Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

  VOORBLADONDERWERP

Kan jy die nuusmedia vertrou?

Kan jy die nuusmedia vertrou?

BAIE mense twyfel of hulle die nuus wat hulle lees en hoor, kan vertrou. In die Verenigde State is mense byvoorbeeld in 2012 in ’n Gallup-opname gevra “hoeveel vertroue” hulle het in die akkuraatheid, onpartydigheid en volledigheid van nuusberigte in die koerante, op TV en oor die radio. Die antwoord van 6 uit 10 mense was óf “nie veel nie” óf “geen vertroue nie”. Is sulke wantroue geregverdig?

Baie joernaliste en die organisasies waarvoor hulle werk, sê dat hulle hulle tot akkurate en insiggewende beriggewing verbind het. Tog is daar rede tot kommer. Beskou die volgende faktore:

  • GROOTBASE VAN DIE MEDIA. ’n Klein aantal korporasies, wat baie mag het, besit die vernaamste mediamaatskappye. Hierdie maatskappye beheer in groot mate watter gebeurtenisse gedek word, hoe dit gedek word en hoeveel dekking dit kry. Omdat die meeste korporasies daarop uit is om wins te maak, is besluite van mediamaatskappye dikwels op finansiële belange gegrond. Daar word soms nie berig gelewer oor iets wat die eienaars van ’n nuusorganisasie se winste kan laat afneem nie.

  • REGERINGS. Baie van die nuus in die media handel oor die land se politici en regeringsaangeleenthede. Regerings wil die publiek oorreed om hulle beleide en hulle amptenare te ondersteun. En omdat die media dikwels nuus by die regering kry, werk joernaliste en regeringsbronne soms met mekaar saam.

  •  REKLAME. In die meeste lande moet mediamaatskappye geld maak om aan die gang te bly, en die meeste geld word uit reklame verkry. In die Verenigde State verkry tydskrifte tussen 50 en 60 persent van hulle inkomste uit reklame, koerante 80 persent en kommersiële televisie- en radiostasies 100 persent. Dit is te verstane dat adverteerders nie programme wil borg wat hulle produkte of bestuurstyl in ’n slegte lig stel nie. As hulle nie hou van die inligting wat ’n nuusmaatskappy aanbied nie, kan hulle elders adverteer. Omdat redakteurs dit weet, sal hulle moontlik nie nuus dek wat hulle borge in ’n slegte lig stel nie.

  • ONEERLIKHEID. Nie alle verslaggewers is eerlik nie. Party joernaliste versin stories. ’n Paar jaar gelede wou ’n verslaggewer in Japan byvoorbeeld berig lewer oor hoe duikers koraal in Okinawa beskadig. Toe hy geen beskadigde koraal kon vind nie, het hy self van die koraal beskadig en toe foto’s daarvan geneem. Foto’s kan ook gewysig word om die publiek te mislei. Die tegnologie wat hiervoor gebruik word, is nou baie doeltreffend, en party wysigings is feitlik onbespeurbaar.

  • VERDRAAIDE BERIGGEWING. Selfs as feite onweerlegbaar is, kan ’n joernalis self besluit hoe hy dit sal aanbied. Watter feite moet in ’n berig ingesluit word en wat moet weggelaat word? Byvoorbeeld, ’n sokkerspan het dalk ’n wedstryd met twee doele verloor. Dit is ’n feit. Maar waarom die span verloor het, is ’n storie wat ’n joernalis op verskillende maniere kan vertel.

  • WEGLATING. Wanneer joernaliste feite rangskik om ’n boeiende berig saam te stel, laat hulle dikwels besonderhede weg wat die saak ingewikkeld sal maak of vrae sal laat ontstaan. Gevolglik word party feite oordryf en ander verklein. Omdat televisie-aanbieders en -verslaggewers ’n ingewikkelde berig soms binne ’n minuut of wat moet lewer, word belangrike besonderhede dalk weggelaat.

  •  MEDEDINGING. Omdat die aantal televisiestasies in onlangse dekades toegeneem het, bly kykers nou vir ’n baie korter tyd by net een stasie ingeskakel. Om kykers se aandag te boei, het nuusstasies geen ander keuse as om iets unieks of vermaakliks aan te bied nie. Die boek Media Bias lewer hieroor kommentaar en sê: “Die [televisie]nuus het ’n ononderbroke vertoning van tonele geword, met beelde wat gekies word om te skok of te prikkel en berigte wat verkort word om te pas by kykers se konsentrasievermoë wat al hoe korter word.”

  • FOUTE. Aangesien joernaliste maar net mense is, sal hulle soms onopsetlik foute maak. ’n Woord wat verkeerd gespel is, ’n komma op die verkeerde plek, ’n taalfout—dit alles kan die betekenis van ’n sin verdraai. Feite word dalk nie goed nagegaan nie. ’n Joernalis kan ook maklik foute maak met getalle. Wanneer hy moet jaag om ’n sperdatum te haal, kan hy maklik 10 000 in plaas van 100 000 tik.

  • VERKEERDE AANNAMES. Akkurate beriggewing is nie so maklik soos party dalk dink nie. Wat vandag blykbaar ’n feit is, word môre miskien verkeerd bewys. Mense het byvoorbeeld eens op ’n tyd geglo dat die aarde die middelpunt van ons sonnestelsel is. Nou weet ons dat die aarde om die son beweeg.

 Balans is nodig

Dit is verstandig om nie alles te glo wat ons in die nuus lees nie, maar dit beteken nie dat ons niks daarin kan vertrou nie. Die sleutel is waarskynlik om versigtig te wees, maar tog ’n oop gemoed te behou.

Die Bybel sê: “Toets die oor nie woorde soos die verhemelte voedsel proe nie?” (Job 12:11). Hier is dus ’n paar wenke wat ons sal help om die woorde wat ons hoor en lees, te toets:

  • OORSPRONG: Kom die berig van ’n geloofwaardige, gesaghebbende persoon of organisasie? Is die program of publikasie bekend daarvoor dat dit ernstig is of dat dit sensasie wil wek? Wie voorsien die geld daarvoor?

  • BRONNE: Is daar bewys van deeglike navorsing? Is daar net een bron vir die berig? Is die bronne betroubaar, onbevooroordeeld en objektief? Voorsien die bronne ’n gebalanseerde beskouing van die saak of is dit gekies om net een kant van die saak te steun?

  • OOGMERK: Vra jou af: ‘Is die oogmerk van die nuusberig hoofsaaklik om inligting te verskaf of om te vermaak? Is die doel daarvan om iets te verkoop of te bevorder?’

  • TOON: Wanneer die toon van ’n nuusberig woedend, venynig of baie krities is, is dit ’n teken dat daar ’n aanval volg, nie ’n goed deurdagte redenasie nie.

  • KONSEKWENTHEID: Stem die feite ooreen met dié in ander artikels of berigte? As berigte teenstrydig is, moet jy versigtig wees!

  • TYDSASPEK: Is die inligting te verouderd om aanvaarbaar te wees? Iets wat mense 20 jaar gelede gedink het reg is, word vandag dalk in twyfel getrek. As daar egter berig gelewer word oor iets wat so pas opslae in die nuus gemaak het, is die inligting dalk nie volledig en omvattend nie.

Kan jy dan die nuusmedia vertrou? Goeie raad word gevind in die wyse woorde van Salomo, wat geskryf het: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.