Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Hulle het nooit moed opgegee met my nie

Hulle het nooit moed opgegee met my nie

My lewe het gedraai om alkohol en geweld. Toe het ek eendag tragiese nuus ontvang wat gemaak het dat ek my lewe weer in oënskou neem. Laat ek verduidelik.

EK IS in 1943 gebore in Rubottom, Oklahoma, VSA. As kind was ek baie gewelddadig. Gedurende my laaste jaar op hoërskool het ek begin drink. Aangesien my pa ’n gewelddadige alkoholis was, het my drinkery ’n vreemde vriendskap met hom tot gevolg gehad. Ons het saam na danspartytjies en ander gesellighede gegaan net om te drink en te baklei.

Ek het in 1966 getrou, en ek en my vrou, Shirley, het twee kinders gehad, Angela en Shawn. Maar ek het steeds alkohol misbruik. Om my inkomste aan te vul, het ek dagga begin kweek en verkoop. Ek het ook as ’n uitsmyter by plaaslike kroeë gewerk, wat my die geleentheid gegee het om my begeerte na alkohol en geweld te bevredig. Op hierdie stadium van my lewe was ek bang vir niks of niemand nie en het ander se gevoelens glad nie vir my saak gemaak nie.

“Moenie enigiemand bring om met my te kom praat nie!”

Shirley se neef het na Kalifornië getrek, waar hy die Bybel gestudeer en een van Jehovah se Getuies geword het. Toe hy na Oklahoma teruggekeer het, het hy vir Shirley vertel wat hy geleer het, en sy het gou besef dat dit die waarheid is. Ná ’n deeglike studie van die Bybel het Shirley besluit om ook ’n Getuie te word, en sy is in 1976 gedoop. Ek wou niks met haar godsdiens te doen hê nie. “Moenie enigiemand bring om met my te kom praat nie!” het ek gesê. “Dit gaan nie werk nie.”

Shirley het altyd getrou by Bybelbeginsels gebly, en sy het aangehou om liefde aan my te betoon. Trouens, voordat sy en die kinders vertrek het om Christelike vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal te gaan bywoon, het sy my altyd vriendelik saamgenooi. En Angela het gewoonlik gesê: “Ons wens Pa wil saam met ons kom.”

Omdat ek by onwettige bedrywighede betrokke was, het ek dikwels ’n pistool gedra. Wat meer is, ek het soms dae lank verdwyn, wat spanning in ons huwelik veroorsaak het. Wanneer ek teruggekeer het, het ek Shirley probeer paai deur ’n paar vergaderinge by te woon. Die Getuies het my altyd vriendelik behandel, en hulle leringe het vir my sin gemaak.

Ná verloop van tyd het ’n gemeentelike ouer man aangebied om die Bybel met my te  studeer. Ek het ingestem. Maar ongelukkig het die dinge wat ek geleer het, nie juis ’n uitwerking op my gehad nie—hoofsaaklik omdat ek nog met my ou vriende geassosieer het. Die ouer man was hiervan bewus en het ’n paar Bybelbeginsels oor die gevare van slegte omgang met my bespreek (1 Korintiërs 15:33). Hoewel sy raad op die Bybel gebaseer was, het ek aanstoot geneem, opgehou studeer en selfs meer betrokke geraak by my vorige bedrywighede. Hoe het my dwase trots Shirley en die kinders tog seergemaak!

“Ons is nog lief vir jou”

In 1983 het ek tragiese nuus ontvang. My skoonsuster se seun, aan wie ek nogal geheg geraak het, is oorlede. Dit was vir my ’n groot slag en het gemaak dat ek my lewe weer in oënskou neem. Ek kon sien dat ek my huwelik en my gesin—ja, alles wat vir my kosbaar was—benadeel. Hierdie ontnugterende gedagte was vir my die keerpunt. By die begrafnis het ’n bejaarde Getuie met die naam John sy arm liefdevol om my gesit en gesê: “Ek wil net vir jou sê ons is nog lief vir jou.” Dit was net die aanmoediging wat ek nodig gehad het! Ek het John die volgende dag gebel en gesê dat ek weer die Bybel wou studeer, in die hoop dat ek hierdie keer ’n paar veranderinge sou aanbring wat ek lankal moes gemaak het.

Gedurende ons eerste studie het ons gebed bespreek, en ek het vir John gesê dat ek dit sou probeer. Die volgende dag het ek eerlike werk begin soek, maar tevergeefs. Terwyl ek in my bakkie gery het, het ek hardop gebid: “Jehovah, as u wil hê dat ek in hierdie gebied moet bly, moet u vir my werk kry.” Toe het ek gedink: ‘Kyk net hoe simpel is ek—ek ry in my bakkie en praat met myself.’ Dit was duidelik dat my geloof in God as die “Hoorder van die gebed”—asook die gehalte van my gebede—nog veel te wense oorgelaat het! (Psalm 65:2). Tot my verbasing het ek die volgende dag werk gekry!

Toe ek sien watter krag gebed het, het dit my liefde vir Jehovah en my vertroue in sy leiding versterk

Daarna het ek gereelder en ernstiger begin bid. Keer op keer het ek Jehovah se seën gesien. Ek het nog altyd aan God geglo, maar hierdie ondervindinge het my gehelp om te sien dat die woorde in 1 Johannes 5:14 waar is. Dit sê dat “hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra”. Toe ek sien watter krag gebed het, het dit my liefde vir Jehovah en my vertroue in sy leiding versterk.—Spreuke 3:5, 6.

Toe ek Christelike vergaderinge weer begin bywoon het, het die Getuies my hartlik verwelkom. Wat meer is, ek het begin besef dat hulle ‘mekaar [werklik] intens liefhet uit die hart’, en dit het my diep geraak (1 Petrus 1:22). Ek het  ook begin besef hoe waar die woorde in Spreuke 13:20 is: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”

Ek het jare lank probleme en hartseer vir my gesin veroorsaak, maar nou het ek probeer om vredeliewend te wees en om ’n beter huweliksmaat, vader en kommunikeerder te wees. Ek het die Bybel se raad begin toepas aan mans om “hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam” en aan vaders om nie hulle “kinders [te] vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie”.—Efesiërs 5:28; Kolossense 3:21.

Die veranderinge wat ek gemaak het, het natuurlik ’n fantastiese uitwerking op my gesin gehad. Ek het dus die vervulling van Jesus se woorde in Matteus 5:3 in my eie lewe gesien: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.” Ek het uiteindelik ware geluk gevind!

In Junie 1984 is ’n onderhoud gevoer met my dogter, Angela, by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies. Sy het beskryf watter soort persoon ek was en het toe vertel watter veranderinge ek gemaak het. Sy het afgesluit deur te sê hoe bly sy is om my in die voorste ry te sien onder diegene wat daardie dag gedoop sou word.

Saam met my vrou, Shirley

Hoe dankbaar is ek tog dat Jehovah nie moed opgee met mense soos ek nie! Ek is ook baie dankbaar dat Shirley en ons kinders nie moed opgegee het met my nie. Shirley het getoon dat sy ’n ware Christen is deur die raad in 1 Petrus 3:1 getrou toe te pas: “Vrouens, [julle moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word.” Haar lojaliteit, geduld en goeie gedrag gedurende al die jare dat ek so eiesinnig was, het dit vir my moontlik gemaak om die waarheid te leer toe ek uiteindelik tot besinning gekom het.

Sedert ek gedoop is, het ek haar voorbeeld al dikwels gebruik om ander wat ’n ongelowige huweliksmaat het, aan te moedig om nie moed op te gee met hulle nie. “Op die regte tyd”, sê ek vir hulle, “kan Jehovah die krag van sy Woord, die Bybel, en jou goeie gedrag gebruik om jou huweliksmaat te help om te verander—al lyk dit nou onwaarskynlik.”