Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 5

Griekeland in Bybelgeskiedenis

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 5

Hierdie artikel is die vyfde in ’n reeks van sewe artikels in opeenvolgende nommers van die “Ontwaak!” wat die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis bespreek. Die doel hiervan is om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die wrede heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.

IN DIE vierde eeu VHJ het ’n jong Masedoniër met die naam Aleksander Griekeland * op die wêreldtoneel laat verskyn. Om die waarheid te sê, hy het Griekeland die vyfde wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis gemaak en het later bekend geword as Aleksander die Grote. Die vorige moondhede was Egipte, Assirië, Babilon en Medo-Persië.

Ná Aleksander se dood het sy ryk versplinter en mag begin verloor. Maar wat kultuur, taal, godsdiens en filosofie betref, het Griekeland se invloed voortgeduur lank nadat die politieke ryk tot ’n einde gekom het.

Bybelprofesie het omstreeks 200 jaar voor die tyd na Aleksander die Grote gewys

Betroubare geskiedenis

Die Bybelverslag meld nie dat enige profete van God gedurende die tyd van Griekse oppermag bedrywig was nie, en daar is ook geen geïnspireerde Bybelboeke in dié tyd geskryf nie. Nietemin word Griekeland in Bybelprofesie genoem. Daarbenewens verwys die Christelike Griekse Geskrifte, wat gewoonlik die Nuwe Testament genoem word, dikwels na die Griekse invloed. Trouens, daar was ’n groep van tien Hellenistiese stede, waarvan die meeste in Israel geleë was, wat die Dekapolis genoem is, ’n naam wat afgelei is van ’n Griekse woord wat “tien stede” beteken (Matteus 4:25; Markus 5:20; 7:31). Die Bybel maak verskeie kere melding van hierdie gebied, en die sekulêre geskiedenis en die indrukwekkende ruïnes van teaters, amfiteaters, tempels en badhuise bevestig die bestaan daarvan.

 Die Bybel verwys ook dikwels na die Griekse kultuur en godsdiens, veral in die boek Handelinge, wat deur die geneesheer Lukas geskryf is. Kyk na ’n paar voorbeelde:

Die Bybel beskryf gebeure wat in die stad Atene afgespeel het toe Paulus dit in 50 HJ besoek het en sê dat die stad “vol afgode” was (Handelinge 17:16). Geskiedkundige bewyse bevestig dat Atene en sy voorstede vol godsdiensbeelde en heiligdomme was.

Handelinge 17:21 sê: “Al die Ateners en die uitlanders wat daar vertoef het, het hulle vrye tyd met niks anders deurgebring as om iets nuuts te vertel of aan te hoor nie.” Die geskrifte van Tukidides en Demostenes getuig daarvan dat die Ateners behep was met gesprekvoering en debatte.

Die Bybel sê spesifiek dat “die Epikuriese sowel as die Stoïsynse filosowe . . . met [Paulus] begin stry” het en hom selfs na die Areopagus toe geneem het om te hoor wat hy nog te sê het (Handelinge 17:18, 19). Atene was bekend vir al sy filosowe, insluitende Epikuriërs en Stoïsyne.

’n Altaar wat aan ’n onbekende god gewy is

Paulus verwys na ’n Ateense altaar waarop gegraveer is: “Aan ’n Onbekende God” (Handelinge 17:23). Altare wat aan ’n onbekende god gewy is, is moontlik deur Epimenides van Kreta opgerig.

In sy toespraak aan die Ateners haal Paulus die woorde “want ons is ook sy nakomelinge” aan, en hy skryf hierdie woorde toe, nie aan ’n enkele digter nie, maar aan “sommige van die digters onder julle” (Handelinge 17:28). Hierdie Griekse digters was blykbaar Aratos en Kleantes.

Een geleerde het met goeie rede tot hierdie slotsom gekom: “Die verslag van Paulus se besoek aan Atene klink vir my na ’n ooggetuieverslag.” Dieselfde kan gesê word van die Bybel se beskrywing van Paulus se ondervindinge in Efese in Klein-Asië. In die eerste eeu HJ was die stad nog steeds verknog aan heidense Griekse godsdiens en veral aan die aanbidding van die godin Artemis.

Standbeeld van die Efesiese godin Artemis

Die tempel van Artemis, een van die sewe wonders van die antieke wêreld, word ’n aantal kere in die boek Handelinge genoem. Ons lees  byvoorbeeld dat Paulus se bediening in Efese die woede gewek het van Demetrius, ’n silwersmid wat ’n goeie bestaan daaruit gemaak het om silwertempeltjies van Artemis te maak. “Hierdie Paulus”, het die woedende Demetrius gesê, het “’n aansienlike menigte oorreed . . . en hulle tot ’n ander mening gebring . . . deur te sê dat dié wat met hande gemaak word, nie gode is nie” (Handelinge 19:23-28). Demetrius het ’n toe ’n woedende skare opgesweep, wat begin uitroep het: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

Vandag kan jy die ruïnes van Efese en die terrein van die tempel van Artemis besoek. Wat meer is, eertydse inskripsies uit Efese bevestig die feit dat afgode ter ere van die godin gemaak is en dat ’n silwersmidgilde in die stad bedrywig was.

Betroubare profesie

Omstreeks 200 jaar voor die tyd van Aleksander die Grote het Jehovah God se profeet Daniël omtrent wêreldheerskappy geskryf: “Kyk! daar het ’n bokram van die sonsondergang af oor die oppervlak van die hele aarde gekom, en hy het nie aan die aarde geraak nie. En die bokram het ’n opvallende horing tussen sy oë gehad. En hy het na die ram toe aangekom wat die twee horings gehad het, . . . en hy het in sy geweldige woede na hom toe aangehardloop gekom. En . . . hy het die ram neergestoot en sy twee horings gebreek, en daar was geen krag in die ram om voor hom te bly staan nie. Hy het hom dus teen die grond gegooi en hom vertrap . . . En die bokram het hom uitermate groot gehou; maar net toe hy magtig geword het, is die groot horing gebreek, en daar het op opvallende wyse vier in sy plek uitgekom, na die vier windstreke van die hemel.”—Daniël 8:5-8.

Die Bybel het die verowerings van Aleksander die Grote asook die verbrokkeling van sy ryk akkuraat voorspel

Op wie was hierdie woorde van toepassing? Daniël antwoord: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, staan vir die konings van Medië en Persië. En die harige bokram staan vir die koning van Griekeland; en wat die groot horing betref wat tussen sy oë was, dit staan vir die eerste koning.”—Daniël 8:20-22.

Dink net daaraan! Die Bybel het gedurende die tyd van die Babiloniese wêreldmoondheid voorspel dat die volgende moondhede Medo-Persië en Griekeland sou wees. Daarbenewens het die Bybel, soos ons vroeër gesien het, spesifiek gesê dat “die groot horing”—Aleksander—“gebreek” sou word “net toe hy magtig geword het” en dat hy deur vier ander vervang sou word, en dit het bygevoeg dat nie een van hulle van Aleksander se nageslag sou wees nie.—Daniël 11:4.

Hierdie profesie is in die fynste besonderhede vervul. Aleksander het in 336 VHJ koning geword, en binne sewe jaar het hy die magtige Persiese koning Darius III verslaan. Daarna het Aleksander voortgegaan om sy ryk uit te brei tot sy ontydige dood in 323 VHJ, op die ouderdom van 32. Geen enkele persoon het Aleksander as absolute heerser opgevolg nie, en ook nie enige van sy nakomelinge nie. Maar sy vier vernaamste generaals—Lusimagos, Kassander, Seleukos en Ptolemeus—“het hulleself tot konings verklaar” en die ryk oorgeneem, sê die boek The Hellenistic Age.

Gedurende sy veldtogte het Aleksander ook ander Bybelprofesieë vervul. Byvoorbeeld, die  profete Esegiël en Sagaria wat in die sewende en sesde eeu VHJ gelewe het, het die vernietiging van die stad Tirus voorspel (Esegiël 26:3-5, 12; 27:32-36; Sagaria 9:3, 4). Esegiël het selfs geskryf dat die stad se klippe en stof “in die water” gegooi sou word. Is hierdie woorde vervul?

Aleksander het Bybelprofesie vervul toe hy die puin van die vroeëre stad Tirus, wat op die vasteland was, gebruik het om ’n verhoogde pad na die eilandstad te bou

Let op wat Aleksander se troepe tydens hulle beleëring van Tirus in 332 VHJ gedoen het. Hulle het die puin van die vroeëre stad Tirus, wat op die vasteland was, bymekaargemaak en dit in die see gegooi om ’n verhoogde pad na die eilandstad Tirus te bou. Die strategie was suksesvol, en Tirus het geval. “Die profesieë teen Tirus is vervul, selfs in die fynste besonderhede”, het ’n 19de-eeuse ondersoeker van die terrein gesê. *

’n Betroubare hoop

Aleksander se verowerings het nie ’n vreedsame, veilige wêreld teweeggebring nie. Nadat een geleerde die eertydse Griekse regeringstyd ondersoek het, het hy gesê: “Die wesenlike toestand van die gewone mense . . . het nie veel verander nie.” Hierdie situasie kom herhaaldelik in die geskiedenis voor en bevestig weer eens die Bybel se stelling dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”.—Prediker 8:9.

Slegte heerskappy sal egter nie vir ewig voortduur nie, want God het ’n regering opgerig wat ver verhewe is bo enige menseregering. Hierdie regering word die Koninkryk van God genoem en sal alle menseregerings vervang, en die onderdane daarvan sal ware en blywende vrede en veiligheid geniet.—Jesaja 25:6; 65:21, 22; Daniël 2:35, 44; Openbaring 11:15.

Die Koning van God se Koninkryk is niemand anders nie as Jesus Christus. In teenstelling met magsugtige, afsydige menseheersers is Jesus se dryfkrag sy liefde vir God en die mensdom. ’n Psalmis het aangaande hom voorspel: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos.”—Psalm 72:12-14.

Is hy die soort Heerser wat jy wil hê? Indien wel, sal dit goed wees as jy meer uitvind omtrent die sesde wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis—Rome. Trouens, dit was gedurende die Romeinse tydperk dat die voorspelde Verlosser gebore is en dat hy ’n onuitwisbare indruk op die mensegeskiedenis gemaak het. Lees asseblief die sesde artikel in hierdie reeks, wat jy in die volgende nommer van hierdie tydskrif sal vind.

^ par. 4 Die verwysings na Griekeland in hierdie artikel is na eertydse Griekeland wat voor die eerste eeu bestaan het en hou nie verband met enige landsgrense van vandag nie.

^ par. 23 Soos Esegiël voorspel het, was die Babiloniese koning Nebukadresar verantwoordelik vir die eerste verowering van Tirus (Esegiël 26:7). Daarna is die stad herbou. Dit is hierdie herboude stad wat Aleksander vernietig het, en so is die woorde van die profete tot in die fynste besonderhede vervul.