Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DIE PAD VAN GELUK

Hoop

Hoop

“[Ek het] gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee.” — Jeremia 29:11.

 “ONS ALMAL HET HOOP NODIG. En dit is die beste medisyne vir gevoelens van hulpeloosheid, eensaamheid en vrees”, sê die boek Hope in the Age of Anxiety.

Die Bybel wys ook dat ons hoop nodig het, maar dit waarsku ons teen valse hoop. Psalm 146:3 sê: “Moenie julle vertroue in edeles (of, prinse) stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie.” In plaas daarvan dat ons mense vertrou om ons te red, moet ons eerder ons Skepper vertrou. Hy het die krag om alles te doen wat hy belowe. Wat het hy ons belowe? Kyk na die volgende:

SLEGTE DINGE SAL OPHOU EN GOEIE MENSE SAL VIR EWIG VREDE HÊ: “En nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”, sê Psalm 37:10, 11. En vers 29 sê dat “die regverdiges . . . vir ewig” op die aarde sal lewe.

OORLOG SAL OPHOU: “Jehovah . . . laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.” — Psalm 46:8, 9.

NIEMAND SAL MEER SIEK WORD, SWAARKRY OF DOODGAAN NIE: God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.” — Openbaring 21:3, 4.

GENOEG KOS VIR ALMAL: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” — Psalm 72:16.

NET EEN REGVERDIGE REGERING VIR DIE HELE WÊRELD — CHRISTUS SE KONINKRYK: “Aan [Jesus Christus] is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien. Sy heerskappy is ’n heerskappy van onbepaalde duur wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” — Daniël 7:14.

Hoe kan ons seker wees dat hierdie beloftes waar sal word? Toe Jesus op aarde was, het hy gewys dat hy kwalifiseer om as Koning te regeer. Hy het siekes gesond gemaak, armes kos gegee en die dooies opgewek. Maar nog belangriker, hy het ander geleer wat hulle moet doen om vir ewig in vrede en eenheid saam te lewe. Jesus het ook voorspel wat in die toekoms gaan gebeur en wat die tekens van hierdie wêreld se laaste dae sal wees.

DIE STORM VOOR DIE STILTE

Wat het Jesus voorspel sal in die laaste dae gebeur? Hy het gesê dat daar aan die einde van hierdie “stelsel van dinge” nie vrede en veiligheid sal wees nie, maar presies die teenoorgestelde! Daar sal dinge wees soos oorlog, voedseltekorte, pessiektes en groot aardbewings (Matteus 24:3, 7; Lukas 21:10, 11; Openbaring 6:3-8). Jesus het ook gesê dat daar al hoe meer “wetteloosheid” (of, slegtheid) sal wees, en daarom “sal die liefde van die meeste verkoel”. — Matteus 24:12.

Ons kan op baie maniere sien dat mense se liefde verkoel het, soos een Bybelskrywer voorspel het. In 2 Timoteus 3:1-5 lees ons dat mense “in die laaste dae” te lief vir hulleself, geld en plesier sal wees. Hulle sal trots en wreed wees. Families sal nie meer vir mekaar omgee nie en kinders sal nie vir hulle ouers luister nie. Mense sal skynheilig wees en maak asof hulle God dien.

Die slegte dinge wat nou in die wêreld gebeur, kan met ’n storm vergelyk word. Ons lewe nou in die laaste dae van hierdie storm. En die stilte wat God se Koninkryk (of, regering) sal bring, is om die draai. Daarom het Jesus ons ook in sy profesie oor die laaste dae verseker: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” — Matteus 24:14.

Hierdie goeie nuus is ’n waarskuwing vir mense wat verkeerde dinge doen. Maar dit gee hoop aan dié wat goeie dinge doen en verseker hulle dat God se beloftes vir ’n beter toekoms waar sal word. Wil jy graag meer oor hierdie beloftes uitvind? Kyk dan na die agterkant van hierdie tydskrif.