Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Besoek aan laaglandgorillas

’n Besoek aan laaglandgorillas

IN DIE hart van die ekwatoriale reënwoud van die Sentraal-Afrikaanse Republiek is daar ’n natuurskat wat min mense al gesien het. Ons het 12 uur lank oor rowwe terrein gery na die Dzanga-Ndoki- Nasionale Park, ’n ongerepte natuurreservaat in die suidwestelike uithoek van die land, tussen Kameroen en die Republiek van die Kongo. Ons doel was om Makumba, ’n westelike-laaglandgorilla, en Makumba se familie te ontmoet.

Ons gids het vir ons gesê om bymekaar te bly en op die uitkyk te wees vir olifante, aangesien ons op paadjies sou stap wat hulle elke dag gebruik op soek na kos. Maar ons was nie net bekommerd oor olifante nie. “As ’n gorilla julle storm”, het ons gids ons gewaarsku, “moet julle stilstaan en afkyk. Hy sal julle nie seermaak nie; hy sal net ’n groot geraas maak. Moenie oogkontak met hom maak nie. Om die waarheid te sê, ek vind dat dit help om eenvoudig my oë toe te maak.”

Ons en ons gids is gelei deur ’n spoorsnyer van die BaAka-volk, wat as pigmeë beskou word weens hulle fisiese kenmerke en klein gestalte. ’n Bekwame plaaslike spoorsnyer kan die  skuuste diere met behulp van die geringste tekens, reuke en geluide opspoor. Swerms irriterende mopaniebye het ons omring. Ons het gesukkel om by te hou terwyl ons spoorsnyer met gemak deur die digte plantegroei beweeg het.

Kort voor lank het ons spoorsnyer ons deur ongerepte woud geneem waar min Westerlinge hulle al bevind het. Toe het hy skielik gestop en met sy arms beduie na ’n stuk woud naby ons paadjie. Daar kon ons platgedrukte bosse en gras sien waar jong gorillas gespeel het, asook geknakte en gestroopte takke—die oorblyfsels van die oggend se peuselhappies. Ons opgewondenheid het toegeneem terwyl ons verder gestap het.

’n Westelike-laaglandgorilla kan 1,8 meter hoog word en meer as 200 kilogram weeg

Ná omtrent drie kilometer het die spoorsnyer sy pas verslap. Omdat hy die gorillas nie wou laat skrik nie, het hy ’n klak-klakgeluid met sy tong gemaak. Ons het ’n diep gegrom naby ons gehoor, asook die geluid van takke wat breek. Ons gids het vir ons beduie om stadig vorentoe te beweeg. Sy het haar vinger op haar lippe gesit om te wys dat ons doodstil moet bly. Toe het sy aangedui dat ons moet hurk en het sy deur die bome na iets gewys. Ongeveer agt meter voor ons, het ons hom gesien—dit was Makumba!

Die woud wat vroeër vol geluide was, was nou tjoepstil, en ons kon net ons hartklop hoor. Ons het natuurlik gewonder: Sal Makumba storm? Makumba het sy leeragtige gesig na ons toe gedraai, en nadat hy ons skynbaar ongeërg opgesom het, het hy ons met ’n gaap verwelkom. Ons was natuurlik baie verlig!

Hoewel die naam Makumba in die Aka-taal “Vinnig” beteken, het Makumba gedurende ons besoek sy ontbyt luilekker gesit en eet. Naby hom het twee jong gorillas gestoei en mekaar gekielie. Sopo, ’n tien maande oue gorillatjie met pieringoë, het gespeel naby sy ma, Mopambi, wat hom saggies nader getrek het wanneer sy grenslose nuuskierigheid hom buite grypafstand laat beweeg het. Die res van die familie het blare en die sagte binnekant van takke geëet of in groepe gespeel. Soms het hulle vlugtig na ons gekyk, maar dan weer belangstelling verloor en verder gespeel.

Ná ’n uur was dit tyd om te vertrek. Dit het gelyk of Makumba dieselfde gevoel het, aangesien hy een keer gegrom het, hom met sy massiewe arms opgelig het en in die woud verdwyn het. Binne sekondes was die hele familie weg. Hoewel ons besoek aan hierdie pragtige diere maar kort was, sal die ondervinding ons jare lank bybly.