Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die veelsydige suurlemoen

Die veelsydige suurlemoen

STEL jou ’n produk voor wat gebruik kan word as medisyne, ’n skoonmaakmiddel, ’n ontsmettingsmiddel en ’n skoonheidsbehandeling. Jy kan dit eet, die sap daarvan drink en vlugtige olie daaruit pers. Dit is mooi verpak, is oor die hele wêreld beskikbaar en is nie duur nie. Jy het dalk selfs nou een in jou kombuis. Wat is dit? Die suurlemoen!

Daar word gemeen dat suurlemoene hulle oorsprong in Suidoos-Asië het. Van daar is hulle geleidelik weswaarts geneem, na die Mediterreense gebied. Suurlemoenbome floreer in ’n gematigde klimaat, en daarom groei hulle so goed in plekke soos Argentinië, Italië, Mexiko, Spanje en selfs dele van Afrika en Asië. ’n Volwasse boom kan tussen 200 en ’n ongelooflike 1 500 suurlemoene per jaar oplewer, afhangende van die variëteit en waar dit groei. Die gekweekte variëteite bloei in verskillende seisoene, wat dit moontlik maak om suurlemoene heeljaar te oes.

Suurlemoene skiet wortel in Italië

Of die eertydse Romeine suurlemoene gekweek het of nie, is ’n omstrede onderwerp. Daar is geskrewe bewyse dat die Romeine bekend was met die sitroen, ’n ander lid van die sitrusfamilie, wat baie soos ’n groot suurlemoen lyk. In sy werk Natural History maak die Romeinse geskiedskrywer Plinius die Ouere spesifiek melding van die sitroenboom en sy vrugte. Vooraanstaande kenners glo egter dat die Romeine ook bekend was met suurlemoene. Waarom? Omdat talle muurskilderye en mosaïeke blykbaar hierdie vrug uitbeeld, en nie sitroene nie. Een voorbeeld hiervan word gevind in ’n villa wat in Pompeji opgegrawe is, wat gepas Die Vrugteboordhuis genoem word, aangesien dit versier is met muurskilderye van verskeie plante, onder andere ’n suurlemoenboom. Toegegee, dit is destyds heel moontlik as ’n eksotiese boom beskou en miskien slegs as ’n medisinale plant gebruik. Dit is onmoontlik om te sê wat dit behels het om suurlemoene te kweek en hoe algemeen hulle voorgekom het.

Die eiland Sisilië, met sy lang warm somers en matige winters, het die belangrikste produsent van sitrusvrugte, insluitende suurlemoene, geword. Maar daar is ook ander gebiede, hoofsaaklik langs die kus, waar suurlemoene van goeie gehalte gekweek word.

Net suid van Napels lê die pragtige dorp Sorrento, en suid hiervan is die  Amalfi-kus—’n asemrowende kuslyn wat net oor die 40 kilometer lank is. Genestel in inhamme langs die kus is die skilderagtige dorpies Amalfi, Positano en Vietri sul Mare, om maar net ’n paar te noem. Sorrento en die Amalfikus lewer suurlemoene wat ’n sertifikaat van oorsprong het, ’n waarborg dat dit werklik in hierdie gebied gekweek is. Die plaaslike mense is tereg trots op hulle suurlemoenbome, want hierdie bome is op vindingryke wyse op terrasse teen die kant van die berg geplant, waar hulle die sonlig absorbeer en sappige suurlemoene met ’n heerlike geur oplewer.

’n Mens het nie baie plek vir ’n suurlemoenboom nodig nie. Selfs ’n sonnige balkon is groot genoeg, aangesien dwergsuurlemoenbome in potte geplant kan word en as pragtige ornamente kan dien. Hulle hou van sonnige, windstil plekkies, verkieslik teen ’n muur, waar hulle die hitte kan absorbeer. Maar as die temperatuur tydens die winter skerp daal, moet hulle bedek word of binne gehou word.

Nie net vir die geur nie

Hoe dikwels gebruik jy suurlemoene? Party mense sit ’n skyfie in hulle tee; ander gebruik die skil of ’n paar druppels sap in koekresepte. Dalk druk jy die sap uit om limonade te maak. Sjefs regoor die wêreld het altyd suurlemoene byderhand omdat dit tallose gebruike in die kombuis het. Maar het jy al ooit suurlemoensap gebruik as ’n ontsmettingsmiddel of om ’n vlek te verwyder?

Party mense maak hulle kerfplanke skoon en ontsmet dit deur dit met ’n halwe suurlemoen te vryf. In plaas daarvan om bleikmiddel te gebruik om vlekke te verwyder of om die wasbak skoon te maak, gebruik party ’n mengsel van suurlemoensap en koeksoda. En ’n halwe suurlemoen verwyder blykbaar slegte reuke in die yskas of die skottelgoedwasser en laat hierdie toestelle vars ruik.

Suurlemoene is ’n bron van sitroensuur, wat gebruik word as ’n natuurlike preserveermiddel en om ’n suur smaak aan kos of drankies te gee. Die wit en die skil van ’n suurlemoen bevat pektien, wat in die voedselbedryf as ’n verdikker, emulgeermiddel en stolmiddel gebruik word. Boonop word ’n olie uit die skil verkry wat in die voedsel-, farmaseutiese en skoonheidsbedryf gebruik word. Die gebruike vir suurlemoene is eindeloos. Die suurlemoen is werklik ’n kleurvolle, smaaklike, veelsydige vrug.