Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Middeleeuse meesters van die geneeskunde

Middeleeuse meesters van die geneeskunde

BAIE aspekte van die moderne geneeskunde is dalk nie so modern soos sommige dink nie. Trouens, ’n hele paar algemene mediese gebruike van vandag het reeds eeue gelede in party lande bestaan. Beskou byvoorbeeld die geskiedenis van die geneeskunde gedurende die Middeleeue in die Midde-Ooste.

In 805 HJ het KALIEF HAROEN AR-RASJIED ’n hospitaal in sy hoofstad, Bagdad, geopen. Van die 9de tot die 13de eeu het ander heersers hospitale dwarsdeur die Islamitiese Ryk, van Spanje tot Indië, gebou en in stand gehou.

Rykes en armes uit alle godsdienste is in hierdie hospitale behandel. Professionele geneeskundiges het nie net die siekes hier behandel nie, maar het ook navorsing gedoen en nuwe dokters opgelei. Aparte afdelings is gebruik vir verskillende spesialisasiegebiede—interne geneeskunde, oogheelkunde, ortopedie, chirurgie, aansteeklike siektes en geestesiektes. Dokters, vergesel deur hulle studente, het elke oggend die siekes ondersoek en diëte en medisyne vir hulle voorgeskryf. En aptekers wat by die hospitaal gewerk het, het medisyne uitgegee. Bestuurspersoneel het verslae gehou, uitgawes beheer, oor voedselvoorbereiding toesig gehou en ander administratiewe take verrig—net soos vandag.

Geskiedkundiges beskou hierdie hospitale as “een van die groot prestasies van die Middeleeuse Islamitiese samelewing”. Dwarsdeur die Islamitiese Ryk “is die hospitaal as ’n instelling op revolusionêre maniere ontwikkel, wat tot in moderne tye ’n groot invloed op die gesondheidswetenskappe en gesondheidsorg gehad het”, sê die skrywer en geskiedkundige Howard R. Turner.

RHAZES is gebore in die middel van die negende eeu in die eertydse stad Raii, wat nou ’n voorstad van Teheran is. Hy word “die grootste geneeskundige en klinikus van Islam en inderdaad van die hele Middeleeuse tydperk” genoem. Hierdie wetenskaplike denker het sy eksperimentele metodes, toestande, apparate en bevindings ten behoewe van ander geneeskundiges opgeteken. En hy het alle dokters aangeraai om op hoogte te bly van die jongste ontwikkelings in hulle veld.

Rhazes het ’n aantal prestasies behaal. Byvoorbeeld, sy mediese geskrifte verskyn in die 23-delige Al-Hawi (Omvattende Boek), wat as een van die belangrikste mediese geskrifte beskou word. Die oorsprong van verloskunde, ginekologie en oogchirurgie word blykbaar na hierdie boek teruggevoer. Die oudste betroubare beskrywings van pokke en masels word in sy 56 mediese werke gevind. Rhazes het ook ontdek dat koors een van die liggaam se verdedigingsmeganismes is.

Hy het ook hospitale in Raii en Bagdad bestuur, waar sy werk onder sielsiekes daartoe gelei het dat hy die vader van sielkunde en psigoterapie genoem is. Rhazes het nie net boeke oor geneeskunde geskryf nie, maar ook tyd gemaak om boeke te skryf oor skeikunde, sterrekunde, wiskunde, filosofie en teologie.

AVICENNA, nog ’n leier in die mediese veld, was afkomstig van Boekhara, in die hedendaagse Oesbekistan. Hy het een van die groot geneeskundiges, filosowe, sterrekundiges en wiskundiges van die 11de eeu geword. Avicenna het ’n ensiklopedie geskryf, Die Kanon van Geneeskunde, wat die hele spektrum van mediese kennis van daardie tyd gedek het.

In sy Kanon het Avicenna gesê dat tuberkulose aansteeklik is, dat siektes deur middel van  water en grond kan versprei, dat emosies fisiese welsyn beïnvloed en dat die senuwees pyn sowel as prikkels vir spiersametrekking gelei. Die Kanon het ongeveer 760 medisinale mengsels beskryf—die eienskappe, werking en indikasies daarvan—en het beginsels voorsien waarvolgens nuwe geneesmiddels getoets kan word. Hierdie geskrif, wat in Latyn vertaal is, is honderde jare lank in Europese mediese skole gebruik.

Arabiese manuskrip wat Albucasis se chirurgiese instrumente illustreer

ALBUCASIS is ook ’n beroemde persoon in die geskiedenis van die geneeskunde. Hierdie tiende-eeuse innoveerder van Andalusië, in hedendaagse Spanje, het ’n 30-delige kompendium saamgestel, wat ’n verhandeling van 300 bladsye oor chirurgie ingesluit het. Hierin het hy gevorderde prosedures beskryf, soos die gebruik van dermsnaar vir inwendige steke, die verwydering van blaasstene met behulp van ’n instrument wat deur die urienweg ingesteek word, die uitsnyding van skildklierweefsel en die verwydering van katarakte.

Albucasis het gebruik gemaak van wat beskryf word as “betreklik moderne kliniese tegnieke” om moeilike geboortes te vergemaklik en ontwrigte skouers te behandel. Hy was die eerste om katoen as ’n wonddekking te gebruik en het gipsverbande gebruik om bene te spalk. Hy het ook tegnieke beskryf om los tande weer in te plant, vals tande te maak, skewe tande reguit te maak en tandsteen te verwyder.

 Albucasis se verhandeling oor chirurgie was die eerste geskrif waarin chirurgiese instrumente geïllustreer is. Dit het duidelike sketse van sowat 200 chirurgiese instrumente bevat en riglyne gegee oor hoe en wanneer om hierdie instrumente te gebruik. Party van sy ontwerpe het in ’n duisend jaar min veranderinge ondergaan.

Avicenna hou toesig oor die voorbereiding van geneesmiddels vir pokke

Kennis versprei na die Weste

In die 11de en 12de eeu het geleerdes begin werk aan Latynse vertalings van Arabiese mediese geskrifte, veral in Toledo, Spanje, en in Monte Cassino en Salerno, Italië. Geneeskundiges het toe hierdie vertalings in universiteite dwarsoor Latynsprekende Europa bestudeer. Op dié manier het Midde-Oosterse mediese kennis “Europa in die daaropvolgende eeue diep binnegedring, miskien in groter mate as enige ander Islamitiese wetenskap”, sê die wetenskapskrywer Ehsan Masood.

Dit is duidelik dat die ontdekkings en uitvindings van Middeleeuse meesters soos Rhazes, Avicenna, Albucasis en hulle tydgenote tereg beskryf kan word as die grondslag van wat ons vandag die moderne geneeskunde noem.