Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Eer Jehovah se groot naam

Eer Jehovah se groot naam

“Ek sal u naam tot onbepaalde tyd verheerlik.”—PS. 86:12.

1, 2. Hoe beskou Jehovah se Getuies God se naam, in teenstelling met die Christendom se kerke?

OOR die algemeen het die Christendom se kerke God se naam verwerp. Die Revised Standard Version sê byvoorbeeld in die voorwoord: “Die gebruik van enige eienaam vir die enigste God . . . is heeltemal onvanpas vir die universele geloof van die Christelike Kerk.”

2 In teenstelling hiermee is Jehovah se Getuies trots om God se naam te dra en dit te verheerlik. (Lees Psalm 86:12; Jesaja 43:10.) Wat meer is, ons beskou dit as ’n voorreg om die betekenis van hierdie naam te verstaan, asook die universele geskil wat verband hou met die heiliging daarvan (Matt. 6:9). Maar dit is ’n voorreg wat ons nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Kom ons bespreek dus drie belangrike vrae: Wat beteken dit om God se naam te ken? Hoe het Jehovah sy groot naam gestand gedoen en dus tot die heerlikheid daarvan bygedra? En hoe kan ons in Jehovah se naam wandel?

WAT DIT BETEKEN OM GOD SE NAAM TE KEN

3. Wat beteken dit om God se naam te ken?

3 Om God se naam te ken, behels baie meer as om net die woord “Jehovah” te ken. Dit behels dat ons Jehovah se reputasie ken, sowel as sy eienskappe, voorneme en bedrywighede soos dit in die Bybel geopenbaar word, byvoorbeeld sy handelinge met sy knegte. Jehovah gee hierdie insig natuurlik stelselmatig, in ooreenstemming met die verwesenliking van sy voorneme (Spr. 4:18). Jehovah het sy naam aan die eerste mensepaar geopenbaar; Eva het dit dus gebruik nadat sy geboorte gegee het aan Kain (Gen. 4:1). Die getroue aartsvaders Noag, Abraham, Isak en Jakob het God se naam geken. Wat meer is, hulle waardering daarvoor het toegeneem namate Jehovah hulle geseën het, vir hulle gesorg het en aspekte van sy voorneme aan hulle geopenbaar het. Moses is spesiale insig in God se naam gegee.

Moses het die betekenis van Jehovah se naam geken, en dit het sy geloof versterk

4. Waarom het Moses God oor sy naam gevra, en waarom het hy rede gehad om besorg te wees?

 4 Lees Eksodus 3:10-15. Toe Moses 80 jaar oud was, het God hom ’n gewigtige opdrag gegee: “Jy moet my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uitlei.” In reaksie hierop het Moses op respekvolle wyse ’n uiters belangrike vraag gevra. Moses het as ’t ware gevra: ‘Wat is u naam?’ Wat was die punt van Moses se vraag, aangesien God se naam al lank reeds bekend was? Klaarblyklik wou hy meer weet omtrent die persoon wat deur die naam verteenwoordig word—feite wat God se volk sou oortuig dat Hy hulle werklik sou verlos. Moses het rede gehad om besorg te wees, aangesien die Israeliete ’n tyd lank in slawerny was. Hulle sou waarskynlik wonder of die God van hulle voorvaders hulle kon verlos. Trouens, party Israeliete het selfs Egiptiese gode begin aanbid!—Eseg. 20:7, 8.

5. Hoe het die antwoord wat Jehovah aan Moses gegee het, lig gewerp op die betekenis van sy naam?

5 Hoe het Jehovah Moses se vraag beantwoord? Hy het onder andere gesê: “Só moet jy vir die kinders van Israel sê: ‘EK SAL WORD het my na julle toe gestuur.’” * Toe het hy bygevoeg: “Jehovah, die God van julle voorvaders . . . het my na julle toe gestuur.” God het geopenbaar dat hy sal word wat hy ook al besluit om te word sodat hy sy voorneme kan verwesenlik, dat hy altyd sy woord sal nakom. Gevolglik lees ons in vers 15 dat Jehovah self gesê het: “Dit is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is my gedagtenis van geslag tot geslag.” Hoe moes hierdie openbaring Moses se geloof tog versterk het en hom met ontsag vervul het!

JEHOVAH HET SY NAAM GESTAND GEDOEN

6, 7. Hoe het Jehovah sy groot naam ten volle gestand gedoen?

6 Kort nadat Jehovah vir Moses hierdie opdrag gegee het, het hy sy naam ten volle gestand gedoen deur Israel se Verlosser te “word”. Hy het Egipte met tien verwoestende plae verneder en terselfdertyd die magteloosheid van die Egiptiese gode—insluitende Farao—aan die kaak gestel (Eks. 12:12). Toe het Jehovah die Rooisee verdeel, Israel daardeur gelei en Farao en sy krygsmag laat verdrink (Ps. 136:13-15). In die “groot en vreesinboesemende wildernis” het Jehovah ’n Bewaarder van lewe geword toe hy kos en water voorsien het aan sy volk, ’n menigte van moontlik twee- tot driemiljoen of meer! Hy het selfs verseker  dat hulle klere en hulle sandale nie verslyt nie (Deut. 1:19; 29:5). Ja, niks kan Jehovah keer om sy onvergelyklike naam gestand te doen nie. Hy het later vir Jesaja gesê: “Ek—ek is Jehovah, en buiten my is daar geen redder nie.”—Jes. 43:11.

7 Moses se opvolger, Josua, was ook ’n ooggetuie van Jehovah se vreesinboesemende dade in Egipte en in die wildernis. Daarom kon Josua aan die einde van sy lewe met hartgrondige oortuiging vir sy mede-Israeliete sê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie” (Jos. 23:14). Ja, Jehovah het beslis sy woord nagekom—hy het ‘geword’ wat hy moes word.

8. Hoe doen Jehovah vandag sy naam gestand?

8 Net so ‘word’ Jehovah vandag ook wat hy moet word om sy naam gestand te doen. Deur middel van sy Seun het hy voorspel dat die Koninkryksboodskap gedurende die laaste dae “in die hele bewoonde aarde” verkondig sal word (Matt. 24:14). Wie anders behalwe God die Almagtige kon so ’n werk voorspel, seker maak dat dit gedoen word en talle “ongeleerde en gewone” mense gebruik om dit te doen? (Hand. 4:13). Wanneer ons dus aan hierdie werk deelneem, speel ons in werklikheid ’n rol in die vervulling van Bybelprofesie. Ons eer ons Vader en toon dat ons dit werklik bedoel wanneer ons bid: “Laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matt. 6:9, 10.

SY NAAM IS GROOT

Farao het geweier om Jehovah as God te erken

9, 10. Hoe het Jehovah se handelinge met Israel ons meer geleer oor die betekenis van sy naam, en watter gevolge het dit gehad?

9 Kort ná Israel se uittog uit Egipte het Jehovah ’n ander rol met betrekking tot sy volk aangeneem. Deur middel van die Wetsverbond het hy hulle “eggenoot-eienaar” geword en gewilliglik al die verantwoordelikhede aanvaar wat daarmee gepaardgegaan het (Jer. 3:14). Die Israeliete het op hulle beurt sy figuurlike vrou geword, sy naamvolk (Jes. 54:5, 6). As hulle hulle gewilliglik aan hom sou onderwerp en sy gebooie sou onderhou, sou hy die volmaakte ‘Eggenoot’ wees. Hy sou hulle seën, bewaar en aan hulle vrede skenk (Num. 6:22-27). Jehovah se groot naam sou dus onder die nasies verheerlik word. (Lees Deuteronomium 4:5-8; Psalm 86:7-10.) En deur Israel se geskiedenis heen is baie uitlanders wel tot ware aanbidding aangetrek. Hulle het as ’t ware gesê wat die Moabitiese vrou Rut vir Naomi gesê het: “U volk sal my volk wees, en u God my God.”—Rut 1:16.

 10 Oor ’n tydperk van 1 500 jaar het Jehovah se handelinge met Israel talle nuwe fasette van sy persoonlikheid geopenbaar. Ten spyte van die nasie se eiesinnigheid het Jehovah oor en oor bewys dat hy “’n barmhartige . . . God [is] wat nie gou toornig word nie”. Hy was ’n besonder geduldige en lankmoedige God (Eks. 34:5-7). Tog het Jehovah se geduld perke gehad, en sy geduld het opgeraak toe die Joodse nasie sy Seun verwerp en doodgemaak het (Matt. 23:37, 38). Van toe af was die vleeslike afstammelinge van Israel nie meer God se naamvolk nie. Oor die algemeen was hulle geestelik dood, soos ’n verdorde boom (Luk. 23:31). Hoe het dit hulle gesindheid teenoor die goddelike naam beïnvloed?

11. Waarom is God se naam ná verloop van tyd nie meer met die Joodse nasie geassosieer nie?

11 Die geskiedenis toon dat die Jode mettertyd ’n bygelowige gesindheid teenoor God se naam ontwikkel het en dit as iets beskou het wat nie uitgespreek moet word nie (Eks. 20:7). Die Jode het God se naam al hoe minder gebruik totdat dit glad nie meer met Judaïsme geassosieer is nie. Dit het Jehovah ongetwyfeld seergemaak om te sien dat sy naam op so ’n oneerbiedige wyse behandel word (Ps. 78:40, 41). Maar God, “wie se naam Jaloers is”, sou natuurlik nie toelaat dat ’n volk wat hom verloën het en wat deur hom verwerp is, vir ewig sy naam dra nie (Eks. 34:14). Hierdie feit moet ons laat besef hoe belangrik dit is om ons Skepper se naam met groot respek te behandel.

’N NUWE VOLK OOR WIE GOD SE NAAM UITGEROEP IS

12. Hoe het Jehovah die voorspelde naamvolk voortgebring?

12 Deur Jeremia het Jehovah sy voorneme geopenbaar om “’n nuwe verbond” met ’n nuwe nasie, geestelike Israel, tot stand te bring. Al die lede daarvan, “van die geringste onder hulle tot selfs die grootste onder hulle”, sou ‘Jehovah ken’, het Jeremia voorspel (Jer. 31:31, 33, 34). Hierdie profesie het op Pinkster 33 HJ in vervulling begin gaan toe God die nuwe verbond tot stand gebring het. Die nuwe nasie, “die Israel van God”, wat Jode en nie-Jode ingesluit het, het “’n volk vir [God se] naam” geword, of soos Jehovah gesê het: “Mense oor wie my naam uitgeroep is”.—Gal. 6:16; lees Handelinge 15:14-17; Matt. 21:43.

13. (a) Het die vroeë Christene God se naam gebruik? Verduidelik. (b) Hoe beskou jy die voorreg om Jehovah se naam in jou bediening te gebruik?

13 As “mense oor wie [God se] naam uitgeroep is”, het die lede van hierdie geestelike nasie die goddelike naam gebruik, en hulle het dit ongetwyfeld gedoen toe hulle uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het. * Toe die apostel Petrus op Pinkster 33 HJ ’n internasionale gehoor van Jode en proseliete toegespreek het, het hy God se naam dus ’n aantal kere gebruik (Hand. 2:14, 20, 21, 25, 34). Die vroeë Christene het Jehovah geëer, en daarom het hy hulle pogings in die predikingswerk geseën. Net so seën Jehovah vandag ons bediening wanneer ons sy naam met trots verkondig en dit vir belangstellendes wys, indien moontlik in hulle eie Bybel. Sodoende stel ons die ware God aan hulle bekend. Wat ’n voorreg—vir hulle en vir ons! Hierdie bekendstelling kan die begin wees van ’n wonderlike verhouding met Jehovah wat al hoe sterker sal word en vir ewig sal duur.

14, 15. Wat het Jehovah, ondanks die verspreiding van afvalligheid, met betrekking tot sy gedenknaam gedoen?

14 Afvalligheid het die vroeë Christengemeente later besmet, veral ná die dood  van die apostels (2 Tess. 2:3-7). Valse onderrigters het selfs die Joodse tradisie aangeneem om nie God se naam te gebruik nie. Maar sou Jehovah toelaat dat sy gedenknaam uitgewis word? Beslis nie! Die presiese uitspraak daarvan kan wel nie vandag vasgestel word nie, maar die naam het behoue gebly. Deur die eeue heen het dit in verskeie vertalings van die Bybel sowel as in die geskrifte van Bybelgeleerdes verskyn. Byvoorbeeld, in 1757 het Charles Peters geskryf dat “Jehovah”, in teenstelling met God se baie titels, “blykbaar die beste beskrywing van sy wese is”. In 1797 het Hopton Haynes in ’n boek oor die aanbidding van God aan die begin van hoofstuk 7 geskryf: “JEHOVAH is die eienaam van GOD onder die Jode. Hulle het hom alleen aanbid, soos Christus en sy Apostels ook gedoen het.” Henry Grew (1781-1862) het God se naam nie net gebruik nie, maar het ook erken dat dit gesmaad is en dat dit geheilig moet word. George Storrs (1796-1879), sowel as sy intieme metgesel Charles T. Russell, het ook God se naam gebruik.

15 Die jaar 1931 was merkwaardig omdat die Internasionale Bybelstudente, soos God se volk destyds bekend gestaan het, in daardie jaar die skriftuurlike naam Jehovah se Getuies aangeneem het (Jes. 43:10-12). Hulle het dus aan die wêreld bekend gemaak dat hulle trots is om knegte van die enigste ware God te wees, om “’n volk vir sy naam” te wees, wat daardie naam loof (Hand. 15:14). Hierdie verwikkelinge laat ons dink aan Jehovah se woorde in Maleagi 1:11: “Van die opgang van die son af, ja, tot sy ondergang sal my naam groot wees onder die nasies.”

WANDEL IN JEHOVAH SE NAAM

16. Waarom moet ons dit as ’n eer beskou om in Jehovah se naam te wandel?

16 Die profeet Miga het geskryf: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Miga 4:5). Die feit dat Jehovah die Bybelstudente toegelaat het om sy naam aan te neem, was nie net ’n groot eer nie. Dit was ook ’n aanduiding van sy goedkeuring, wat vir hulle gerusstellend was. (Lees Maleagi 3:16-18.) Maar wat van jou? Doen jy alles in jou vermoë om “in die naam van Jehovah [te] wandel”? Verstaan jy wat dit behels?

17. Wat behels dit om in God se naam te wandel?

17 Om in God se naam te wandel, behels ten minste drie dinge. Eerstens moet ons hierdie naam aan ander verkondig, aangesien ons besef dat slegs diegene wat ‘die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’ (Rom. 10:13). Tweedens moet ons Jehovah se eienskappe, veral sy liefde, weerspieël. En derdens wandel ons in God se naam wanneer ons ons vreugdevol aan sy regverdige standaarde onderwerp sodat ons nie ons Vader se heilige naam oneer aandoen nie (1 Joh. 4:8; 5:3). Is jy vasbeslote om “in die naam van Jehovah ons God [te] wandel tot onbepaalde tyd”?

18. Waarom kan almal wat Jehovah se groot naam eer, die toekoms met vertroue tegemoetgaan?

18 Binnekort sal almal wat Jehovah ignoreer of teëstaan, hom moet erken (Eseg. 38:23). Dit sluit mense in wat soos Farao is, wat gesê het: “Wie is Jehovah, dat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur?” Hy het gou genoeg uitgevind! (Eks. 5:1, 2; 9:16; 12:29). Maar ons het Jehovah uit eie keuse leer ken. Ons is trots om sy naam te dra en om sy gehoorsame naamvolk te wees. Gevolglik gaan ons die toekoms tegemoet met vertroue in die belofte wat in Psalm 9:10 opgeteken is: “Dié wat u naam ken, sal op u vertrou, want u sal dié wat u soek, beslis nie verlaat nie, o Jehovah.”

^ par. 5 God se naam is ’n vorm van ’n Hebreeuse werkwoord wat beteken “om te word”. “Jehovah” beteken dus “Hy laat word”.—Gen. 2:4, vtn. in NW.

^ par. 13 Die Hebreeuse teks wat deur die vroeë Christene gebruik is, het die Tetragrammaton bevat. Daar is bewyse dat vroeë kopieë van die Septuagint, ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte, dit moontlik ook bevat het.