Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die walvisse is hier!

Die walvisse is hier!

Elke jaar, aan die begin van Julie, besoek suidelike noordkapperkoeie (Eubalaena australis) die suidelike kus van Santa Catarina, Brasilië. Hulle swem duisende kilometers, van so ver as die Suidpoolgebied af, om geboorte te kom gee en hulle kalfies in die vlak water te soog. Inwoners en toeriste op die strande en kranse geniet dit maande lank om die walvisse dop te hou—ma’s en hulle kalfies wat rus of in die water baljaar! *

Akrobatiese reuse van die see

’n Walviskoei kan 16 meter lank word, ongeveer die grootte van ’n verlengde bus, en kan tot 80 ton weeg! Die massiewe lyf is gewoonlik swart, en daar is soms wit kolle op die maag. Die kop is massief, ’n kwart van die hele liggaamslengte. Die bek is lank en boogvormig, en anders as party walvisspesies het hulle nie ’n rugvin nie. Hulle swem vorentoe deur hulle breë, V-vormige stert op en af te beweeg, nie van kant tot kant soos visse nie. Hulle gebruik hulle vinne om van rigting te verander, amper soos ’n vliegtuig van rigting verander.

Hoewel noordkappers so groot is, is hulle baie soepel en kan hulle verstommende toertjies doen. ’n Mens kan sien hoe hulle seil deur hulle stert vir lang tye in die lug hou, hoe hulle die water hard met hulle stert slaan en hoe hulle uit die water opspring en dan met ’n groot geplons, wat van ver af sigbaar is, in die water terugval.

Hoe kan jy hulle uitken?

Op en om die noordkapper se kop is daar witterige of gelerige eelte—skurwe kolle op die vel wat bedek is met kolonies van klein skaaldiertjies (Cyamidae), wat walvisluise genoem word. Karina Groch,  die koördineerder van die Brasiliaanse Noordkapperprojek, verduidelik: “Die patroon wat die eelte vorm, is uniek, net soos elke mens se vingerafdrukke uniek is, en dit maak dit moontlik om individuele noordkappers te identifiseer. Ons neem foto’s van die eeltpatrone op die walvisse wanneer hulle ons kus besoek en ons hou hierdie foto’s op rekord.”

Volgens bioloë is dit moeilik om te sê hoe oud ’n noordkapper is wanneer hy doodgaan omdat hierdie walvisspesie nie tande het nie. Daar word geskat dat ’n walvis se verwagte lewensduur gemiddeld 65 jaar is. *

Vreemde eetgewoontes

Noordkappers eet klein skaaldiertjies. Aan weerskante van die walvis se bokaak is daar ’n filtreerstelsel wat bestaan uit honderde baleinplate met fyn haartjies op die rante. Terwyl hulle swem, word die water deur die baleinplate in hulle oop mond gefiltreer en word die piepklein prooi in die baleinhaartjies gevang. Sodoende kan elke walvis tot twee ton skaaldiertjies per dag verorber.

Suidelike noordkappers bring die somer (Januarie/Februarie) deur in die Suidpoolsee, waar hulle walvisspek opbou. Dit is ’n dik laag vet wat hulle warm hou wanneer hulle in koue water is, en dit dien ook as reserwevoedsel wanneer hulle migreer.

Hoe het hulle hulle naam gekry?

Vanaf die 18de eeu het walvisjagters hierdie walvisse op groot skaal in die Suidelike Halfrond gejag. In Engels word die suidelike noordkapper die southern right whale genoem omdat hulle beskou is as die “regte” walvisse om te jag. Waarom? Hulle swem stadig, en daarom was dit maklik om hulle te vang, selfs vir walvisjagters in klein houtbootjies wat net met handharpoene toegerus was. En anders as ander walvisse, dryf noordkappers wanneer hulle dood is omdat hulle sulke dik speklae het. Walvisjagters kon hulle dus maklik na die strand toe sleep.

En destyds was walvisspek en balein belangrike handelsprodukte. Walvisspek is in oliestraatlampe en as smeermiddel gebruik. Balein is gebruik om produkte soos korsette, sambrele en swepe te vervaardig. Trouens, die baleinplate van net een walvis kon die onkoste van ’n hele ekspedisie gedek!

In die vroeë 20ste eeu is noordkappers byna uitgejag, en op die ou end was walvisjag nie meer winsgewend nie. In Brasilië is die laaste walvisstasie in 1973 gesluit. Hoewel die getalle van sommige spesies weer stadig maar seker toeneem, is ander nog steeds kritiek bedreig.

Die noordkapper is beslis ’n uitstekende voorbeeld van die kompleksiteit en groot verskeidenheid van lewe op aarde. Dit getuig van die verstommende wysheid en krag van die een wat dit geskep het, die Groot Ontwerper, Jehovah God.Psalm 148:7.

^ par. 2 Ander teelwaters is die kusgebiede van Argentinië, Australië, Suid-Afrika en Uruguay asook die Auckland-eilande.

^ par. 8 Wetenskaplikes het drie verskillende walvisspesies as noordkappers geklassifiseer. Behalwe die Eubalaena australis in die Suidelike Halfrond, is daar die Eubalaena glacialis en die Eubalaena japonica in die Noordelike Halfrond.