Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 FIGURE UIT DIE VERLEDE

Robert Boyle

Robert Boyle

Geskiedenisliefhebbers sal moontlik onthou dat Robert Boyle die wetenskaplike is na wie Boyle se wet vernoem is—’n natuurwet wat die verhouding tussen die druk en volume van gasse uiteensit. Sy betekenisvolle ontdekking het die grondslag gelê vir tallose wetenskaplike ontwikkelings. Maar Robert Boyle was nie net ’n knap wetenskaplike nie. Hy word ook beskou as ’n man met groot geloof in God en Sy geïnspireerde Woord, die Bybel.

BOYLE is in 1627 in ’n welgestelde gesin gebore by Lismore-kasteel, Ierland. Dit was kort voor die tydperk wat geskiedkundiges die Verligting noem—’n tyd toe denkers die mensdom probeer bevry het van die fanatiese beskouings waaraan mense eeue lank onderworpe was. Boyle het dieselfde doelwit gehad. In ’n outobiografie van sy vroeë jare het hy homself die naam Filaretus gegee, wat “Liefhebber van deug” beteken.

Boyle se begeerte om die waarheid te leer, het hand aan hand gegaan met net so ’n intense begeerte om ander te vertel van alles wat hy geleer het. Hy het ’n produktiewe skrywer geword, en sy geskrifte het ’n noemenswaardige uitwerking op baie van sy tydgenote gehad, insluitende die beroemde wetenskaplike sir Isaac Newton. In 1660 het Boyle een van die stigters van die Royal Society geword, ’n wetenskaplike vereniging wat nog steeds in Londen, Engeland, bestaan.

’N MAN VAN DIE WETENSKAP

Boyle is al beskryf as die vader van chemie. Sy benadering was heeltemal anders as dié van die alchemiste van sy dag. Hulle het hulle bevindings geheim gehou of dit in sulke duistere terme neergeskryf dat min mense buite hulle geslote kring dit kon verstaan. In teenstelling hiermee het Boyle al die besonderhede van sy werk openlik gepubliseer. Ook het hy nie lank gehuldigde veronderstellings voor die voet aanvaar nie, maar eerder die gebruik van beheerde eksperimente voorgestaan om vas te stel wat die feite is.

 Boyle se eksperimente het die idee gesteun dat materie bestaan uit wat hy korpuskels genoem het, oftewel deeltjies, wat op verskillende maniere kombineer om verskillende stowwe te vorm.

Boyle se benadering tot wetenskaplike navorsing word goed opgesom in sy beroemde boek The Sceptical Chymist. Hierin beveel hy aan dat wetenskaplikes ’n verwaande of dogmatiese gesindheid vermy en bereid moet wees om foute te erken. Boyle het daarop aangedring dat diegene met sterk menings noukeurig moet onderskei tussen die dinge wat hulle weet waar is en die dinge wat hulle dink waar is.

Boyle het daarop aangedring dat diegene met sterk menings noukeurig moet onderskei tussen die dinge wat hulle weet waar is en die dinge wat hulle dink waar is

’N MAN VAN GELOOF

Boyle het dieselfde benadering gehad wat geestelike sake betref. Wat hy ontdek het omtrent die heelal en die merkwaardige manier waarop lewende skepsele gemaak is, het hom oortuig dat daar ’n Ontwerper en Skepper moet wees. Daarom het hy die toenemende ateïsme onder die intellektuele van sy dag afgekeur. Boyle het tot die slotsom gekom dat niemand wat eerlik redeneer, kan weier om aan God te glo nie.

Maar Boyle het nie gedink dat die menslike rede alleen tot ware verligting sou lei nie. Hy kon sien dat die een of ander openbaring van God nodig is. Hierdie openbaring, het hy gesê, is God se Woord, die Bybel.

Boyle was bekommerd toe hy sien dat baie mense nie kennis van Bybelleringe het nie en skynbaar geen vaste grondslag het vir hulle godsdiensoortuigings nie. Hoe kan dit reg wees, het hy gevra, dat iemand se godsdiensoortuigings uitsluitlik gegrond is op wat sy ouers geglo het of op waar hy gebore is? Boyle het ’n intense begeerte ontwikkel om mense te help om die Bybel beter te leer ken.

Boyle het dus geld gegee om te help met die publisering van die Bybel in baie tale. Dit het party van die tale ingesluit van die Indiane van Noord-Amerika, sowel as Arabies, Iers, Maleis en Turks. Robert Boyle het dus getoon dat hy ’n begaafde dog nederige man is met ’n onversadigbare begeerte om die waarheid in alle sake te vind en ander te help om dieselfde te doen.