Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 FIGURE UIT DIE VERLEDE

Joseph Priestley

Joseph Priestley

“Sy veelsydigheid, ywer, bedrywighede en menslikheid; die ontsaglike omvang van sy weetgierigheid wat alle fisiese, sedelike of maatskaplike sake betref; sy plek in die wetenskap, teologie, filosofie en politiek; sy vreemde verbintenis met die [Franse] Revolusie en die roerende verhaal van sy onverdiende lyding, maak hom moontlik die held van die agtiende eeu.”—Frederic Harrison, filosoof.

WAT het Joseph Priestley bereik wat so merkwaardig was? Sy ontdekkings en geskrifte het ’n uitwerking gehad op mense se beskouing van die rol van regering, die aard van God en selfs die lug wat ons inasem.

Hetsy Priestley oor die wetenskap of godsdiens geskryf het, hy het teorieë en tradisies verwerp ten gunste van feite en die waarheid. Kom ons kyk hoe.

SY SOEKE NA WAARHEID IN DIE WETENSKAP

Joseph Priestley het die wetenskap aanvanklik net as ’n stokperdjie beoefen, maar nadat hy die Amerikaanse wetenskaplike Benjamin Franklin in 1765 ontmoet het, het hy eksperimente met elektrisiteit begin doen. Die volgende jaar was sy medewetenskaplikes so beïndruk met sy ontdekkings dat hulle hom gekies het om lid te word van die toonaangewende Koninklike Vereniging van Londen.

Daarna het Priestley sy aandag begin wy aan skeikunde. Binne ’n kort tydjie het hy ’n paar nuwe gasse ontdek, waaronder ammoniak en distikstofmonoksied (laggas). Hy het selfs koolstofdioksied in water gepers, en sodoende sodawater uitgevind.

In 1774, terwyl Priestley in die suide van Engeland eksperimente gedoen het, het hy ’n merkwaardige gas geïsoleer wat kerse helderder laat brand het. Later het hy 60 milliliter van hierdie gas saam met ’n muis onder ’n  glas gesit. Die muis het twee keer langer aan die lewe gebly as wat hy sou onder ’n glas vol gewone lug! Priestley het self van die gas ingeasem, en hy het gesê dat hy “’n hele ruk daarna nog besonder lig en goed gevoel het”.

Joseph Priestley het suurstof ontdek. * Maar hy het die gas onverbrandbare lug genoem omdat hy gemeen het dat hy gewone lug ontdek het wat geen flogiston, ’n hipotetiese stof wat glo verbranding belemmer het, bevat het nie. Priestley se gevolgtrekking was verkeerd, maar baie beskou hierdie ontdekking nog steeds as “die hoogtepunt van sy lewenswerk”.

SY SOEKE NA WAARHEID IN GODSDIENS

Priestley het nie net geglo dat vooropgesette teorieë in die weg staan van wetenskaplike waarheid nie, maar het ook tot die slotsom gekom dat oorlewering en dogma in die weg staan van godsdienswaarheid. Dit is ironies dat Priestley gedurende sy lewenslange soeke na Bybelkennis ’n paar idees aangeneem het wat in stryd was met wat die Bybel werklik leer. Hy het byvoorbeeld op ’n tydstip in sy lewe nie geglo dat die Bybel wonderdadig deur God geïnspireer is nie. Hy het ook die Bybellering van Jesus se voormenslike bestaan verwerp.

“As wetenskap die strewe na waarheid is, was Priestley ’n ware wetenskaplike.”

Maar Priestley het valse godsdiensleringe wat die meeste hoofstroomgodsdienste destyds geglo het, en vandag nog glo, blootgelê. Hy het geskryf dat die waarheid wat Jesus en sy volgelinge mense geleer het, later verderf is deur onwaarhede—insluitende die valse Drie-eenheidsleer, die verkeerde opvatting dat die siel onsterflik is en die aanbidding van beelde, wat in werklikheid in die Bybel veroordeel word.

Priestley se godsdiensidees en sy ondersteuning van die Amerikaanse en die Franse Revolusie het sy Engelse landgenote woedend gemaak. In 1791 het ’n oproerige skare sy huis en laboratorium vernietig, en Priestley het uiteindelik na die Verenigde State gevlug. Hoewel Joseph Priestley veral vir sy wetenskaplike ontdekkings onthou word, het hy geglo dat geen strewe “edeler en belangriker is” as om van God en Sy voorneme te leer nie.

^ par. 10 Die Sweedse skeikundige Carl Scheele het vroeër suurstof geïsoleer, maar het nooit sy ontdekking gepubliseer nie. Later het die Franse skeikundige Antoine-Laurent Lavoisier hierdie gas oxygen genoem.