Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP | KOM DIE BYBEL REGTIG VAN GOD AF?

Die Bybel—Altyd akkuraat

Die Bybel—Altyd akkuraat

Wetenskaplik akkuraat

ALHOEWEL die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, is dit akkuraat wanneer dit oor die natuur praat. Kom ons kyk na voorbeelde uit die weerkunde en genetika.

WEERKUNDE—HOE REËN GEVORM WORD

WEERKUNDE

Die Bybel sê: “[God] trek die waterdruppels op; hulle sypel deur as reën vir sy mis [of, kondenseer], sodat die wolke drup.”—Job 36:27, 28.

Hier beskryf die Bybel die drie basiese stappe van die waterkringloop. God—die Bron van die son se hitte—“trek die waterdruppels op” deur middel van (1) verdamping. Die waterdamp in die lug vorm dan wolke deur (2) kondensasie wat dit dan laat (3) reën. Weerkundiges verstaan nog steeds nie presies hoe die wonderlike proses van reën werk nie. Daarom vra die Bybel: “Wie kan die wolklae verstaan?” (Job 36:29). Maar die Skepper verstaan wel die waterkringloop en het seker gemaak dat die Bybelskrywer die proses akkuraat beskryf. En hy het dit gedoen nog lank voordat mense selfs die basiese stappe van die proses wetenskaplik kon verduidelik.

GENETIKA—HOE DIE MENSLIKE EMBRIO ONTWIKKEL

GENETIKA

Die Bybelskrywer koning Dawid het vir God gesê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe” (Psalm 139:16). In hierdie lied beskryf Dawid hoe ’n embrio ontwikkel volgens die riglyne wat reeds in ’n “boek” of plan neergeskryf is. Dit is moeilik om te glo dat hierdie woorde omtrent 3 000 jaar terug geskryf is!

Dit is eers in ongeveer 1860 dat die Oostenrykse plantkundige Gregor Mendel die basiese beginsels van genetika ontdek het. En navorsers het eers in April 2003 vasgestel wat die volgorde is van die menslike genoom, wat al die genetiese inligting bevat om ’n menslike liggaam te vorm. Wetenskaplikes het die chemiese kode van die gene al beskryf as ’n woordeboek vol inligting. Die woorde daarin vorm genetiese instruksies. Op grond van hierdie instruksies ontwikkel die verskillende dele van die embrio—soos die brein, die hart, die longe en die ledemate—in presies die regte volgorde en op die regte tyd. Dit is geen wonder dat wetenskaplikes die genoom al as die “boek van die lewe” beskryf het nie. Hoe kon die Bybelskrywer Dawid dit so akkuraat beskryf? Hy het nederig erken: “Die gees van Jehovah het deur my gespreek, en sy woord was op my tong.” *2 Samuel 23:2.

 Voorspel die toekoms akkuraat

DIT is baie moeilik—miskien selfs onmoontlik—om te weet wanneer en presies hoe regerings en stede opgerig en vernietig sal word. Tog het die Bybel die vernietiging van magtige heerskappye en stede tot in die fynste detail voorspel. Kom ons kyk na net twee voorbeelde.

DIE VAL EN VERNIETIGING VAN BABILON

Eertydse Babilon was die belangrikste stad van ’n magtige ryk wat Wes-Asië eeue lank beïnvloed het. Op een stadium was dit die grootste stad in die wêreld. Tog het God die Bybelskrywer Jesaja geïnspireer om 200 jaar vooruit te voorspel dat Kores Babilon tot ’n val sou bring en dat dit nooit weer bewoon sou word nie (Jesaja 13:17-20; 44:27, 28; 45:1, 2). Het dit toe so gebeur?

GESKIEDENIS

In een nag, in Oktober 539 VHJ, is Babilon deur Kores die Grote verower. Die kanale waaruit die vrugbare omgewing besproei is, is verwaarloos en het later opgedroog. Teen 200 HJ het daar blykbaar niemand meer in die stad gewoon nie. Vandag is Babilon nog steeds verlate. Net soos die Bybel voorspel het, het Babilon “’n verlate woesteny” geword.—Jeremia 50:13.

Hoe kon die Bybelskrywer hierdie gebeure so akkuraat voorspel? Die Bybel verduidelik dat dit “die uitspraak [was] teen Babilon wat Jesaja, die seun van Amos, in ’n visioen gesien het”.—Jesaja 13:1.

NINEVE—“’N WATERLOSE STREEK SOOS DIE WILDERNIS”

Nineve, die hoofstad van die Assiriese Ryk, was bekend vir sy mooi geboue. Die stad het gespog met breë strate, openbare tuine, tempels en massiewe paleise. Maar die profeet Sefanja het voorspel dat hierdie pragtige stad “’n verlate woesteny . . . , ’n waterlose streek soos die wildernis” sou word.—Sefanja 2:13-15.

Ongeveer 630 VHJ is Nineve heeltemal vernietig deur die gesamentlike magte van die Babiloniërs en die Mede. Volgens een bron is daar “vir 2 500 jaar heeltemal vergeet” van die vernietigde stad. Mense het ’n tyd lank selfs getwyfel of Nineve ooit bestaan het! Argeoloë het eers in omtrent 1850 Nineve se ruïnes opgegrawe. Dit wat van die stad oorgebly het, is nou verwaarloos en word deur vandalisme beskadig. Daarom waarsku die Wêrelderfenisfonds: “Nineve se ruïnes kan hierdie keer dalk vir ewig verlore raak.”

Hoe het Sefanja so lank voor die tyd hiervan geweet? Hy het erken dit is “die woord van Jehovah wat [tot hom] gekom het”.—Sefanja 1:1.

 Die Bybel beantwoord die belangrikste vrae in die lewe

DIE Bybel gee bevredigende antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe. Kom ons kyk na die volgende voorbeelde:

HOEKOM GEBEUR DAAR SOVEEL SLEGTE DINGE EN KRY MENSE SO SWAAR?

Die Skrif praat baie oor hierdie onderwerp. Dit verduidelik:

  1. “Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel.”Prediker 8:9.

    Onbekwame en korrupte regerings veroorsaak dat mense baie swaar kry.

  2. “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.”Prediker 9:11.

    Enigiemand kan onverwags op enige tyd of plek deur ernstige siekte, ongelukke of rampe getref word.

  3. “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde.”Romeine 5:12.

    Aan die begin, toe die man en vrou geskep is, het onvolmaaktheid en die dood nie bestaan nie. Die sonde het “in die wêreld ingekom” toe hulle opsetlik ongehoorsaam aan hulle Skepper was.

Die Bybel doen meer as om net te sê hoekom mense swaar kry. Dit belowe God sal ’n einde maak aan slegte dinge en “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:3, 4.

WAT GEBEUR MET ONS WANNEER ONS STERF?

Die Bybel verduidelik dat ’n persoon wat sterf van niks bewus is en niks kan doen nie. “Want die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf,” sê Prediker 9:5, “maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.” Wanneer iemand sterf, “vergaan sy gedagtes” (Psalm 146:4). Dit beteken dat alle breinaktiwiteit ophou by die dood. Ons sintuie werk dan nie meer nie. Daarom kan ons niks doen, voel of dink wanneer ons dood is nie.

Maar die Bybel gaan verder as om net die toestand van die dooies te beskryf. Dit gee vir ons die wonderlike belofte dat diegene wat gesterf het, opgewek sal word; net soos wat iemand uit ’n diep slaap wakker gemaak word.—Hosea 13:14; Johannes 11:11-14.

WAT IS DIE DOEL VAN DIE LEWE?

Die Bybel sê dat Jehovah God die man en vrou gemaak het (Genesis 1:27). Daarom word die eerste man, Adam, ’n “seun van God” genoem (Lukas 3:38). God het  die mens met ’n doel gemaak—om ’n vriendskap met hulle hemelse Vader te hê, om gelukkig te wees en vir ewig op die aarde te lewe. En dit is hoekom God alle mense die natuurlike begeerte gegee het om van hom te wil leer. Hierdie gawe van God word ons “geestelike behoefte” genoem. Die Bybel sê met goeie rede: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

Wat meer is, die Bybel sê: “Gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” (Lukas 11:28). Die Bybel help ons nie net om van God te leer nie. Dit help ons ook om nou gelukkig te wees en gee ons hoop vir die toekoms.

God, die Bybel en jy

NADAT miljoene mense van regoor die wêreld die feite ondersoek het, het hulle tot die slotsom gekom dat die Bybel meer is as net ’n ou boek. Hulle is daarvan oortuig dat dit God se geïnspireerde Woord is, en dat dit God se manier is om met die mens te kommunikeer—en met jou! In die Bybel nooi God jou uit om hom te leer ken en sy vriend te word. “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”, belowe die Bybel.—Jakobus 4:8.

As ons die Bybel begin studeer, sal ons ’n kosbare skat ontdek. Wat is dit? Wanneer ons ’n boek lees, leer ken ons die skrywer daarvan beter. En wanneer ons die Bybel lees, leer ken ons God se gedagtes en gevoelens beter, omdat hy eintlik die skrywer daarvan is. Dink net aan wat dit vir jou kan beteken. Jy kan leer hoe jou Skepper dink en voel! Die Bybel leer ons ook:

Wil jy graag meer hieroor uitvind? Jehovah se Getuies sal bly wees om jou te help. Hulle sal die Bybel gratis met jou studeer. En dit sal jou help om al hoe nader te kom aan die Een wat die Bybel geïnspireer het—Jehovah God.

Hierdie artikel het na ’n paar van die feite gekyk wat bewys dat die Bybel van God af kom. Vir meer inligting, sien hoofstuk 2 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies en beskikbaar by www.jw.org/af

Jy kan ook kyk na die video Wie is die Outeur van die Bybel?, beskikbaar by www.jw.org/af

Kyk onder PUBLIKASIES > VIDEO’S

^ par. 10 Die Bybel leer dat God se persoonlike naam Jehovah is.—Psalm 83:18.