Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Stiptelikheid

Stiptelikheid

Baie mense wat stiptelikheid waardeer, sukkel self om stiptelik, of betyds, te wees. Die Bybel voorsien praktiese wysheid wat met hierdie onderwerp verband hou.

Hoe belangrik is dit om betyds te wees?

WAAROM DIT SAAK MAAK

Party het gevind dat dit minder stresvol is as hulle ’n paar minute vroeër vir afsprake opdaag. Stiptelikheid gee iemand ook ’n goeie reputasie. Hoe so?

Dit toon dat jy georganiseerd is. Wanneer jy betyds is, toon dit dat jy in beheer van jou lewe probeer wees en nie toelaat dat omstandighede keer dat jy die dinge doen wat jy wil doen nie.

Dit toon dat jy betroubaar is. Ons is deel van ’n gemeenskap waar beloftes dikwels verbreek word en verpligtinge nie nagekom word nie. Mense wat betroubaar is en hulle woord hou, word deur hulle familie en vriende gerespekteer en waardeer. En werkgewers waardeer dit wanneer werkers betyds is vir werk en sperdatums haal. Betroubare werkers kan selfs met ’n groter salaris en meer verantwoordelikheid beloon word.

WAT DIE BYBEL SÊ

Daar is verse in die Bybel wat met stiptelikheid verband hou. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Korintiërs 14:40). Wanneer twee mense afspreek om op ’n spesifieke tyd en plek te ontmoet, is dit net goeie maniere om betyds te wees. Die Bybel sê ook: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel” (Prediker 3:1). Die konteks van hierdie vers sê dat daar “’n tyd [is] om te plant en ’n tyd [is] om uit te trek wat geplant is” (Prediker 3:2). Boere wag vir die regte tyd om te plant sodat hulle die beste oeste kan kry. Met ander woorde, omdat die boer betyds plant, lewer dit goeie resultate.

Die Bybel toon dat daar selfs ’n belangriker rede is om betyds te wees: Dit toon dat jy ander en hulle kosbare tyd respekteer (Filippense 2:3, 4). In teenstelling hiermee kan dit beteken dat diegene wat ander heeltyd laat wag, eintlik hulle tyd steel.

[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.”Filippense 2:4.

 Hoe kan jy betyds wees?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel spoor ons aan om vooruit te beplan (Spreuke 21:5). As jy gereeld laat is vir afsprake, is jou program dalk te vol. Miskien kan jy ophou om onnodige dinge te doen wat jou tyd mors. Sorg dat jy genoeg tyd toelaat tussen afsprake en probeer om vroeg daar te wees. Dan sal jy meer tyd hê as iets onverwags opduik, soos verkeersknope en slegte weer.

Die Bybel spoor ons ook aan om beskeie te wees (Spreuke 11:2). Dit beteken dat jy moet weet wat jou beperkings is. Voordat jy jou tot ’n afspraak of ’n sperdatum verbind, moet jy eers vasstel of jy dit sal kan nakom. Wanneer jy meer aanpak as waarvoor jy tyd het, lei dit net tot stres en frustrasie—vir jouself en vir ander!

Die Bybel sê verder dat ons ons tyd op die beste manier moet gebruik (Efesiërs 5:15, 16). Doen die belangrikste dinge eerste (Filippense 1:10). Wanneer jy byvoorbeeld openbare vervoer gebruik of vir ander wag, kan jy die tyd gebruik om te lees of om die res van jou dag te beplan.

“Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.”Spreuke 21:5.