Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VOORBLADONDERWERP

Is protes die oplossing?

Is protes die oplossing?

Jehovah se Getuies, die uitgewers van hierdie tydskrif, is neutraal wat die politiek betref (Johannes 17:16; 18:36). Hierdie artikel lewer verslag oor spesifieke voorbeelde van burgerlike onrus, maar dit verhef nie een nasie bo ’n ander nie en kies nie kant in enige politieke geskil nie.

OP 17 Desember 2010 het Mohamed Bouazizi breekpunt bereik. Hy was ’n 26-jarige straatverkoper in Tunisië wat gefrustreerd was omdat hy nie ’n beter werk kon kry nie. Hy het ook geweet dat korrupte beamptes omkoopgeld eis. Daardie oggend het die polisie beslag gelê op Mohamed se voorraad pere, piesangs en appels. Toe hulle sy weegskaal neem, het hy hom verset; en party ooggetuies sê dat ’n polisievrou hom geklap het.

Mohamed, wat vernederd en woedend was, het na die nabygeleë staatskantoor toe gegaan om ’n klag te lê, maar niemand wou na hom luister nie. Volgens berig het hy voor die gebou geskreeu: “Hoe verwag julle moet ek ’n bestaan maak?” Nadat hy ’n ontvlambare vloeistof oor hom uitgegooi het, het hy ’n vuurhoutjie getrek. Minder as drie weke later het hy aan sy brandwonde beswyk.

Mohamed Bouazizi se wanhopige daad het by mense in Tunisië en op talle ander plekke weerklank gevind. Baie meen dat sy optrede aanleiding gegee het tot ’n opstand wat die land se bewind omvergewerp het en tot protesoptrede wat kort voor lank na ander Arabiese lande versprei het. Die Europese Parlement het in 2011 die Sakharof-prys vir vryheid van denke aan Bouazizi en vier ander mense toegeken, en The Times van Londen het hom as hulle persoon van die jaar vir 2011 gekies.

Soos hierdie voorbeeld toon, kan protes ’n sterk krag wees. Maar wat sit agter die onlangse vlaag van protesoptrede? En is daar enige ander oplossings?

 Waarom is daar so ’n toename in protesoptrede?

Protes is dikwels die gevolg van:

  • Ontevredenheid met maatskaplike stelsels. As mense meen dat die plaaslike regering en ekonomie in hulle behoeftes voorsien, het hulle nie juis ’n begeerte om protes aan te teken nie—hulle probeer eerder hulle probleme onder die bestaande omstandighede oplos. Maar as mense meen dat hierdie stelsels korrup en onregverdig is en net ’n sekere groepie daardeur begunstig word, is die toestande reg vir maatskaplike onrus.

  • ’n Skokkende gebeurtenis. Mense word dikwels deur so ’n gebeurtenis beweeg om op te tree, om nie meer tevrede te wees met ’n situasie nie, maar om eerder te glo dat hulle iets daaromtrent moet doen. Byvoorbeeld, Mohamed Bouazizi se optrede het tot massaprotes in Tunisië gelei. In Indië het ’n eetstaking teen korrupsie deur Anna Hazare, ’n kampvegter vir maatskaplike verandering, tot protesoptrede deur sy ondersteuners in 450 stede en dorpe gelei.

Soos die Bybel lank gelede erken het, lewe ons in “’n wêreld waar party mense mag het en ander onder hulle moet ly” (Prediker 8:9, Good News Translation). Korrupsie en ongeregtigheid is vandag selfs algemener as destyds. Ja, mense is meer as ooit tevore bewus van hoe politieke en ekonomiese stelsels hulle in die steek gelaat het. Weens slimfone, die Internet en 24-uur-nuusuitsendings kan selfs gebeure in afgesonderde plekke ’n reaksie oor ’n groot gebied uitlok.

Wat het protesoptrede bereik?

Diegene wat maatskaplike onrus aanstook, beweer dat protesoptrede al die volgende bereik het:

  • Verligting vir die armes. In reaksie op sogenoemde huuroproere in Chicago, Illinois, VSA, wat gedurende die Groot Depressie van die 1930’s plaasgevind het, het lede van die stadsraad die uitsetting van huurders uitgestel en gereël dat party van die oproermakers werk kry. Soortgelyke protesoptrede in die stad New York het daartoe gelei dat 77 000 uitgesette gesinne na hulle huise kon terugkeer.

  • Onregte is reggestel. Die busboikot van 1955/1956 in Montgomery, Alabama, VSA, het uiteindelik daartoe gelei dat wette oor vasgestelde sitplekke op busse vir mense van verskillende rasse afgeskaf is.

  • Bouprojekte is stopgesit. In Desember 2011 het tienduisende mense weens besorgdheid oor besoedeling protes aangeteken teen die oprigting  van ’n kragstasie naby Hongkong wat met steenkool gestook sou word, en daarom is die projek gekanselleer.

Hoewel party betogers dalk hulle doelwitte bereik, bied God se Koninkryk ’n beter oplossing

Betogers kry natuurlik nie altyd wat hulle wil hê nie. Byvoorbeeld, leiers straf hulle dalk eerder as om aan hulle eise te voldoen. Die president van ’n Midde-Oosterse land het onlangs aangaande die protesbeweging daar gesê: “Dit moet met ’n ystervuis geslaan word”, en duisende het in daardie opstand gesterf.

Selfs as betogers hulle doelwitte bereik, bring die nadraai altyd nuwe probleme mee. ’n Man wat gehelp het om die heerser van ’n Afrikaland te onttroon, het aangaande die nuwe bewind vir die tydskrif Time gesê: “Dit was soos ’n droomwêreld wat onmiddellik in chaos verval het.”

Is daar ’n beter manier?

Talle bekende mense het dit al as hulle sedelike plig beskou om teen onderdrukkende stelsels protes aan te teken. Die oorlede Václav Havel, ’n voormalige Tsjeggiese president wat jare lank in die gevangenis was weens sy bedrywighede as kampvegter vir menseregte, het byvoorbeeld in 1985 geskryf: “[Die andersdenkende] het net sy lewe om op te offer—en hy offer dit slegs op omdat daar geen ander manier is om die waarheid wat hy voorstaan, te bevestig nie.”

Die wanhopige dade van Mohamed Bouazizi en ander het  bewys dat Havel se woorde waar is. In ’n Asiatiese land het tientalle mense hulle onlangs aan die brand gesteek uit protes teen godsdienstige en politieke onderdrukking. ’n Man het die gevoelens beskryf van mense wat tot hierdie uiterstes oorgaan en vir die tydskrif Newsweek gesê: “Ons het nie vuurwapens nie. Ons wil ander nie leed aandoen nie. Wat anders kan ’n mens doen?”

Die Bybel bied ’n oplossing vir ongeregtigheid, korrupsie en onderdrukking. Dit praat van ’n regering wat God in die hemel opgerig het wat die mislukte politieke en ekonomiese stelsels wat tot protes aanleiding gee, sal vervang. ’n Profesie oor die Heerser van hierdie regering sê: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos.”—Psalm 72:12, 14.

Jehovah se Getuies glo dat God se Koninkryk die mensdom die enigste ware hoop op ’n vreedsame wêreld bied (Matteus 6:9, 10). Gevolglik neem Jehovah se Getuies nie deel aan protesoptrede nie. Maar is dit onrealisties om te glo dat ’n regering wat deur God opgerig is, die redes vir protes uit die weg kan ruim? Dit lyk dalk asof dit is. Maar baie mense het al vertroue in God se heerskappy opgebou. Jy kan gerus self ondersoek instel.