Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Jy is ’n vertroude bestuurder!

Jy is ’n vertroude bestuurder!

“Julle [behoort] nie aan julleself nie.”—1 KOR. 6:19.

1. Watter beskouing het die wêreld oor die algemeen van onafhanklikheid?

SOWAT 2 500 jaar gelede het ’n Griekse toneelskrywer geskryf: “Niemand dra die juk van slawerny gewilliglik nie.” Vandag sal baie mense geredelik met hierdie woorde saamstem. Slawerny laat ’n mens dink aan mense wat onderdruk word en wie se werk en opofferings nie aan hulleself voordele meebring nie, maar aan diegene wat hulle besit en oorheers.

2, 3. (a) Watter posisie het gewillige slawe, of knegte, van Christus? (b) Watter vrae oor bestuurderskap sal ons bespreek?

2 Tog het Jesus te kenne gegee dat sy dissipels nederige diensknegte, of slawe, sou wees. Maar die slawerny waaronder ware Christene verkeer, is glad nie vernederend of onderdrukkend nie. Hierdie slawe het ’n posisie van eer, vertroue en respek. Dink byvoorbeeld na oor wat Jesus kort voor sy dood van een “slaaf” gesê het. Christus het voorspel dat hy pligte sou gee aan ’n “getroue en verstandige slaaf”.—Matt. 24:45-47.

3 Dit is betekenisvol dat die slaaf in ’n parallelle verslag ’n “bestuurder” genoem word. (Lees Lukas 12:42-44.) Die meeste getroue Christene wat nou lewe, is nie lede van hierdie “getroue bestuurder”-klas nie. Maar die Skrif toon dat almal wat God dien, ’n bestuurderskap het. Watter verantwoordelikhede is hieraan verbonde? Hoe moet dit beskou word? Om uit te vind, kom ons kyk na die rol wat bestuurders in die ou tyd gespeel het.

BESTUURDERS—HULLE ROL

4, 5. Watter verantwoordelikhede het bestuurders in die ou tyd gehad? Gee voorbeelde.

4 In die ou tyd was ’n bestuurder dikwels ’n vertroude slaaf wat aangestel is om die huishouding of  sakebelange van sy heer te bestuur. Bestuurders het gewoonlik baie gesag gehad en moes toesig hou oor huishoudelike besittings, geld en ander knegte. Ons kan dit sien in die geval van Eliëser, wat oor Abraham se talryke besittings toesig moes hou. Dit was moontlik Eliëser wat deur Abraham na Mesopotamië gestuur is om vir sy seun Isak ’n vrou te gaan kies. Wat ’n belangrike en verreikende toewysing tog!—Gen. 13:2; 15:2; 24:2-4.

5 Abraham se agterkleinseun Josef het toesig gehou oor die huishouding van Potifar (Gen. 39:1, 2). Ná verloop van tyd het Josef sy eie bestuurder gehad, wat “oor Josef se huis” aangestel is. Hierdie bestuurder het gereël dat gasvryheid aan Josef se tien broers betoon word. En hy het Josef se plan met betrekking tot die “gesteelde” silwerbeker uitgevoer. Dit is duidelik dat ’n bestuurder ’n baie verantwoordelike posisie beklee het.—Gen. 43:19-25; 44:1-12.

6. Watter bestuurderskap het verskeie Christen- ouer manne?

6 Eeue later het die apostel Paulus geskryf dat Christenopsieners ‘God se bestuurders’ moet wees (Tit. 1:7). Opsieners, wat aangestel is om as herders oor “die kudde van God” toesig te hou, rig en lei die gemeentes (1 Pet. 5:1, 2). Nie almal het natuurlik dieselfde verantwoordelikheid nie. Byvoorbeeld, vandag bedien die meeste Christenopsieners een gemeente. Reisende opsieners bedien baie gemeentes. En Takkomiteelede sien moontlik om na gemeentes in ’n paar lande. Nogtans word daar van almal verwag om hulle pligte getrou na te kom; almal moet aan God ‘rekenskap gee’.—Heb. 13:17.

7. Hoe weet ons dat alle Christene in sekere sin bestuurders is?

7 Maar wat van die talle lojale Christene wat nie opsieners is nie? Die apostel Petrus het ’n brief geskryf aan Christene in die algemeen en gesê: “Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid waaraan daar op verskillende maniere uiting gegee word” (1 Pet. 1:1; 4:10). Weens sy onverdiende goedhartigheid het God aan almal van ons gawes, bates, vermoëns of talente gegee wat ons tot voordeel van medegelowiges kan gebruik. Gevolglik is almal wat God dien, bestuurders, en hulle bestuurderskap gaan gepaard met eer, vertroue en verantwoordelikheid.

ONS BEHOORT AAN GOD

8. Wat is een belangrike beginsel wat ons in gedagte moet hou?

8 Ons sal nou kyk na drie beginsels wat ons as bestuurders in gedagte moet hou. Die eerste beginsel is: Ons almal behoort aan God en moet aan hom rekenskap gee. Paulus het geskryf: “Julle [behoort] nie aan julleself nie, want julle is met ’n prys gekoop”, die offerbloed van die Christus (1 Kor. 6:19, 20). Aangesien ons aan Jehovah behoort, moet ons sy gebooie gehoorsaam, en dit is nie swaar nie (Rom. 14:8; 1 Joh. 5:3). Ons word ook slawe van Christus. Soos bestuurders van die ou tyd, word ons baie vryheid gegee—maar ons vryheid het perke. Ons moet ons verantwoordelikhede nakom volgens die instruksies wat aan ons gegee is. Ongeag watter diensvoorregte ons het, ons is nog steeds knegte van God en van Christus.

9. Hoe het Jesus die verhouding tussen heer en slaaf toegelig?

9 Jesus help ons om die verhouding tussen heer en slaaf te verstaan. Hy het een keer met sy dissipels gepraat van ’n slaaf wat huis toe gekom het nadat hy die hele dag gewerk het. Sê die heer: “Kom dadelik hier aan tafel”? Nee. Hy sê: “Maak iets vir my aandete gereed, en  sit ’n voorskoot aan en bedien my totdat ek klaar geëet en gedrink het, en agterna kan jy eet en drink.” Hoe het Jesus hierdie illustrasie toegepas? “So ook moet julle, wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het.’”—Luk. 17:7-10.

10. Wat toon dat Jehovah ons pogings om hom te dien, waardeer?

10 Jehovah waardeer natuurlik ons pogings om hom te dien. Die Bybel verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Heb. 6:10). Jehovah is nooit onredelik in wat hy van ons verwag nie. Wat meer is, wat hy ook al van ons vra, is in ons eie belang en nooit te swaar nie. Maar volgens Jesus se gelykenis behaag ’n slaaf nie homself nie en stel hy nie sy eie belange eerste nie. Die punt is, wanneer ons ons aan God toewy, besluit ons om sy belange eerste in ons lewe te stel. Stem jy nie saam nie?

WAT JEHOVAH VAN ONS ALMAL VEREIS

11, 12. Watter eienskap moet ons as bestuurders openbaar, en wat moet ons vermy?

11 ’n Tweede beginsel is: As bestuurders volg ons almal dieselfde basiese standaarde. Party verantwoordelikhede word wel aan net ’n paar in die Christengemeente gegee. Maar wanneer dit kom by die meeste dinge in die lewe, het ons almal dieselfde verantwoordelikhede. As dissipels van Christus en Getuies van Jehovah is ons byvoorbeeld onder verpligting om mekaar lief te hê. Jesus het gesê dat liefde die identifiserende kenmerk van ware Christene is (Joh. 13:35). Ons liefde strek egter verder as ons broederskap. Ons probeer liefde betoon aan dié wat nie in die geloof aan ons verwant is nie. Dit is iets wat ons almal kan en moet doen.

12 Goeie gedrag is nog iets wat van ons verwag word. Ons wil gedrag en lewenswyses vermy wat in God se Woord veroordeel word. Paulus het geskryf: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie” (1 Kor. 6:9, 10). Dit verg weliswaar inspanning om aan God se regverdige standaarde te voldoen. Maar sulke inspanning is die moeite werd, want dit bring vir ons baie voordele mee, insluitende ’n lewenswyse wat bydra tot goeie gesondheid, goeie verhoudings met ander en ’n goedgekeurde posisie voor God.—Lees Jesaja 48:17, 18.

13, 14. Watter verantwoordelikheid is aan alle Christene gegee, en hoe moet ons dit beskou?

13 Hou ook in gedagte dat ’n bestuurder werk gehad het om te doen. Ons het ook. Ons is ’n kosbare gawe gegee—die kennis van die waarheid. God verwag dat ons hierdie kennis met ander moet deel (Matt. 28:19, 20). Paulus het geskryf: “Laat ’n mens ons dan as ondergeskiktes van Christus en bestuurders van heilige geheime van God beskou” (1 Kor. 4:1). Paulus het besef dat hierdie bestuurderskap behels het dat hy vir die “heilige geheime” verantwoordelik was en dit getrou aan ander moes meedeel soos beveel is deur die Heer, Jesus Christus.—1 Kor. 9:16.

14 Dit is immers liefdevol om die waarheid aan ander te verkondig. Elke Christen se omstandighede verskil natuurlik. Nie almal kan ewe veel in die bediening doen nie. Jehovah verstaan dit. Wat belangrik is, is dat ons alles in ons vermoë doen. Sodoende openbaar ons onselfsugtige liefde vir God en vir ons naaste.

Laat ons alles wat ons gegee is om te doen, getrou uitvoer

 DIE BELANGRIKHEID VAN GETROUHEID

15-17. (a) Waarom is dit noodsaaklik dat ’n bestuurder getrou moet wees? (b) Hoe het Jesus die gevolge van ontrouheid toegelig?

15 ’n Derde beginsel, wat ten nouste verband hou met die vorige twee, is: Ons moet getrou, betroubaar, wees. ’n Bestuurder het dalk talle voortreflike eienskappe en vermoëns, maar dit sal nie saak maak as hy onverantwoordelik is of aan sy heer dislojaal is nie. Getrouheid is noodsaaklik om ’n bekwame, suksesvolle bestuurder te wees. Onthou dat Paulus geskryf het: “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind word.”—1 Kor. 4:2.

16 As ons getrou is, sal ons beloon word; dit is seker. As ons nie getrou is nie, sal ons God se goedkeuring verloor. Hierdie beginsel word toegelig in Jesus se illustrasie van die talente. Die slawe wat getrou met die heer se geld “handel gedryf” het, is geprys en ryklik geseën. Die slaaf wat onverantwoordelik was met wat die heer aan hom toevertrou het, is as ‘goddeloos’, ‘traag’ en “nikswerd” geoordeel. Die talent wat aan hom gegee is, is weggeneem, en hy is uitgegooi.—Lees Matteus 25:14-18, 23, 26, 28-30.

17 By ’n ander geleentheid het Jesus die gevolge van ontrouheid toegelig. Hy het gesê: “’n Sekere man was ryk en het ’n bestuurder gehad, en dié is by hom daarvan beskuldig dat hy verkwistend met sy goed werk. Toe het hy hom geroep en vir hom gesê: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee rekenskap van jou bestuur, want jy kan nie langer die huis bestuur nie’” (Luk. 16:1, 2). Omdat die bestuurder sy heer se eiendom verkwis het, het die heer hom laat gaan. Wat ’n kragtige les is dit tog vir ons! Ons wil beslis nooit ontrou wees in wat van ons verwag word nie.

 IS DIT VERSTANDIG OM ONS MET ANDER TE VERGELYK?

18. Waarom moet ons ons nie met ander vergelyk nie?

18 Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Hoe beskou ek my bestuurderskap?’ Probleme kan ontstaan wanneer ons ons met ander vergelyk. Die Bybel vermaan ons: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie” (Gal. 6:4). Ons moenie wat ons doen, vergelyk met wat ander doen nie; ons moet eerder konsentreer op wat ons persoonlik kan doen. Dit sal ons beskerm sodat ons nie opgeblase van trots raak nie, maar ook nie mismoedig raak nie. Wanneer ons ons diens in oënskou neem, moet ons in gedagte hou dat omstandighede verander. Dalk kan ons weens swak gesondheid, ouderdom of sekere verantwoordelikhede nie doen wat ons in die verlede gedoen het nie. Aan die ander kant kan ons moontlik meer doen as wat ons nou doen. Indien wel, kan ons ons gerus meer inspan.

19. Waarom moet ons nie mismoedig raak as ons ’n sekere voorreg nie ontvang nie?

19 Nog iets om te oorweeg, is watter verantwoordelikhede ons het of graag wil hê. Dalk wil ’n broer byvoorbeeld graag as ’n ouer man in die gemeente dien of dele aangewys word op kring- en streekbyeenkomste. Dit is goed om hard te werk om vir sulke voorregte te kwalifiseer, maar ons moenie mismoedig raak as ons hierdie voorregte nie ontvang wanneer ons dit verwag het nie. Om redes wat ons dalk nie op daardie stadium verstaan nie, sal ons party voorregte moontlik heelwat later ontvang as wat ons verwag het. Hou in gedagte dat Moses skynbaar gereed was om die Israeliete uit Egipte te lei, maar dat hy 40 jaar lank moes wag voordat hy dit kon doen. Dit het hom genoeg tyd gegee om die eienskappe te ontwikkel wat hy nodig gehad het om ’n hardnekkige en opstandige volk te lei.—Hand. 7:22-25, 30-34.

20. Watter les kan ons uit Jonatan se ondervinding leer?

20 Soms sal ons ’n sekere voorreg glad nie ontvang nie. Dit was die geval met Jonatan. As die seun van Saul sou hy koning oor die hele Israel geword het. Maar God het Dawid, ’n baie jonger man, gekies om koning te wees. Hoe het Jonatan hierop gereageer? Hy het dit aanvaar en het Dawid ondersteun, al het dit sy lewe in gevaar gestel. Hy het vir Dawid gesê: “Jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees” (1 Sam. 23:17). Sien jy die punt? Jonatan het sy situasie aanvaar, en in teenstelling met sy vader het hy nie op Dawid jaloers geraak nie. Eerder as om ander te beny weens die toewysings wat aan hulle gegee is, kan ons almal konsentreer op die verantwoordelikhede wat ons wel het. Ons kan seker wees dat Jehovah in die nuwe wêreld sal toesien dat die gepaste begeertes van al sy knegte bevredig word.

21. Hoe moet ons ons bestuurderskap beskou?

21 Laat ons in gedagte hou dat ons, as vertroude bestuurders, nie die ellendige slawerny ondervind wat deur onderdrukking en trane gekenmerk word nie. Inteendeel, ons geniet ’n posisie van groot eer, aangesien ons toevertrou is met die verkondiging van die goeie nuus gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge, ’n werk wat nooit weer gedoen sal word nie. Terwyl ons dit doen, het ons baie vryheid in hoe ons ons verantwoordelikhede behartig. Laat ons dus getroue bestuurders wees. En mag ons die voorreg koester om die grootste Persoon in die ganse heelal te dien.