Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Woordeboekprojek van 90 jaar

’n Woordeboekprojek van 90 jaar

IN 1621 het ’n Italiaanse ontdekkingsreisiger op ’n onbekende skrifvorm afgekom in die ruïnes van die eertydse Persiese stad Persepolis. Gedurende die 1800’s het argeoloë wat opgrawings in Irak gedoen het, talle soortgelyke inskripsies op kleitablette en paleismure gevind. In hierdie tekste is die Mesopotamiese tale bewaar wat gepraat is deur heersers soos Sargon II, Hammoerabi en Nebukadnesar II. Die skrif, wat uit wigvormige tekens bestaan, is later spykerskrif genoem.

Hierdie skrifvorm was die sleutel tot kennis omtrent die groot beskawings van eertydse Mesopotamië. Geleerdes wat hierdie dokumente ontsyfer het, het dus besef dat daar ’n behoefte is aan ’n omvattende woordeboek in Akkadies, ’n taal waarvan Assiries en Babilonies naverwante dialekte is.

Hierdie ingewikkelde projek is in 1921 onderneem deur die Oosterse Instituut van die Universiteit van Chicago, VSA, en dit is 90 jaar later, in 2011, voltooi. Die resultaat is die ontsaglike 26-delige Assyrian Dictionary, wat meer as 9 700 bladsye bevat. Dit dek tale en dialekte  wat vanaf die derde millennium VHJ tot 100 HJ in Irak, Iran, Sirië en Turkye gebruik is.

Die 26-delige Assyrian Dictionary bevat meer as 9 700 bladsye!

Waarom is die woordeboek so omvattend? Waarom het dit so lank geneem om dit saam te stel? En wie sou daarin belangstel om dit te gebruik?

Die inhoud van die woordeboek

“Die woordeboek is nie net ’n woordelys nie”, verduidelik Gil Stein, die direkteur van Chicago se Oosterse Instituut. “Omdat hierdie unieke bundel die geskiedenis en gebruiksfeer van elke woord uiteensit, is dit in wese ’n kulturele ensiklopedie van die Mesopotamiese geskiedenis, samelewing, literatuur, reg en godsdiens. Dit is ’n onontbeerlike navorsingsmiddel vir enige geleerde op enige plek wat die geskrewe verslag van die Mesopotamiese beskawing wil ondersoek.”

Die redakteurs het gou tot hierdie besef gekom: “Om die volle betekenisomvang van ’n woord op te teken, moet al die gevalle waar dit voorkom, versamel word en moet dit nie net as woorde versamel word nie, maar as woorde met soveel bygaande teks as wat nodig sal wees om die betekenis van die woord binne ’n spesifieke konteks of gebruiksfeer vas te stel.” Die woordeboek het dus ’n versameling geword van aanhalings uit en vertalings van oorspronklike spykerskriftekste waarin die trefwoorde voorkom.

Feitlik miljoene spykerskriftekste is oor die afgelope twee eeue ontdek, en dit handel oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Babilonies-Assiries, of Akkadies, was die internasionale diplomatieke taal dwarsdeur die eertydse Midde-Ooste. Maar mense in dieselfde streek het literatuur geskryf; handel gedryf; wiskunde, sterrekunde en toorkuns bestudeer; wette gemaak; beroepe ontwikkel; en godsdiens beoefen. Hulle geskrifte oor al hierdie en ander onderwerpe verskaf dus ’n oorvloed inligting.

Die prentjie wat hierdie tekste skilder, is nie een van ’n wildvreemde beskawing nie. “’n Groot deel van wat jy sien, is heeltemal herkenbaar—mense wat aan vrees en woede uiting gee, liefde betoon, liefde vra”, sê Matthew Stolper, ’n professor van Assiriologie aan die Universiteit van Chicago, wat oor ’n tydperk van 30 jaar met tussenposes aan die projek gewerk het. “Daar is inskripsies van konings wat jou vertel hoe wonderlik hulle is”, voeg hy by, “en inskripsies van ander wat vir jou sê dat hulle eintlik nie so wonderlik was nie.” En tekste uit Noezi, in hedendaagse Irak, lewer verslag van regsgeskille wat 3 500 jaar gelede oor sake soos ’n weduwee se erfenis, ’n natgeleide stuk grond en ’n geleende donkie gevoer is.

Is die werk voltooi?

Assirioloë van regoor die wêreld het tot die projek bygedra. Die instituut se personeel het dekades daaraan bestee om byna 2 000 000 indekskaarte te liaseer wat die gebruiksfeer van woorde toelig. Die eerste deel het in 1956 na die drukker gegaan. Sedertdien is nog 25 dele voltooi en vrygestel. Die hele stel kos sowat R16 000, maar al die inligting is gratis op die Internet beskikbaar.

Dit het ’n volle 90 jaar geneem om die woordeboek te voltooi. Nogtans besef diegene wat aan hierdie reusetaak gewerk het, dat dit beperkings het. Een artikel sê hieroor: “Hulle weet nog steeds nie wat party woorde beteken nie, en omdat daar heeltyd nuwe ontdekkings gemaak word, is dit . . . ’n onvoltooide werk.”