Spring na inhoud

Spring na sekondêre kieslys

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Afrikaans

Ontwaak!  |  Nr. 5 2017

 VOORBLADONDERWERP

Wanneer ’n ramp tref—Hoe lewens gered kan word

Wanneer ’n ramp tref—Hoe lewens gered kan word

“’n Baie harde ontploffing het my amper op die grond neergegooi. Rook het by die luggate uitgekom en ons hoë kantoorgebou het in vlamme uitgebars.”—Joshua.

Aardbewing . . . orkaan . . . terroriste-aanval . . . skoolskietery. Hierdie opskrifte verskyn te gereeld in die nuus. Dit is natuurlik een ding om oor ’n ramp te lees, maar dit is iets heel anders om dit self deur te maak. Wat kan jy voor, gedurende en ’n ramp doen om jou kanse op oorlewing te verbeter?

 VOOR ’N RAMP—BEREI VOOR!

NIEMAND is immuun teen rampe nie. Goeie voorbereiding is baie belangrik vir oorlewing. Maar wat behels hierdie voorbereiding?

  • Berei jou verstand voor. Aanvaar die feit dat rampe wel plaasvind en dat jy en jou geliefdes daardeur geraak kan word. Dit is te laat om voor te berei nadat ’n ramp getref het.

  • Vind meer uit oor rampe wat in jou gebied kan plaasvind. Jy moet ook weet waar daar plekke van veiligheid is. Vra jou af: ‘Is my huis op ’n veilige manier en plek gebou?’ Raak ontslae van dinge wat ’n brand kan veroorsaak. Installeer rookalarms en vervang die batterye daarvan ten minste een keer per jaar.

  • Hou noodvoorraad gereed. Daar sal dalk nie toegang wees tot krag, water, telefone en publieke vervoer nie. As jy ’n kar het, moet jy probeer om die brandstoftenk altyd halfvol te hou. Jy moet ook kos, water en ’n grypsak in jou huis hê.—Sien die venster “ Het jy alles wat jy nodig het?

    Voorbereiding is die belangrikste stap vir jou oorlewing

  • Sorg dat jy die foonnommers het van jou vriende wat naby sowel as ver woon.

  • Maak ’n wegkom-plan en memoriseer dit. Jy moet weet waar die naaste uitgange van jou gebou is en wat die noodplan by jou kinders se skool is. Besluit waar jou gesin se versamelpunt sal wees, soos ’n skool of ’n parkie. Kies een wat naby is sowel as een wat nie in jou buurt is nie. Kenners beveel aan dat gesinne oefensessies hou deur saam na die versamelpunte te stap.

  • Dink aan hoe jy ander kan help, insluitende die bejaardes en die siekes.

GEDURENDE ’N RAMP—TREE VINNIG OP

“Toe die brand uitbreek, het die meeste mense maar net aangegaan met dit waarmee hulle besig was”, sê Joshua, wat vroeër aangehaal is. “Party het hulle waterbottels volgemaak of hulle rekenaars afgesit. Een man het selfs gesê: ‘Miskien moet ons net wag.’” Alhoewel ander nie vinnig opgetree  het nie, het Joshua geskree: “Komaan, ons moet hier uitkom!” Sy kollegas het toe wakker geskrik en saam met hom by die trappe afgegaan. Joshua het die hele tyd uitgeroep: “As iemand val, tel hom op en hou aan beweeg. Ons gaan almal hier uitkom!”

  • Wanneer daar ’n brand is. Bly na aan die vloer en beweeg vinnig na die naaste uitgang. Hoekom? Rook maak dit moeilik om te sien, en wanneer mense tydens ’n brand sterf, is dit gewoonlik omdat hulle rook ingeasem het. Moenie teruggaan om jou persoonlike besittings te gaan haal nie. ’n Paar sekondes kan die verskil tussen lewe en dood beteken.

  • Wanneer daar ’n aardbewing is. Skuil onder stewige meubels of langs ’n binnemuur. Kom so gou as moontlik buite en weg van geboue, want soms is daar kleiner skokke wat volg. Opgeleide reddingswerkers mag dalk eers ure later opdaag. Probeer dus om ander mense te red.

  • Wanneer daar ’n tsoenami is. As die see skielik van die strand af terugtrek, moet jy vinnig by hoër grond uitkom. Die golwe wat terugkom, sal vinniger en groter wees.

  • Wanneer daar ’n tornado of orkaan is. Gaan dadelik na ’n veilige plek, soos ’n ondergrondse verdieping.

  • Wanneer daar ’n vloed is. Bly weg van geboue wat oorstroom is. Moenie deur vloedwater loop of daardeur ry nie. Daar kan riool en versteekte gevare in vloedwater wees, soos goed wat ronddryf, oop inspeksiegate en kragdrade.

  • Het jy geweet? Vloeiende water wat 60 sentimeter diep is, kan ’n kar wegspoel. Die meeste mense wat in ’n vloed sterf, is dié wat probeer om deur vloeiende water te ry.

  • Wanneer die regering vir almal sê om te ontruim, doen dit dadelik! Sê vir jou vriende waar jy is, anders sal hulle dalk hulle lewe in gevaar stel om na jou te soek.

    As die regering sê om te ontruim, doen dit dadelik

  • Het jy geweet? Teksboodskappe sal dalk beter werk as telefoonoproepe.

  • Wanneer die regering inwoners beveel om in die huis of die gebou waar hulle is te bly, moet jy binne bly. As daar ’n chemiese, biologiese of kernongeluk of -aanval is, bly binne. Sit die lugversorging af en maak alle deure en vensters dig toe. As daar ’n kernontploffing is, moet jy na die diepste deel onder in jou gebou gaan om van die straling weg te kom. Luister na die plaaslike nuus op die televisie of radio. Bly binne totdat die regering aankondig dat die gevaar verby is.

 NÁ ’N RAMP—BLY VEILIG!

Kyk na die volgende voorstelle om siektes en gevare te vermy:

  • Bly liewer by vriende as dit moontlik is, en nie in ’n kamp nie.

  • Hou jou leefruimte skoon.

  • Gebruik beskermende toerusting tydens opruimingswerk. Dra handskoene, ’n hardehoed, stewige skoene en ’n stofmasker, indien moontlik. Pasop vir elektriese drade en dinge onder die rommel wat jou kan brand.

  • Hou jou daaglikse roetine so normaal as moontlik. Jou kinders moet kan sien dat jy kalm en positief is. Speel met hulle, hou skool en volg ’n geestelike program as ’n gesin. Moenie jou die hele tyd bekommer oor wat jy in die nuus hoor nie. En moenie jou vrese en frustrasies op jou gesin uithaal nie. Aanvaar hulp, en help ander.

    Ná ’n ramp moet jy jou roetine so normaal as moontlik hou

  • Aanvaar dat jy dinge gaan verloor. Die regering en ander reddingswerkers is daar om mense te help om aan die lewe te bly. Hulle is nie daar om alles te vervang wat jy verloor het nie. Om te oorleef het jy skoon water, kos, klere en skuiling teen wind en weer nodig.—1 Timoteus 6:7, 8.

  • Die ramp sal ’n emosionele uitwerking op jou hê; kry hulp. Jy besef dit eers wanneer jy oor die aanvanklike skok kom. Jy voel dalk angstig of hartseer. Moontlik sukkel jy om jou emosies te beheer, te dink, te werk en te slaap. Gesels met vriende wat vir jou omgee.

Joshua het die brand by sy werk oorleef, maar baie van sy kollegas het nie. Hy het hulp gekry by Christenherders sowel as by sielkundiges. Joshua het gesê: “Hulle het my help besef dat my hartseer deel is van die normale herstelproses en dat dit sal verbygaan. Ná ses maande het my nagmerries minder geraak. Van die ander simptome het langer geduur.”

Rampe ontstel ons omdat onskuldige mense daaronder ly. Daarom maak sommige mense die fout om God te blameer. Net soos Joshua, voel baie mense skuldig omdat hulle die ramp oorleef het. Hy sê: “Ek wonder baie keer of ek nie meer mense kon gered het nie. Dit vertroos my om te weet dat God binnekort regverdigheid oor die hele aarde sal bring en alles sal regstel. Intussen waardeer ek elke dag van die lewe, en ek doen wat ek kan om respek daarvoor te toon.”—Openbaring 21:4, 5. *

^ par. 33 Vir meer inligting oor God se beloftes vir die toekoms en hoekom hy lyding toelaat, sien die boek Wat leer die Bybel werklik? Dit kan afgelaai word by www.jw.org/af.