Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LEWENSVERHAAL

Vyf dekades in die voltydse diens naby die Noordpoolsirkel

Vyf dekades in die voltydse diens naby die Noordpoolsirkel

“Dis maklik vir jou om te pionier. Jou ouers is albei in die waarheid, en hulle kan jou onderhou”, het ons gesê vir ons vriendin wat in die voltydse diens was. “Luister! Ons almal het dieselfde Vader”, het sy geantwoord. Haar antwoord het ’n belangrike les bevat: Ons hemelse Vader sorg vir sy knegte en versterk hulle. Trouens, wat ons in ons lewe ondervind het, bevestig hierdie feit.

 ONS het grootgeword in ’n gesin van tien kinders op ’n plaas in die noorde van Ostrobothnia, Finland. Die Tweede Wêreldoorlog het ’n groot uitwerking op ons kinderjare gehad. Hoewel ons honderde kilometers van die gevegsfront af gewoon het, het die gruwels van die oorlog ’n diep indruk op ons gemaak. Toe die nabygeleë stede Oulu en Kalajoki gebombardeer is, het die naghemel rooi gegloei. Ons ouers het vir ons gesê om onmiddellik weg te kruip wanneer ons oorlogsvliegtuie sien oorvlieg. Toe ons oudste broer, Tauno, dus vir ons vertel het van ’n paradysaarde sonder ongeregtigheid, het dit ons harte geraak.

Tauno het Bybelwaarhede op 14-jarige ouderdom in die lektuur van die Bybelstudente ontdek. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het hy op grond van sy Bybelopgeleide gewete geweier om militêre diens te doen en is hy tronk toe gestuur. Daar is hy wreed behandel. Dit het hom net meer vasbeslote gemaak om Jehovah te dien, en nadat hy vrygelaat is, was hy selfs yweriger in die bediening. Ons broer se uitstekende voorbeeld het ons aangespoor om die vergaderinge by te woon wat die Getuies in ’n naburige dorpie gehou het. Ons het ook byeenkomste bygewoon, hoewel ons hard moes werk om genoeg geld vir die reis op te spaar. Ons het uie gekweek, bessies gepluk en vir ons bure klere gemaak. Aangesien daar baie werk op die plaas was, kon ons gewoonlik nie die byeenkomste saam bywoon nie, en daarom het ons beurte gemaak.

Van links: Matti (vader), Tauno, Saimi, Maria Emilia (moeder), Väinö (baba), Aili en Annikki in 1935

Die waarhede wat ons omtrent Jehovah en sy voorneme geleer het, het ons liefde vir hom laat toeneem, en ons het besluit om ons lewe aan hom toe te wy. In 1947 het ons al twee ons toewyding deur middel van waterdoop gesimboliseer—Annikki op 15 en Aili op 17. Ons suster Saimi is dieselfde jaar gedoop. Ons het die Bybel ook gestudeer met ons suster Linnea, wat reeds getroud was. Sy en haar gesin het ook Getuies van Jehovah geword. Ná ons doop het ons die doelwit gestel om te pionier, en van tyd tot tyd het ons vakansiepionierdiens (of hulppionierdiens) gedoen.

ONS BETREE DIE VOLTYDSE DIENS

Van links: Eeva Kallio, Saimi Mattila-Syrjälä, Aili, Annikki en Saara Noponen in 1949

In 1955 het ons getrek na Kemi, ’n stad wat verder noord was. Hoewel ons al twee voltyds gewerk het, wou ons nog steeds begin pionier, maar ons was bang dat ons ons nie in die pionierdiens sou kon onderhou nie. Ons het gedink dat ons eers ’n bietjie geld moet opspaar. Dit was toe dat ons die bogenoemde gesprek met die pioniersuster gehad het. Dit het ons gehelp om te sien dat ons vermoë om Jehovah voltyds te dien, nie net van ons middele of die ondersteuning van ons familie afhang nie. Die belangrikste is dat ons op ons hemelse Vader vertrou.

Op pad na die byeenkoms in Kuopio in 1952. Van links: Annikki, Aili en Eeva Kallio

Op daardie stadium het ons genoeg spaargeld gehad om ons twee maande lank te onderhou. In Mei 1957 het ons dus huiwerig aansoek gedoen om twee maande te gaan pionier in Pello, ’n munisipale  gebied in Lapland, bo die Noordpoolsirkel. Ná twee maande het ons al ons spaargeld oorgehad, en daarom het ons aansoek gedoen om nóg twee maande te pionier. Twee maande later, het ons nog steeds al die geld gehad. Toe was ons seker dat Jehovah vir ons sou sorg. Ná 50 jaar in die pionierdiens het ons nog steeds ons spaargeld! Wanneer ons hierop terugkyk, voel ons asof Jehovah ons hande vasgegryp het en gesê het: “Moenie bang wees nie. Ek sal [julle] help.”—Jes. 41:13.

Ná 50 jaar in die pionierdiens het ons nog steeds ons spaargeld!

Kaisu Reikko en Aili in die veldbediening

In 1958 het ons kringopsiener aanbeveel dat ons as spesiale pioniers gaan dien in Sodankylä, Lapland. Op daardie stadium was daar net een Getuie, ’n suster, in daardie gebied. Sy het die waarheid op ’n interessante manier geleer. Haar seun was op ’n klasuitstappie in Helsinki, die hoofstad van Finland. Terwyl die groep in die stad geloop het, het ’n bejaarde suster ’n nommer van Die Wagtoring vir die seun gegee, wat laaste in die ry was, en hom gevra om dit vir sy ma te gee. Hy het dit gedoen, en sy ma het onmiddellik besef dat dit die waarheid is.

Ons het ’n kamer bo ’n saagmeule gehuur. Ons het vergaderinge daar gehou. Aan die begin was ons twee en die plaaslike suster en haar dogter die enigstes by die vergaderinge. Ons het die studiemateriaal saam gelees. Later het ’n man wat voorheen die Bybel met die Getuies gestudeer het, by die saagmeule kom werk. Hy en sy gesin het met ons groep begin assosieer. Ná verloop van tyd is hy en sy vrou gedoop. Hierdie broer het by ons vergaderinge die leiding geneem. ’n Paar ander mans wat by die meule gewerk het, het ook die vergaderinge begin bywoon en Bybelwaarheid aangeneem. ’n Paar jaar later het ons groep in so ’n mate gegroei dat ’n gemeente gestig is.

MOEILIKE OMSTANDIGHEDE

Die lang afstande wat ons in die bediening moes aflê, was vir ons ’n uitdaging. In die somer het ons gestap, fiets gery en selfs geroei om mense in ons gebied te bereik. Ons fietse het ons baie handig te pas gekom. Ons het dit ook gebruik om byeenkomste by te woon en ons ouers te besoek, wat honderde kilometers daarvandaan gewoon het. In die winter het ons vroeg in die oggend ’n bus na ’n dorpie in die gebied geneem en dan van huis tot huis geloop. Wanneer ons ’n dorpie se gebied gedek het, het ons na die volgende een gestap. Die sneeu was diep, en die paaie was nie altyd geskraap nie. Ons het dikwels geloop in die spore wat perdesleë in die sneeu gelaat het. Soms het die sneeu die spore van vorige reisigers bedek, en  vroeg in die lente was die sneeu so ’n pappery dat ons met moeite daardeur geloop het.

Saam in die bediening op ’n koue wintersdag

Weens die ysige temperature en sneeuweer het ons warm aangetrek. Ons het wolkouse en twee of drie paar sokkies sowel as lang stewels gedra. Nogtans was ons stewels dikwels vol sneeu. Wanneer ons by die trappe van ’n huis gekom het, het ons ons stewels uitgetrek en die sneeu uitgeskud. Die onderkant van ons lang winterjasse het ook nat geword wanneer ons deur die sneeu gestap het. En dan, wanneer dit kouer geraak het, het dit kliphard gevries en soos plaatmetaal gevoel. Een huisvrou het gesê: “Die feit dat julle vrywillig in hierdie weer uitgekom het, toon dat julle beslis ware geloof het.” Ons het meer as 11 kilometer gestap om by daardie huis uit te kom.

Weens die groot afstande het ons dikwels by die plaaslike mense oornag. Wanneer dit laat begin word het, het ons mense vir blyplek begin vra. Die huise was beskeie, maar die mense was vriendelik en gasvry, en hulle het ons nie net slaapplek aangebied nie, maar ook iets om te eet. Dikwels het die vel van ’n rendier, ’n elk of selfs ’n beer as ons bed gedien. Soms het ons luukshede geniet. Een vrou wat in ’n groot huis gewoon het, het ons byvoorbeeld na ’n gastekamer op die boonste verdieping geneem waar daar ’n pragtige bed bedek met vars, wit kantlakens was. Ons het dikwels die Bybel tot laat in die nag met die huisbewoners bespreek. By een geleentheid het die egpaar wat in die huis gewoon het, aan een kant van die kamer geslaap, en ons aan die ander kant. Ons het tot die vroeë oggendure in die donker oor die Bybel gelê en gesels. Die man en sy vrou het om die beurt vrae gevra—die een ná die ander.

’N LONENDE BEDIENING

Lapland is ’n barre dog pragtige landstreek, waarvan die prag met die seisoene verander. Maar vir ons was die mense wat die boodskap oor Jehovah waardeer het, selfs mooier. Die opregte mense vir wie ons getuig het, het houtkappers ingesluit wat na houtkapperskampe in Lapland gekom het. Soms, wanneer ons twee fyngeboude susters by ’n huisie ingegaan het, was daar tientalle mans daarbinne. Hierdie frisgeboude mans het die Bybel se boodskap verwelkom en graag lektuur geneem.

Ons het talle opwindende ondervindinge gehad. Op ’n dag was die horlosie in die busstasie vyf minute voor, en ons het dus ons bus verpas. Ons het besluit om ’n bus na ’n ander dorpie te neem. Ons het nooit tevore in daardie gebied gewerk nie. By die eerste huis het ons ’n jong vrou ontmoet wat gesê het: “Hier is julle, net soos ek verwag het.” Ons het die Bybel met haar suster gestudeer. Die jong vrou het haar suster gevra om te reël dat ons haar op daardie dag besoek. Maar ons het nooit die boodskap gekry nie. ’n Bybelstudie is begin met haar en haar familielede, wat in die huis langsaan gewoon het. Nie lank daarna nie het ons die studies  saamgesmelt, en ’n stuk of twaalf mense het die studie bygewoon. Sedertdien het baie lede van hierdie familie Getuies van Jehovah geword.

In 1965 is ons gestuur na die gemeente waar ons tans dien, in Kuusamo, net onder die Noordpoolsirkel. Op daardie stadium was daar net ’n paar verkondigers in die gemeente. Aan die begin het ons gedink dat ons nuwe gebied ’n bietjie moeilik is. Die mense was baie godsdienstig, en hulle was bevooroordeeld teenoor ons. Nogtans het baie van hulle die Bybel gerespekteer, en dit het ’n gemeenskaplike grondslag vir gesprekke voorsien. Bietjie vir bietjie het ons dus probeer om die mense te leer ken, en ná sowat twee jaar was dit makliker om Bybelstudies te begin.

NOG STEEDS BEDRYWIG IN DIE BEDIENING

Party van dié met wie ons gestudeer het

Deesdae het ons nie die energie om lang dae in velddiens deur te bring nie, maar ons gaan nog steeds byna elke dag in die bediening uit. Dit het vir ons makliker geword om die goeie nuus in ons uitgebreide gebied te verkondig toe Aili, aangespoor deur ons nefie, bestuurslesse geneem het en in 1987 op 56-jarige ouderdom ’n bestuurslisensie gekry het. Dinge het nog makliker geraak toe ’n nuwe Koninkryksaal gebou is en ons in die woonstel langsaan ingetrek het.

Die groei wat ons gesien het, verskaf ons groot vreugde. Toe ons die voltydse diens in die noorde van Finland betree het, was daar net ’n paar verkondigers in hierdie uitgestrekte gebied. Nou is daar ’n kring wat uit etlike gemeentes bestaan. By die byeenkomste stel iemand hom dikwels aan ons voor en vra of ons hom onthou. In party gevalle het ons ’n Bybelstudie in die gesin se huis gehou toe hy ’n kind was. Die saad wat jare of selfs dekades vroeër gesaai is, het vrug gedra!—1 Kor. 3:6.

Ons geniet velddiens, selfs op reënerige dae

In 2008 was ons 50 jaar lank in die spesiale pionierdiens. Ons dank Jehovah dat ons mekaar kon aanmoedig om in hierdie kosbare werk te volhard. Ons lewe was eenvoudig, maar ons het nooit enigiets kortgekom nie (Ps. 23:1). Ons aanvanklike vrees om die voltydse diens te betree, was tog so onnodig! Gelukkig het Jehovah ons deur al hierdie jare heen versterk net soos hy belowe het in Jesaja 41:10: “Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”