Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP

Drie vrae wat mense God graag wil vra

Drie vrae wat mense God graag wil vra

SUSAN het op sewejarige ouderdom vrae oor God begin vra, toe haar negejarige vriend Al as gevolg van polio in die hospitaal opgeneem is en in ’n ysterlong geplaas is. Haar ondervinding is in The New York Times van 6 Januarie 2013 opgeteken.

Nadat Susan Al in die hospitaal besoek het, het sy haar ma gevra: “Waarom het God dit aan ’n klein seuntjie gedoen?”

Haar ma het geantwoord: “Die priester sal sê dat God sy redes hiervoor het, maar ek weet nie wat dit kan wees nie.”

Toe Jonas Salk se entstof teen polio twee jaar later, in 1954, beskikbaar geword het, het Susan se ma gesê dat God moontlik sy navorsing gerig het. “Wel, God moes die dokters lankal gerig het.

Dan sou dit nie vir Al nodig gewees het om in ’n ysterlong te wees nie”, het Susan geantwoord.

Susan het haar ondervinding as ’n kind opgesom en geskryf: “[Al] het agt jaar later gesterf, en teen daardie tyd het ek glad nie meer in God geglo nie.”

Soos Susan, kan baie mense wat as gevolg van ’n tragedie gely het of dit gesien het, nie bevredigende antwoorde op hulle vrae oor God vind nie. Party word ateïste. Ander ontken dalk nie heeltemal dat God bestaan nie, maar hulle word skepties.

Dit is nie asof ateïste en skeptici niks omtrent godsdiens weet nie. Dit is reeds hulle ondervinding met godsdiens wat hulle gewoonlik hulle geloof in God laat verloor. Hulle voel dalk dat georganiseerde godsdiens nie die moeilike vrae oor die lewe kan beantwoord nie. Watter soort vrae? Ironies genoeg is dit gewoonlik dieselfde soort vrae waaroor mense wonder wat sê dat hulle in God glo. Kyk na drie vrae wat baie mense God graag sou wou vra, as hulle kon. Kyk ook na die antwoorde wat die Bybel.

 1 “WAAROM LAAT U LYDING TOE?”

Waarom mense hierdie vraag vra?

’n Liefdevolle God sal nie toelaat dat tragedies plaasvind nie’, dink baie mense.

IETS OM OOR TE DINK: Ons dink dalk dat die gewoontes en gebruike van mense van ’n ander kultuur vreemd is—selfs skokkend. Ons kan hulle optrede maklik misverstaan. Byvoorbeeld, in een kultuur is dit ’n teken van opregtheid as ’n mens oogkontak behou; in ’n ander kultuur is dit ’n teken dat jy nie respekvol is nie. Maar selfs in sulke gevalle is daar geen rede om te sê dat een kultuur verkeerd is nie. Dalk moet ons net die mense van daardie kultuur beter leer ken.

Kan iets soortgelyks gebeur wanneer dit by God kom? Baie mense glo dat die lyding in die wêreld ’n bewys is dat God nie bestaan nie. Maar ander wat geleer het waarom God lyding toelaat, is daarvan oortuig dat hy bestaan.

WAT DIE BYBEL SÊ: God se gedagtes en weë is nie dieselfde as ons s’n nie (Jesaja 55:8, 9). Daarom is sy optrede en die redes waarom hy wag voordat hy optree, miskien aan die begin vir ons vreemd.

Nogtans verwag die Bybel nie dat ons leë woorde soos “God se weë is ’n verborgenheid” moet aanvaar nie. Dit spoor ons eerder aan om meer omtrent God te leer, en dit sal ons help om te verstaan waarom en wanneer hy op ’n sekere manier optree. * Ons kom selfs nader aan hom.Jakobus 4:8.

 2 “WAAROM IS DAAR SOVEEL SKYNHEILIGHEID IN GODSDIENS?”

Waarom mense hierdie vraag vra?

‘As God opregtheid waardeer het’, redeneer party dalk, ‘sou daar nie soveel skynheiligheid gewees het onder mense wat sê dat hulle hom dien nie.’

IETS OM OOR TE DINK: Stel jou voor dat ’n seun sy pa se goeie opvoeding verwerp en die huis verlaat om ’n verdorwe lewe te lei. Hoewel die pa dit nie goedkeur nie, laat hy sy seun toe om hierdie keuse te maak. Sal dit reg wees as mense wat die seun later ontmoet, sê dat hy ’n slegte pa het of selfs geen pa het nie? Natuurlik nie! Net so bewys skynheiligheid in godsdiens eenvoudig dat God mense toelaat om hulle eie lewensweg te kies.

WAT DIE BYBEL SÊ: God haat skynheiligheid in godsdiens (Jeremia 7:29-31; 32:35). Nogtans laat hy mense toe om hulle vrye wil uit te oefen. Baie mense wat sê dat hulle in God glo, kies om mensgemaakte godsdiensleringe te volg en hulle eie sedelike standaarde te stel.Matteus 15:7-9.

In teenstelling hiermee is daar geen plek vir skynheiligheid in godsdiens wat deur God goedgekeur word nie. * Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Hierdie liefde moet “sonder huigelary” wees (Romeine 12:9). Die meeste godsdienste het nie aan hierdie standaard voldoen nie. Byvoorbeeld, gedurende die volksmoord wat in 1994 in Rwanda plaasgevind het, het tienduisende godsdienstige mense lede van hulle eie geloof vermoor, bloot omdat hulle aan ’n ander stam behoort het. In teenstelling hiermee het Jehovah se Getuies nie aan die slagting deelgeneem nie, en baie van hulle het hulle medegelowiges sowel as ander beskerm en selfs hulle eie lewe in gevaar gestel om dit te doen. Sulke onselfsugtige dade toon dat godsdiens wel vry van skynheiligheid kan wees.

 3 “WAAROM IS ONS HIER?”

Waarom mense hierdie vraag vra?

Party wonder dalk: ‘Waarom lewe mense net 80 of 90 jaar en sterf hulle dan? Wat is die doel van so ’n kort lewe?’

IETS OM OOR TE DINK: Baie mense wat nie in God glo nie, probeer nog steeds ’n verklaring vind vir die kompleksiteit en orde wat in die natuur gesien kan word. Hulle besef dat ons planeet, ander planete en die maan op net die regte manier gerangskik is om lewe op die aarde te onderhou. Hulle sê dat die natuurwette wat die heelal beheer, so volmaak ingestel is dat selfs die kleinste verandering daarin lewe op die aarde onmoontlik sou maak.

WAT DIE BYBEL SÊ: Baie mense beskou die feit dat ons lewe betreklik kort is, as ’n bewys dat daar geen God is nie, maar in die natuur is daar oorgenoeg bewyse dat daar wel ’n Skepper is (Romeine 1:20). Hy het hierdie dinge in ooreenstemming met sy voorneme geskep, en die rede vir ons bestaan hou ten nouste met sy voorneme verband. God het die mens geskep om vir ewig op die aarde te lewe, en dit is nog steeds sy voorneme.Psalm 37:11, 29; Jesaja 55:11.

Hoewel die skepping bewys lewer van God se bestaan en ons selfs party van sy eienskappe daarin kan sien, het God nie bedoel dat ons op hierdie manier omtrent sy voorneme moet uitvind nie. Ons kan nie weet wat God se voorneme is, en dus verstaan waarom ons hier is, tensy hy met ons ­kommunikeer nie. In die Bybel kommunikeer hy met ons op ’n eenvoudige en direkte manier. * Jehovah se Getuies nooi jou om met nuwe oë na die antwoorde in die Bybel te kyk.

^ par. 17 Om uit te vind waarom God lyding toelaat, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Ook beskikbaar op www.jw.org/af.

^ par. 23 Vir meer inligting, sien hoofstuk 15 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Ook beskikbaar op www.jw.org/af.

^ par. 29 Vir meer inligting, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Ook beskikbaar by www.jw.org/af.