Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 NATUURLEWE

Die elk—Eienaardige reus van die woud

Die elk—Eienaardige reus van die woud

“DIE elk is ’n besonder koddige en lelike dier. Waarom staan hy so hoog by die skouers? Waarom het hy so ’n lang kop?” Die 19de-eeuse skrywer van hierdie woorde, Henry David Thoreau, is nie die enigste persoon wat die elk so sou beskryf nie. Die elk se komieklike voorkoms en die feit dat hierdie alleenlopende dier selde in die natuur gesien word, het die idee bevorder dat hy lomp en dom is. Is dit waar? Navorsers in Noord-Amerika en Eurasië het talle interessante feite omtrent hierdie ongewone dier geleer.

Niemand sal ontken dat die elk ’n reusedier is nie. Hoewel hierdie “vors van die woud” lang bene het wat hom lomp laat lyk, kan hierdie bene ’n hele trop wolwe afweer. Die elk leer binne ’n paar dae ná sy geboorte om te swem, en daar is al gesien dat hulle kilometers ver swem en dat hulle byna ses meter diep duik om waterplante te vreet!

’n Elk kan sy oë so beweeg dat hy beweging byna reg agter hom kan waarneem sonder om sy kop te draai. Sy neus is ook ’n doeltreffende hulpmiddel. Omdat die elk se neusgate so ver uitmekaar sit, meen navorsers dat hy moontlik die ongewone vermoë het om vas te stel presies waar voorwerpe is. Die elk se gehoor is nog een van sy ongelooflike sintuie. Sy ore kan in alle rigtings draai, en hy kan ander elke hoor wat tot drie kilometer van hom af is!

 Elkkalfies, wat deur een skrywer beskryf word as “so lagwekkend dat hulle oulik is”, is geneig om nuuskierig en sorgeloos te wees. Hulle ma’s, die koeie, beskerm hulle deur tere en lojale sorg te voorsien. ’n Koei sal haar kalfie beskerm teen roofdiere, insluitende wolwe en bere, en selfs teen mense. Wanneer die kalf omtrent ’n jaar oud is en sy ma weer dragtig is, jaag die ma die kalf op aggressiewe wyse weg, sodat die kalf vir homself kan begin sorg.

OORLEWING IN DIE NOORDE

Hoe oorleef die elk koue winters, aangesien hy net plante vreet? Deels deur hom dik te vreet wanneer dit warmer is. ’n Elk kan tot 23 kilogram plantegroei per dag vreet, hetsy hierdie plante drie meter bo die grond is of onder die water groei. Hy benut hierdie voedsel ten volle deur dit te verteer in ’n maag wat uit vier kamers bestaan. Sodoende kry hy die nodige voedingstowwe daaruit en bou hy vetreserwes op. Daar is egter nog ander uitdagings waarvoor die elk in die winter te staan kom.

Bittere koue en diep sneeu beproef ’n elk se uithouvermoë. Hy hou van ’n rustige lewe in die winter en beweeg min sodat hy sy hitte onder sy goed ontwerpte pels kan behou. Dit is besonder moeilik vir die elk om in die sneeu vir wolwe te vlug. Maar mense—veral jagters en motorbestuurders—hou dikwels ’n groter bedreiging vir hom in.

Die elk hou van die gekonsentreerde voedingstowwe in padsout, wat op talle hoofweë in die noorde gegooi word om sneeu te laat smelt. Maar omdat die elk ’n donker pels het en geneig is om paaie ná sononder oor te steek, is dit moeilik vir bestuurders om ’n elk betyds te sien en ’n botsing te vermy. Mense sowel as elke het al hulle lewe as gevolg hiervan verloor.

’N SPELERIGE DIER

Mense het al gesien dat die elk branders speels aanval en alte lekker in die water van warmbronne bad. Teerheid kan tydens paring tussen koeie en bulle gesien word, en ’n koei se lojaliteit teenoor haar kalf is waarlik treffend. Kalwers wat deur mense grootgemaak is, het selfs al hegte bande met hulle gevorm. Dr. Valerius Geist sê: “Hierdie vreemde dier met sy lelike gesig kan intelligent, liefdevol en uiters lojaal wees.”

Elkkalfies is geneig om nuuskierig en sorgeloos te wees

’n Woordjie van waarskuwing is egter gepas: Die elk is ’n baie kragtige wilde dier. As jy een in die natuur sien, moet jy versigtig wees en op ’n veilige afstand bly. Dit is veral belangrik wanneer daar jong kalfies is. Wees egter verseker dat jy, selfs op ’n veilige afstand, verstom sal wees wanneer jy hierdie eienaardige reus van die woud dophou.