Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 ’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Alhazen

Alhazen

HET jy al ooit gehoor van Abū ‘Alī al-Ḥasan ibn al-Haytham? Waarskynlik nie. In die weste staan hy bekend as Alhazen, ’n Latynse vorm van sy Arabiese naam, al-Ḥasan. Hy is beskryf as “een van die belangrikste en invloedrykste persone in die geskiedenis van die wetenskap”. En die kanse is groot dat jy vandag nog by sy lewenswerk baat vind.

Alhazen is in ongeveer 965 HJ in Basra gebore, wat tans in Irak geleë is. Sy belangstellings het sterrekunde, chemie, wiskunde, medisyne, musiek, optika, fisika en digkuns ingesluit. Waarvoor is Alhazen veral bekend?

’N DAM IN DIE NYLRIVIER

Daar word gesê dat Alhazen ’n plan uitgewerk het om die vloei van die Nylrivier te beheer. Die projek is eers omtrent 1 000 jaar later, in 1902, in Aswan uitgevoer.

Volgens party het Alhazen groot planne gemaak om die gevolge van droogtes en vloede in Egipte te verlig deur die Nylrivier op te dam. Toe Kaïro se heerser, die kalief al-Hakim, daarvan hoor, het hy Alhazen na Egipte genooi om die dam te bou. Maar toe Alhazen die rivier met sy eie oë sien, het hy besef dat die projek bo sy vuurmaakplek is. Alhazen het toe voorgegee dat hy mal is omdat hy bang was dat die kalief, wat ’n reputasie gehad het as ’n onredelike persoon, hom sou straf. Hy het dit gedoen totdat die kalief 11 jaar later in 1021 dood is. Gedurende hierdie tyd was Alhazen in aanhouding gewees, en hy het toe baie tyd gehad om aandag te skenk aan sy ander belangstellings.

ALHAZEN SE SKRYFWERK

Teen die tyd dat Alhazen vrygelaat is, het hy die grootste deel van sy sewedelige boek geskryf wat bekend staan as die Book of Optics. Dit word beskou as “een van die belangrikste boeke in die geskiedenis van die fisika”. In sy boek bespreek hy eksperimente wat gedoen is met lig—hoe lig in verskillende kleure verdeel, van spieëls af weerkaats en buig wanneer dit deur iets beweeg. Hy het ook visuele waarneming gestudeer  sowel as die anatomie en funksies van die oog.

Teen die 1200’s is Alhazen se werk van Arabies in Latyns vertaal en vir eeue daarna het Europese geleerdes dit as ’n gesaghebbende bron aangehaal. Alhazen se skryfwerk oor die kenmerke van lense het Europese vervaardigers van brille gehelp om die teleskoop en mikroskoop te ontwerp deur een lens voor die ander te plaas.

DIE CAMERA OBSCURA

Alhazen het die beginsels agter fotografie geïdentifiseer toe hy die eerste opgetekende camera obscura gebou het. Dit was ’n “donker kamer” met ’n klein gaatjie so groot soos ’n speldekop waardeur lig geskyn het. ’n Omgekeerde beeld van wat buite is, kon dan binne die kamer teen ’n muur gesien word.

Alhazen het heel moontlik die eerste camera obscura gebou

In die 1800’s is fotografiese plate by die camera obscura bygevoeg om beelde permanent vas te lê. Wat was die resultaat? Die kamera. Alle moderne kameras, en natuurlik die oog self, gebruik dieselfde beginsels as die camera obscura. *

DIE WETENSKAPLIKE METODE

Wat veral uitstaan oor Alhazen se werk, is hoe noukeurig en sistematies hy navorsing gedoen het oor dinge wat in die natuur voorkom. Die manier hoe hy dinge gedoen het, was ongewoon vir sy dag. Hy was een van die eerste navorsers wat teorieë deur middel van eksperimente getoets het. Hy was ook nie bang om vrae te vra oor idees wat mense oor die algemeen aanvaar het nie, veral wanneer dit nie deur bewyse ondersteun is nie.

’n Beginsel van die moderne wetenskap kan opgesom word deur die volgende stelling: “Bewys wat jy glo!” Party beskou Alhazen as “die vader van die moderne wetenskaplike metode”. Om hierdie rede het ons baie waarvoor ons hom kan bedank.

^ par. 13 Mense in die weste het nie die ooreenkomste tussen die camera obscura en die oog goed verstaan nie. Dit was eers in die 17de eeu dat Johannes Kepler dit verduidelik het.