Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 6

Rome in Bybelgeskiedenis

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 6

Hierdie artikel is die sesde in ’n reeks van sewe artikels in opeenvolgende nommers van die “Ontwaak!” wat die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis bespreek. Die doel hiervan is om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die wrede heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.

Paulus het op die Appiese Weg gereis

JESUS het die Christelike godsdiens gestig, en sy volgelinge het dit gedurende die dae van die Romeinse Ryk na ander lande versprei. Jy kan nog steeds Romeinse paaie, akwadukte en monumente in lande soos Brittanje en Egipte sien. Hierdie oorblyfsels uit die Romeinse tydperk bestaan werklik. Dit herinner ons daaraan dat Jesus en sy apostels, sowel as die dinge wat hulle gesê en gedoen het, ook werklik was. As jy byvoorbeeld op die eertydse Appiese Weg loop, loop jy op dieselfde pad waarop die Christenapostel Paulus moontlik na Rome gereis het.—Handelinge 28:15, 16.

Betroubare geskiedenis

Die Bybelverslag van Jesus en sy dissipels sluit tallose verwysings in na geskiedkundige  gebeure in die eerste eeu. Let op hoe noukeurig die Bybelskrywer Lukas die jaar aangeteken het waarin twee uiters belangrike gebeure plaasgevind het: die begin van die bediening van Johannes die Doper en die doop van Jesus, toe hy as die Christus, of Messias, gesalf is. Lukas het geskryf dat hierdie gebeure plaasgevind het in “die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius [29 HJ], toe Pontius Pilatus goewerneur van Judea was, en Herodes distriksheerser van Galilea” (Lukas 3:1-3, 21). Lukas het ook vier ander belangrike amptenare genoem—Filippus (Herodes se broer), Lisanias, Annas en Kajafas. Al sewe name is deur sekulêre geskiedkundiges bevestig. Maar kom ons kyk eers na Tiberius, Pilatus en Herodes.

Keiser Tiberius is een van baie Romeinse amptenare wat in Lukas se Evangelie genoem word

Keiser Tiberius is goed bekend, en sy voorkoms word in kunswerke uitgebeeld. Die Romeinse Senaat het hom op 15 September van die jaar 14 HJ as keiser aangestel, toe Jesus omtrent 15 jaar oud was.

’n Inskripsie wat die naam Pontius Pilatus bevat

Pontius Pilatus se naam verskyn saam met dié van Tiberius in ’n verslag wat deur die Romeinse geskiedskrywer Tacitus geskryf is kort nadat die Bybel voltooi is. Tacitus het oor die woord “Christen” geskryf: “Christus, aan wie die naam ontleen is, is tydens die bewind van Tiberius die doodstraf opgelê deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus.”

Herodes Antipas is bekend as die man wat die stad Tiberias by die See van Galilea gebou het. Dit was ook waar hy gewoon het. Herodes het Johannes die Doper waarskynlik in Tiberias laat onthoof.

Bybelverslae verwys ook na opmerkenswaardige gebeure in Romeinse tye. Die Bybel sê aangaande die tyd van Jesus se geboorte: “In daardie dae het ’n verordening van keiser Augustus uitgegaan dat die hele bewoonde aarde geregistreer moet word (hierdie eerste registrasie het plaasgevind toe Quirinius goewerneur van Sirië was); en al die mense het op reis gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad.”—Lukas 2:1-3.

Tacitus en die Joodse geskiedskrywer Josefus verwys albei na Quirinius. Bevestiging dat sulke registrasies plaasgevind het, word gevind in ’n Romeinse goewerneur se bevelskrif wat in die Britse Biblioteek bewaar word. Dit sê: “Aangesien dit tyd is vir die huis-tot-huis-sensus, moet almal wat om watter rede ook al buite hulle streke bly, na hulle eie huise terugkeer.”

Die Bybel sê ook dat “’n groot hongersnood . . . in die tyd van [die Romeinse keiser] Claudius plaasgevind het” (Handelinge 11:28). Die eerste-eeuse geskiedskrywer Josefus bevestig hierdie verslag. Hy het geskryf:  “’n Hongersnood het hulle in daardie tyd geteister, en baie mense het gesterf.”

Verder sê die Bybel in Handelinge 18:2 dat “Claudius al die Jode beveel het om Rome te verlaat”. Dit word bevestig deur ’n biografie van Claudius, wat omstreeks 121 HJ deur die Romeinse geskiedskrywer Suetonius geskryf is. Claudius “het al die Jode uit Rome verban”, sê Suetonius, en hy voeg by dat die Jode weens hulle vyandigheid teenoor die Christene “heeltyd oproere aangestig het”.

Volgens die Bybel het Herodes Agrippa, omstreeks die tyd van die voorgemelde hongersnood, ’n toespraak in “koninklike klere” gehou voor ’n bewonderende skare, wat gesê het: “’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” Daarna, sê die Bybel, is Agrippa “deur wurms opgeëet en het [hy] gesterf” (Handelinge 12:21-23). Ook Josefus het hierdie gebeurtenis opgeteken en ’n paar besonderhede bygevoeg. Hy het geskryf dat Agrippa sy toespraak gehou het in “’n kledingstuk wat heeltemal van silwer gemaak is”. Hy het ook gemeld dat ‘’n skerp pyn in Agrippa se buik ontstaan het en dat dit met verskriklike intensiteit begin het’. Volgens Josefus het hy vyf dae later gesterf.

Betroubare profesie

Die Bybel bevat ook merkwaardige profesieë wat in Romeinse tye opgeteken en vervul is. Byvoorbeeld, toe Jesus in Jerusalem ingery het, het hy gehuil en voorspel hoe die Romeinse leër die stad sou vernietig. “Dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou”, het Jesus gesê. “Hulle sal in jou nie ’n klip op ’n klip laat nie, omdat jy nie die tyd waarin jy geïnspekteer is, onderskei het nie.”—Lukas 19:41-44.

Jesus se volgelinge sou egter ’n geleentheid kry om te ontsnap. Hoe so? Jesus het hulle vooraf spesifieke instruksies gegee. “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien”, het hy gewaarsku, “dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad [Jerusalem] is, uitgaan” (Lukas 21:20, 21). Jesus se volgelinge het seker gewonder: ‘Hoe sal ons uit ’n beleërde stad ontsnap?’

Josefus het opgeteken wat gebeur het. In 66 HJ, toe ’n Romeinse goewerneur agterstallige belasting uit die tempelskatkis geneem het, het woedende Joodse rebelle ’n slagting onder die Romeinse magte aangerig en hulleself as ’t ware onafhanklik verklaar. Later daardie jaar het Cestius Gallus, die Romeinse goewerneur van Sirië, met 30 000 troepe suid beweeg en tydens ’n godsdiensfees by Jerusalem aangekom. Gallus het die voorstede binnegedring en selfs die tempelmuur begin ondergrawe, waar die rebelle geskuil het. Toe het Gallus onverwags teruggetrek! Opgewonde Jode het sy terugtrekkende leër aangeval.

Getroue Christene is nie deur hierdie ommeswaai in gebeure bedrieg nie. Hulle het besef dat hulle die vervulling van Jesus se verbasende profesie gesien het: Die stad was deur leërkampe omsingel! En nou, omdat hierdie leërmag teruggeval het, het getroue Christene van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te vlug. Baie het na Pella gegaan, ’n polities neutrale nie-Joodse stad in die berge oorkant die Jordaan.

Wat het met Jerusalem gebeur? Die Romeinse leër het onder aanvoering van Vespasianus en sy seun Titus teruggekeer—dié keer met 60 000 soldate. Hulle het voor die Pasga van 70 HJ na die stad opgeruk en die inwoners vasgekeer, sowel as pelgrims wat vir die fees daarheen gestroom het. Romeinse soldate het die bome in die omgewing afgekap en ’n muur met spits pale gebou, net soos Jesus voorspel het. Ná omtrent vyf maande het die stad geval.

Die Titusboog in Rome herdenk die vernietiging van Jerusalem in 70 HJ

Titus het beveel dat die tempel bewaar moet word; maar ’n soldaat het dit aan die brand gesteek, en die gebou is klip vir klip afgebreek—net soos Jesus voorspel het. Volgens Josefus het sowat 1 100 000 Jode en proseliete omgekom, die meeste weens honger en pessiektes, en ’n verdere 97 000 is gevange weggevoer. Baie is as slawe na Rome geneem. As jy  Rome vandag besoek, kan jy deur die beroemde Kolosseum toer, wat Titus ná die krygstog in Judea voltooi het. Jy kan ook die Titusboog sien, wat die verowering van Jerusalem herdenk. Ja, Bybelprofesie is betroubaar in elke besonderheid. Hoe belangrik is dit tog dat ons die dinge wat dit oor die toekoms sê, ter harte neem!

’n Betroubare hoop

Toe Jesus voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gestaan het, het hy gepraat van ’n Koninkryk, of regering, wat “geen deel van hierdie wêreld [is] nie” (Johannes 18:36). Ja, Jesus het sy volgelinge geleer om vir hierdie koninklike regering te bid. “Ons Vader in die hemele”, het hy gesê, “laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Let daarop dat God se Koninkryk sal toesien dat God se wil—nie dié van trotse en ambisieuse mense nie—op die aarde geskied.

Jesus regeer as Koning in hierdie hemelse Koninkryk. En in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme sal hy die hele aarde in ’n paradys omskep.—Lukas 23:43.

Wanneer sal God se Koninkryk in menseaangeleenthede ingryp? Die verrese Jesus het ’n aanduiding hiervan gegee toe hy gepraat het met die apostel Johannes, wat destyds gedurende die heerskappy van die Romeinse keiser Domitianus, die broer van Titus, ’n gevangene op die eiland Patmos was. “Daar is sewe konings”, het Jesus gesê. “Vyf het geval, een is, die ander een het nog nie gekom nie, maar wanneer hy wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly.”—Openbaring 17:10.

Toe Johannes hierdie woorde opgeteken het, het vyf “konings”, of moondhede, reeds geval: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Die een wat “is”, of wat in die tyd van die apostel Johannes bestaan het, was Rome. Gevolglik het net een oorgebly—die laaste wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis. Watter een is dit? Hoe lank sal dit heers? Hierdie vrae sal in die volgende nommer van die Ontwaak! bespreek word.