Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 5

Goeie nuus vir die hele mensdom

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 5

In hierdie reeks van agt dele bespreek “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.

GOD se boodskap aan die mensdom word in die Bybel gevind, en dit is ’n boodskap van goeie nuus. Daarom het Jesus Christus sy lewe daaraan gewy om “die goeie nuus van die koninkryk” bekend te maak (Lukas 4:43). Die Bybel toon dat hierdie Koninkryk God se regering is en dat dit onderdrukkende menseheerskappy sal verwyder, vrede tot stand sal bring en alle oorsake van menselyding uit die weg sal ruim (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Beslis goeie nuus!

Sulke goeie nuus moet sekerlik die wydste verspreiding moontlik kry. Maar toe Jesus tereggestel is, het hy net ’n handjie vol volgelinge agtergelaat. Sou sy boodskap saam met hom sterf? Volgens die Bybel sou presies die teenoorgestelde gebeur. Dit het die volgende voorspel: (1) Die goeie nuus sou regoor die wêreld versprei. (2) Dit sou hewig teëgestaan word. (3) Valse Christene, of naamchristene, sou hulle verskyning maak en baie mislei. Kom ons kyk na hierdie profesieë.

Die goeie nuus sou aan al die nasies verkondig word

Profesieë:

“Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Handelinge 1:8.

Vervulling: Kort ná Jesus se dood in 33 HJ het sy dissipels Jerusalem met die Koninkryksboodskap vervul. Hulle het regdeur Judea en die nabygeleë Samaria versprei, en binne 15 jaar is Christensendelinge na ander dele van die Romeinse Ryk gestuur. Teen die jaar 61 HJ kon daar gesê word dat die goeie nuus in talle “afgeleë” dele van die aarde verkondig is.

 Wat die geskiedenis toon:

  • Nie-Bybelse geskrifte uit die tweede eeu bevestig dat die oorspronklike vorm van die Christelike godsdiens vinnig versprei het. Die Romeinse geskiedskrywer Suetonius gee te kenne dat die Christelike godsdiens al in 49 HJ in Rome gevestig was. ’n Brief wat in 112 HJ aan keiser Trajanus geskryf is deur Plinius die Jongere, die goewerneur van Bitinië (in hedendaagse Turkye), verwys na die Christelike godsdiens as ’n “aansteeklike siekte” wat “nie net deur die vrye stede versprei het nie, maar ook deur die dorpies en plase”. Na aanleiding van die bewyse het een geskiedkundige hierdie gevolgtrekking gemaak: “Binne minder as honderd jaar ná die apostoliese era kon Christelike plekke van aanbidding in die vernaamste stede van die Ryk gevind word.”
  • In die boek The Early Church sê professor Henry Chadwick: “Die uitbreiding van die kerk was blykbaar die gevolg van ’n buitengewone reeks onwaarskynlike gebeure. Niks het volgens redelike verwagtinge ’n skraler kans op sukses gehad nie.”

Die goeie nuus sou teëgestaan word

Profesie:

“Mense sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en julle sal in sinagoges geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle.”—Markus 13:9.

Vervulling: Christene is vervolg deur die Jode en die Romeine. Hulle is in hegtenis geneem, in die tronk gegooi, geslaan en tereggestel.

Wat die geskiedenis toon:

  • Flavius Josefus, ’n Joodse geskiedskrywer van die eerste eeu, maak melding van die teregstelling van Jesus se broer Jakobus deur die toedoen van Joodse godsdiensleiers. Die Bybel sê dat Gamaliël, ’n gerespekteerde lid van die Joodse Hoë Raad, sy mederaadslede aangespoor het om versigtig te wees toe hulle Jesus se dissipels verhoor en gevonnis het (Handelinge 5:34-39). Akademiese werke bevestig dat Gamaliël bestaan het en sê dat hy ruim van gees was.
  • Vroeë Christene is wreed vervolg deur die Romeinse keisers Nero, Domitianus, Markus Aurelius en Diokletianus

  • Geskiedkundiges vertel ons dat Christene vanaf 64 HJ deur keiser Nero en daaropvolgende Romeinse keisers aan vlae van vervolging onderwerp is. Die korrespondensie tussen keiser Trajanus en Plinius die Jongere bespreek die strafbepalings vir Christene wat nie hulle geloof wou verloën nie.
  • “Vervolging het die kerk nie gedwing om sy werk in die geheim voort te sit nie; dit het eerder die teenoorgestelde uitwerking gehad”, sê professor Chadwick, wat vroeër aangehaal is. Toe Christene vir die gevaar gevlug het, het hulle hulle boodskap na nuwe gebiede geneem (Handelinge 8:1). Hulle het volhard, dikwels ten spyte van die feit dat hulle deur familie en vriende verwerp is. Dit is noemenswaardig, aangesien Jesus se volgelinge “ongeleerde en gewone mense” was wat geen politieke invloed gehad het nie (Handelinge 4:13). Geskiedkundiges is dit eens dat “die Evangelie die maklikste onder die klein winkeliers en handelaars versprei het”.

Wanneer geleerdes die geskiedenis van die vroeë Christene bestudeer, is hulle verbaas dat so ’n onbeduidende groepie die Christelike godsdiens so vinnig kon versprei ten spyte van sulke hewige teenstand. Tog het Jesus hierdie onwaarskynlike gebeure voorspel voordat dit plaasgevind het. Die Skrif het ook voorspel dat hierdie predikingswerk onderbreek sou word.

 Naamchristene sou opstaan

Profesieë:

“Onderdrukkende wolwe [sal] ná my vertrek onder julle . . . inkom en die kudde nie met teerheid . . . behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). “Daar [sal] ook valse onderrigters onder julle . . . wees. Húlle sal heimlik verderflike sektes invoer . . . , en weens hulle sal die weg van die waarheid gesmaad word.”—2 Petrus 2:1, 2.

Vervulling: Die Christengemeente is deur onderdrukkende, bedrieglike, ambisieuse persone verderf.

Wat die geskiedenis toon:

  • Veral ná die dood van Jesus se eerste volgelinge is die ware Christelike geloof geleidelik verduister deur vooraanstaande manne wat binne die gemeente opgestaan het en Christelike leringe met Griekse filosofie vermeng het. ’n Geestelikeklas het weldra verskyn en het mag en rykdom soos dié van politieke heersers begin verkry. Teen die tyd dat die “Christelike” godsdiens as Rome se staatsgodsdiens aangeneem is, was daar volgens geskiedkundiges nie eens ’n skaduwee van die eerste-eeuse gemeente oor nie.
  • Oor die eeue was hierdie verdorwe vorm van die Christelike godsdiens verantwoordelik vir baie geweld en gierigheid. In plaas daarvan om te bewys dat hulle Jesus se volgelinge is, het die geestelikes diegene vervolg wat Jesus se predikingsmetode nagevolg het, asook diegene wat die Bybel in die volkstale probeer uitgee het.

Gedurende die eeue waartydens die valse Christelike godsdiens groot mag gehad het, het die verkondiging van die goeie nuus blykbaar tot ’n einde gekom. Maar Jesus het getoon dat dit in die laaste dae ’n oplewing sou ondervind. Hy het hierdie tydperk vergelyk met ’n oestyd waartydens valse Christene, wat as onkruid uitgebeeld word, geskei sou word van ware Christene, wat as koring uitgebeeld word (Matteus 13:24-30, 36-43). Die profesie oor die verkondiging van die goeie nuus sou sy grootste vervulling gedurende dié tyd ondergaan (Matteus 24:14). Die volgende artikel in hierdie reeks sal hierdie opwindende profesie bespreek.