Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

“Leer my om u wil te doen”

“Leer my om u wil te doen”

“Leer my om u wil te doen, want u is my God.”—PS. 143:10.

1, 2. Hoe kan ons daarby baat vind as ons God se wil in ag neem, en wat kan ons verwag om in hierdie verband by koning Dawid te leer?

HET jy al, wanneer jy reis, ’n gerekenariseerde karteerstelsel gebruik wat jou in staat gestel het om jou bestemming vanuit die lug te sien? Om dinge uit daardie hoek te sien, het jou dalk gehelp om te bepaal wat die beste roete sal wees. ’n Soortgelyke beginsel kan ons help wanneer ons belangrike besluite moet neem. As ons dinge vanuit die Skepper se verhewe oogpunt beskou, sal dit ons in staat stel om te ‘wandel op die weg’ wat Jehovah goedkeur.—Jes. 30:21.

2 Koning Dawid van eertydse Israel was vir die grootste deel van sy lewe ’n goeie voorbeeld van iemand wat God se wil in ag neem. Kom ons kyk na ’n paar voorvalle in Dawid se lewe sodat ons kan leer by die gedrag van ’n man wie se hart volkome was met Jehovah God.—1 Kon. 11:4.

DAWID HET JEHOVAH SE NAAM HOOGGEAG

3, 4. (a) Wat het Dawid beweeg om Goliat aan te durf? (b) Wat was Dawid se beskouing van God se naam?

3 Dink aan die keer toe Dawid die Filistynse baasvegter, Goliat, tegemoetgegaan het. Wat het die jong Dawid beweeg om ’n ten volle gewapende reus uit te daag wat omtrent drie meter lank was? (1 Sam. 17:4, vtn. in NW). Was dit Dawid se moed? Was dit sy geloof in God? Albei eienskappe het grootliks tot sy heldedaad bygedra. Maar dit was hoofsaaklik Dawid se respek vir Jehovah en vir sy groot naam wat Dawid beweeg het om daardie yslike reus aan te durf. Dawid het verontwaardig gevra: “Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die gevegslinies van die lewende God moet uittart?”—1 Sam. 17:26.

4 Die jong Dawid het Goliat tegemoetgegaan met  die woorde: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met ’n spies en met ’n werpspies, maar ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs, die God van die gevegslinies van Israel, wat jy uitgetart het” (1 Sam. 17:45). Met volle vertroue op die ware God het Dawid die Filistynse baasvegter met ’n enkele slingerklip neergevel. Nie net by daardie geleentheid nie, maar deur sy hele lewe heen het Dawid op Jehovah vertrou en die grootste agting vir die goddelike naam gehad. Trouens, Dawid het mede-Israeliete aangespoor om te ‘roem in Jehovah se heilige naam’.—Lees 1 Kronieke 16:8-10.

5. In watter situasie sal jy dalk uittartende woorde soos dié van Goliat moet verduur?

5 Is jy trots om Jehovah as jou God te hê? (Jer. 9:24). Hoe reageer jy wanneer bure, kollegas, klasmaats of familielede sleg praat van Jehovah en met sy Getuies die spot dryf? Verdedig jy Jehovah se naam wanneer dit gesmaad word in die vertroue dat hy jou sal ondersteun? Daar is weliswaar “’n tyd om stil te bly”, maar ons moenie skaam wees om Getuies van Jehovah en volgelinge van Jesus te wees nie (Pred. 3:1, 7; Mark. 8:38). Hoewel ons taktvol en beleefd moet wees teenoor mense wat nie gunstiggesind is nie, moet ons nie wees soos dié Israeliete wat “verskrik en baie bang geword [het]” toe hulle Goliat se uittartende woorde gehoor het nie (1 Sam. 17:11). Laat ons eerder daadwerklik optree om Jehovah God se naam te heilig. Ons begeerte is om mense te help om Jehovah te leer ken as die God wat hy werklik is. Daarom gebruik ons sy geskrewe Woord om ander te help besef hoe belangrik dit is om nader aan God te kom.—Jak. 4:8.

6. Wat was Dawid se doelwit toe hy Goliat aangedurf het, en wat moet vir ons van die allergrootste belang wees?

6 Die verslag van Dawid en Goliat leer ons nog ’n belangrike les. Toe Dawid na die gevegslinie aangehardloop gekom het, het hy gevra: “Wat sal gedoen word met die man wat daardie Filistyn daar oorkant doodmaak en die smaad van Israel afwend?” In antwoord hierop het die volk herhaal wat hulle vroeër gesê het: “Die koning sal die man wat [Goliat] doodmaak, met groot rykdom verryk, en hy sal sy dogter aan hom gee” (1 Sam. 17:25-27). Maar ’n materiële beloning was nie vir Dawid van die allergrootste belang nie. Hy het ’n verhewener doelwit gehad. Dawid wou die ware God verheerlik. (Lees 1 Samuel 17:46, 47.) Wat van ons? Is dit vir ons van die allergrootste belang om vir ons ’n naam te maak deur rykdom te vergaar en vernaamheid in die wêreld te verkry? Ons wil sekerlik wees soos Dawid, wat gesing het: “O maak Jehovah saam met my groot, en laat ons sy naam saam verhef” (Ps. 34:3). Laat ons dus op God vertrou en sy naam bo ons eie stel.—Matt. 6:9.

7. Hoe kan ons die sterk geloof opbou wat ons nodig het wanneer ons mense teëkom wat nie gunstiggesind is nie?

7 Om Goliat met soveel moed aan te durf, moes Dawid ten volle op Jehovah vertrou. Die jong Dawid het sterk geloof gehad. Een manier waarop hy sy geloof opgebou het, was om op God te vertrou toe hy nog ’n herder was (1 Sam. 17:34-37). Ons het ook sterk geloof nodig om in die bediening te volhard, veral wanneer ons mense teëkom wat nie gunstiggesind is nie. Ons kan sulke geloof opbou deur in ons daaglikse bedrywighede op God te vertrou. Ons kan byvoorbeeld gesprekke oor Bybelwaarheid aanknoop met mense wat langs ons sit wanneer ons openbare vervoer gebruik. En ons kan gerus met mense praat wat ons op straat teëkom terwyl ons aan die huis-tot-huis-bediening deelneem.—Hand. 20:20, 21.

 DAWID HET OP JEHOVAH GEWAG

Waarom het Dawid nie Saul se lewe geneem toe hy die geleentheid gehad het nie?

8, 9. Hoe het Dawid in sy handelinge met koning Saul getoon dat hy Jehovah se wil voor oë gehou het?

8 Nog ’n voorbeeld van Dawid se bereidwilligheid om op Jehovah te vertrou, het verband gehou met Saul—Israel se eerste koning. Die jaloerse Saul het Dawid drie keer met ’n spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het elke keer weggekoes en het geweier om kwaad vir kwaad te vergeld. Uiteindelik het hy van Saul af weggevlug (1 Sam. 18:7-11; 19:10). Toe het Saul 3 000 uitgesoekte manne uit die hele Israel geneem en Dawid in die wildernis gaan soek (1 Sam. 24:2). By een geleentheid het Saul onwetend in dieselfde grot ingegaan waar Dawid en sy manne was. Dawid kon hierdie geleentheid gebruik het om die koning wat sy lewe bedreig het, dood te maak. Dit was immers God se wil dat Dawid Saul as koning van Israel moet vervang (1 Sam. 16:1, 13). Trouens, as Dawid na die raad van sy manne geluister het, sou hy die koning doodgemaak het. Maar Dawid het gesê: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, dat ek dit aan my heer, die gesalfde van Jehovah, sou doen.” (Lees 1 Samuel 24:4-7.) Saul was nog steeds God se gesalfde koning. Dawid wou Saul nie die koningskap ontneem nie, aangesien Jehovah hom nog nie verwyder het nie. Deur net die slip van Saul se moulose oorkleed af te sny, het Dawid getoon dat hy Saul nie leed wou aandoen nie.—1 Sam. 24:11.

9 Dawid het weer respek vir God se gesalfde getoon toe hy die koning vir die laaste keer gesien het. By daardie geleentheid het Dawid en Abisai gegaan na die plek waar Saul kamp opgeslaan het en hom aan die slaap gevind. Abisai het tot die slotsom gekom dat God Dawid se vyand in sy hand gegee het en het aangebied om Saul met die spies teen die grond vas te pen, maar Dawid het dit nie toegelaat nie (1 Sam. 26:8-11). Omdat Dawid altyd God se leiding gesoek het, het hy ten spyte van Abisai se mening vasbeslote gebly om in ooreenstemming met Jehovah se wil op te tree.

10. Voor watter moeilike situasie kan ons te staan kom, en wat sal ons help om standvastig te bly?

10 Ons kan ook voor ’n moeilike situasie te staan kom as ons vriende druk op ons plaas om hulle menslike denkwyse te volg pleks van ons te ondersteun in ons pogings om Jehovah se wil te doen. Soos Abisai, sal party ons dalk selfs aanspoor om op te tree sonder om God se wil in ’n sekere saak in ag te neem. Om standvastig  te bly, moet ons Jehovah se beskouing van die saak duidelik voor oë hou en vasbeslote wees om by sy weë te bly.

11. Wat het jy by Dawid geleer oor die belangrikheid daarvan om God se wil duidelik voor oë te hou?

11 Dawid het tot Jehovah God gebid: “Leer my om u wil te doen.” (Lees Psalm 143:5, 8, 10.) Dawid het nie op sy eie idees staatgemaak of geswig voor die druk wat ander op hom geplaas het nie. Hy was eerder gretig om deur God geleer te word. Hy ‘het gepeins oor Jehovah se dade en die werk van God se hande graag oordink’. Ons kan God se wil onderskei deur diep in die Skrif te delf en na te dink oor die talle Bybelverslae oor Jehovah se handelinge met mense.

DAWID HET DIE BEGINSELS AGTER DIE WET BEGRYP

12, 13. Waarom het Dawid die water uitgegiet wat drie van sy manne vir hom gebring het?

12 Dawid se begrip van die beginsels wat in die Wet weerspieël is en sy begeerte om daarvolgens te lewe, is ook navolgenswaardig. Dink aan wat gebeur het toe Dawid sy begeerte uitgespreek het om “van die water [te] drink uit die reënput van Betlehem”. Drie van Dawid se manne het die stad—wat op daardie stadium deur die Filistyne beset is—binnegedring en die water gaan haal. “Dawid wou dit nie drink nie, maar het dit vir Jehovah uitgegiet.” Waarom? Dawid het verduidelik: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit my God se standpunt, om dit te doen! Sou ek die bloed van hierdie manne ten koste van hulle siel drink? Want met gevaar vir hulle siel het hulle dit gebring.”—1 Kron. 11:15-19.

Wat kan ons leer uit die feit dat Dawid geweier het om die water te drink wat sy manne vir hom gebring het?

13 Uit die Wet het Dawid geweet dat bloed vir Jehovah uitgegiet moet word en nie geëet moet word nie. Hy het ook verstaan waarom dit gedoen moet word. Dawid het geweet dat “die siel van die vlees . . . in die bloed [is]”. Maar dit was water, nie bloed nie. Waarom het Dawid geweier om dit te drink? Hy het die beginsel agter die wetlike vereiste begryp. Vir Dawid was die water so kosbaar soos die bloed van die drie manne. Daarom was dit vir hom ondenkbaar om die water te drink. Hy het eerder tot die gevolgtrekking gekom  dat hy dit op die grond moet uitgiet.—Lev. 17:11; Deut. 12:23, 24.

14. Wat het Dawid gehelp om Jehovah se beskouing van sake te hê?

14 Dawid het probeer om heeltemal verdiep te wees in God se wet. Hy het gesing: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande” (Ps. 40:8). Dawid het God se wet bestudeer en diep daaroor nagedink. Hy het vertroue gehad in die wysheid van Jehovah se gebooie. Gevolglik was Dawid gretig om nie net die letter nie, maar ook die gees van die Mosaïese Wet te onderhou. Wanneer ons die Bybel bestudeer, is dit verstandig om na te dink oor wat ons lees en dit in ons hart te bewaar sodat ons kan vasstel wat Jehovah in ’n sekere situasie sal behaag.

15. Hoe het Salomo ’n gebrek aan respek vir God se Wet getoon?

15 Dawid se seun Salomo is grootliks deur Jehovah God begunstig. Maar ná verloop van tyd het Salomo opgehou om respek vir God se Wet te toon. Hy het nie ag geslaan op Jehovah se bevel dat ’n Israelitiese koning “nie vir hom baie vrouens [mag] neem nie” (Deut. 17:17). Trouens, Salomo het met baie uitlandse vroue getrou. Toe hy oud geword het, “het sy vrouens sy hart laat afwyk om ander gode te volg”. Ongeag hoe hy dalk geredeneer het, “Salomo het begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah, en hy het Jehovah nie volkome gevolg soos sy vader Dawid nie” (1 Kon. 11:1-6). Hoe belangrik is dit tog dat ons die wette en beginsels in God se Woord toepas! Dit is byvoorbeeld noodsaaklik wanneer iemand dit oorweeg om te trou.

16. Hoe sal dit die optrede raak van diegene wat graag wil trou, as hulle die gees onderskei van die gebod om “net in die Here” te trou?

16 Wat is ons reaksie as ongelowiges by ons romantiese toenadering soek? Weerspieël dit ’n beskouing soos dié van Dawid of soos dié van Salomo? Ware aanbidders word beveel om “net in die Here” te trou (1 Kor. 7:39). As ’n Christen besluit om te trou, moet hy of sy met ’n medegelowige trou. As ons die gees van hierdie skriftuurlike vereiste onderskei, sal ons nie net bly by die gebod om nie met ’n ongelowige te trou nie, maar sal ons ook enige romantiese toenadering van so ’n persoon verwerp.

17. Wat kan ons help om nie deur pornografie verstrik te raak nie?

17 Die voorbeeld wat Dawid daarin gestel het om God se leiding ernstig te soek, kan ons ook help om die versoeking te weerstaan om na pornografiese beelde te kyk. Lees die volgende tekste, dink aan die beginsels wat dit bevat en probeer om Jehovah se wil in hierdie saak te onderskei. (Lees Psalm 119:37; Matteus 5:28, 29; Kolossense 3:5.) As ons oor sy verhewe standaarde nadink, stel dit ons in staat om die strik van pornografie te vermy.

HOU GOD SE BESKOUING ALTYD VOOR OË

18, 19. (a) Wat het Dawid gehelp om ondanks sy onvolmaaktheid in God se guns te bly? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Hoewel Dawid in baie opsigte voorbeeldig was, het hy ’n hele paar ernstige sondes gepleeg (2 Sam. 11:2-4, 14, 15, 22-27; 1 Kron. 21:1, 7). Maar Dawid was altyd berouvol wanneer hy gesondig het. Hy het “met onkreukbaarheid van hart” voor God gewandel (1 Kon. 9:4). Hoe weet ons dit? Omdat Dawid in ooreenstemming met Jehovah se wil probeer optree het.

19 Al is ons onvolmaak, kan ons in Jehovah se guns bly. Laat ons dus, met hierdie doel voor oë, God se Woord ywerig bestudeer, nadink oor wat ons daaruit leer en daadwerklik optree in ooreenstemming met wat ons in ons hart bewaar het. Dan sal ons wees soos die psalmis, wat Jehovah nederig in gebed gevra het: “Leer my om u wil te doen.”