Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 FIGURE UIT DIE VERLEDE

Konstantyn

Konstantyn

Konstantyn was die eerste Romeinse keiser wat beweer het dat hy ’n Christen is. Sodoende het hy ’n groot invloed op wêreldgeskiedenis gehad. Hy het hierdie godsdiens wat vroeër vervolg is, aangeneem en die grondslag gelê vir die stigting van die Christendom. Volgens The Encyclopædia Britannica het die sogenaamde Christelike godsdiens dus “die invloedrykste maatskaplike en politieke werktuig” geword wat nog ooit die verloop van die geskiedenis beïnvloed het.

WAAROM moet jy in ’n eertydse Romeinse keiser belangstel? As jy in die Christelike godsdiens belangstel, moet jy weet dat Konstantyn se slinkse manipulering van die politiek en godsdiens tot vandag toe ’n uitwerking op die opvattings en gebruike van baie kerke het. Kom ons kyk hoe.

DIE KERKE—WETTIG VERKLAAR EN TOE GEBRUIK

Konstantyn het in 313 HJ oor die Wes-Romeinse Ryk geheers, en Licinius en Maximinus oor die Oostelike Ryk. Konstantyn en Licinius het godsdiensvryheid aan almal, insluitende Christene, toegestaan. Konstantyn het die Christelike godsdiens beskerm omdat hy gedink het dat dit sy ryk kon verenig. *

Konstantyn was dus geskok toe hy uitvind dat die kerke weens geskille verdeeld is. Omdat hy graag eenstemmigheid wou hê, het hy ’n manier gesoek om “juiste” leerstellings vas te stel en af te dwing. Om sy guns te verkry, moes biskoppe van hulle godsdiensopvattings prysgee, en dié wat dit gedoen het, het belastingvrystellings en oorvloedige steun ontvang. Die geskiedskrywer Charles Freeman het gesê: “Diegene wat die ‘regte’ weergawe van die Christelike leerstellings aanvaar het, is nie net toegang tot die hemel gebied nie, maar ook tot groot invloed en rykdom op die aarde.” Die geestelikes het dus invloedryke persone in die  wêreld se aangeleenthede geword. “Die Kerk het nie net ’n beskermheer gekry nie”, sê die geskiedskrywer A.H.M. Jones, “maar ook ’n meester.”

“Die Kerk het nie net ’n beskermheer gekry nie, maar ook ’n meester.”—A.H.M. Jones, geskiedskrywer

WATTER SOORT CHRISTELIKE GODSDIENS?

’n Gevolg van Konstantyn se bondgenootskap met die biskoppe was ’n godsdiens met leerstellings wat deels Christelik en deels heidens was. Dit kon nie anders nie, want die keiser se doel was nie om godsdienswaarheid na te streef nie, maar om verskillende godsdienste in sy ryk te hê. Hy was immers die heerser van ’n heidense ryk. Om albei godsdienskampe tevrede te stel, het hy ’n beleid van “doelbewuste dubbelsinnigheid in sy handelinge en bewind oor die algemeen” gevolg, het ’n geskiedkundige geskryf.

Hoewel Konstantyn beweer het dat hy ’n voorstander van die Christelike godsdiens is, was hy nog steeds by die heidendom betrokke. Hy het byvoorbeeld sterrewiggelary en waarsêery beoefen—okkulte bedrywighede wat in die Bybel veroordeel word (Deuteronomium 18:10-12). Op die Boog van Konstantyn in Rome word hy uitgebeeld waar hy offerandes aan heidense gode bring. Hy het aangehou om die songod te vereer deur hierdie god op muntstukke uit te beeld en die songodkultus te bevorder. Later in sy lewe het Konstantyn selfs toegelaat dat ’n dorpie in Umbrië, Italië, ’n tempel ter ere van hom en sy gesin oprig en dat hulle priesters aanstel om daar te dien.

Konstantyn het sy “Christelike” doop tot ’n paar dae voor sy dood in 337 HJ uitgestel. Baie geleerdes meen dat hy dit uitgestel het om die politieke ondersteuning van Christene sowel as heidene in die ryk te behou. Sy lewensloop en die feit dat hy so laat in sy lewe gedoop is, laat beslis vrae ontstaan oor die opregtheid van sy verklaarde geloof in Christus. Maar een ding is seker: Die kerk wat Konstantyn wettig verklaar het, het ’n invloedryke politieke en godsdiensentiteit geword en het sodoende Christus die rug toegekeer en die wêreld aangeneem. Jesus het van sy volgelinge gesê: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Uit hierdie kerk—wat nou wêrelds was—het tallose ander kerke ontstaan.

Wat beteken dit alles vir ons? Dit beteken dat ons nie die leringe van enige kerk sommer net moet aanneem nie, maar dat ons dit in die lig van die Bybel moet ondersoek.—1 Johannes 4:1.

^ par. 6 Volgens ’n naslaanwerk is die opregtheid van Konstantyn se Christelike oortuigings al baie betwis, deels as gevolg van sy “toegewings aan heidense kultusse, selfs in die laaste jare van sy heerskappy”.