Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om op te hou stry

Hoe om op te hou stry

DIE UITDAGING

Sukkel jy en jou huweliksmaat om sake op ’n kalm manier te bespreek? Voel dit heeltyd asof jy deur ’n landmynveld stap waarin enige tree ’n uitbarsting tot gevolg kan hê?

Indien wel, wees verseker dat dinge kan verbeter. Maar jy moet eers vasstel waarom jy en jou huweliksmaat soveel stry.

WAAROM DIT GEBEUR

Misverstande.

’n Vrou met die naam Jillian * erken: “Soms sê ek iets vir my man en kom dit nie uit soos ek wou hê dit moet nie. Of ek is daarvan oortuig dat ek iets vir hom gesê het terwyl ek in werklikheid net gedroom het dat ek dit vir hom gesê het. Dit het al regtig gebeur!”

Meningsverskille.

Ongeag hoe goed jy en jou maat blykbaar by mekaar pas, julle beskouing van sekere sake sal verskil. Waarom? Want daar is nie twee mense wat presies dieselfde is nie—’n feit wat julle huwelik interessant of spanningsvol kan maak. Vir baie egpare maak dit die huwelik spanningsvol.

Swak rolmodelle.

“My ouers het baie gestry en disrespekvolle dinge vir mekaar gesê”, sê ’n getroude vrou met die naam Ragel. “Toe ek getrou het, het ek dus met my man gepraat soos my ma met my pa gepraat het. Ek het nie by hulle geleer om respek vir my huweliksmaat te toon nie.”

Onderliggende bekommernisse.

Dikwels is die onderliggende oorsaak van ’n hewige stryery nie die gebeurtenis wat dit aan die gang gesit het nie. Byvoorbeeld, ’n rusie wat begin met “Jy is altyd laat!” gaan dalk nie soseer oor ’n gebrek aan stiptelikheid nie, maar oor die feit dat een huweliksmaat voel dat hy of sy onbedagsaam behandel is.

Ongeag wat die oorsaak is, ’n voortdurende stryery kan jou gesondheid benadeel en selfs op die ou end tot ’n egskeiding lei. Hoe kan julle dan ophou stry?

 WAT JY KAN DOEN

’n Sleutel om rusies te vermy, is om die onderliggende oorsake daarvan te identifiseer. Wanneer daar ’n kalm atmosfeer heers, kan jy en jou huweliksmaat die volgende oefening saam doen.

1. Skryf op aparte velle papier neer waaroor julle onlangs gestry het. Byvoorbeeld, die man skryf dalk: “Jy was die hele dag saam met jou vriendinne en het my nie gebel om te sê waar jy is nie.” Die vrou skryf moontlik: “Jy het ontsteld geraak omdat ek tyd saam met my vriendinne deurgebring het.”

2. Bespreek die volgende vrae met ’n oop gemoed: Was die saak werklik so ernstig? Kon ek dit oor die hoof gesien het? In party gevalle sal dit dalk goed wees om ter wille van die vrede te aanvaar dat julle verskillende menings het en om die saak met liefde te bedek.—Bybelbeginsel: Spreuke 17:9.

As jy en jou huweliksmaat tot die slotsom kom dat die saak nie so ernstig was nie, moet julle mekaar om verskoning vra en dit as afgehandel beskou.—Bybelbeginsel: Kolossense 3:13, 14.

As een of al twee van julle voel dat die saak ernstiger is, kan julle tot die volgende stap oorgaan.

3. Skryf neer hoe jy gedurende die woordewisseling gevoel het, en laat jou huweliksmaat dieselfde doen. Byvoorbeeld, die man skryf dalk: “Ek het gevoel dat jy jou vriendinne se geselskap bo myne verkies.” Die vrou skryf moontlik: “Ek het gevoel dat jy my soos ’n kind behandel wat aan haar pa verslag moet doen.”

4. Ruil papiere met jou maat, en lees mekaar se kommentare. Wat was jou maat se onderliggende bekommernis tydens die woordewisseling? Bespreek wat elkeen van julle anders kon gedoen het om die onderliggende probleem te probeer oplos sonder om te stry.—Bybelbeginsel: Spreuke 29:11.

5. Bespreek wat julle uit hierdie oefening geleer het. Hoe kan julle die dinge wat julle geleer het, gebruik om in die toekoms rusies op te los of te voorkom?

^ par. 7 Name is verander.