekose vrae nie net die onderrigter help om ’n student beter te leer ken nie, maar die student ook by die bespreking betrek. Byvoorbeeld, toe Jesus sy dissipels ’n les oor nederigheid wou leer, het hy hulle eers ’n gedagteprikkelende vraag gevra (Mark. 9:33). Om Petrus te leer hoe om oor beginsels te redeneer, het Jesus hom ’n veelkeusevraag gevra (Matt. 17:24-26). Toe Jesus by ’n ander geleentheid wou uitvind wat in die hart van sy dissipels is, het hy ’n reeks beskouingsvrae gevra. (Lees Matteus 16:13-17.) Deur vrae te gebruik en stellings te maak, het Jesus meer gedoen as om net feite oor te dra. Hy het die hart bereik, wat mense beweeg het om in ooreenstemming met die goeie nuus op te tree.

11 Wanneer ons Jesus navolg deur vrae doeltreffend te gebruik, doen ons ten minste drie dinge. Ons vind uit hoe ons mense ten beste kan help, ons oorkom potensiële gesprekdempers en ons leer nederige mense hoe hulle hulleself kan bevoordeel. Kyk na drie scenario’s wat toelig hoe ons vrae doeltreffend kan gebruik.

12-14. Hoe kan jy ’n kind help om met meer vertroue oor die goeie nuus te praat? Gee ’n voorbeeld.

12 Scenario 1: Wat sal jy as ’n ouer doen as jou tiener vir jou sê dat hy nie seker is hoe om sy geloof in die skepping te verdedig wanneer hy met ’n klasmaat praat nie? Jy sal hom ongetwyfeld wil help om met selfvertroue oor die goeie nuus te praat. Moet hom nie kritiseer of onmiddellik raad gee nie, maar volg Jesus se voorbeeld na en vra ’n paar beskouingsvrae. Hoe kan jy dit doen?

13 Nadat jy dele uit die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe saam met jou kind gelees het, kan jy hom vra watter redenasies hy die  interessantste vind. Spoor hom aan om te dink aan die dinge wat hom oortuig om in ’n Skepper te glo en die redes waarom hy God se wil wil doen (Rom. 12:2). Sê vir jou kind dat sy redes nie presies dieselfde as joune hoef te wees nie.

14 Verduidelik vir jou kind dat hy dieselfde metode kan gebruik wanneer hy met ’n klasmaat praat, as wat jy met hom gebruik het. Dit wil sê, jou kind kan ’n paar feite meld en dan uitlok- of beskouingsvrae vra. Hy kan sy klasmaat byvoorbeeld vra om die venster op bladsy 21 van die Oorsprong van lewe-brosjure te lees. Jou kind kan dan vra: “Is dit waar dat die DNS se vermoë om inligting te berg, nog steeds geen gelyke in vandag se rekenaareeu het nie?” Die klasmaat se antwoord sal heel moontlik ja wees. Dan kan jou kind vra: “As menslike rekenaartegnici nie sulke resultate kan behaal nie, hoe kon verstandelose materie dit dan sonder hulp gedoen het?” Om jou kind te help om met meer vertroue oor sy geloof te praat, kan jy gereeld oefensessies met hom hou. As jy hom oplei om vrae doeltreffend te gebruik, sal jy hom help om sy rol as ’n evangeliedienaar te vervul.

15. Hoe kan ons vrae gebruik om ’n ateïs te help?

15 Scenario 2: In ons getuieniswerk ontmoet ons mense wat twyfel aan God se bestaan. Byvoorbeeld, ’n persoon sê dalk vir ons dat hy ’n ateïs is. Pleks van toe te laat dat hierdie antwoord die gesprek beëindig, kan ons hom op respekvolle wyse vra hoe lank hy al ’n ateïs is en waarom hy hierdie sienswyse aangeneem het. Nadat ons na sy antwoord geluister het en hom geprys het vir die feit dat hy die saak ernstig oordink het, kan ons hom vra of hy bereid sal wees om materiaal te lees wat bewyse voorsien dat lewe geskep is. As die huisbewoner onbevooroordeeld is, sal hy waarskynlik erken dat dit onredelik sou wees om te weier om sulke bewyse  te ondersoek. Ons kan hom dan die brosjure Is lewe geskep? of Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe aanbied. Taktvolle vrae wat op vriendelike wyse gevra word, kan as ’n sleutel dien wat ’n persoon se hart vir die goeie nuus oopmaak.

16. Waarom moet ons nie daarmee tevrede wees as ’n Bybelstudent antwoorde uit ’n Bybelstudiehulp aflees nie?

16 Scenario 3: Wanneer ons ’n Bybelstudie hou, laat ons dalk toe dat die student bloot antwoorde gee wat in die Bybelstudiehulp staan. Maar as ons dit doen, sal ons die geestelike groei van die student belemmer. Waarom? Omdat ’n student wat antwoorde aflees sonder om daaroor na te dink, waarskynlik nie diep geestelike wortels sal groei nie. Hy kan maklik soos ’n plant word wat tydens die hitte van teenstand verwelk (Matt. 13:20, 21). Om dit te vermy, moet ons ons student vra hoe hy voel oor wat hy leer. Probeer uitvind of hy saamstem met die punte onder bespreking. Nog belangriker, laat hom verduidelik waarom hy saamstem of nie saamstem nie. Help hom dan om oor die Skrif te redeneer sodat hy uiteindelik self tot die regte gevolgtrekkings kan kom (Heb. 5:14). As ons vrae doeltreffend gebruik, is die kanse groter dat die mense wat ons leer, diepgewortel in die geloof sal wees en die pogings sal kan weerstaan van dié wat hulle teëstaan of wil mislei (Kol. 2:6-8). Wat kan ons nog doen om ons rol as evangeliedienaars te vervul?

SUKSESVOLLE EVANGELIEDIENAARS HELP MEKAAR

17, 18. Hoe kan ons in die bediening as ’n span saamwerk?

17 Jesus het sy dissipels twee-twee in die predikingswerk uitgestuur (Mark. 6:7; Luk. 10:1). Later het die apostel Paulus gepraat van “medewerkers” wat “sy aan sy met [hom] in die goeie nuus gestry het” (Fil. 4:3). In ooreenstemming met hierdie skriftuurlike voorbeeld het Koninkryksverkondigers in 1953 ’n program begin om ander in die bediening op te lei. *

18 Hoe kan julle as ’n span saamwerk wanneer jy ’n ander Christen in die bediening vergesel? (Lees 1 Korintiërs 3:6-9.) Soek die tekste wat hy of sy gebruik, in jou Bybel op. Skenk aandag wanneer jou velddiensmaat of die huisbewoner praat. Luister aandagtig na die gesprek ingeval jy jou velddiensmaat moet help om ’n beswaar te oorkom (Pred. 4:12). ’n Woordjie van waarskuwing: Weerstaan die versoeking om hom of haar in die rede te val wanneer hy of sy doeltreffend met die huisbewoner redeneer. Jou onbeteuelde geesdrif kan hom of haar ontmoedig en die huisbewoner verwar. Soms sal dit dalk gepas wees om aan die bespreking deel te neem. Maar as jy wel besluit om iets te sê, beperk dit tot een of twee kort opmerkings. Laat jou velddiensmaat dan toe om weer die bespreking voort te sit.

19. Wat moet ons onthou, en waarom?

19 Hoe kan jy en jou velddiensmaat mekaar help terwyl julle van deur tot deur loop? Gebruik gerus die tyd om maniere te bespreek waarop julle julle aanbiedings kan verbeter. Wees versigtig dat jy nie ontmoedigende dinge sê omtrent die mense wat in die gebied woon nie. Vermy ook die strik om oor die negatiewe eienskappe van mede-evangeliedienaars te praat (Spr. 18:24). Ons moet onthou dat ons erdehouers is. Jehovah het buitengewone goedhartigheid aan ons betoon deur die skat van die bediening van die goeie nuus aan ons toe te vertrou. (Lees 2 Korintiërs 4:1, 7.) Laat ons almal dus ons waardering toon vir hierdie skat deur ons bes te doen om ons rol as evangeliedienaars te vervul.

[Voetnoot]

^ par. 17 Sien Jehova se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 99, 569-570.