Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 4

Medo-Persië in Bybelgeskiedenis

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 4

Hierdie artikel is die vierde in ’n reeks van sewe artikels in opeenvolgende nommers van die “Ontwaak!” wat die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis bespreek. Die doel hiervan is om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die wrede heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.

DIE ruïnes van paleise en koninklike grafkelders gee ons net ’n idee van die luisterrykheid, mag en rykdom van die eertydse tweeledige wêreldmoondheid van Medië en Persië. Voordat die twee koninkryke saamgesmelt het, was Medië die oorheersende koninkryk. Maar in 550 VHJ het die Mede onder die beheer van die Persiese koning Kores II gekom, wat daarna oor die koninkryk van Medo-Persië regeer het. Hierdie uitgestrekte ryk, waarvan die middelpunt noord van die Persiese Golf was, het uiteindelik gestrek van die Egeïese See na Egipte na die noordweste van Indië en het Judea ingesluit.

Medo-Persië het meer as 200 jaar lank oor die Joodse nasie regeer—vanaf 539 VHJ toe Babilon omvergewerp is tot 331 VHJ toe Medo-Persië deur die Grieke verslaan is. Talle Bybelboeke lewer kommentaar oor betekenisvolle gebeure wat gedurende daardie tyd plaasgevind het.

Betroubare geskiedenis

Die Bybel sê vir ons dat koning Kores II die Jode wat gevangenes in Babilon was, vrygelaat het en hulle toegelaat het om na Jerusalem terug te keer en God se tempel te herbou, wat in 607 VHJ deur die Babiloniërs vernietig is (Esra 1:1-7; 6:3-5). Hierdie verslag word bevestig deur die Kores-silinder, ’n kleidokument wat in 1879 in die ruïnes van eertydse Babilon ontdek is. Die inskripsie noem Kores by name en beskryf sy beleid om volke wat vroeër gevange geneem is sowel as hulle godsdiensvoorwerpe na hulle vaderland terug te stuur. Die Bybelskrywer Jesaja het Jehovah se profetiese woorde aangaande Kores opgeteken: “‘Alles wat my behaag, sal  hy ten volle uitvoer’; selfs wat ek van Jerusalem sê: ‘Dit sal herbou word’, en van die tempel: ‘Jou fondament sal gelê word.’”—Jesaja 44:28.

Trouens, Kores het beveel dat die koste van die herbouwerk aan die tempel “deur die koning se huis gedek word”, sê Esra 6:3, 4. Hierdie verbasende stelling stem ooreen met sekulêre geskiedenis. “Dit was ’n vaste beleid van Persiese konings om heiligdomme in hulle ryk te help herstel”, sê die boek Persia and the Bible.

Die Bybel vertel ons dat teenstanders van die Jode later aan Darius die Grote (ook Darius I genoem) geskryf het om die Jode se bewering te betwis dat Kores vir hulle toestemming gegee het om die tempel te herbou. Darius het opdrag gegee dat die oorspronklike geskrewe verordening gesoek moet word. Wat het gebeur? ’n Boekrol wat Kores se verordening bevat, is by Ekbatana, die hoofstad, gevind. In antwoord hierop het Darius geskryf: “Ek, Darius, vaardig ’n bevel uit. Laat dit [die herbouing van die tempel] stiptelik uitgevoer word.” Teenstand teen die werk het toe opgehou. *Esra 6:2, 7, 12, 13.

Sekulêre geskiedenis bevestig hierdie besonderhede. Om maar een ding te noem, Ekbatana was Kores se somerwoning, en hy het moontlik sy verordening van daar af uitgevaardig. Ook toon argeologiese vondse dat Medo-Persiese konings baie belanggestel het in godsdienssake wat hulle ryk geraak het en dat hulle briewe geskryf het om geskille op te los.

Betroubare profesie

In ’n droom wat deur God geïnspireer is, het die profeet Daniël gesien hoe vier diere die een ná die ander uit die see opkom, wat elkeen ’n opeenvolgende wêreldmoondheid voorgestel het. Die eerste dier, ’n leeu met vlerke, het Babilon voorgestel. Die tweede was “soos ’n beer”. Die verslag sê verder: “Só het hulle vir hom gesê: ‘Staan op, eet baie vleis’” (Daniël 7:5). Die skrikwekkende beer het Medo-Persië afgebeeld.

Net soos Daniël se profesie getoon het, het Medo-Persië ’n onversadigbare begeerte gehad om te verower. Nie lank ná Daniël se visioen nie, het Kores die Mede verslaan en toe oorlog gevoer teen die naburige Lidië en Babilon. Sy seun Kambuses II het Egipte verower. Later het Medo-Persiese heersers die ryk selfs verder uitgebrei.

Hoe kan ons seker wees van hierdie vertolking? In ’n ander visioen wat hiermee verband hou, het Daniël ’n ram gesien wat “stootbewegings na die weste en na die noorde en na die suide” gemaak het. Die profesie is vervul toe Medo-Persië “stootbewegings” gemaak het teen ander nasies, insluitende die magtige Babilon. ’n Engel van God het hierdie visioen verklaar en vir Daniël gesê: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, staan vir die konings van Medië en Persië.”—Daniël 8:3, 4, 20.

Wat meer is, sowat twee eeue voor Babilon se nederlaag het die profeet Jesaja die naam van die  verowerende Persiese koning voorspel—wat nog nie gebore was nie—sowel as sy strategie waarmee hy Babilon sou inneem. Jesaja het geskryf: “Só het Jehovah vir sy gesalfde, vir Kores, gesê, wie se regterhand ek gevat het om nasies voor hom te onderwerp, . . . om voor hom die tweevleueldeure oop te maak, sodat die poorte nie gesluit sal wees nie” (Jesaja 45:1). Jesaja sowel as Jeremia het voorspel dat Babilon se “riviere”, of kanale wat deur die Eufraatrivier gevul is en as ’n beskermende grag gedien het, sou opdroog (Jesaja 44:27; Jeremia 50:38). Die Griekse geskiedskrywers Herodotus en Xenofon bevestig die akkuraatheid van die Bybel se profesieë, insluitende die feit dat die Babiloniërs feesgevier het op dieselfde aand dat Kores die stad binnegeval het (Jesaja 21:5, 9; Daniël 5:1-4, 30). Nadat Kores se leër die Eufraatrivier weggekeer het, het hulle die stad binnegegaan deur oop poorte langs die rivier en min weerstand gekry. In een nag het die magtige Babilon geval!

Kores se grafkelder kan nog steeds gesien word in die ruïnes van eertydse Pasargadae, in die hedendaagse Iran

Hierdie gebeurtenis het weer tot die verbasende vervulling van ’n ander profesie gelei. Die profeet Jeremia het vroeër voorspel dat God se volk 70 jaar lank in Babilon in ballingskap sou wees (Jeremia 25:11, 12; 29:10). Hierdie profesie is presies op tyd vervul, en die ballinge is toegelaat om na hulle vaderland terug te keer.

’n Betroubare hoop

Kort nadat Medo-Persië Babilon verower het, het Daniël ’n profesie opgeteken wat lig werp op ’n uiters belangrike gebeurtenis in die verwesenliking van God se voorneme vir die mensdom. Die engel Gabriël het Daniël vertel presies wanneer die Messias—die “saad” wat in Genesis 3:15 voorspel is—sou verskyn! God se engel het gesê dat daar “vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier sewe weke sal wees, ook twee-en-sestig weke”, wat altesaam 69 weke is (Daniël 9:25). Wanneer het hierdie profetiese tydperk begin?

Hoewel Kores die Jode toegelaat het om kort ná Babilon se val na hulle land terug te keer, was Jerusalem en sy mure jare later nog steeds vervalle. In 455 VHJ het koning Artasasta vir sy Joodse skinker Nehemia toestemming gegee om na Jerusalem terug te keer en die leiding te neem in die herstelwerk (Nehemia 2:1-6). Dit was die begin van die 69 weke.

Die 69 weke was egter nie letterlike weke van sewe dae nie, maar weke van jare. Trouens, party Bybelvertalings vertaal die woord “weke” as “weke van jare” * (Daniël 9:24, 25). Die Messias sou ná ’n tydperk van 69 “weke” van 7 jaar elk verskyn—’n totaal van 483 jaar. Die profesie is in 29 HJ vervul toe Jesus gedoop is, presies 483 jaar van 455 VHJ af. *

Die akkurate vervulling van Daniël se profesie dra by tot die oorvloedige getuienis wat Jesus se identiteit bevestig. Dit bevestig ook ons hoop vir die toekoms. Jesus sal, as Koning van God se hemelse Koninkryk, wrede menseheerskappy tot ’n einde bring. Daarna sal hy nog baie ander Bybelprofesieë vervul, insluitende dié wat vooruitwys na ’n opstanding van die dooies tot eindelose lewe in die Paradys op aarde.—Daniël 12:2; Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3-5.

^ par. 9 Die naam Darius word vir ten minste drie konings gebruik.

^ par. 20 Van die Bybelvertalings wat die uitdrukking “weke van jare” gebruik, is: Tanakh—A New Translation of the Holy Scriptures, The Complete Bible—An American Translation en The Bible—Containing the Old and New Testaments, deur James Moffatt.

^ par. 20 Vir ’n breedvoerige bespreking van die profesie, insluitende ’n diagram wat die 69 weke van jare uiteensit, sien bladsye 197-199 van die boek Wat leer die Bybel werklik?