Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Watter soort gees openbaar jy?

Watter soort gees openbaar jy?

“Mag die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus wees met die gees wat julle openbaar.”—FILEM. 25.

1. Watter hoop het Paulus in sy briewe aan medegelowiges uitgespreek?

IN SY briewe aan medegelowiges het die apostel Paulus herhaaldelik sy hoop uitgespreek dat die gees wat die gemeentes openbaar, God en Christus se goedkeuring sou wegdra. Hy het byvoorbeeld aan die Galasiërs geskryf: “Mag die onverdiende goedhartigheid van ons Here Jesus Christus wees met die gees wat julle openbaar, broers. Amen” (Gal. 6:18). Wat het hy bedoel met “die gees wat julle openbaar”?

2, 3. (a) Waarna het Paulus soms verwys wanneer hy die woord “gees” gebruik het? (b) Watter vrae kan ons ons afvra oor die gees wat ons openbaar?

2 Paulus se gebruik van die woord “gees” in hierdie konteks verwys na die dryfkrag wat ons dinge op ’n sekere manier laat sê of doen. Een persoon is dalk teergevoelig, bedagsaam, saggeaard, vrygewig of vergewensgesind. Die Bybel praat gunstig oor “die stille en sagmoedige gees” en ’n man wat “kalm van gees” is (1 Pet. 3:4; Spr. 17:27). Maar ’n ander persoon is dalk sarkasties, materialisties, liggeraak of het miskien ’n onafhanklike gesindheid. Nog erger, party openbaar ’n onrein, ongehoorsame of selfs opstandige gees.

3 Wanneer Paulus dus uitdrukkings gebruik het soos “mag die Here wees met die gees wat jy openbaar”, het hy sy broers aangespoor om ’n gees te openbaar wat in ooreenstemming met God se wil en die Christelike persoonlikheid is. (2 Tim. 4:22; lees Kolossense 3:9-12.) Ons kan ons gerus afvra: ‘Watter soort gees openbaar ek? Hoe kan ek in groter mate ’n gees openbaar wat God behaag? Kan ek meer doen om tot die algemene positiewe gees van die gemeente by te dra?’ Ter toeligting: In ’n veld vol sonneblomme, dra elke helder blom tot die algehele prag van die blommetoneel by. Is ons een van die “blomme” wat tot die  algehele prag van die gemeente bydra? Ons moet beslis daarna streef om een te wees. Kom ons kyk nou wat ons kan doen om ’n gees te openbaar wat God behaag.

VERMY DIE WÊRELD SE GEES

4. Wat is “die gees van die wêreld”?

4 Die Skrif sê vir ons: “Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat van God kom” (1 Kor. 2:12). Wat is “die gees van die wêreld”? Dit is dieselfde gees wat in Efesiërs 2:2 gemeld word, waar dit sê: “Julle [het] vroeër volgens die stelsel van dinge van hierdie wêreld gewandel . . . , volgens die heerser van die gesag van die lug, die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk.” Hierdie “lug” is die wêreld se gees, of gesindheid, en soos letterlike lug is dit oral om ons. Dit word dikwels gesien in gesindhede soos ‘niemand sê vir my wat om te doen nie’ of ‘veg vir jou regte’, wat so baie mense van vandag openbaar. Hulle is “die seuns van die ongehoorsaamheid” van Satan se wêreld.

5. Watter slegte gees het party in Israel geopenbaar?

5 Hierdie gesindhede is niks nuuts nie. In Moses se dag het Korag in opstand gekom teen diegene wat gesagsposisies in die gemeente van Israel gehad het. Hy het veral teen Aäron en sy seuns uitgevaar, wat die voorreg gehad het om as priesters te dien. Dalk het hy hulle tekortkominge raakgesien. Of dalk het hy geredeneer dat Moses sy familielede begunstig deur voorregte aan hulle te gee. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat Korag sake vanuit ’n menslike oogpunt begin beskou het en hom uitgespreek het teen diegene wat deur Jehovah aangestel is. Hy het op oneerbiedige wyse vir hulle gesê: “Dit is nou genoeg . . . Waarom moet julle julle dan bo die gemeente . . . verhef?” (Num. 16:3). Net so het Datan en Abiram oor Moses gekla en vir hom gesê dat ‘hy tot die uiterste die vors oor hulle probeer speel’. Toe Moses hulle laat roep het, het hulle verwaand geantwoord: “Ons sal nie opkom nie!” (Num. 16:12-14). Dit was duidelik dat hulle gees Jehovah nie behaag het nie. Hy het al die rebelle tereggestel.—Num. 16:28-35.

6. Hoe het party in die eerste eeu ’n slegte gesindheid geopenbaar, en wat was moontlik die rede hiervoor?

6 In die eerste eeu het party ook krities geraak van diegene wat gesagsposisies in die gemeente gehad het, en sodoende het hulle ‘heerskappy verontagsaam’ (Jud. 8). Hierdie manne was waarskynlik ontevrede met hulle voorregte en het ander probeer beïnvloed teen die aangestelde manne wat hulle godgegewe pligte getrou uitgevoer het.—Lees 3 Johannes 9, 10.

7. Watter gees moet ons in die gemeente vermy?

7 Daar is natuurlik geen plek in die Christengemeente vir so ’n gees nie. Daarom moet ons in hierdie verband versigtig wees. Ouer manne in die gemeente is nie volmaak nie, net soos hulle nie in Moses se dag en in die apostel Johannes se tyd volmaak was nie. Hulle sal dalk foute maak wat ons persoonlik raak. Hoe ongepas sou dit in so ’n geval wees as enige lid van die gemeente die wêreld se gees sou openbaar deur met alle geweld daarop aan te dring dat “reg moet geskied” of dat “iets omtrent hierdie broer gedoen moet word”! Jehovah besluit miskien om sekere geringe tekortkominge oor die hoof te sien. Kan ons dit nie ook doen nie? Party persone in die gemeente wat hulle aan ernstige oortredings skuldig gemaak het, het geweier om te verskyn voor ’n komitee van ouer manne wat aangewys is om hulle te help omdat hulle meen dat die ouer manne sekere tekortkominge het. Dit kan vergelyk word met ’n pasiënt wat ’n behandeling weier  waarby hy baat sou vind omdat daar iets omtrent die dokter is waarvan hy nie hou nie.

8. Watter tekste kan ons help om die regte beskouing te behou van diegene wat die leiding in die gemeente neem?

8 As ons so ’n gees wil vermy, moet ons in gedagte hou dat Jesus in die Bybel met ‘sewe sterre in sy regterhand’ uitgebeeld word. Die “sterre” verteenwoordig die gesalfde opsieners en, by uitbreiding, al die opsieners in die gemeentes. Jesus kan die “sterre” in sy hand rig net soos hy goeddink (Op. 1:16, 20). As Hoof van die Christengemeente is Jesus dus ten volle in beheer van die liggame van ouer manne. As ’n ouer man werklik teregwysing nodig het, sal die Een wat “oë soos ’n vuurvlam” het, seker maak dat dit op Sy tyd en manier gedoen word (Op. 1:14). Intussen toon ons steeds die gepaste respek vir dié wat deur die heilige gees aangestel is, want Paulus het geskryf: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Heb. 13:17.

Hoe sal jou reaksie op raad beïnvloed word as jy oor Jesus se rol nadink?

9. (a) Hoe word ’n Christen op die proef gestel wanneer hy tereggewys of gedissiplineer word? (b) Wat is die beste manier om op teregwysing te reageer?

9 Die gees wat ’n Christen openbaar, kan ook op die proef gestel word as hy tereggewys word of as sy voorregte in  die gemeente weggeneem word. Byvoorbeeld, die ouer manne het ’n jong broer op taktvolle wyse raad gegee in verband met gewelddadige videospeletjies. Ongelukkig het hy nie goed op die raad gereageer nie en het hy die voorreg verloor om as ’n bedieningskneg te dien omdat hy nie meer aan die skriftuurlike vereistes voldoen het nie (Ps. 11:5; 1 Tim. 3:8-10). Daarna het die broer vir baie mense gesê dat hy nie met hierdie besluit saamstem nie en het hy herhaaldelik kritiese briewe oor die ouer manne aan die takkantoor geskryf en selfs ander in die gemeente beïnvloed om dit ook te doen. Maar dit is werklik teenproduktief om die vrede van die hele gemeente in gevaar te stel bloot omdat ons ons optrede wil regverdig. Hoeveel beter is dit tog om teregwysing te beskou as iets wat ons kan help om swakhede raak te sien waarvan ons nie bewus was nie en om die raad dan nederig te aanvaar.—Lees Klaagliedere 3:28, 29.

10. (a) Verduidelik wat ons uit Jakobus 3:16-18 omtrent ’n goeie gees en ’n slegte gees kan leer. (b) Wat sal die gevolg wees as ons “die wysheid van bo” aan die dag lê?

10 Jakobus 3:16-18 voorsien goeie riglyne in verband met die ongepaste sowel as die gepaste gees om in die gemeente te openbaar. Dit sê: “Waar daar jaloesie en twisgierigheid is, daar is wanorde en allerhande veragtelike dinge. Maar die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie. En die saad van die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak.” Wanneer ons in ooreenstemming met “die wysheid van bo” optree, sal ons godvrugtige eienskappe ons in staat stel om tot ’n goeie gees onder die broers by te dra.

OPENBAAR ’N RESPEKVOLLE GEES IN DIE GEMEENTE

11. (a) Wat sal die regte gees ons help vermy? (b) Wat leer ons uit Dawid se voorbeeld?

11 Ons moet in gedagte hou dat Jehovah die ouer manne die toewysing gegee het om “as herders toesig [te hou] oor die kudde van God” (Hand. 20:28; 1 Pet. 5:2). Ons besef dus dat dit wys is om God se reëling te respekteer, hetsy ons die voorreg het om as ’n ouer man te dien of nie. As ons die regte gees behou, sal dit ons help om nie te veel waarde aan posisie te heg nie. Toe koning Saul van Israel gevoel het dat Dawid ’n bedreiging vir sy koningskap geword het, het Saul “Dawid voortdurend agterdogtig aangekyk” (1 Sam. 18:9). Die koning het ’n slegte gees ontwikkel en wou Dawid selfs doodmaak. Eerder as om met posisie behep te wees soos Saul, is dit tog soveel beter om soos Dawid te wees. Ondanks die onregte wat hy moes verduur, het die jong man sy respek vir diegene met godgegewe gesag behou.—Lees 1 Samuel 26:23.

12. Wat sal bydra tot die eenheid van die gemeente?

12 Verskille in sienswyse kan ’n bron van irritasie in die gemeente word—selfs onder die opsieners. Die Bybel se raad kan ons in hierdie verband help: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar”, en “Moenie in julle eie oë verstandig word nie” (Rom. 12:10, 16). Pleks van vol te hou dat ons reg is, moet ons erken dat daar dikwels meer as een aanvaarbare beskouing van ’n situasie is. As ons ander se beskouing probeer verstaan, kan ons tot die eenheid van die gemeente bydra.—Fil. 4:5.

13. Hoe moet ons ons eie menings beskou, en watter Bybelvoorbeeld lig dit toe?

13 Beteken dit dat dit verkeerd is om ons mening te lug as ons iets in die gemeente sien wat ons dink verander moet word? Nee. In die eerste eeu het ’n geskil ontstaan wat ’n heftige woordewisseling  tot gevolg gehad het. Die broers “het . . . gereël dat Paulus en Barnabas en ander van hulle na die apostels en ouer manne in Jerusalem opgaan in verband met hierdie geskil” (Hand. 15:2). Elkeen van hierdie broers het ongetwyfeld ’n opinie oor die saak gehad, asook ’n mening oor hoe die saak hanteer moet word. Maar nadat elkeen sy mening uitgespreek het en ’n geesgerigte besluit geneem is, het die broers hulle eie opinies laat vaar. Toe die brief met die besluit die gemeentes bereik het, “was hulle bly oor die aanmoediging” en is hulle “standvastig gemaak in die geloof” (Hand. 15:31; 16:4, 5). Dieselfde geld vandag. Nadat ons ’n saak onder die aandag van die verantwoordelike broers gebring het, moet ons dit by hulle laat in die vertroue dat hulle biddend daaraan aandag sal skenk.

OPENBAAR ’N GOEIE GEES IN PERSOONLIKE VERHOUDINGS

14. Hoe kan ons op persoonlike vlak ’n goeie gees openbaar?

14 Op persoonlike vlak het ons baie geleenthede om ’n goeie gees te openbaar. Dit sal baie goed wees as ons ’n vergewensgesinde gees openbaar wanneer ander ons aanstoot gee. God se Woord sê vir ons: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13). Die woorde ‘as iemand rede tot klagte het’, gee te kenne dat daar moontlik geldige redes is om met ander geïrriteerd te raak. Maar pleks daarvan om te veel op hulle swakhede te konsentreer en die vrede van die gemeente te versteur, probeer ons Jehovah navolg deur ander vryelik te vergewe en hou ons aan om God saam met hulle te dien.

15. (a) Wat kan ons by Job oor vergifnis leer? (b) Hoe kan gebed ons help om ’n goeie gees te openbaar?

15 Ons kan ’n les oor vergifnis by die man Job leer. Sy drie sogenaamde vertroosters het hom met talle kwetsende woorde aanstoot gegee. Tog was Job vergewensgesind. Hoe? “Hy [het] vir sy metgeselle gebid” (Job 16:2; 42:10). As ons vir ander bid, kan dit ons gesindheid teenoor hulle verander. As ons vir alle Christenmetgeselle bid, help dit ons om ’n gees soos dié van Christus te ontwikkel (Joh. 13:34, 35). Maar ons moenie net vir ons broers bid nie, ons moet ook vir heilige gees bid (Luk. 11:13). God se gees sal ons help om ware Christelike eienskappe in ons handelinge met ander aan die dag te lê.—Lees Galasiërs 5:22, 23.

DRA BY TOT ’N HEILSAME GEES IN GOD SE ORGANISASIE

16, 17. Wat is jy vasbeslote om te doen met betrekking tot ‘die gees wat ons openbaar’?

16 Watter wonderlike resultate kan dit tog oplewer as elke lid van die gemeente hulle dit ten doel stel om tot die heilsame gees van die gemeente by te dra! Dalk het hierdie artikel ons laat besef dat ons in groter mate ’n opbouende gees kan openbaar. Indien wel, moet ons nie huiwer om onsself in die lig van God se Woord te laat ondersoek nie (Heb. 4:12). Paulus, wat noukeurig gelet het op sy optrede in die gemeentes, het gesê: “Ek is nie bewus van enigiets teen my nie. Tog bewys dit nie dat ek regverdig is nie, maar hy wat my ondersoek, is Jehovah.”—1 Kor. 4:4.

17 Wanneer ons onsself of ons posisie nie te ernstig opneem nie en daarna streef om in ooreenstemming met die wysheid van bo op te tree, sal ons tot ’n heilsame gees in die gemeente bydra. As ons ’n vergewensgesinde gees openbaar en positief oor ander is, sal ons vreedsame verhoudings met medeaanbidders geniet (Fil. 4:8). As ons hierdie dinge doen, kan ons die vertroue hê dat ‘die gees wat ons openbaar’ Jehovah en Jesus sal behaag.—Filem. 25.