Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Dien God sonder om spyt te voel

Dien God sonder om spyt te voel

“Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is.”—FIL. 3:13.

1-3. (a) Wat is “spyt”, en watter uitwerking kan dit op ons hê? (b) Wat kan ons by Paulus leer oor hoe om God te dien sonder om spyt te voel?

’N DIGTER het geskryf: “Van al die hartseer woorde wat mense al gespreek of gelees het, is die hartseerste: ‘Dit wat kon gewees het!’” Die digter was J.G. Whittier, en hy het verwys na dinge waaroor ons spyt voel, wat ons wens ons oor kon doen en anders kon doen. “Spyt” is verstandelike droefheid of pyn oor iets wat ons gedoen het of dalk versuim het om te doen, en dit kan beteken “om weer te huil”. Ons almal het al dinge gedoen wat ons wens ons oor kon doen en anders kon doen. Waaroor is jy spyt?

2 Party mense het al pynlike foute in hulle lewe begaan, selfs ernstige sondes gepleeg. Ander het nie sulke groot foute begaan nie, maar hulle wonder of party van die keuses wat hulle gemaak het, werklik die beste keuses was. Sommige mense het daarin geslaag om hulle verlede agter te laat en met hulle lewe voort te gaan. Ander word aanhoudend gekwel deur die gedagte: ‘As ek maar net . . . ’ (Ps. 51:3). Soos wie is jy? Wens jy dat jy God kan dien sonder om spyt te voel—ten minste van vandag af? Is daar ’n voorbeeld uit die werklike lewe waarby ons kan leer om dit te doen? Daar is beslis—die apostel Paulus.

3 Gedurende sy lewe het Paulus verskriklike foute asook wyse keuses gemaak. Hy was baie spyt oor die foute wat hy in die verlede gemaak het, maar hy het ook geleer om ’n sukses van sy lewe te maak deur God getrou te dien. Kom ons kyk wat sy voorbeeld ons kan leer oor hoe om God te dien sonder om spyt te voel.

FOUTE WAAROOR PAULUS SPYT WAS

4. Watter foute het die apostel Paulus begaan waaroor hy later spyt was?

4 As ’n jong Fariseër het Paulus dinge gedoen waaroor hy later spyt was. Hy het byvoorbeeld ’n wrede vervolgingsveldtog teen Christus se dissipels gelei.  Nadat Stefanus as ’n martelaar doodgemaak is, toon die Bybelverslag, het “Saulus [later bekend as Paulus] . . . gewelddadig teen die gemeente begin optree. Hy het die een huis na die ander binnegedring en manne sowel as vroue uitgesleep en hulle aan die gevangenis oorgelewer” (Hand. 8:3). Die geleerde Albert Barnes sê dat die Griekse woord wat weergegee word met ‘gewelddadig optree teen’, “’n sterk uitdrukking is, wat dui op die ywer en woede waarmee [Saulus die gemeente] vervolg het”. Barnes sê: “Saulus het soos ’n wilde dier teen die kerk gewoed”. As ’n vroom Jood het Saulus geglo dat dit sy godgegewe plig is om die Christelike godsdiens uit te wis. Daarom het hy die Christene met uiterste wreedheid vervolg en het hy “dreiging en moord . . . geblaas [teen] manne sowel as vroue” en hulle probeer vernietig.—Hand. 9:1, 2; 22:4. *

5. Waarom het Saulus opgehou om Jesus se volgelinge te vervolg en toe oor Christus begin preek?

5 Dit was Saulus se bedoeling om na Damaskus te gaan, Jesus se dissipels uit hulle huise te sleep en hulle na Jerusalem te neem om die toorn van die Sanhedrin te trotseer. Maar omdat hy die Hoof van die Christengemeente teëgestaan het, het hy misluk (Ef. 5:23). Terwyl Saulus op pad na Damaskus was, het Jesus hom gekonfronteer, en Saulus is met ’n wonderdadige lig verblind. Toe het Jesus Saulus na Damaskus gestuur, en hy moes daar wag vir verdere instruksies. Ons weet wat daarna gebeur het.—Hand. 9:3-22.

6, 7. Wat toon dat Paulus deeglik bewus was van sy pynlike verlede?

6 Die oomblik toe Paulus ’n Christen geword het, het sy waardes verander. Hy was nie meer ’n verbete vyand van die Christelike godsdiens nie, maar het ’n ywerige voorstander daarvan geword. Nietemin het hy later oor homself geskryf: “Julle het natuurlik van my gedrag vroeër in die Judaïsme gehoor, dat ek die gemeente van God uitermate bly vervolg en verwoes het” (Gal. 1:13). Later het hy weer na sy betreurenswaardige verlede verwys toe hy aan die Korintiërs, aan die Filippense en aan Timoteus geskryf het. (Lees 1 Korintiërs 15:9; Fil. 3:6; 1 Tim. 1:13.) Paulus was nie trots op die dinge wat hy oor homself moes skryf nie, maar hy het nie probeer maak asof dit nooit gebeur het nie. Hy was deeglik daarvan bewus dat hy ernstige foute begaan het.—Hand. 26:9-11.

7 Die Bybelgeleerde Frederic W. Farrar het verwys na die rol wat Saulus gespeel het “in die afskuwelike werk van vervolging”. Farrar het bygevoeg dat ons, wanneer ons dink aan die hartseer tyd in Paulus se lewe toe hy die Christene wreed vervolg het, “ons ons die selfverwyt kan voorstel waaronder hy gebuk gegaan het en verstaan hoeveel kritiek hy van kwaadwillige vyande moes verduur het”. Dalk het Paulus soms broers ontmoet in die gemeentes wat hy besoek het, wat vir hom gesê het: ‘O, jy’s Paulus—die een wat ons vervolg het!’—Hand. 9:21.

8. Hoe het Paulus gevoel oor die barmhartigheid en liefde wat Jehovah en Jesus aan hom betoon het, en watter les leer ons hieruit?

8 Paulus het egter besef dat dit net deur God se onverdiende goedhartigheid was dat hy sy bediening kon uitvoer. Hy maak ongeveer 90 keer in die 14 briewe wat hy geskryf het, melding van God se onverdiende goedhartigheid—meer as enige ander Bybelskrywer. (Lees 1 Korintiërs 15:10.) Paulus het diepe waardering gehad vir die barmhartigheid wat aan hom betoon is en wou seker maak dat God se onverdiende goedhartigheid teenoor hom  nie tevergeefs was nie. Daarom het hy “meer as [al die ander apostels] gearbei”. Paulus se voorbeeld toon duidelik dat Jehovah bereid is om selfs ernstige sondes op grond van Jesus se losprysoffer te vergewe as ons ons sondes bely en ons lewenswyse verander. Wat ’n goeie les is dit tog vir enigiemand wat dit moeilik vind om te glo dat die voordele van Christus se offerande op hulle persoonlik van toepassing kan wees! (Lees 1 Timoteus 1:15, 16.) Hoewel Paulus ’n wrede vervolger van Christus was, kon hy skryf: “Die Seun van God [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee” (Gal. 2:20; Hand. 9:5). Ja, Paulus het geleer hoe om God te dien sonder om nog dinge te doen waaroor hy spyt sou wees. Is dit iets wat jy al geleer het?

Paulus het geleer hoe om God te dien sonder om spyt te voel

VOEL JY OOR ENIGIETS SPYT?

9, 10. (a) Waaroor is party van Jehovah se knegte spyt? (b) Waarom is dit verkeerd om jou die hele tyd oor die verlede te bekommer?

9 Het jy al dinge gedoen waaroor jy nou spyt is? Het jy al ooit waardevolle energie en tyd vermors op die verkeerde strewes? Het jy al iets gedoen wat ander leed aangedoen het? Of is jy dalk ongelukkig omdat jy oor iets anders spyt voel? Die vraag is: Wat kan jy daaromtrent doen?

10 Baie mense bekommer hulle te veel! Hulle treiter hulleself deur gedurig aan hulle foute te dink. Dit veroorsaak groot angstigheid. Los dit jou probleme op as jy jou bekommer? Geensins nie! Stel jou voor dat jy vorentoe probeer beweeg deur ure lank in ’n wiegstoel te wieg, dat jy al daardie energie vermors, maar nêrens kom nie! Pleks van jou te bekommer, sal positiewe optrede moontlik goeie resultate lewer. Jy kan die persoon wat jy te na gekom het, om verskoning vra en moontlik weer ’n goeie verhouding met hulle hê. Jy kan die gedrag vermy wat tot die verkeerde daad aanleiding gegee het en sodoende toekomstige probleme voorkom. Dan is daar situasies in die lewe wat jy maar net moet verduur. Maar om jou te  bekommer, is verlammend en kan dit vir jou onmoontlik maak om God ten volle te dien. En dit baat jou niks om jou te bekommer nie!

11. (a) Hoe kan ons Jehovah se barmhartigheid en liefderyke goedhartigheid ontvang? (b) Watter goddelike raad moet ons volg om gemoedsrus oor ons foute van die verlede te verkry?

11 Party is geneig om toe te laat dat foute van die verlede hulle so oorweldig dat hulle onwaardig in God se oë voel. Hulle voel dalk dat hulle buite die bereik van God se barmhartigheid is omdat hulle so ver of so dikwels van die Christelike weg afgedwaal het. Maar ongeag wat hulle in die verlede gedoen het, hulle kan berou toon, verander en om vergifnis vra (Hand. 3:19). Hulle kan baat vind by Jehovah se barmhartigheid en liefderyke goedhartigheid, soos met baie ander die geval was. Jehovah sal ’n nederige, opregte persoon goedgunstig vergewe as hy hartgrondige berou toon. Dit is hoe God opgetree het teenoor Job, wat gesê het: “Ek het berou [“voel spyt”, vtn. in NW] in stof en as” (Job 42:6). Ons moet almal die volgende goddelike raad volg om gemoedsrus te verkry: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word” (Spr. 28:13; Jak. 5:14-16). Ons kan ons sondes dus voor God bely, vir sy vergifnis bid en stappe doen om die oortreding reg te stel (2 Kor. 7:10, 11). As ons hierdie dinge gedoen het, kan ons baat vind by die barmhartigheid van die Een wat “ryklik vergewe”.—Jes. 55:7.

12. (a) Hoe kan ons Dawid se voorbeeld navolg as ons ’n skuldige gewete het? (b) In watter sin het Jehovah spyt gevoel, en hoe help hierdie kennis ons? (Sien die venster.)

12 Gebed is kragtig; dit is ’n manier om God se hulp te verkry. Dawid het sy intense gevoelens in ’n gebed van geloof uitgespreek wat in die Psalms vir ons opgeteken is. (Lees Psalm 32:1-5.) Soos Dawid erken het, is dit uitputtend om ’n skuldige gewete te probeer onderdruk! Hy het klaarblyklik verstandelik en fisies gely en sy vreugde verloor omdat hy nie sy sondes bely het nie. Hoe het Dawid vergifnis en verligting verkry? Net deur sy sondes aan God te bely. Jehovah het Dawid se gebede verhoor en hom die krag gegee om met sy lewe voort te gaan en te doen wat reg is. As jy opreg uit die hart bid, kan jy eweneens die vertroue hê dat Jehovah na jou smeekbedes sal luister. As jy gekwel word deur foute wat jy in die verlede begaan het, moet jy dit sover moontlik regstel, en dan moet jy Jehovah se versekering glo dat hy jou vergewe het!—Ps. 86:5.

FOKUS OP DIE TOEKOMS

13, 14. (a) Waarop moet ons nou fokus? (b) Watter vrae kan ons help om ons huidige situasie in die lewe te ondersoek?

13 Daar is al gesê dat die lewe verstaan kan word deur terug te kyk, maar dat dit gelewe moet word deur vorentoe te kyk. Pleks van ons oor die verlede te  bekommer, moet ons fokus op die hede en die toekoms. Wat doen ons, of versuim ons om te doen, wat ons jare van nou af sal wens ons nie gedoen het nie of anders sou gedoen het? Wandel ons op ’n weg van getrouheid wat sal keer dat ons dalk in die toekoms spyt sal voel?

14 Terwyl die groot verdrukking nader kom, wil ons nie geteister word deur kommerwekkende gedagtes soos die volgende nie: ‘Kon ek meer in God se diens gedoen het? Waarom het ek nie gepionier toe ek die geleentheid gehad het nie? Waarom het ek nie gestreef na die voorreg om as ’n bedieningskneg te dien nie? Het ek my werklik ingespan om my met die nuwe persoonlikheid te beklee? Is ek die soort persoon wat Jehovah in sy nuwe wêreld wil hê?’ Pleks van ons net oor sulke ontnugterende vrae te kwel, moet ons dit gebruik om onsself te ondersoek en om seker te maak dat ons ons bes in Jehovah se diens doen. Anders sal ons dalk voortgaan op ’n lewensweg waaroor ons later spyt sal wees.—2 Tim. 2:15.

MOET NOOIT OOR JOU HEILIGE DIENS SPYT VOEL NIE

15, 16. (a) Watter opofferings het baie gemaak om God se diens eerste in hulle lewe te stel? (b) Waarom moet ons nie spyt wees oor enige opoffering wat ons gemaak het om Koninkryksbelange eerste te stel nie?

15 Wat van dié van julle wat opofferings gemaak het om Jehovah voltyds te dien? Miskien het jy ’n belowende loopbaan of ’n suksesvolle sakeonderneming prysgegee om jou lewe te vereenvoudig en meer tyd vir Koninkryksbelange te hê. Dalk het jy ongetroud gebly of, as jy getroud is, besluit om nie kinders te hê nie, sodat jy ’n vorm van voltydse diens kon betree wat andersins nie moontlik sou gewees het nie—Betheldiens, internasionale konstruksiewerk, kringwerk of sendingwerk. Moet jy noudat jy in Jehovah se diens ouer word, oor hierdie besluite spyt voel? Moet jy voel dat die opofferings wat jy gemaak het, onnodig was of dat jy dit op die verkeerde tyd gedoen het? Glad nie!

16 Jy het hierdie besluite geneem weens jou hartgrondige liefde vir Jehovah en ’n opregte begeerte om ander te help wat hom wil dien. Jy hoef nie te dink dat jy beter sou gevaar het as jy ander keuses gemaak het nie. Jy kan die diep bevrediging hê dat jy gedoen het wat jy geweet het reg was in jou geval. Jy kan bly wees dat jy jou bes gedoen het om Jehovah te dien. Hy sal nie jou lewe van selfopoffering vergeet nie. In die werklike lewe wat nog voorlê, sal hy jou beloon met seëninge wat jou verwagtinge ver sal oortref!—Ps. 145:16; 1 Tim. 6:19.

HOE OM GOD TE DIEN SONDER OM SPYT TE VOEL

17, 18. (a) Watter beginsel het Paulus gehelp om God te dien sonder om spyt te voel? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen in verband met jou verlede, hede en toekoms in Jehovah se diens?

17 Watter beginsel het Paulus gehelp om God te dien sonder om spyt te voel? Volgens die J.B.  Phillips-vertaling het Paulus geskryf: “Ek laat die verlede agter en met uitgestrekte hande pyl ek op my doel af.” (Lees Filippense 3:13, 14.) Paulus het nie getob oor die verkeerde weg wat hy as ’n Jood gevolg het nie. Hy het hom eerder met hart en siel daarop toegelê om in aanmerking te kom vir die toekomstige prys van die ewige lewe.

18 Ons almal kan die beginsel agter Paulus se woorde toepas. Eerder as om ons oor die verlede te kwel en te tob oor dinge wat ons nie kan verander nie, moet ons ons uitstrek na die dinge wat voor is. Nee, ons sal moontlik nie die foute van die verlede vergeet nie, maar ons hoef ons nie voortdurend daaroor te treiter nie. Ons kan daarna streef om die verlede agter te laat, God nou tot die beste van ons vermoë te dien en te fokus op die wonderlike toekoms!

^ par. 4 Die herhaalde verwysing na die feit dat vroue ook deur Saulus vervolg is, toon dat hulle ’n groot rol gespeel het in die verspreiding van die Christelike godsdiens in die eerste eeu, net soos hulle vandag doen.—Ps. 68:11.