Spring na inhoud

Spring na sekondêre kieslys

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Afrikaans

Ontwaak!  |  Mei 2014

Die Europese heksejagte

Die Europese heksejagte

’N PAAR eeue gelede het die vrees vir heksery tot heksejagte en teregstellings in Europa gelei. Dit het hoofsaaklik in Duitsland, Frankryk, Noord-Italië, Switserland en die Lae Lande—België, Luxemburg en Nederland—plaasgevind. “Tienduisende mense in Europa en Europese kolonies het gesterf”, en “miljoene ander het gely weens marteling, inhegtenisneming, ondervragings, haat, skuldgevoelens of vrees”, sê die boek Witch Hunts in the Western World. * Hoe het hierdie waansin begin? Waardeur is dit aangestook?

Die Inkwisisie en die Heksehamer

Die Inkwisisie het ’n groot rol in hierdie verhaal gespeel. Dit is in die 13de eeu deur die Rooms-Katolieke Kerk in die lewe geroep “om afvalliges tot bekering te bring en te voorkom dat ander afvallig word”, verduidelik die boek Der Hexenwahn (Die heksewaan). Die Inkwisisie het as ’n polisiemag vir die kerk opgetree.

Op 5 Desember 1484 het pous Innocentius VIII ’n pouslike bul, of dokument, uitgereik wat heksery veroordeel het. Hy het ook twee inkwisiteurs—Jakob Sprenger en Heinrich Kramer (ook bekend onder sy Latynse naam, Henricus Institoris)—gemagtig om die probleem te bestry. Die twee mans het ’n boek geskryf met die titel Malleus Maleficarum, oftewel die Heksehamer. Katolieke sowel as Protestante het hierdie boek as die gesag oor heksery aanvaar. Die boek het verbeeldingryke legendes oor hekse bevat, teologiese en regsargumente teen heksery aangevoer en riglyne voorsien oor hoe om hekse uit te ken en uit te roei. Die Heksehamer is al beskryf as “die boosaardigste en . . . die skadelikste boek in wêreldliteratuur”.

Die Heksehamer is al beskryf as “die boosaardigste en . . . die skadelikste boek in wêreldliteratuur”

Geen bewyse was nodig om iemand van heksery te beskuldig nie. Die boek Hexen  und Hexenprozesse (Hekse en hekseverhore) sê dat verhore “slegs gehou is om ’n skuldbekentenis van die beskuldigde te verkry deur middel van oorreding, druk of geweld”. Marteling was iets algemeens.

In reaksie op die Heksehamer en die pouslike bul wat pous Innocentius VIII uitgereik het, was daar groot heksejagte in Europa. Wat meer is, hierdie heksejagte het toegeneem omdat nuwe tegnologie, die drukpers, gehelp het om die waansin te versprei, selfs tot in Amerika, oorkant die Atlantiese Oseaan.

Wie was die beskuldigdes?

Ver oor die 70 persent van die beskuldigdes was vroue, veral weduwees, wat dikwels niemand gehad het om hulle te verdedig nie. Slagoffers het armes en bejaardes ingesluit, asook vroue wat kruiemiddels verskaf het, veral as die middels ondoeltreffend was. Niemand was werklik veilig nie—nie rykes of armes, mans of vroue, geringes of vooraanstaandes nie.

Mense wat van heksery verdink is, is die skuld gegee vir allerhande bose dinge. Hulle het glo “ryp veroorsaak en slak- en ruspeplae voortgebring wat die saad en vrug van die aarde vernietig het”, sê die Duitse tydskrif Damals. As gewasse deur hael getref is, ’n koei nie melk gegee het nie, ’n man impotent of ’n vrou onvrugbaar was, het hekse beslis die skuld gekry!

Verdagtes is geweeg omdat daar gemeen is dat hekse min of niks weeg nie

Hoe is hekse uitgeken? Party verdagtes is vasgebind en in ’n “geseënde” poel koue water geplaas. As hulle gesink het, is hulle as onskuldig beskou en uit die water getrek. As hulle gedryf het, is hulle as hekse beskou en daar en dan tereggestel of oorgelewer om verhoor te word. Ander verdagtes is geweeg omdat hekse glo min of niks geweeg het nie.

’n Ander toets het behels dat daar gesoek word na “die Duiwel se merk”, “’n tasbare teken wat die Duiwel gelaat het as bewys van sy verbond met die heks”, sê Witch Hunts in the Western World. Amptenare het na die merk gesoek “deur al die beskuldigde se hare af te skeer en elke deel van die liggaam noukeurig te ondersoek”—in die openbaar! Hulle het dan ’n naald gesteek in enige vlek of uitgroeisel wat hulle gevind het, soos geboortevlekke, vratte en littekens. As dit nie seer was of gebloei het nie, is die vlek of uitgroeisel as ’n merk van Satan beskou.

Katolieke sowel as Protestantse regerings het heksejagte bevorder, en in party gebiede was Protestantse heersers wreder as hulle Katolieke eweknieë. Maar met verloop van tyd het redelikheid begin seëvier. In 1631 het Friedrich Spee, ’n Jesuïetepriester wat baie mense na die brandstapel vergesel het om lewend verbrand te word omdat hulle as hekse veroordeel is, byvoorbeeld geskryf dat nie een van hulle na sy mening skuldig was nie. En as heksejagte onverhinderd voortduur, het hy gewaarsku, sou die land later leeg wees! Intussen het geneeshere begin besef dat stuipe en soortgelyke aanvalle met gesondheid verband hou en nie met demoonbesetenheid nie. Gedurende die 17de eeu het die aantal verhore skerp afgeneem, en teen die einde van daardie eeu het dit feitlik opgehou.

Wat leer ons uit daardie aaklige tydperk? ’n Belangrike les is: Toe verklaarde Christene die suiwer leringe van Jesus Christus met godsdiensleuens en bygelowe begin vervang het, het hulle die deur oopgemaak vir geweldige boosheid. Die Bybel het voorspel dat sulke ontroue manne die ware Christelike geloof oneer sou aandoen en het dus gewaarsku dat “die weg van die waarheid gesmaad” sou word.2 Petrus 2:1, 2.

^ par. 2 Die Europese kolonies het die Amerikas ingesluit.