Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 IS DIT ONTWERP?

Die stert van die rooikopkoggelmander

Die stert van die rooikopkoggelmander

DIE rooikopkoggelmander spring met gemak van ’n horisontale oppervlak na ’n vertikale muur. Maar as die oppervlak glad is, gly die koggelmander se pote. Tog slaag hy nog steeds daarin om teen die muur te land. Hoe? Die geheim lê in die koggelmander se stert.

Dink hieraan: Wanneer koggelmanders vanaf ’n growwe oppervlak spring—waar hulle vastrapplek het—stabiliseer hulle eers hulle liggaam en hou hulle hulle stert afwaarts. Dit help hulle om teen die regte hoek te spring. Wanneer die koggelmanders egter op ’n gladde oppervlak is, is hulle geneig om te gly en teen die verkeerde hoek te spring. Maar terwyl hulle in die lug is, pas hulle die hoek aan waarteen hulle liggaam beweeg deur hulle stert opwaarts te trek. Die proses is ingewikkeld. “Koggelmanders moet die hoek waarteen hulle hulle stert hou, heeltyd presies reg verander om regop te bly”, sê ’n verslag deur die Universiteit van Kalifornië, Berkeley. Hoe gladder die oppervlak, hoe meer moet die koggelmander sy stert lig om veilig te land.

Die koggelmander se stert sal ingenieurs moontlik help om robotvoertuie te ontwerp wat makliker oor ongelyke terrein kan beweeg en dus gebruik kan word om ná ’n aardbewing of ’n ander ramp na oorlewendes te soek. “Robotte is nie naastenby so beweeglik soos diere nie”, sê die navorser Thomas Libby, “daarom is enigiets wat ’n robot stabieler kan maak, ’n verbetering.”

Wat dink jy? Het die rooikopkoggelmander se stert deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?